“Jou voorreg. Dis jou huis.”
“En mý suster.”
“Karen?”
“Ja, natuurlik. Ek het net een suster.”
Hy haal sy skouers op. “Wat van Karen?”
Haar mond val oop. “Hoe bedoel jy, wat van Karen? Jy kom hier aan met haar op tou en nou … ”
“Whoa! Whoa! Stop net daar.”
Sy lig haar wenkbroue en staan effens nader.
“Ja?”
“Niemand het niemand op tou nie. Ek het Karen se besigheidskaartjie op die galery se toonbank gesien daardie aand na die uitstalling en in my sak gedruk. Nadat jy weg is, het ek maar taamlik verleë daar rondgestaan. Ek is die volgende dag Namibië toe om dinge daar te gaan help uitsorteer by ’n organisasie vir diererehabilitasie waarby ek betrokke is. Toe ek terugkom, was my hare baie lank.” Hy trek sy vingers deur sy hare wat nou netjies geknip is.“Ek het van die kaartjie onthou, ’n afspraak gemaak en my hare by Karen laat sny. Sy’s ’n baie nice girl. Bleddie goed in haar werk. Toe vra sy my vir koffie. En ons chat. Daarna het ek haar ’n paar keer na plekke toe gevat. Sy sukkel op die oomblik sonder haar kar, het sy gesê. Buitendien is sy baie aangename geselskap, en was ek alleen. Dis al.”
Vir een oomblik tower haar verbeelding weer die hele haresny-toneeltjie op. Dit maak haar onmiddellik onredelik vies.
“En nou? Daardie frons?” Hy kyk vraend na haar toe sy nie antwoord nie.
Sy gryp na strooihalms. As hy moet weet wat sy dink, sal hy hom wat verbeel.
“Sy bly my suster. My bloedfamilie.”
“Iets waarvan ek nie ’n cooking clue gehad het tot vanmiddag nie.”
“Seker ook waar.”
Lammerig gaan sit Donna weer. Dalk praat hy die waarheid. Sy wil so graag hê dit moet waar wees. Dalk het sy haar misgis met Karen se houding. Dalk …
Dis asof hy haar gedagtes lees. “Daar is niks romanties tussen my en Karen nie. Dit belowe ek jou.”
“Nogtans. Dis nie reg dat sy nie weet van ons nie.”
“Van ons? Wat van ons?” Sy mond plooi eenkant toe in ’n soort tartende laggie.
“Wel … die … die ander aand … die …” Sy kry al weer nie die ding gesê wat sy wil sê nie.
Hy gee ’n tree nader. “Die feit dat jy voel daar was iets, gee my moed.”
“Moed?” vra sy.
“Ja. Jy moet tog ook iets voel as dit jou so pla?”
Sy kyk weg. Al is dinge soms verdraaid tussen haar en Karen, kan sy haar vertroue nie breek nie. Ook nie haar belofte aan haar ma nie. Daarvan hoef niemand te weet nie. Sy kan hom nie vertel hoekom sy so bekommerd is oor haar sus nie. Karen sal nie daarvan hou nie. Maar sy kan ook nie toelaat dat daar iets tussen hulle gebeur waarvan Karen nie weet nie.
“Ek ken jou skaars,” verdedig sy, verward oor wat alles in haar kop aangaan.
“Ja, maar jy kan tog nie ontken dat daar iets baie, baie skaars en kosbaar tussen jou en my is nie? Ek het dit daardie aand onmiddellik gevoel. Ek weet jy ook.”
“O ja? En toe is dit net poef-paf, thank-you-ma’am, en weg is jy?” kap sy terug.
“Nee, nee, néé. Korreksie: Jý was net poef-paf weg.” Hy beduie woes. “Toe ek weer kyk, het jy omgedraai en weggehol.”
“En die volgende dag is jy weg Namibië toe?”
“Ja.” Hy kyk haar beskuldigend aan. “En ek was bitter spyt dat ek nie eens jou naam geken het nie. Want jy het verdomp by my bly spook.”
“Dit was jóú idee.”
“Beslis nie my beste een nie. Ek kon myself skop.”
