Helene de Kock

Debora en seuns


Скачать книгу

hulle mense wat die Nag van die Lang Messe ontkom het en nou hier in dorpsgeledere kom skuiling soek.

      En dié storie slaan nog, nes ’n hardnekkige veldvuurtjie, kort-kort iewers uit. Al het die gesin Schlagerfeldt in ’n Amerikaanse 1934-Ford Model B opgedaag, wou die gerugte dat hulle Duits is, nie gaan lê nie. Dit was meesal die vrouens wat so gedink het. Die mans was meer geïnteresseerd in die nuwe maroen-en-swart motor met sy groot silwerblink kopligte en vier silinders. Maar ook die karpraatjies het later fut verloor. Dit namate die maroen-en-swart met die jare dowwer geword het en die swierige wit van die bande gelerig. Dan het die pratery weer meer na die eienaars self toe gedraai wat uit die niet verskyn het daardie tyd toe Hertzog en Smuts se partye saamgesmelt het.

      Susan Scott kom asemrig van gejaagdheid die sitkamer in, kerkhoed op die kop. “Kom, Margot!”

      So asof dit sý is wat bly draai het. Margot glimlag net toe sy haar hoed met die wit blom opsit.

      Toe hulle eindelik in die kerk sit, sien Margot dat haar ma sweet van haar bolip afvee. En syself het moeite om deur die kort diens wakker te bly. Sy is verlig toe dominee Hamman eindelik, ná al die geprewelde gebede, luid amen sê.

      Vanaand is die Schlagerfeldts weer op mense se lippe toe die bidders in die kerksaal tee drink. Maar die onrustige geselsery bly eers al om die oorlog karring. Sy kan aan haar ma se gesig sien dat die gesprek haar by voorbaat vermoei.

      “Daar gaan nog baie meer as net glas breek,” profeteer oom Karel van Langspruit en slurp die warm koffie uit die piering.

      “Nee wat, oom Karel,” sê Helgaard Smit, wat ook in die distrik boer, “jy kan nie alles op laas jaar se Kristalnag baseer nie.”

      “Wat vir ’n ding was dit?” vra Sina Pienaar en blaas tuitmond oor die kookwarm tee.

      “Dis vreeslike dinge daardie, Sina,” antwoord oom Karel paraat. “Hitler het mos laas jaar November drie honderd sinagoges en Joodse besighede verwoes. Daar’t so baie glas gebreek dat hulle nou die negende November van 1938 die Kristalnag noem.”

      Sina sit haar koppie terstond neer. “So ’n mooi naam vir so ’n vreeslike ding, darem!”

      ’n Ieder en ’n elk lug gedetermineerd sy mening en al gou eskaleer die gesprekke tot ’n kakofoniese gedreun wat soos donderweer uitwoed en wegsak. Vir Margot klink al die praatjies bloot na bogtery.

      Daar stol oomblikke wat die biduurgangers mekaar onderlangs agterdogtig bekyk en dan lomperig na ander onderwerpe begin tas.

      Die ongedurige weer hier in die Vrystaatse Hoogland wat mik-mik na somer en dit net nie regkry nie.

      Die kapok wat waarskynlik weer winterwit op die Maluti-berge gaan lê voordat dit nou regtig warmer gaan word.

      En noudat dit klink asof die wêreld orals opnuut omgeellie is, gryp mense wild na enigiets wat die onrus kan besweer. Margot se gedagtes is nie koud nie of Debora se skim begin onder hulle beweeg.

      “Die Schlagerfeldt-vrou,” begin tannie Tredoux sugtend herkou, “ek wonder darem.”

      Ou verhaal. Holrug gery. Maar met ’n bietjie gestook, steeds eersteklas skinderstof.

      “Ja-nee,” sê Sina Pienaar, tweede koppie tee stortend in die hand. “Debora bly al jarre hierso maar wat weet mens van haar af? Kom wel kerk toe en haar seuns is tog stigtelik, nie waar nie? En solank sy nie met Hitler saamstem nie, kan sy mos darem Duits wees. Nou nie ’n Nazi nie, maar … ?”

      Tannie Tredoux ruk haar op. “Wat daarvan as sy ’n Nazi is? En wie sê Hitler kan nie die wêreld regruk nie?”

      Stilte tik soos ’n versteekte bom. Die tee- en koffiedrinkers vorm twee groepe. Vir die Nazi’s en teen die Nazi’s. Saam met Smuts en die Geallieerdes teen die Duitsers of … wat? Wát, inderdaad. ’n Hete debat bars los. Margot voel hoedat haar ma haar boarm styf vasvat. Sy vryf vertroostend oor haar ma se vingers.

