Joan Hambidge

Matriks


Скачать книгу

leë bottels in hul nat’.

      Ek sukkel steeds om hierdie gedig

      in balans met u en Totius te bring.

      O my vrees vir kritiek wat verniel . . .

      III

      Die laptop is wit-gevlak en koel

      soos die dubbelskots deur my vloei . . .

      tot ek die vrees weer lyflik voel.

      O as u, die rekenmeester, kom,

      wat sal u maak van hierdie pastiche?

      Ek erken my reëls uit u bron

      in die onthouboek, digterlike dinamika:

      die ware digter, so leer u ons,

      weet geen snars van metafisika.

      “En metafiksie?” wou ek vra.

      Die tralies wat hierdie vers omsluit

      − huldeblyk gewis en waar, ja −

      laat my krukkig gryp na ’n psigoanalis,

      Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,

      óm en óm … die dun spil van die siel.

      Gebed om die gebeentes

      O digterlike vaders wat woon in bloemlesings,

      gepasticheer, geparodieer, gepersiflage u naam,

      laat ons u nogmaals lees in ander vorme

      soos in die oorspronklike, nes in die afskynsels;

      gee ons vandag ons inspirasie,

      vergeef ons die blatante plundering

      en misdoen in die skoene van die grotes.

      Laat kom ons nie in versoeking,

      met ’n sekel of simbaal

      of papegaai-eggo’s,

      want u bly die grootste én die sterkste

      al is kuns so boos,

      u het ’n Eiendoms Onbeperk,

      u is gesteenbok en gepoolsee,

      u is die suiwerste wiskunde,

      ’n volledige, finale allotroop.

      Vir ewig en ewig, amen,

      vir ewig en ewig, amen.

      Met hulle is ek

      vir Ingrid Jonker & Johann de Lange

      Met hulle is ek

      wat dwelms misbruik

      omdat ’n ongelukkige jeug

      of dwase oordeelsfout vir altyd bly wroet

      met hulle is ek wat die hek van ’n Weskoppies

      of ’n Valkenberg vir eens en altyd moes hoor sluit

      teen die idees van wat normaal of aanvaarbaar is

      teen die jeugfout wat bly terugkeer soos bose swere

      met hulle wat roekeloos en volledig liefgehad het

      met daardie liefde ’n skande ’n fout ’n verdriet

      ’n kind moes afteken in ’n huis vir ongehude moeders

      omdat dit beter so sou wees en die kind voel roep

      deur elke maandstonde en deur elke ongevierde verjaarsdag

      deur ’n mondigwording sonder moeder, vader of familie ja

      met hulle wat op Vlaktes grootword sonder genoeg warm klere of kos

      verskoppelinge van ’n system soekend na aanvaarding in ’n wit sisteem

      waar kleur en armoede en aksent hul immer buitehou, stuit

      met hulle is ek, die Hereweet

      omdat niks meer eenvoudig is nie

      en die leuen juis in ongeregtigheid bly gedy

      Olympia

      vir Johan van Wyk & Johann de Lange

      So kyk julle na my,

      vól postmodernistiese teorie

      en geswymel oor Wie en Wat

      ek nou eintlik is:

      my hand voor my bougainvillea

      (as U wil)

      en die ander een

      trek speels die bedekking nader;

      my designer-sandale

      uit Japan druk my;

      daar is, terloops, geen sterre

      op my tepeltjies

      en die blomme,

      vars gepluk en gerangskik,

      gee ek weg vir die kamerbediende

      (saans werk sy by Adult World)

      omdat ek, beslis géén hoer,

      met jou gaan lê

      (hoor hoe blaas die kat!)

      wat so onbeskaamd

      na my kierangloer.

      Dood in Venesië

      What fresh hell is this?

      Dorothy Parker

      In ’n Venesiaanse stegie

      loop ek my vas in haar:

      lank terug, ’n ewebeeld

      van my,

      in hierdie stad

      van vergissing

      en begoëling.

      Koop ’n masker toe

      om my

      ontreddering

      te maskeer.

      ’n Masker

      word ’n gesig,

      soos spotspraak

      ’n gedig verweer.

      Hoe broos

      hierdie stil herwinning.

      Bykans twee dekades later,

      ja, teen toemaaktyd,

      haal ek my masker af

      en goël met haar woorde:

      “die liefde se verdwaaltyd

      bly my steeds agtervolg”.

      Venezia

      9/12/2012

      Vivaldi

      Be tranquil in your wounds.

      Wallace Stevens

      My moeder presenteer my

      met vier seisoene van Vivaldi.

      In ’n Venesiese winter verblind,

      hoor ek steeds Nigel Kennedy

      se viool vlugvoetig gly

      tussen die vier wisselinge.

      ’n Klein, verlore kasset berg

      ’n vertolking, nes my ervaring

      iets nou probeer verbind

      voor die Vivaldi-uitstalling

      oor haar wat – anders as jy –

      wintermaande