Lisette van de Heg

Mara


Скачать книгу

my aan die hand deur die stalletjies. Sy gaan staan by die groentestalletjie en soek mooi rooi appels uit. Ek trek aan haar rok se mou.

      “Hoekom pluk ons nie appels van ’n boom af nie?”

      “Ons het nie ’n boord nie, liefling, daarom moet ek appels koop.”

      Ek knik en dink aan ons nuwe huis met die klein tuintjie. Daar is regtig nie ’n boord nie. Mamma onderhandel met die verkoper oor die appels en groente, en uiteindelik kom hulle ooreen. Ek bly aan haar hand vashou, maar kyk intussen om my rond.

      Die stalletjie langsaan is ’n visstalletjie en ek staar na die verkoopsman. Hy het ’n wit voorskoot aan en roep die hele tyd terwyl hy met sy een hand ’n vis van die stapel afhaal en met sy ander hand die kop afsny.

      Ek ril, maar hou aan kyk, geboei deur sy voorkoms, sy werk en veral sy stem. Hy brul, en ek is seker almal op die dorp kan hom hoor. Hierdie man sal beslis ’n goeie dominee wees; die hele kerk sal hom kan hoor.

      Skielik knik die man laggend vir my en met ’n vinnige beweging gooi hy iets in my rigting. Voordat ek weet wat gebeur, voel ek iets kouds teen my neus bots.

      Ek gil, baie skril en hard, en voel aan my neus, maar daar is niks.

      Die man lag bulderend en ek sien hoe mense omkyk.

      Mamma hurk besorg voor my en vra wat dit is.

      Ek weet nie wat dit is nie en kyk verleë grond toe. Toe sien ek iets op my klomp lê. Ek gil weer en spring op om die ding te laat afgly. Mamma skrik en trek my nader. Ek bewe en hou haar styf vas.

      Stadigaan kalmeer ek en toe Mamma opstaan, hoor ek ’n vrouestem.

      “Ek het gesien wat gebeur het. Hy het die seester na haar toe gegooi en dit het haar neus getref.”

      Daar staan ’n vrou langs ons met ’n seuntjie aan haar hand. Sy het rooi hare en ’n rooi neus, en groen oë en ’n groen rok. In haar uitgesteekte hand is die ding wat eers op my voet gelê het.

      “Vat hom,” sê sy vir my. “Dit kan niks aan jou doen nie; dis net ’n seester.” Sy glimlag vir my en aarselend steek ek my hand uit om die ding by haar te vat. Toe ruk Mamma my hand weg.

      “Hoe durf u! Ek mag nuut wees op hierdie dorp, maar ek weet wat u is. Los my dogter uit!” Mamma gryp my hand en druk so hard dat dit seermaak, maar voordat ek kan protesteer, trek sy my daar weg. Sy loop so vinnig dat ek moet hardloop om by te bly. Sonder om by enige van die ander stalletjies te stop, loop Mamma met my deur die strate, terug na die pastorie.

      “Wat is verkeerd, Mamma, hoekom loop ons so vinnig?” Ek huil, my voet haak aan ’n straatsteen en ek struikel. Net omdat Mamma my so styf vashou, val ek nie op die grond nie.

      Uiteindelik begin sy stadiger loop en dan gaan sy staan. Haar wange is rooi en haar oë lyk nog altyd kwaai, maar toe sy na my kyk, sien ek hoe hulle geleidelik sagter word.

      “Ag, liefling, dit was nie my bedoeling om jou seer te maak nie. Dit was …” Mamma sluk en maak haar oë vinnig toe. “Daardie vrou op die mark is ’n baie slegte vrou, Maria. Ek wou nie hê sy moet met jou praat nie. Sal jy dit mooi onthou? Jy mag nooit met haar praat nie! En ook nie met daai seuntjie nie. Hulle is slegte mense. Baie, baie sleg.”

      Mamma kyk my ernstig aan en ek knik gehoorsaam. Ek knik so heftig dat my vlegsels plofgeluidjies maak, nie lekker ploffies nie, ernstige ploffies.

      Pieters se stem ruk my uit my gedagtes en ek draai na hom. Hy skree op sy dekhulp en nie op my nie, sien ek nou. Die seun spring behendig heen en weer oor die dek en voer die bevele uit wat Pieters hom skree.

      Dit het opgehou reën en ek vee met my mou oor my gesig. My woljas het gesorg dat ek grotendeels droog gebly het, maar die water is steeds koud op my wange. Ek ril en wonder hoe lank dit nog sal duur voordat ons ons bestemming bereik.

