Anita du Preez

Donna en die droomman


Скачать книгу

sluk sy asem hoorbaar in.

      “Ek glo dit nie. Sommer net so?”

      “Ek kan dit self skaars glo. Maar dis oor ek al daai wyn van jou moes …”

      “Nou onthou ek. Jy’t skielik stoep toe verdwyn net toe professor Olivier se speech begin het. Ek dog jy kry maar net weer daai gewone benoudheid van jou. Maar ek het darem gewonder wat …”

      “Ek weet. Ek is jammer.”

      “Jammer, schmammer, vrou! Vertel, vertel. Was dit lekker? Het julle ge … ?”

      “Ja, dit was. Absolutely amazing en néé, natuurlik nie, Jayd. Net gesoen.”

      “Ek wou net sê.” Hy vat nog ’n versigtige slukkie tee. “En toe?”

      “Toe kom mense buitentoe om te rook, en skrik ek en storm weer in om my handsak en my bril te kry en toe ry ek huis toe.”

      “So, dís wat gebeur het. Ek wou nog altyd weet wat regtig daai aand van jou geword het. Ek het nie jou storie van die hoofpyn geglo nie, maar dinge was so dol met al die VIPs daar. En toe?”

      “Toe niks. Toe daag Karen vanmiddag hier op met haar nuwe ietsie.”

      Jayd hyg weer na asem: “En toe is dit hý?”

      “Uhu.”

      “Oh. My. Word. En toe?”

      “Toe niks. Hy’t gemaak of hy my nie onthou nie. Toe hou ek ook maar my pose.”

      “Siestog. Hoe aaklig vir jou!” Jayd skink nog tee in en hou die bordjie koekies vertroostend na haar uit.

      “Omtrent.” Donna snuif sommer weer van voor af.

      Jayd sit skielik orent. “Obviously het hy jou nie herken nie, girl!”

      “Dink jy ook so?”

      “Natuurlik. Jy was dan die ene modder.”

      “Moet my nie nog herinner nie. Vol bruin kolle soos ’n Spur-rusbank.”

      “Wel, dink só daaraan: Jy kan besluit wat jy nou daaromtrent wil doen.” Hy beduie wyd hoeveel keuses sy skielik het. “Stay under the radar. Fly low. Keep a low profile. Suss things out. Maybe he’s the scumbag of all scumbags, en dan was dit jou lucky escape.”

      “Miskien is jy reg.”

      Donna stop ’n soetkoekie sommer heel in haar mond.

      “Maar … hoe het Pieter… ?” Donna hou haar hand voor haar mond om die krummels te keer. “Ek kan nog nie glo sy naam is actually Pieter nie. Anyway, hoe de duiwel het dieselfde Pieter met wie ek so gekafoefel het by Karen se salon beland?”

      Jayd frons diep. “Nee, o heng, hoe moet ek weet? Fate?”

      Op Jayd se aanbeveling gaan tap Donna vir haar ’n skuimbad toe hy uiteindelik huis toe is. Sy is skaars behoorlik geweek toe haar deurklok weer lui. Waddejoos? Was haar middag nie erg genoeg nie? Sy draai die warm kraan met haar groottoon verder oop en probeer weer in die zone kom, maar die persoon by die deur het geen genade nie.

      As daar nou een ding is wat sy nie kan verdra nie, is dit mense met slegte tydsberekening wat met ’n ongeduldige vinger op haar dêm deurklok lê. Sy klim haastig uit en pluk nat-nat haar ou handdoekstofkamerjas van die stoel af en draai dit brom-brom om haar lyf. Vandag is die dag, besluit sy, dat sy daai bergie se dun nekkie gaan omdraai. Hy kan mos nie haar lewe so versuur nie? A nee a!

      Dis reeds sterk skemer buite, sien sy deur die gangvenster toe sy verby storm. Sy kyk hierdie keer eers deur die loergaatjie voordat sy oopmaak.

      Hý.

      Pieter.

      Sy is dadelik die duiwel in.

      Sonder om te dink ruk sy die deur oop.

      “Wat soek jy hier?”

      “So dit ís jy?”

