uiterlike aantreklikheid en netheid. Die res van hom faal hopeloos.”
“Dit is omdat hy in die ou Portugese tradisie van edelliede opgevoed is, Rina,” verduidelik die ou dame. “Hy is nie van nature koud en streng nie, dis al die verantwoordelikheid wat op hom rus wat hom in so ’n streng en ernstige persoon verander het. Jy sal verstom wees, kind, as jy weet hoeveel verantwoordelikheid op Conzalo se skouers rus. Ons hele familie se wel en wee is sy verantwoordelikheid. Almal sien na hom op om raad en leiding, en vir almal moet hy as voorbeeld dien. Dit is maar net die verantwoordelikheid wat die familie betref. Sy ander verantwoordelikheid is sy talle sakeondernemings en sy plase.”
Nadat haar gaste vertrek het, verval Rina in stille bepeinsing. Sy dink aan al Conzalo se verantwoordelikhede en verpligtinge, maar sy kan nie juis sê dat sy vir hom jammer voel nie. Hy is gans te streng en onverbiddelik om jammerte by haar af te dwing. Nee, hy is beslis nie ’n bejammerenswaardige figuur nie. Sy sal eerder sê hy is ’n pynlik irriterende soort mens, om hom ewig met dinge te bemoei wat hom nie aangaan nie. Sy familie, sakeondernemings en plase hou hom blykbaar nie besig genoeg nie, daarom dat hy nog tyd vind om ’n vreemdeling te kritiseer . . .
So onder al haar getob deur, raak Rina eindelik aan die slaap.
Die oggend besluit sy dat sy heeltemal sterk genoeg voel om op te staan uit die bed en op ’n stoel te sit.
Die volgende oomblik tree Alvaro en die suster die siekekamer binne. ’n Paar treë van Rina af steek hulle albei verbaas in hul spore vas.
“Jou stoute, moedswillige, ongehoorsame pasiënt,” begroet Alvaro haar onderwyl hy haar met ’n streng blik meet.
“Alvaro, as jy my nog langer aankyk soos daardie adellike neef van jou, gee ek dadelik pad hier uit jou hospitaal,” werp Rina met ’n stadige glimlaggie terug.
Hy kom voor haar staan, kyk haar streng aan en verklaar baie ernstig: “Rina, jy sal nog maak dat ek en my dierbare neef albei aan hartverlamming beswyk. Wie het jou toestemming gegee om op te staan?”
“Ag, kom, moet nou nie maak asof jy nie weet nie, Alvaro,” glimlag sy guitig. “Jy weet net so goed soos ek dat ek eiereg gebruik het, en wat daarvan?”
“Wat daarvan? Jy gaan dadelik terug bed toe, natuurlik!”
“O nee, jy kry my nie uit hierdie stoel nie, jong!” lag sy hom uit. “Ek het my nie verniet kapot gesukkel om my kamerjas in die hande te kry nie. Ek weier beslis om nou al weer bed toe te gaan. Ek sit heeltemal gemaklik, dankie.”
“Rina, besef jy dat Conzalo bitter ontevrede gaan wees as hy moet weet dat jy eiereg gebruik en opgestaan het?”
“Dink jy ek is bang vir jou vername neef se ontevredenheid? Hy het geen seggenskap oor my nie, Alvaro. My lewe is my eie en ek sal daarmee maak wat ek wil, met of sonder jou neef se toestemming.”
“Rina, ek weet eerlikwaar nie hoe om dit aan jou te sê nie,” laat hy met ’n peinsende frons hoor.
“Ek begryp jou glad nie, Alvaro. Wat is dit wat jy vir my wil sê?”
“Jong, ek weet regtig nie hoe om dit te stel nie. Dis net dat
. . . wel . . . Conzalo was nog nooit in sy lewe so begaan oor ’n meisie soos wat hy oor jou is nie. Hy het my gisteraand weer die dood voor die oë gesweer as jy iets oorkom.”
“Ag, hy wil maar net oor almal baasspeel,” val Rina hom onverstoord in die rede. “Hy kan blykbaar nie lewe as hy nie oor almal baasspeel nie. Vergeet die man en wens my liewer geluk met my verjaardag, dan sê jy ten minste iets wat van belang is.”
Alvaro begin saggies lag. Hy wens haar hartlik geluk met haar verjaardag en vervolg dan weer ernstig: “Sal jy nie maar in vredesnaam in die bed klim tot na Conzalo se besoek nie? Ek waarsku jou, hy gaan jou uittrap, Rina.”
“Laat die man aan my oor, Alvaro, en moet jou glad nie oor hom verontrus nie. Ek is mans genoeg vir hom.”
Met ’n ligte skouerophaling verlaat die dokter Rina se kamer in die geselskap van die suster.