      Pieters en die seun is druk besig, en ek draai weer om. Vorentoe kyk. Van nou af moet ek net vorentoe kyk. Ek klou aan die nat reling vas en kyk na die water waaroor ons gly. Weer kom die gedagte by my op dat die water die oplossing vir al my probleme kan wees. Dit sal ’n einde kan maak aan alles waarmee ek worstel, ek sal in die diepte verdwyn en niemand sal my ooit weer sien nie.

      Niemand sal my mis nie.

      Ek skud my kop en maak my rug reguit. Vorentoe kyk. Die verlede maak nie meer saak nie. Vandag is die eerste dag van my nuwe lewe.

      Hoofstuk 2

      Vlissingen. Die laaste keer dat ek daar was, was ek ’n klein meisie met ’n nuwe pa. Ons het pas bruilof gevier, was vol toekomsplanne en op die punt om te vertrek na “die nuwe gemeente”. Vol vertroue het ek my ma se hand vasgehou, sy het vir my geglimlag en ek het geweet alles sal reg uitwerk.

      Ek het ’n nuwe pa! Ek is opgewonde toe ons in die hawe aankom en ek die bote sien. Seemeeue roep mekaar terwyl hulle in sirkels oor ons sweef. Ek kyk op, my mondjie oop van verrukking. Ek wys met my hand en lag uitbundig, totdat sy stem my verwondering ru versteur.

      “Kom nou. Dadelik!”

      Hy gryp my hand. Ek loop gehoorsaam agter hom aan en kyk glimlaggend na hom op. My nuwe pa neem my saam na ’n nuwe lewe. Hy gaan vir ons sorg en Mamma sal nie meer hartseer wees en treur omdat my regte pa dood is nie.

      Vlissingen. Dit lyk of herinnerings aan gelukkiger tye jare lank hier op my gewag het. Asof die water ’n onsigbare grens vorm tussen hier en daar, tussen hede en verlede. Net toe ons die hawe invaar, hoor ek die skel kreet van ’n seemeeu en ek kyk op. Ek wil so vry soos daardie meeu wees en dalk is dit nou my kans. ’n Glimlag laat my mondhoeke lig en ek beweeg my tong, reg om ’n kreet te gee, net soos die seemeeu gedoen het. Toe sien ek Pieters kyk vir my en ek hou my in. Ek loop terug na die middel van die dek waar my koffers nog lê en tel dit op. Met my bagasie in my hande kyk ek hoe Pieters die kotter laat vasmeer.

      Die dominee het geweier om ’n chaperone te reël. Hy het ook my ma verbied om saam te kom, en sy het dit so aanvaar.

      “Jou dogter sal regkom, op haar manier.”

      Mamma het geknik, haar lippe styf opmekaar. Ek kon die woede wat sy al weke lank soos ’n mantel om haar dra, nie net sien nie, ek kan dit ook voel. Ek het haar gevra wat verkeerd is.

      “Jy maak my woedend, Maria.”

      “Maar, Mamma …”

      “Nee, Maria, daar is al genoeg gesê …” Haar stem steek vas en sy draai van my af weg. Haar hoekige skouers weer my af.

      Daarna probeer ek haar met my optrede paai. Ek voer elke opdrag uit sonder om te kla, ek soek ekstra werkies en bring vir haar lekkergoed as verrassing, gekoop van my eie spaargeld. Al waarop ek hoop, is dat sy haar arm om my skouers sal sit, maar sy verydel my hoop net daar.

      “Jy moes nie die moeite gedoen het nie, Maria.”

      Uiteindelik het ek nie meer hoopvol na haar gekyk nie, want van haar kan geen hoop meer verwag word nie.

      “Daar moet jy wees, Maria!” Pieters het langs my kom staan en skree ondanks sy nabyheid, terwyl hy na die oorkant van ’n besige straat wys.

      “Die gebou daar. Het jy hulp nodig?”

      Ek skud my kop, want ek weet hy wil so gou moontlik van my ontslae wees sodat hy sy dag nog nuttig kan gebruik. Hy help my tog nog met my bagasie en sit dit vir my op die kaai neer.

      “Baie dankie, Pieters.” Ek skud sy hand, sit die reissak se band oor my skouer, tel die twee koffers op en begin loop.

      Die gebou waarheen ek moet gaan, is groot en hoog en lyk aan die buitekant soos ’n paleis, met versierings en ’n torinkie en gebrandskilderde vensters. Ek kan my nie indink dat ek sommer net daar kan ingaan nie.

      Ek kies die middelste een van die drie hoë deure en volg die ander reisigers wat almal doelgerig hulle pad vind. Links en regs sien ek waglokale, en daar is ’n bord wat die koninklike waglokaal aandui. Nie vir my bedoel nie. Die mense wat voor my uitloop, lei my outomaties na ’n kaartjieskantoor. Ek