Susanna M Lingua

Susanna M Lingua Gunstelinge 4


Скачать книгу

groet die dokter haar met ’n breë glimlag.

      “Ek was vanoggend, na sy besoek, byna die skeidslyn oor, dokter,” terg Rina saam. “Die man besit ’n wonderlike gawe om my bloeddruk ten hemele op te jaag.” Sy vertel hom van haar gesprek met sy neef en sluit glimlaggend af: “Onthou nou, ek is gewaarsku om nie op jou verlief te raak nie, dokter.”

      “Ons sal dit in gedagte hou,” spot hy saam.“In elk geval, ek bring my ma vanaand saam sodat jy met haar kan kennis maak, señorita.”

      “Ek sal haar baie graag wil ontmoet, dokter.”

      Dokter Pereda gesels nog ’n rukkie met Rina, toe sê hy dat dit tyd is vir hom om te gaan, aangesien hy nog ander pasiënte ook moet besoek.

      4

      Na aandete neem die bedrywigheid in die hospitaal meteens af. Dis asof die personeel meteens tot stilstand gekom het, noudat dit haas tyd word vir die besoekers om op te daag.

      Na ’n paar minute gaan haar kamerdeur oop en dokter Pereda en sy ma tree die vertrek binne. Dokter Pereda groet die meisie vriendelik en vervolg bedaard: “Ontmoet die señorita Rina Verhoef. Sy is oormôre drie-en-twintig jaar oud, maar ’n mens sal dit nooit sê nie, nè?” Hy draai na sy beeldskone pasiënt. “Dít is nou my moeder, señorita.”

      Die ou dame verneem belangstellend na die jong meisie se gesondheid en na ’n rukkie vlot die gesprek sommer maklik, want Rina is nie skugter nie. Dit is ook nie lank nie toe gesels sy en die twee Peredas asof hulle mekaar jare al ken. Hulle noem Rina sommer op haar naam en sy noem die dokter ook op sy naam.

      “Alvaro het my van jou onnutsige streke vertel,” glimlag die ou dame. “ ’n Lid van Conzalo se familie sal dit natuurlik nooit waag om hom uit te tart of selfs te weerspreek nie, daarom amuseer dit ons geweldig dat jy die moed en durf het om dit te waag, Rina.”

      “Ek is bly dat ek nie ’n lid van sy adellike familie is nie, señora,” kom dit vriendelik van Rina. “Dit verskaf my groot genoeë om hom telkens uit sy waardigheid te skok. Hy glo mos almal wat nie Portugees is nie, is uitspattig en ver benede sy waardigheid. Maar nou gaan ek hom werklik rede gee om my as sodanig te beskou.” Sy kyk na haar bleek handjies wat op die wit lakens rus. “My naellak is ook gans te stemmig. Ek sal vir my bloedrooi naellak moet aanskaf vir die dag wanneer ek die hospitaal verlaat. Dit sal ideaal pas by so ’n eina minirokkie. Ek sal ook ’n bloedrooi lipstiffie moet gebruik, anders sal die prentjie nie heeltemal voltooi wees nie.”

      Alvaro en sy ma lag albei hartlik.

      “Rina, jy gaan jouself onherkenbaar mismaak met al daardie uitspattige goed,” vermaan Alvaro geamuseer. “Jy sal sowaar maak dat Conzalo ’n hartaanval kry. In elk geval, jy moet vir my ma sê watter rok sy vir jou moet bring om korter te maak.”

      “Ek sal die rok maar sommer self korter maak,” bied die ou dame hulpvaardig aan.“Rina moet net vir my sê watter een en hoe kort sy dit wil hê.”

      “Baie dankie, señora,” sê sy. “U kan maar self ’n rok kies. Aan my maak dit regtig nie saak watter een u kies nie. Enigeen sal aan die doel beantwoord.”

      Daardie nag slaap Rina rustig en tevrede, gevolglik voel sy die volgende môre al heelwat sterker. Die ou lewenslus kruip al weer stadig terug in haar mooi, sielvolle blou oë. Haar vyf besoekers van die castelo De Valcada merk dadelik die tekens van beterskap op haar glimlaggende gesig toe hulle tienuur die oggend hul opwagting langs haar bed maak.

      “Jy lyk vanmôre sommer baie beter, Rina, pequena,” laat die marquesa ingenome hoor nadat almal plaasgeneem het.

      “Dankie, ek voel vanoggend baie beter, señora,” antwoord Rina. “Ja, ek dink Alvaro het my naam vanoggend van sy gevaarlys geskrap. Hy erken nou self dat ek nie meer halfpad sterwend is nie. Terloops, ek het sy ma gisteraand ontmoet toe sy my besoek het . . .”

      “Alvaro moes gisteraand geen besoekers in jou kamer toegelaat het nie,” kom dit ongenaakbaar van die jong edelman.