      “Wag,” fluister sy, “ek wil hoor.”

      “Tj,” klik Susan met haar tong maar bly nietemin staan.

      “Wat nou as die hele Suid-Afrika Nazigesind raak?” wil ’n omgekrapte boer van duskant Arlington weet. “Sal dit nou so erg wees?”

      “Maar noudat jy so praat,” vra ouderling Kirsten, “by waffer kant skaar jy jou altemit? By die Ingelse wat onse vrouens en kinners in kampe gefolter het?”

      Die politiek swel dik in die kerksaal. Loop kokend oor die rand van stigtelikheid, nes deeg wat te veel suurdeeg in het. Totdat dominee Hamman verbouereerd keel skoonmaak.

      “Broers en susters, kom ons los nou maar die oorlog buite.” Maar dit het weinig effek. Hy kug en verskoon hom, los die smeulende biduurgangers net daar in die flou verligte saal.

      Margot Scott bêre die gesprek woord vir woord in haar kop. Dat vroue én mans darem kan spekuleer! Die manne bondel in grommende groepies saam en die vroue takel mekaar en sommer vir Debora in haar afwesigheid ook. Hulle wonder presies waar dié vrou se politiek staan en sommer ook waar die Jode, Eisenstein en Greenberg, se lojaliteit lê – al koop mens darem so lekker in hul winkels.

      Margot byt haar lip vas. Dis erger as wat dit soms tussen die skoolmeisies tydens pouse gaan. Die taamlik onsamehangende gesprek kolk al om haar. Toe sy wil omdraai om uit te stap is dit haar ma wat haar terughou want skielik werp tant Sue Ferreira haar ook met oorgawe in die deurmekaar gesprek: “Ja, en dan’t Eisenstein nog die mooie Rebekka. Om te dink hy stuur die kind Johannesburg toe om skool te gaan.”

      Sina Pienaar kyk haar betigtend aan: “Eisenstein het Rebekka weggestuur om na ’n Joodse skool toe te gaan, soos dit hoort, Sue. Maar tj! Dis nie waaroor ons nou praat nie. Waar anders sal jy witsuiker en lekker sterk garing en lappiesgoed kry, vra ek jou?”

      “Stadig nou, julle,” maan Isak Pienaar en skud sy kop op sy dik nek. “Maar ek verstaan wat my vrou probeer sê want ek is ook aan Smuts se kant.”

      Op hierdie punt sê Susan Scott ferm: “Kom nou, Margot.”

      Hulle groet en stap weg in die koel, helder maanlig.

      “Wat dink Mamma gaan gebeur?” vra sy toe hulle al byna op die hoek is waar hulle na hul straat toe opdraai.

      “Jy bedoel wat gaan nou van die dorp se relatiewe vredigheid word?” vra haar ma. “Met die oorlogswolke wat veraf blits, het mens nie nog ’n onderlinge getwis ook nodig nie.”

      Margot bly liewer stil, luister net na hul knarsende voetstappe op die stowwerige gruis. Hulle loop die drie groot dorpsblokke straatop teen die rant, tot skuins voor die Victoriaanse huis waar Debora Schlagerfeldt toentertyd ingetrek het. Susan trek haar jaspante effens uitasem nader aan mekaar.

      “Sal ons nou vir Debora van die onstuimigheid by die kerk gaan vertel?” wonder Margot hardop.

      “Nee wat. Debora het tog g’n sin aan los praatjies nie. Sy sal net ’n hand ophou en ‘Genug!’ sê.”

      Margot lag sag. “Genoeg!” is Debora se geliefkoosde stopwoord. As ’n gesprek of enige situasie volgens haar getemper moet word, sê sy net ferm: “Genug!”

      Daarom loop sy swyend agter haar ma aan na hul klein rooidakhuis op die kalerige erf. Regoor hulle in Debora se statige woning skyn daar nog geel lamplig agter die roomkleurige gordyne.

      Tuis maak Margot nog tee. In haar kop weerklink die aand se vele gesprekke. Sy het die implikasies daarvan goed begryp want haar ma het nog altyd met haar gepraat asof sy ’n grootmens is. Boonop in Afrikaans en in Engels. Sy skink twee koppies vol en neem dit sitkamer toe waar haar ma al in die leunstoel met die geskifte maroen linneoortreksel sit.

      Sy gee die tee aan en gaan sit op die holgesitte sitkamerbank, vou haar lang bene onder haar in.

      “Margot,” sê Susan stadig, “ek is trots op jou.”

      “Haai, Ma?”

      Susan knik. “Ja, jy is nou mooi rond geslyp, dink ek. Byna soos van die meisies wat ek destyds in Engeland