“Ja. Nee. Kom net! Ek wil nie vanaand hier in my flat wees nie.”
“Het jy die polisie laat kom?”
“Nee, man, wat kan hulle tog doen? Hier’s te veel misdaad in die Tuine vir hulle om nog met my te lol. Buitendien is dié ouens long gone. Kom net.”
Donna hoor aan haar suster se stem dat sy nie tyd met vrae moet mors nie.
“Oukei, Karen. Kalm bly. Sluit al jou deure. Ek ry. Ek is nou daar, oukei?”
“Het hulle jou …?”
Dis die eerste ding wat Donna vra toe sy skaars vyftien minute later, na ’n waaghalsige jaagtog in De Waal-pad, by haar suster se sitkamertjie instorm.
Karen skud haar kop. Haar witblonde hare laat haar gesiggie nog asvaler lyk en haar oë gloei yslik en bleekblou van ontsteltenis. Donna sak op die rusbank neer en bondel Karen teen haar bors vas. Verligting spoel deur haar, want haar sussie se hartklop voel tog redelik normaal.
“Die flippen bliksems!” tier Karen gesmoord teen haar skouer.
Donna blaas haar asem stadig uit. “As ’n mens nog kan kwaad word, is jy oukei, nè?”
“Het Ma altyd gesê. Ja, ek weet,” voltooi Karen die sinnetjie.
Toe eers sien Donna die lang, lelikrige borselkopou wat eenkant teen die kombuisafskorting leun, met WTF op sy verrekte wit T-hemp.
“Dis Tony,” verduidelik Karen. “Hy bly net oorkant my. Ek het jou van sy foon af gebel.”
“Dankie, Tony.” Daar is tatoeëermerke oor die hele seningrige arm en hand wat hy na Donna uithou.
“No problem, dude,” sê Tony met ’n swaar aksent, “what are neighbours for?”
“Ek het een van die ouens gesien,” beduie Karen. “Ek was bo besig toe ek iets hoor. En toe ek onder kom, sien ek hom. Hulle het al my goed met ’n haak aan ’n lang stok deur die onderste venster ingekatrol.”
“En wat doen jy toe?”
“Ek het nader gehardloop. Hy was net besig met my handsak. Nogal my nuwe Guess-een?”
“Ja, en?”
“Die een wat ek vanmiddag nog gehad het, Donna, jy weet mos, met die zips en die stukkie tiervel!”
“Ja, ja, die duur bruin leerhandsak van Guess. En toe?”
“Toe gryp ek na die stok en ek ruk, maar hy’t weggekom.”
“Was jy nie bang nie?”
“Bang?”
“Ja, Karen. Enigeen sou bang gewees het.”
“Agterna, ja. Maar op daai oomblik was ek te kwaad om bang te wees. Ek was soos ’n leeuwyfie. Ek dink ek het myself actually hoor brul. Kyk hier? Ek het níks eens gevoel nie. So jy moet wéét.” Sy draai haar hande om, en Donna se maag knoop van ontsteltenis. Die palms is bloedrooi geskaaf met ’n bloederige skraap oor die dik vleis van die linker een.
“Karen, jy behoort eintlik ’n tetanusinspuiting te kry. Dit kan …”
“Ag, asseblief. Dis ’n skrapie. Kom ons gaan net polisiestasie toe, maar daarna wil ek na jou huis toe gaan, Ousus.” Karen draai na Tony. “Keep an eye, will you?”
“Will do, dear.” Sy byderwetse oorgrote swartraambril lyk nogal hipster, maar die manier waarop hy na Karen kyk, wys duidelik dat die arme man sy beskilderde arms stompies sal baklei om sy woord te hou.
“Pity Tony was nie vanmiddag hier terwyl dit gebeur het nie,” sê Karen toe hulle wegry. “Hy was by vriende in Kampsbaai by wie hy eers gebly het.”
“Ken jy hom lankal?” Donna hoor die besorgdheid in haar eie stem.
“Nee, hy het verlede Maandag eers hier oorkant my ingetrek. Strange ou. Amerikaner.” Karen beduie na ’n helder verligte vertoonvenster met Anthony’s Tattoos in indigo neon bokant die deur aan die bopunt van die straat toe hulle daar verby ry. “Maar moenie ’n fit vang nie. Hy lyk maar so. Dis sy eie plek daai. Februarie al oopgemaak. Very legit, very upmarket.”
Dis heelwat later voordat Donna en Karen uiteindelik elk met ’n warm koppie tee in Donna se bed lê. Hulle moes by die polisiekantoor ’n verklaring by ’n vaak konstabeltjie gaan aflê, Karen se bankkaarte kanselleer en haar foon op die swartlys laat sit. George-André verwerdig hom darem om by hulle voete te kom opkrul. Hy maak een geel oog gesteurd oop toe Donna die duvet afgooi om in haar medisynelaai te gaan grawe vir die antibiotiese room. Sy kom sit weer op die bed om die salf aan Karen se hande te smeer.
Skielik onthou sy iets. “Jou versekering, Karen. Ons het vergeet. Hoe kon ons? Ons moet hulle môreoggend vroeg laat weet. Die saaknommer by die polisie gaan kry.”
“Hmm … wel … sien …”
“Jy het mos versekering, dan nie?”
“Wel … nie meer vir die inhoud van my woonstel nie. Net vir die salon.”
“Karen, hoe … ?”
“Oukei, oukei, spaar my die lesing. Ek het dit gekanselleer. Ek moes. Dit gaan nie goed met my finansies nie. Ná daardie laaste lening by die bank … wel … as jy dan moet weet, ek is min of meer broke. So.”
“Ai, Karen.”
Donna vat haar suster se hand. Daar is skielik niks om oor te praat nie.
“Wel,” breek Karen sugtend die stilte terwyl Donna die room versigtig vir haar begin aansmeer, “ten minste het daar darem één goeie ding vandag met my gebeur.”
“Uhu.” Donna luister met ’n halwe oor. Die dag was lank.
“Behalwe dat my ID-dokument, my bankkaarte, my foon en my paspoort saam met die handsak en al my ander stuff weg is, het ek darem ook iéts gevind.”
“Hmm … dis goed.”
“Want,” Karen lê genoeglik terug teen die kussing, “jy sien, daar’s één iets wat my uit al hierdie strooi gaan kry. Wat ál my probleme gaan uitsort.”
Donna se hand hou op vryf.
Karen draai haar handpalms boontoe sodat die salf nie aan die duvet afsmeer nie.
“Donna, jy luister nie na my nie, nè?”
“Ek luister.”
“Jy sien, ek het vandag besef wie my trouman gaan wees.”
“En wie is dié arme ou? Jan Internet of Tony Tattoo?”
“Moenie simpel wees nie. Ek moes Jan blok, want hy’s ’n freak en Tony … wel Tony lýk freaky!”
Donna se hele sisteem weier, soos ’n rekenaar wat vries, maar sy gaan oudergewoonte op autosave.
“O. So daar’s nóg een?”
“Donna, ek is ernstig.”
“Oukei. Wie dan?”
“Obviously Pieter natuurlik, wie anders? Dókter Pieter Visser!”
Shutdown, shutdown, sein Donna se brein, maar sy wys niks. Want net hier wéét sy. Van haar halfhartige voorneme om vir Karen te vertel dat sy en Pieter al ontmoet het, gaan net mooi niks kom nie. En die voorsienigheid het nog lank nie met háár klaargespeel nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию