Elisa skoonmaak, gesit en verlang het na die mense wat moontlik nog sou kom.
Sy sug, staar wakker en brandoog die donkerte in. Want Margot moet opnuut erken, noudat die Schlagerfeldts al jare hier is, wil sy meer as ooit die onsigbare sien.
Sy staan op, loop op haar tone deur die huis en gaan drink ’n glas melk. Loer deur die skreef in die kombuisgordyne na die wit maanskyn op die agterwerf. Sluip terug en klim weer in die bed. Maar die storie van punctum draai steeds in haar kop.
Want in later jare het dié woorde begin sin maak. Dit was Debora op daardie foto en Debora het punctum, al is sy nie meer net ’n foto nie. Dis net dat die gaatjie waardeur mens moet loer om haar beter te verstaan, onsigbaar is. Nie eers haar koelgrys oë gee ooit iets weg nie.
Margot se kop sif soos soveel male deur die ou bekende gegewens. Sy weet Debora en haar seuns se lewe is met hare verweef net soos die nag met sterlig is.
Sy het dit geweet daardie tyd toe hulle opgedaag het.
Toe nie volksvreemd nie. Maar anders op ’n haas onpeilbare manier.
’n Lang, skraal donkerkopvrou en drie seuns. Die jongste moontlik Margot se ouderdom, het haar ma geskat. Die ander twee ’n klompie jare ouer.
Daar was ’n huisbediende ook wat klinkend Afrikaans gepraat het. Een oggend het die twee vroue en die seuns in ’n maroen-en-swart Ford Model B by die erf uitgetrek en die dorp ingevaar. Van die buurt se vroue het hulle daarna in Eisenstein se winkel gewaar en rondvertel dat hulle die plek omtrent leeg gekoop het. Darem die gewone eetgoed soos boermeel en suiker en tee en koffie. Daarna het Sina Pienaar hulle in Clifford se klerewinkel naby die poskantoor opgemerk. Maar die vrou en die seuns het hulle onverstoord by hul besigheid bepaal. Net só dat mens nie oorweeg het om ’n gesprekkie aan te knoop nie.
Ten einde raad is besluit om die nuwelinge met versuikerde diplomasie op die tradisionele manier te benader.
Die vrou met die dik donker vlegsel om die kop en die robynrooi lipstiffie het gaaf dog ferm aan die twee dames met die borde vol koeksisters en melktert beduie dat hulle gekom het om te bly. Hierdie plek is deur haar tante aan haar nagelaat. Enne … sy is Debora Schlagerfeldt.
“Nou van watter Schlagerfeldts is julle?” Dit was die vrou van een van die dokters op die dorp.
“Ons is van ons eie Schlagerfeldts.”
“Nou maar hoe het julle … ?” Die weduwee van langsaan.
“Ek sê mos, mevrou Schmidt was my tante. En hier is ons nou.”
“Maar dis twee jaar ná haar dood?”
“Twee jaar, ja,” het Debora beaam en toe nie meer geglimlag nie.
“En die kinders?”
“Almal myne.”
“Ja. Maar ek bedoel …” Die weduwee het nou erg nerveus begin raak: “K-kom hulle hier skoolgaan?”
“Ja. Ek vermoed skoolgaan is hier ook verpligtend.”
“En … en u man?”
Debora Schlagerfeldt het haar blik stip op die twee borde koek in haar hande gehou. “Hy is ook hier, ja.”
“Maar …”
“Baie dankie vir dié gawe gebaar. Nou sal u my moet verskoon.”
Dié gesprek is woordeliks deur die weduwee se huisbediende, wat gebukkend agter die digte sipreslaning tussen die erwe afgeluister het, aan Elisa oorgedra. Dis hoe Susan en Margot daarvan te hore gekom het.
Dis toe dat die storie omtrent die Nag van die Lang Messe begin kop uitsteek het. Dalk is die vrou met die rooi mond dapper. Party mense wat in die dorp naby genoeg aan haar kom, sê sy ruik ook so lekker. Die ene 4711-oliekolonie. Dalk nog laventel ook. Wie weet waarvandaan sy moes kom. Of dalk vlug. Per vragskip dalk. Met die grênd motor en iewers versteekte geld ook, natuurlik. Want die nuwe gordyne en goed … Moontlik dié dat sy so stug en eenkant is. Swaarkry maak mens só.
