Lisette van de Heg

Mara


Скачать книгу

      

      MARA

      Lisette van de Heg

      Lux Verbi

      Hoofstuk 1

      Die nag is nog diepdonker toe dit tyd word om te vertrek. Ek het nie geslaap nie. Met trae bewegings trek ek my aan vir die reis wat voorlê. Ek het warm klere nodig, want dit is ’n guur nag. Met elke kledingstuk wat ek aantrek, skerm ek my liggaam ’n entjie verder af. Met my hand teen die koue glas gedruk, kyk ek ’n laaste keer by my slaapkamervenster uit en sien die hemelruim treur.

      My ma treur nie, sy weier steeds om na my te kyk en sê nie ’n woord nie. Ek steek my arms uit, omhels haar en hoop op ’n woord, ’n gebaar, ’n soen. Maar verniet. Sy is sonder emosie, soos ’n gebeeldhoude stuk marmer, en uiteindelik gee ek haar ’n soen op die wang en laat my arms sak. Ek klem my kake styf opmekaar en draai van haar af weg om my koffers, wat al gereed staan, op te tel.

      Ek neem nie veel saam nie. My klere, ’n troufoto van my ouers wat ek al jare lank wegsteek, ’n stapeltjie briefpapier, ’n pen. Allerlei kleinighede. En ek besef my lewe is so nietig dat ek dit in twee eenvoudige koffers kan stop en saamneem.

      Met die koffers in my hande en die reissak oor my skouer maak ek die deur oop en tree oor die drumpel tot in die reën. Ek begin loop sonder om om te kyk, want ek weet die dominee sal my volg. Die klank van sy voetstappe agter my bevestig my vermoede. Die dominee loop saam om my op die eerste deel van die reis te begelei.

      Hy sê nie ’n woord nie. Ons loop om die pastorie, deur die hekkie, by Hooghe Breestraat in en verby die wit kerkie na Havenstraat. Ons voetstappe klink hard in die onverligte en verlate straat. In Havenstraat sal dit nie stil wees nie; daar is die vissers al ’n ruk lank hard aan die werk, amper gereed om uit te vaar.

      Ek ril toe ’n paar reëndruppels in my nek beland. Die stilte tussen ons word net verbreek deur die geluid van ons weergalmende voetstappe en die reën wat van die dakke afstroom. Die stilte gons in my ore en dit word ál harder sodat ek my hande oor my ore wil sit en alles uitsluit. Maar dis nie moontlik nie; ek moet die koffers dra. Ek wag vir sy woorde en vermanings, maar die stilte duur voort.

      Toe die eerste liggies van die stormlanterns in die verte sigbaar word, haal ek verlig diep asem. Mense. Stemme. Geluide.

      Ek kyk ’n laaste keer oor my skouer, terug in die tyd, en wens my ma is agter my, liefdevol soos sy altyd was, maar sy is nie daar nie en ek kyk weer vorentoe. Wat voor my lê, is my toekoms, en sy sal nie meer ’n deel daarvan wees nie, dit is vir my duidelik. My ma het hom gekies en niks sal dit kan verander nie.

      Hy versteur die stilte en die gedagtes aan my ma met sy bevel.

      “Gee vir my die koffers, Maria.”

      Natuurlik, ons moet die skyn bewaar. Altyd die skyn. Die buitewêreld.

      “Hier,” sê ek.

      Ek moet die lus onderdruk om die koffers uit my hande te laat val terwyl ek doodgewoon aanhou loop, maar in plaas daarvan gaan ek staan om die koffers vir hom aan te gee. Ondanks die feit dat ek handskoene dra, ril ek toe ons hande vlugtig kontak maak. Ek kyk na die grond en wag totdat hy weer in beweging kom. Dit is nog net ’n klein entjie. Noudat ons aan die einde van Havenstraat gekom het, kry ons die reuk van seewater en vis, vergesel van die klanke van skreeuende manstemme, ratelende kettings wat teen mekaar slaan en ’n bootenjin wat aangeskakel word.

      Klanke wat my reis sal begelei. Ek volg die dominee gehoorsaam toe hy doelgerig na die kotter genaamd Coby loop.

      “More, more, dominee!”

      “Pieters.” Die dominee knik sy kop liggies, maar aan sy skouers wat verstrak, kan ek sien hy vererg hom vir die plat taalgebruik. Ek kon nooit verstaan hoekom hy hierdie uithoek as standplaas gekies het nie, want hoe kon hy verwag dat hier geletterde mense sou woon en kerkgaan?

      “Haai, Maria.”