      “O, Alvaro het gesorg dat hul besoek my nie vermoei nie, señor,” verklaar Rina en voeg ewe goedig ’n stekie daaraan toe: “Alvaro het ’n besonder kalm en rustige geaardheid. Hy sê nooit dinge wat my bloeddruk kan opjaag nie.”

      Rina merk hoe skerp en deurdringend die edelman haar aankyk. Haar blik skuif ongeërg na die vriendelike ou marquesa. Sy merk ’n glimlaggie om die ou dame se mond.

      “Wat dink jy van Nina, my suster, Rina-kind?” hoor sy die marquesa vra.

      “O, ek dink sy is ’n baie aangename dame,” sê Rina. “Sy herinner my nogal baie aan u.”

      “Dis waar, ek, Ada en Nina aard baie na mekaar,” beaam die marquesa. “Ada was net in een opsig gelukkiger as ek en Nina, want sy het ’n seun en ’n dogter, terwyl ek en Nina slegs ’n seun het.”

      “U kleinkinders sal hopelik vergoed vir die dogter wat u nooit gehad het nie,” troos Rina met al die wysheid ter wêreld. Maar die volgende oomblik begin haar oë ondeund vonkel. “As u seun nou net nie te lank wag om vir hom ’n vrou aan te keer nie,” gaan sy bedaard voort, “kan hy u nog met ’n dosyn kleinkinders vereer. Ek hoop van harte dat dit nie minder as ’n dosyn sal wees nie.”

      Die kamer dreun soos die twee ou dames, Carla en Marco lag. Conzalo kyk haar slegs met ’n onpeilbare blik aan, ’n blik wat Rina met ’n vonkeling in haar oë maar sonder ’n sweem van ’n glimlaggie ontmoet.

      “Elf dogters en een seun,” sê sy afgemete aan daardie onpeilbare blik wat so diep in haar oë staar.

      Etlike oomblikke lank hou die edelman se donker, onpeilbare blik Rina s’n gevange. Toe kom sy stem meteens sag en bedaard: “Waarom so baie dogters en slegs een seun, señorita?”

      “Omdat jou seun stellig na jou sal aard, señor,” antwoord sy ewe bedaard, “en twee van jou soort sal meer as genoeg wees in een gesin.”

      Marco en Carla proes onderlangs, maar die waardige Conzalo maak asof hy dit nie eens hoor nie. Sy swart oë vernou meteens en nou kyk hy Rina stil, opsommend aan. Maar die meisie se tergende blik huiwer nie ’n oomblik voor syne nie. Sy volgende woorde slaan egter byna haar asem weg.

      “Ek hoop van harte,” sê hy nog steeds pynlik bedaard, “dat jy die ma van daardie dosyn kinders gaan wees, en hulle moet al twaalf seuns wees, señorita.”

      ’n Oomblik lank weet Rina nie wat om te sê nie. Die man het die wind nou skoon uit haar seile geneem. Maar sy is nie ’n meisie wat lank van stryk bly nie. Sy ruk haar gou reg, kyk die edelman vas aan en begin saggies lag.

      “Jy vergeet blykbaar dat ek ’n opgeleide onderwyseres is, señor,” glimlag sy. “Ek weet presies hoe om dissipline te handhaaf. Ek verseker jou dat my kinders eendag so soet soos engeltjies sal wees, al het ek ook twee dosyn. Maar ek sal eers baie seker maak dat hulle ’n sagmoedige en goed geaarde pa het, dit is nou net ingeval hulle dalk na hul pa aard, anders sal ek verplig wees om my duim ook op die pa se keel te hou.”

      “Dit sal inderdaad ’n baie swak man wees wat met sulke behandeling gediend sal wees,” antwoord Conzalo.

      “Juis,” glimlag sy tergend, “daarom is ek so pynlik kieskeurig wat ’n lewensmaat betref.”

      Die marquês se donker blik rus skerp, deurdringend op die beeldskone meisie in die bed. Sy gevoelens is op hierdie oomblik soos botsende golwe wat kragte met mekaar meet. Geen vrou op aarde het dit nog ooit reggekry om sy emosies so ontsettend deurmekaar te skommel soos hierdie meisie met haar verdraaide idees nie. Sy is uittartend, dog beleef en verfynd; beeldskoon en vroulik, maar tog verraai haar kleredrag aan hom dat sy in ’n mate uitspattig en onbeskaamd is. Sy is belese met ’n akademiese agtergrond, maar beskik nietemin oor ’n pynlik verdraaide leefwyse. Hy het nog nooit in sy lewe so ’n deurmekaar mengsel in een persoon teëgekom nie. Hy weet eerlikwaar nie wat om van hierdie Suid-Afrikaner te dink nie

       . . . en dis hierdie onsekerheid wat hom so hinder.

      Dis waar,