Anita du Preez

Donna en die droomman


Скачать книгу

asof hy ook weer van die radar af is. En die afgelope week of wat moes Donna juis weer hordes van Karen se e-posse en SMS’e deurwerk oor die een of ander splinternuwe, fabulous Pieter of ’n ding. Hoe fabulous iemand met die naam Pieter nou eintlik kan wees, weet sy nie so mooi nie, maar nou ja. Wie is sy om te oordeel?

      Sy sug en voel weer versigtig of die masker aan haar gesig al die regte tekstuur bereik het. Niemand by Buitenkant Produksies gaan haar respekteer as sy soos ’n voëlverskrikker lyk nie.

      Sy weet presies hoe die arme skepsel gaan lyk wat Karen so graag vir haar wil kom wys. Lank, donker en aantreklik natuurlik. Die absolute cliché in lewende lywe. Al Karen se aanhangsels lyk so. Sy onthou vaagweg dat die Pieter glo ’n wyd belese, alleenlopende veearts uit Namibië is. Presies waarvoor Karen sou gevra het as sy ’n man van vaderkrismis.com kon bestel.

      Is hy nie stunning nie? was die onderskrif by die laaste dowwerige selfie wat naastenby die stereotipe van enige donker man kon wees omdat Karen se arm duidelik gebewe het toe sy hulle afgeneem het. En hy ís seker; Karen hou haar nie op met lelike mans nie. Maar moet sy hulle heeldag onder Donna se neus vryf? ’n Mens eet nie voor honger mense nie, het Pa altyd gesê.

      Die gemis van haar pa bekruip haar onverwags. Sy skud dit af. Karen kan dalk aan ’n flippen vaderkompleks ly met haar rondvallery van die een lang, aantreklike, donker man na die ander, maar nie sy nie. Sy wil van Dawid Ferguson niks hê nie en niks weet nie. Karen kan dalk ná haar ma se dood kontak met hom probeer hou het, maar nie sy nie. Nadat hy haar ma weggesmyt het, het sy hom heeltemal uit haar verwysingsraamwerk geban. Sy vervies haar sommer as die herinnering aan sy rysige gestalte, of selfs net sy reuk, soms so ongevraagd uit haar onderbewuste opkom.

      Nee wat, sy het vroeg in haar lewe geleer om g’n man te vertrou nie. Of te naby aan haar toe te laat nie. Ruhan was die uitsondering, en kyk waar het dit haar gebring? Net soos haar yslike misstap nou die aand met Jayd se uitstalling. Liewe genade, sy word sommer naar wanneer sy dink aan hoe sy haar vergryp het daar op die galery se stoep aan die eerste die beste testosteroonfabriek wat haar kant toe gekyk het. Gelukkig dat iemand net betyds uitgekom het om te rook. Dis eintlik als Jayd se skuld. Omdat hý nie drink nie, moes sy vooraf jolly well al die onderskeie kultivars proe sodat hy seker kon wees van die gehalte. Geen wonder sy was nie mooi by haar sinne nie. Sy sidder om te dink wat sy als kon aangevang het as die rooklus twee vreemdelinge nie buitentoe gedryf het nie. Om te dink sy het haar verbeel dis haar droomman wat presies op die regte tydstip deur die voorsienigheid oor haar paadjie gestuur is. Yeah, right. En meer as vier weke later het daar steeds niks van gekom nie. ’n Volle maand. En vet mooi nokkol, soos Jayd sou sê.

      Sy het verniet haar lip stukkend geknaag terwyl sy haar foon sit en dophou het. Niks in g’n inboks van enige aard nie. Net ’n oorvloed posts en tweets van Karen oor haar nuutste vonds. Donna word sommer warm onder die moddermasker. Wat ’n vernedering. Gaan sy nooit leer nie? Sot wat sy is, het sowaar gedink dis dié keer spesiaal. Flippet. As hy die soort man is wat sy gedink het hy is, sou hy ’n plan gemaak het. Kon hy haar nie net gegoogle het nie? Hoe moeilik kan dit nou wees? Oukei, hulle het nie name uitgeruil nie, daarvoor was alles mos te spesiaal en tog so sexy. Gmff! Wat van die familie van vyf in die film wat sy verlede Saterdagaand gekyk het, wat mekaar ná ’n tsoenami opgespoor het. Selfs al was daar geen gastelys vir Jayd se uitstalling nie, kon hy haar tog sekerlik opgespoor het as hy regtig wou? Ag, die hele affêre maak haar moeg. Mans is werklik net moeite, besluit sy en wikkel haar skouers lekker in die kussing in.

      Deur slaapnewels heen word Donna daarvan bewus dat iets iewers lui. George-André lig sy kop en gluur haar beskuldigend aan. Donna dommel gelukkig binne sekondes weer weg. So salig …

      Die gelui word voortgesit. Verdomde voordeurklokkie, besef sy. Sy kom swaar weg van die donker man in haar droom. Oorweeg dit om die laspos by haar deur te ignoreer. Dis sweerlik net die bergie wat elke middag kom kos soek.