      “Nou wiedehel het jy dan verwag? Moeder Teresa?”

      “Hmmmm … Nee.” Hy kyk haar onder die dik wenkbroue deur, “dalk eerder Lady Gaga?”

      “Luister Meneer Wie-jy-ook-al-wil-wees, ek is nie lus vir grappies nie. Ek is besig!”

      Sy druk die deur toe, maar hy keer met sy voet.

      “Wag, ek is jammer.”

      “Nie so jammer as wat jy gaan wees as ek …”

      Hy lag saggies: “… as jy wát nie?”

      Ergernis dam in haar op. Sy voel lus om hom ’n taai klap te gee toe sy sien hoe sy oë die ry spore agter haar op die plankvloer volg en te ruste kom by die poeletjie wat om haar kaal voete begin drup.

      “As ek, as ek … wel … ?” Donna word skielik skoon hees by die gedagte dat Karen iets oorgekom het. “Jong, moenie met my sukkel nie, waar’s my suster?” Sy hou asem op vir sy antwoord.

      “Sover ek weet, is sy by haar woonstel waar ek haar vanmiddag veilig afgelaai het?”

      Sy kan sien hy verstaan niks van beloftes of bloedbande tussen susters nie. Sy verstaan dit self nie.

      “Omdat ek jou verdomde nek vir jou kort bokant jou stuitjie sal omdraai as jy een haar op haar kop …”

      “Hei, ontspan. Jou suster is mooi groot. Ons is net pelle.”

      Sy plant haar bene uitmekaar en staan haar staan. Sy moet seker maak. “O, ja?” dreig sy.

      “Kyk, kan ek asseblief net inkom? En alles verduidelik? Dis nie mooi om so op die drumpel te staan en stry nie. Oukei?”

      “Om te wat?”

      “Om te keer dat die tannie met die rollers in haar hare wat daar oorkant deur haar blindings loer, nie jou dominee bel en rapporteer hoe jy mans net in jou kamerjas by jou voordeur ontvang nie.”

      “Watse tannie?” Sy rek om verby sy skouer te kyk, en hy neem sy kans waar.

      Die soen tref haar so onverwags dat sy vir een heerlike oomblik nie eens keer nie. Haar asem stol hoorbaar in haar keel en haar bene voel skielik onvas. Eers toe sy besef dat haar japon besig is om van haar een skouer af te skuif, tref die realiteit haar. Sy tree verward terug. Haar voete gly effens in die nattigheid, en sy gryp na hom om haar balans te herwin.

      “Sjoe, nie so haastig nie, vroumens.”

      Sy hap na suurstof. Sien hoe hy die voordeur met een hand agter hulle toedruk.

      “Waddehel dink jy doen jy?” Haar woorde klink skielik kwaaier as wat sy is.

      “Ek maak seker dat die hele straat nie sien wat hier aangaan nie.”

      “Ekskuus? Is dit miskien ’n dreigement?”

      Hy trek sy hemp eers weer tydsaam reg, stut dan sy hande weerskante van haar.

      “Dis eerder ’n belofte.” Hy kyk haar fronsend vas in die oë.

      Sy voel die koue gangmuur agter haar rug. En vir ’n oomblik weet Donna presies hoe ’n mot voel wat in ’n kers vasvlieg. Nee, moenie oogkontak maak nie, raas sy met haarself. Onthou van Karen. Sy duik onder sy arm deur en gaan staan ’n entjie weg, arms om haar lyf gevou. Hy laat sak sy kop tot teen die muur, en sy besluit dis veilig om uit te asem.

      “Kan ons dalk net bietjie asemskep of … ?” vra sy.

      “Binnetoe gaan? Ja, ek dink so …”

      Haar hart bedaar eers effens toe sy oorkant hom in haar sitkamer gaan sit.

      Hy vryf oor sy voorkop. “Ek is nie juis bekend vir my geduld nie, maar selfs vir mý is my optrede te erg. Ek is jammer.”

      Sy knik. “Ek ook.”

      Hy kyk op, glimlag wrang. “Vir ’n oomblik het ek gedink jy gaan my uitsmyt.”

      “Ek