’n Halfuur later ontvang Rina drie pragtige ruikers van die De Valcadas, die De Moras en die Peredas, waarmee hulle haar gelukwens met haar verjaardag en ook ’n spoedige herstel toewens. Onderwyl die verpleegster die blomme in haar kamer rangskik, besluit Rina dat dit haas tyd is om haar voorkoms op te knap vir haar besoekers wat aanstons hul opwagting sal maak.
Nadat sy haar grimering opgeknap en haar hare gekam het, sit sy gemaklik agteroor en sluit haar oë, oorgehaal om ’n rukkie lekker te ontspan. Sy is ook byna aan die slaap toe haar kamerdeur meteens oopgaan en haar vyf besoekers van die castelo die vertrek binnetree.
Die drie vroue wens haar hartlik geluk met haar verjaardag en soen haar op die wang. Marco gee haar ’n warm handdruk, daarna kom Conzalo aan die beurt. Ook sý gelukwensing is hartlik. Maar tot almal se verbasing, neem hy haar regterhand en druk haar vingers baie teer teen sy lippe, kompleet asof hulle iets broos is wat by die geringste aanraking kan breek.
Rina bedank almal vir die mooi ruikers terwyl Conzalo onbeweeglik voor haar bly staan. Daar is ’n onpeilbare trek in sy ernstige oë toe hy bedaard vra: “Mag ek weet met wie se toestemming jy vandag opgestaan het, señorita?”
“Met my eie toestemming, señor,” glimlag sy.
“Wat sê Alvaro daarvan dat jy opgestaan het?” gaan hy ewe bedaard met sy ondervraging voort.
“O, hy het my baie ernstig verseker dat ek nog die oorsaak sal wees dat hy aan ’n hartaanval beswyk. Maar dit is sommer net praatjies. Hy weet net so goed soos ek dat ’n mens nie in ’n bed kan aansterk nie. En buitendien, hoe gaan ek môre by die hotel kom as ek nie sterk genoeg is om te loop nie?”
“Dit, señorita, is my verantwoordelikheid en glad nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie,” antwoord hy, nog steeds pynlik bedaard, ofskoon sy oë haar streng, bestraffend aankyk.
Die volgende oomblik tel hy haar op asof sy ’n veertjie is. Hy beweeg na die bed, lê haar versigtig daarop neer en verwyder haar pantoffels eiehandig. ’n Tasbare stilte hang in die vertrek. Conzalo toring soos ’n berg oor haar, terwyl sy blik soos ’n swaard in hare boor. “Nou bly jy asseblief in die bed, señorita. En onthou, ek gaan geen verdere halsstarrigheid meer van jou verdra nie.”
Voordat die verbaasde Rina iets tot haar verdediging kan sê, trek hy die deken op tot onder haar arms. Daarna plaas hy haar pantoffels terug in die bedkassie en neem ewe waardig, asof niks op aarde gebeur het nie, plaas op die stoel waar sy flussies gesit het.
“Hoe voel dit om drie-en-twintig te wees, Rina?” verbreek Carla se stem meteens die stilte wat nog steeds in die vertrek hang.
“Presies dieselfde as wat dit gevoel het toe ek twintig was,” glimlag sy vir die jonger meisie. “Elke jaar bring natuurlik ’n mate van wysheid en besadigdheid mee, maar andersins voel ’n mens maar dieselfde. Wanneer jy drie-en-twintig jaar is, sal jy weet wat ek bedoel.”
“O, dan sal ek al getroud wees en moontlik ’n paar kinders hê,” lag Carla dat haar tande wit skitter.
“Ek sal nie so gou trou as ek jy is nie,” meen Rina.“Jy is nog baie jonk, Carla, niks ouer as ’n matriekmeisie in my land nie. Eintlik is jy ook nog te jonk om so ’n donkerrooi lipstiffie en swaar grimering te gebruik. Ek sal jou nog eendag wys hoe jy grimering met oorleg kan aanwend. Jy sal verbaas wees om te sien wat ’n verskil dit aan jou voorkoms kan maak. Jy is ’n baie mooi meisie, maar jou grimering is gans te swaar.”
“Kan jy my nie nou wys nie, Rina?” wil Carla opgewonde weet, soos alle jong meisies begerig om op haar mooiste te lyk.
“Wel, ek weet nie,” antwoord Rina, “my onderlaag sal te lig wees vir jou. Die lipstiffie wat ek gewoonlik saans gebruik, sal jou moontlik pas.”
“O, maar ek het my grimering in my handsak,” kom dit gretig van Carla.
“Nou goed, gaan was al daardie gemors van jou gesig af en kom sit hier by my op die bed,” beveel