Vir ’n wyle weet nie een van hulle wat om te sê nie. Donna blaas haar asem stadig uit en vou haar arms digter om haar lyf. Sy is skielik bewus van die nat punte van haar hare in haar nek en die feit dat sy net die kamerjas aan het.
“Jy kry koud.” Hy kom hurk voor haar.
Sy knik.
Toe leun hy effens vorentoe en trek haar teen hom vas. Sy bied nie weerstand nie, want sy lyf is warm en solied. En dit stil die bewerigheid. Ook toe sy mond hare, met die blindheid van ’n klein hondjie, oor haar wang heen soek en vind, stry sy nie. Sy gee haar oor aan hom toe hy haar saam met hom optrek totdat die hele lengte van haar lyf teen syne pas. Hy los haar mond en kyk haar vas in die oë terwyl hy langsaam met een vinger, tergend, fronsend, net binnekant die neklyn van haar japon streel. Donna hou haar asem op. Dis asof al haar sinne, al haar gedagtes, ingehoue saambondel en wag op die suiwer ekstase wat net onder haar klam vel huiwer. Sy het geen verweer toe hy die growwe handdoekstof van haar skouers afskuif nie. Haar vel ril onder sy vingers en haar mond gaan hongerig oop onder sy ferm lippe. Die puntjies van haar halfontblote borste skuur net effentjies teen sy hemp.
Donna besef sy is magteloos toe hy al twee sy hande daaroor kelk.
Dis eers toe hy haar optel en na die rusbank beweeg dat sy tot haar sinne kom. Skielik is haar hare te nat en te koud teen haar nek en is alles te oop, en onthou sy weer van Karen. Wat doen sy? Sy ken die man skaars.
“Nee.”
Hy los haar onmiddellik.
“Nee?”
Sy voel-voel na die rusbank se armleuning agter haar. Kyk op na hom. Sy skud haar kop en bly liewer staan. Dit sal nie werk as hy so bokant haar uittoring nie. Hy sug en vryf met een hand oor sy mond. Toe vou hy die japon met sorg weer mooi dig om haar.
“Jy’s reg. Ek is al weer te haastig. Ek is jammer.”
“Ek weet,” fluister sy.
Hy sit sy vinger onder haar ken.
“Kan ons oorbegin?”
Sy sluk swaar. “Miskien. Maar nie vanaand nie.”
“Nee.” Daar huiwer ’n glimlaggie om sy lippe, maar sy oë verklap hom. Die sagte erns wat Donna daar lees, tref haar op die krop van haar maag.
“Ek gaan jou nou uitlos,” belowe hy sag. “Nie maklik nie, maar ek troos my daaraan, ek sien jou môre.”
Sy knik ja, maar sy kan nie sien hoe dit kan uitwerk nie. Die een of ander tyd sal sy met haar suster oop kaarte moet speel. Toe soen hy haar baie saggies. Toe sy haar oë oopmaak, is hy al by die voordeur uit. Sy bly net daar staan terwyl sy die knip agter hom hoor toegaan. Sy kan nie anders as om te glimlag nie, want iewers binne-in haar fladder ’n sagte skoenlapper, of iets, so asof dit dalk net die begin is. Al is dit ook net van iets tydeliks.
Toe sy uiteindelik sover kom om haar nagklere te gaan aantrek, luier die dromerige glimlag steeds om haar mond. Haar hande wat haar lyf vol lekkerruikroom smeer, word sy hande. Sy maak haar oë toe en werk tydsaam. Wanneer laas het sy só gevoel? So salig. So tevrede binne-in. So rég? Om te dink sy het feitlik moed opgegee, en hier, vanuit die bloute, skep die voorsienigheid tog vir haar hierdie fees van ’n man op. En elke haal van die geurige room oor haar vel, kom van hom.
Sy hoor haar foon nie dadelik nie. Die nommer is onbekend. Sy oorweeg eers om dit net te los. Maar die mag van die gewoonte is te sterk.
Dit is toe Karen.
“Ousus?”
Donna weet dadelik daar’s groot fout.
“Kom haal my!”
“Wat het gebeur? Het jy jou pille gedrink? Is dit jou hart? Moet ons hospitaal …”
“Nee, nee. Dis net … Man, kóm net!”
“Oukei, Karentjie. Ek kom. Maar wat is dit?” Donna pluk jeans en haar