      Sy pluk die voordeur ergerlik oop sonder om oudergewoonte te vra wie staan aan die ander kant. Gelukkig is die plankvloer koel onder haar voete, want die gestalte op haar drumpel stuur onmiddellik ’n hittegolf deur haar lyf. Dit is dié man. Die een met wie sy ’n paar weke gelede so skaamteloos op die stoep van Jayd se galery gestaan en vry het.

      Die droomman.

      Oomblikke lank is sy sprakeloos. Dan tintel dit soos sjampanjeborrels deur haar lyf. Hy is so wragtag hier. Hy het gekom! En sy gee wel om. Dit wás nie net die wyn nou die aand nie, want hier is hy nou, en sy voel presies soos toe en sy makeer nou niks.

      Toe sluk Donna swaar. Daar is geen speeksel in haar mond om haar tong los te maak nie. Sy besef dat sy in diep moeilikheid is, want van agter die droomman se groot gestalte duik Karen ewe speels uit.

      “Tada!”

      Hoe is dit moontlik? Sy knipper haar oë. Die man staan regtig donker teen die daglig hier op haar drumpel afgeëts. Met Karen by hom.

      Nie heeltemal wat sy gewens het nie.

      Moenie dat dit Karen se nuwe Pieter wees nie, bid sy stilletjies toe hy frons en vinnig terugstaan tot waar die lig op sy gesig val. Dis tog nie moontlik dat só ’n man se naam Pieter kan wees nie? Hy is ruwer, gevaarliker en begeerliker as wat sy selfs onthou. Sy wat Donna is, het nog altyd geval vir ’n bliksem en dié een hier voor haar met sy windverweerde gesig is beslis geen mak kalfie nie. En hy laat haar hart ruk, presies soos daardie aand.

      Please, give me a break, pleit sy boontoe, kan dit nou nie maar Sebastian of ’n Stefano of ’n ding wees wat Karen sommerso langs die pad opgetel het nie? Of Jan van die internet? Of enigiemand vir wie Karen nie juis meer omgee nie. Net nie Pieter nie. Sy het hom tog eerste gesien. Hy is háár droomman. Nie Karen s’n nie. Nie hierdie keer nie …

      Donna voel hoe haar noodkreet nutteloos teen die plafon vasslaan.

      Karen gooi haar arms wyd en verklaar hom blinkoog en amptelik as: “Pieter!”

      Donna voel presies dieselfde magteloosheid oor haar spoel soos toe sy haar troetelhaas, George, haar eerste tienerliefde, André, en byna elke ander liewe ding waarvoor sy ooit omgegee het, moes afstaan omdat Karen dit wou hê. Omdat Karen blonder en mooier en slimmer as sy is. Jonger. En maerder. Maar veral omdat Karen die siek ene is.

      Tot haar skaamte voel Donna die wrewel van kleintyd oor haar spoel. Sy wil haar ore toedruk: “Ag, gee tog maar vir haar jou Paaseier, Donna. Sy verstaan nog nie, en sy is mos nie gesond nie, my kind. Onthou tog van haar hartjie. Mamma se skuld. Mamma moes gesorg het dat jy joune wegbêre. Siestog, kyk hoe skree sy. Ou gesiggie is bloedrooi … hoor hoe fluit haar asempie. Dokter het mos verduidelik dat sy nie so ontstel mag word nie. Toe wat, Ma se kind verstaan mos, nè? Ons kry net môre vir jou ’n ander een, oukei?”

      Kon haar ma dan nie gesien het dat Karen al haar Paaseiers blitsvinnig opgeëet het en dan staan en tjank het oor háár laaste een nie? Of dat sy André eerste gehad het lank voor Karen se hongerstaking oor hom? Donna knyp haar oë styf toe teen die skuldgevoel wat haar omvou. Sy weet sy is onredelik en simpel, en dat alles dalk nie presies gebeur het soos sy dit onthou nie, maar kan haar gevoelens met die beste wil ter wêreld nie keer nie. Sy voel lus en stamp haar voete op die plankvloer, of gooi ’n vloermoer. Sy wil nie môre ’n ander een hê nie … sy wil hierdie een nóú hê!

      Toe Donna opkyk, sien sy Pieter se gesig is vraend geplooi. Hy kyk haar snaaks aan. Sy het ekstra suurstof nodig. Sy suig lug skerp deur haar mond in en staan vasgenael. Kyk hom reg in die oë asof sy ’n antwoord uit hom wil kyk. Praat, meneer. Moenie my so aanstaar asof jy nie kan glo wat jy sien nie. Sê iets. Enigiets.

      Maar hy lig digte, donker wenkbroue bokant twee groenbruin oë en sy stroewe mond plooi in ’n skewe glimlag. Sy kyk gefassineerd hoedat die glimlag sy gesig verander, hoe die diep krake weerskante van sy neus verby sy mondhoeke lig, en die twee beneukte vore tussen sy oë versag. Sy merk ook dat sy spierwit tande voor net effens skewerig wys tussen sy goed besnede lippe, en dit maak hom nog mooier vir haar. Al is die hare korter as wat sy onthou, is die bietjie grys teen sy welgevormde slape steeds daar. Sy was nog nooit een vir perfeksie nie. Daar moet iets onreëlmatig aan ’n man se gesig wees om hom werklik sexy te maak.

      Hy steek sy hand effe huiwerig uit.

      “Pieter