meteens asof Rina vir haar eie gedagtes skrik. Maar die volgende oomblik hoor sy die edelman met iets soos spot in sy stem sê: “Is jy seker jy sal alleen kan regkom, señorita?”
Rina vererg haar dadelik vir die openlike spot in sy stem, maar meer nog omdat sý die een is wat eerste die handdoek moes ingooi.
“Natuurlik kan ek alleen regkom!” roep sy kwaad en opstandig uit.
“Ek sien jy is nou kwaad omdat ek vasbeslote was om my dreigement uit te voer,” laat die edelman bedaard hoor onderwyl hy haar streng aankyk. “Dit sal jou leer om my nie weer uit te daag nie. Ek verkies gehoorsaamheid, absolute gehoorsaamheid. Ek is ook nie van plan om verdere uittarting van jou te duld nie. Ek hoop ons verstaan mekaar nou eens en vir altyd.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Ek gee jou tien minute, dan moet jy in die bed wees. Ek sal self kom seker maak dat jy wél in die bed is.”
Rina wag ook net totdat hy die kamerdeur agter hom op knip trek, toe begin sy haar haastig verklee. Met bitter ontevredenheid klim sy later in die bed, maar baie beslis nie met die doel om die hele dag in die bed te bly nie. O nee, die baasspelerige man het haar nog nie heeltemal uitoorlê nie. Sy wag maar net totdat hy vertrek, dan staan sy dadelik op. Nie hy en sy hele geslag gaan haar in die bed hou nie!
Daar is ’n opstandige blik in haar oë toe die edelman na tien minute haar kamer binnetree. Syne weerspieël slegs goedkeuring en tevredenheid.
“Ek het vir ons koffie bestel,” kondig hy terloops aan onderwyl hy vir hom ’n stoel langs die bed trek en plaasneem.
O, maggies, dink Rina paniekerig, hy moet nou nie lol om die hele dag hier langs my bed te sit nie! Dit sal ’n ramp wees. Ek durf nie die hele dag hier in die bed vertoef nie. Ek moet opstaan sodat ek aangetrek kan kom, anders sal ek nooit môre my motor kan gaan haal nie.
“Señorita,” gaan hy voort, “vertel my nou waarom jy jou vanoggend so pynlik mismaak het met daardie aaklige, uitspattige lipstiffie en naellak. Ek is dit nie van jou gewoond nie. Jou beskeidenheid tot dusver wat jou grimering betref, het nog altyd my respek afgedwing. Maar ek vrees jy het vanoggend skokkend gelyk, presies soos ’n goedkoop flerrie. Wat het in jou gevaar?”
“Ek kry maar soms sulke bevliegings, señor,” jok sy sonder om te blik of te bloos. “Ek dink weer ek het vanoggend besonder modieus gelyk.”
“Moenie jok nie, jy was glad nie so ’n mening toegedaan nie. Waarom het jy dit gedoen?” hou hy vol. Sy donker blik wyk ook nie ’n oomblik van haar bekoorlike gesig nie.
“Ek sê mos.”
“Wat jy gesê het, is nie die waarheid nie,” val hy haar bedaard in die rede. “Vertel my nou asseblief die waarheid.”
“O, nou goed, ek sal jou die waarheid vertel,” antwoord sy ontstoke. Die openlike woede op haar gesig laat die marquês se streng oë dadelik opflikker met ’n lig van tevredenheid. “Ek het opsetlik daardie uitspattige grimering aangewend om jou te skok, my geagte outokraat, en ek is bly dat ek daarin geslaag het. Onthou net een ding: ek is nie ’n lid van jou familie nie, gevolglik sal ek doen wat ek wil.”
“Jy is ’n vriendin van my familie,” herinner hy haar met steurende kalmte.
“Dit sê niks nie . . .”
“Dit sê baie. Wat sal ons vriende en familie daarvan sê as hulle die De Valcadas en De Moras in so ’n . . . e . . . modieuse dametjie se geselskap sien?”
“Jy het regtig niks te vrees nie, señor,” verseker Rina hom, nou ook bedaard. “Dit is nie my gewoonte om my aan mense op te dring nie. Ek maak ook nooit van mense se vriendskap misbruik nie. Jou vriende en familie sal dus nie die geleentheid kry om my in jul adellike teenwoordigheid te sien nie, in elk geval, nie in die De Valcadas en De Moras se geselskap nie.”
“Dit gaan nie daaroor nie, señorita,” weerspreek hy haar. “Die De Valcadas, De Moras en Peredas is baie lief vir jou.”