      “Goeiemôre, Pieters.” My stem is net ’n fluistering, maar dit lyk nie of dit Pieters pla nie. Hy beduie ons moet aan boord kom en neem die koffers by die dominee oor. Hy wys my die luik wat na die bootruim lei en begin dit ooptrek, maar ek skud my kop. Ek bly liewer op die dek, selfs al reën dit. In die ruim is dit donker en benoud, benouend en eensaam. Pieters wys my in die middel van die kotter ’n plekkie waar ek kan sit, tussen die vate waarin hy normaalweg die mosseloes vervoer. Intussen praat hy met die dominee. Ek weier om daarna te luister en slenter verby die vate na die boeg. Water uit die kanaal spat liggies op en meng met die reëndruppels wat steeds val.

      “Ek gaan nou, Maria. Sorg goed vir jou tante.” Ek het hom nie hoor nader kom nie en skrik. Asof hy ’n liefdevolle pa is, buk hy vooroor en gee my ’n soen op die wang terwyl hy my terselfdertyd iets venynigs toesis.

      Ek ril en kan dit nie vir hom wegsteek nie. Hy bly styf teen my staan en kyk glimlaggend op my af.

      “Jy weet dis waar,” fluister hy. “Jy is nie ’n snars beter as Helène nie.”

      Sy asemhaling skroei my vel en ek wil wegkom, maar daar is nie beweegruimte nie, net die reling. En die kanaal. ’n Onmoontlike moontlikheid, want ek kan nie swem nie. My oë soek vir Pieters, maar hy is druk besig en kyk nie om na ons nie. Ek wil nie die dominee ruik nie en probeer ophou asemhaal.

      Uiteindelik gee die dominee ’n treetjie agteruit en ek haal verlig dieper asem. Hy hou aan om my strak en vol verwagting aan te kyk, totdat ek besef wat hy wil hê.

      “Tot siens, Pa.” Die woorde kom oor my lippe, maar is sonder enige betekenis. Tog knik hy tevrede.

      “Tot siens, Pieters.” Die dominee klim van die kotter af, draai om en steek sy hand in die lug.

      “Sal jy mooi na haar kyk?”

      “Reg so, dominee.” Pieters steek sy hand op, sonder om na die dominee te kyk, en terselfdertyd knipoog hy vir my. “Die drol, natuurlik sal ek mooi na jou kyk.”

      Ek glimlag, dankbaar vir Pieters se verontwaardiging. Toe draai ek om en kyk uit oor die water wat voor my lê. Ek moet vorentoe kyk, omdat daar niks meer agter my is nie. Daar staan nie ’n geliefde op die kaai om vir my tot siens te waai nie en daar is geen dierbare herinnering om te koester nie.

      Die wit onskuld van die kerkie agter my het lankal vergeel en is uiteindelik swartgeblaker deur ellende. Sondag ná Sondag het ek daarheen gegaan en elke Sondag, voordat ek deur die groot deure binnetoe loop, het ek opgekyk en gehoop dat die windvaan in die vorm van ’n vis met ’n dowwe slag op die grond sal val. Dat dit in duisend stukke uitmekaar sal breek, elke stukkie klein genoeg om dit met my voete te kan verpletter. Dit het nooit gebeur nie.

      Ek weet die wit kerktorinkie steek trots bo die huise uit, maar ek weier om na daardie beskuldigende vinger te kyk. Dáár is hy in kontak met sy god, dáár kry hy toestemming om te doen wat hy gedoen het, dáár is hy die gehoorsame dienaar. Ek gaan nou terug na die huis van my jeug, die bosse en weivelde, die herinnerings aan Oupa en Ouma. My gedagtes raak vlugtig aan die skimagtige figuur wat aan die einde van hierdie reis vir my wag. Tien jaar lank het ek haar nie gesien nie en nou moet ek in een huis met haar gaan saamwoon, in afsondering, soos ’n kluisenaar.

      ’n Seun van om en by veertien kom aan boord en ek besef die bemanning is nou voltallig. Dit is maar ’n klein kottertjie en ’n halwe hulp is genoeg vir Pieters. Die anker word opgetrek, die toue word losgegooi en gou-gou is ons aan die beweeg. Ek bly by die boeg staan. Met my kake styf op mekaar geklem voel ek die laaste reëntrane op my vel. My oë bly droog ondanks die knop in my keel, ondanks die kind in my maag. Ek verlaat die dorp met die wit kerk, die dominee en die vrou wat eenmaal my ma was en ek kyk nie om nie, maar sy woorde agtervolg my en ek gly terug in die verlede, terwyl die vissersboot my na my eerste bestemming neem.

      Ek huppel aan Mamma se hand. My twee vlegsels wip met sagte plofgeluidjies op my skouers en dit is vir my lekker. Soms draai ek my kop so vinnig moontlik van links na regs sodat my vlegsels deur die lug vlieg en ’n sirkel om my kop vorm, maar nie nou nie, nou laat ek hulle plof. Met elke huppeltree. Plof. Plof.

      “Netnou val hulle af,” sê Mamma en trek glimlaggend aan my hare. Haar glimlag is vriendelik en herinner my aan Ouma en tante