Opinies van links en regs. Maar Margot het geweet wat opinies kan doen. Omdat sy nie ’n pa het nie, het mense soms dinge vir haar gesê waarvan sy nie hou nie. Dan het sy hulle koeltjies aangekyk en hulle aangeraai om hul menings vir hulself te hou. En met die koms van die Schlagerfeldts het sy sommer om hulle onthalwe ook so begin sê.
Met die tyd saam het mense wel minder gepraat. Die wêreldpolitiek het so skuins na hul kant toe begin kantel dat hul aandag deur die swaartekrag daarvan weggetrek is. Die dorpenaars het eerder meer begin wonder oor die stand van internasionale wel en wee. Want in Augustus het Hitler, ná die dood van president Von Hindenburg, alle mag in Duitsland in homself verenig. Sommige mense het huiwerig oor Duitsland se diktator, die Führer, begin fluister. Ander was openlik pro die nuwe, charismatiese leier.
“Hy sal nog die Ingelse op hul herrie gee,” het mevrou Verdoorn een oggend ná kerk luidkeels beduie.
“Hy klink vir my gevaarlik,” het Susan Scott bedaard laat hoor en Margot het instinktief haar asem ingetrek.
“Wat weet jy tog,” was mevrou Verdoorn se stywenekantwoord.
“Veel meer as wat jy dink,” was Susan se reaksie.
Dit het mevrou Verdoorn die swye opgelê want almal het immers geweet wat ’n belese onderwyseres Susan Scott was.
En soos wat nuwe plante ’n greep in die grond kry, het die Schlagerfeldts op die dorp wortelgeskiet. Een middag teen sononder het die vloeiende musiek van strykinstrumente soos wierook uit die huis gesypel. Straatwandelaars het verwonderd gaan staan.
“Luister,” het haar ma wat op hul stoeptrappie loop staan het, gesê, “dis ’n paar viole. Dalk ’n tjello ook, maar hulle speel soos één.”
Dit het dorpenaars weer laat praat: eienaardige, onsigbare mense wat hemelse musiek maak in ’n tyd van bittere skaarste en politieke onweer.
Die skoolkinders het die drie seuns gou gewoond geraak. Veral die seunskinders het die jong Schlagerfeldts se knap atletiese vermoëns bewonder, die meisies hul felblou oë en donker kuiwe, hul breë skouers en koel, effens arrogante glimlagge.
Margot stoot weer die komberse weg, rol suutjies uit die bed en trek haar kamerjapon aan. Vannag kan sy maar vergeet om ’n oog toe te maak. Vannag begeer sy vir die soveelste maal om daardie onsigbare gaatjie te vind en te loer.
Sy trap versigtig in die nou gang. Maar haar ma is wakker.
“Margot, waarom slaap jy nie?”
“Ek soek ’n bietjie melk om te drink.”
“Al weer? Maak asseblief tee en bring vir my ook sommer.”
“Goed, Mamma.”
Sy steek die paraffienlamp in die kombuis aan. Haar hande doen meganies wat dit moet doen. Maak ketel vol. Steek die primus aan. Maar haar gedagtes bly pluis aan die mense oorkant die straat.
Susan Scott het mettertyd Debora Schlagerfeldt se beste vriendin geword. Miskien omdat sy en haar enigste dogter reg oorkant die Schlagerfeldts woon en dit maklik was om mekaar van dag tot dag te sien. Susan het nie met ’n koek as vriendskapsoffer gaan kuier nie. Net een middag ná skool oorgestap en aangekondig dat sy regtig dors is. En tee sal wonderlik smaak, dankie.
Debora het Susan met ’n rooimondglimlag ontvang. Toe ietwat skigtig gevra of dit sy is wat so mooi na die huis gekyk het en as dit dan so is, danke schön.
Dis Susan wat eerste verneem het dat herr Dieter Schlagerfeldt eintlik nooit in die openbare oog kom nie. Hy bly maar so in die syvleuel. Nou en dan stoot Debora of een van die seuns vir herr Dieter in sy rolstoel uit op die breë stoep wat na die noordelike deel van die erf kyk. Of laat hom ’n bietjie in die welige tuin sit. Dis nou as dit sonskynweer is. Dan gaan sit een van die seuns baie keer daar by hul pa en maak praatjies, al kan hy nie terugpraat nie. Of speel vir hom ’n stukkie op die viool of tjello.
“Is die oom siek, Mamma?” wou Margot weet.
“Jy