“Ek is self ook lief vir jou familie, señor. Maar as jy bang is dat ek dalk ’n uitnodiging na jou castelo sal aanneem, kan jy maar dadelik daarvan vergeet. Ek het jou met ons eerste ontmoeting al verseker dat ek nooit ’n voet in jou castelo sal sit nie, dus is dit nie nodig dat ek so ’n belofte herhaal nie. Of verkies jy dat ek vandag nog na ’n ander hotel verhuis waar jou familie nie met my in aanraking kan tree nie?”
Dis asof Rina se laaste woorde die man effens laat skrik. Hul gesprek het nou ’n wending geneem wat hom glad nie aanstaan nie.
“Dit is hoegenaamd nie wat ek bedoel het nie,” antwoord hy streng. “Hoe jy ooit daaraan kan dink om vandag na ’n ander hotel te verhuis, gaan my verstand te bowe . . .”
Die binnekoms van die kelner met hul koffie maak tydelik ’n einde aan die gesprek.
Daar is ’n afgetrokke uitdrukking in Rina se oë onderwyl sy haar koffie drink. Sy voel bekommerd dat sy dalk nie sterk genoeg sal wees om haar motor te gaan haal nie. Alvaro is so besig, anders kon sy hom gevra het om haar te vergesel. Sy wonder of sy ma ’n motor kan bestuur. Sy sal die bestuurder van die hotel môre vra om vir haar vas te stel of die voertuig al aangeland het.
Ook Conzalo drink sy koffie in stilte. Hy weet nou vir seker dat hy hopeloos verlief is op Rina, al vertel sy verstand vir hom dat sy allermins die ideale vrou vir hom sal wees. Hy voel bitter teleurgesteld. Maar hoe moes hy weet dat sy sulke skrapse, onbehoorlike rokkies dra? Die aand met die dansparty het sy ma hom verseker dat sy nooit ’n bikini of ’n kortbroek in die openbaar dra nie, dat sy geen sterk drank gebruik nie en ook nie minirokke dra nie. En tog het sy vanoggend die kortste rokkie denkbaar aangehad, dus moes sy opsetlik vir sy ma ’n leuen vertel het.
Conzalo weet nou glad nie wat hy moet glo en wat hy nié moet glo nie. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: as Rina sy ma met leuens bedrieg het, sal hy sy liefde vir haar dadelik in die kiem moet smoor. Sy vrou, net soos hy, moet te alle tye as voorbeeld vir sy adellike familie dien en ook ’n voorbeeldige moeder vir sy kinders wees.
Conzalo drink net sy koppie koffie klaar, toe staan hy beslis op. “Ek vrees ek sal nou moet gaan,” sê hy bedaard. “Ons sal jou stellig weer vanaand besoek. Adeus, señorita.”
“Tot siens, señor,” antwoord Rina verlig, “en dankie dat jy my hier by die hotel besorg het.”
“Não tem de quê, dis ’n plesier! Até a vista, tot ons weer ontmoet.”
“Muito obrigado!” glimlag Rina ietwat ondeund. “Adeus, señor marquês.”
Hy kyk etlike sekondes lank diep in daardie lieflike ondeunde oë. Die volgende oomblik draai hy stil om en verlaat die vertrek.
Rina wag ook net totdat sy voetstappe in die gang wegsterf, toe klim sy uit die bed, trek haar kamerjas aan en maak haar voor die venster tuis. Hier verwyl sy die ure deur na die hawe en die verkeer te kyk, totdat daar om halfdrie ’n klop aan haar kamerdeur is.
“Binne!” roep sy sag uit.
Die ou marquesa, Ada de Mora en Carla kom die vertrek binne. Hulle groet Rina vriendelik, verneem belangstellend na haar gesondheid en neem dan op haar uitnodiging plaas.
“Rina, jou stoute kind!” lag die marquesa. “Jy het natuurlik net gewag totdat Conzalo vertrek het en toe dadelik uit die bed geklim.”
“Hoe het u geraai, señora?” glimlag Rina geamuseer.
“Asof ek jou nou nog nie ken nie,” antwoord die ou dame goedig. “Maar vertel vir my, wat het jy vanmôre weer aangevang dat Conzalo in so ’n slegte luim by die castelo aangekom het?” vra sy asof sy van geen sout of water weet nie, asof Conzalo nooit sy griewe teenoor haar gelug het nie.
“O, giftig, dan is hy nog humeurig ook!” lag Rina saggies. “Ek dag hy is net nougeset en konserwatief!”
“Nee, Conzalo was nooit voorheen humeurig nie. Dis jy wat hom so die harnas in jaag,” kom dit glimlaggend van sy ma. “Sedert hy jou ontmoet het, was hy nog nooit weer in ’n goeie luim