beaam Conzalo met ’n stadige glimlaggie, “jy is ook nog te swak om ’n glas behoorlik te hanteer. Jy sal dit dalk net op jou bed laat omval en dan is jou bed weer sopnat, soos jou rok daardie aand met die dansparty was.”
“Ja, en dan sê jy weer ek het dit opsetlik gedoen,” troef sy hom met ’n spul tergduiweltjies in haar oë wat sy blik nie ontgaan nie.
“Het ek regtig gesê dat jy dit opsetlik gedoen het? Ek vra nederig om verskoning, menina,” glimlag hy, nou self met ’n duiweltjie in sy oë.
Hy kom sowaar reg! juig dit in Rina se verliefde hart. Ek sal hom nog heeltemal regruk, gee my maar net kans.
Maar dan hoor sy Carla in haar jeugdige opgewondenheid sê: “O, Rina, ek kan nie meer wag dat Woensdag moet aanbreek nie! Die olyffees is vir my die aangenaamste tyd van die jaar. Noudat die oes ingesamel is, voel almal vrolik en gelukkig. Jy weet nog nie hoe jolig so ’n fees kan wees nie. Dis die ene vrolikheid en musiek. Al die boere in die omgewing, almal wat op Conzalo se plaas werk en al die bure en hul gesinne sal daar wees. Ons sal eet, drink, dans en vrolik wees.”
“Ja, dit klink gesellig,” erken Rina met ’n mooi glimlaggie. Sy wil Carla nog goedig vermaan om nie te veel harte te breek nie, maar Conzalo is reeds aan die woord.
“Ek vrees jou beskrywing van die fees skiet ver te kort, my liewe Carla,” help hy haar reg. “Dit is iets wat Rina self sal moet bywoon om dit ten volle te kan waardeer.” Hy draai na Rina.“Hoe lyk dit, wil jy nie saam met ons by my quinta gaan feesvier nie, pequena? Ons vertrek Dinsdagoggend.”
Rina huiwer slegs ’n oomblik, dan antwoord sy bedaard: “Dankie, ek waardeer jou uitnodiging, Conzalo, maar ek vrees dat my teenwoordigheid die fees glad nie tot eer sal strek nie
. . . of het jy vergeet dat ek slegs kortbroeke en minirokke dra?” Sy sien hoe die edelman se oë skielik vernou. Dit maak haar hart seer om sy vriendelike uitnodiging so gevoelloos van die hand te wys. Maar sy is ook verstandig genoeg om te weet dat haar liefde vir hierdie trotse en waardige edelman gedoem is om onbeantwoord te bly. Daarom is dit veel beter dat sy haar liefde vir hom maar dadelik in die kiem smoor. “En buitendien,” gaan sy voort, met ’n ongeërgdheid wat sy glad nie voel nie,“moet ek Woensdagoggend na Estoril vertrek.”
“Wat van die dansbelofte en die besoek aan my villa, Rina?” vra Alvaro onverwags.
“O, ek keer Saterdag terug na Lissabon,” lig Rina hom vriendelik in. “Ons kan Saterdagaand gaan dans, Alvaro. Sondag sal ek die dag saam met jou en jou ma deurbring, want moontlik vertrek ek nog Maandag na Oporto.”
“Wil jy vir my vertel dat jy oor tien dae na Oporto gaan reis?” kom dit met openlike verbasing van Alvaro. “Onmoontlik,” sê hy beslis. “Jy sal nog nie sterk genoeg wees om so ver te bestuur nie. Ek stel voor dat jy nog ’n week of twee rus voordat jy so ’n lang pad aandurf.”
“Ja, ek weet ook nie waarom Rina nie nog ’n maand hier in Lissabon kan vertoef nie,” laat die ou marquesa met groot erns hoor. “Sy het nog byna niks van ons stad gesien nie!”
“Ja, dis werklik ongelukkig dat ek twee weke in die hospitaal moes bly,” vervolg Rina met ’n meewarige glimlaggie. “Maar ek sal Sondag, Maandag en Dinsdag daarvoor opmaak. In elk geval was ek nie van plan om langer as drie weke hier in Lissabon te vertoef nie, want dan sal dit my reisplan hopeloos ontwrig. Maar ons sal nie nou al oor die dag van my vertrek gesels nie.”
Conzalo maak verskoning, sê dat hy vir hom koeldrank wil gaan koop en verlaat die vertrek.
Nadat hy die vertrek verlaat het, kyk sy ma Rina stil aan en vra sag: “Was dit nodig dat jy Conzalo se uitnodiging van die hand moes wys, Rina-kind?”
Rina besef dat sy nie vir die dierbare ou dame die waarheid kan vertel nie. Kyk, señora, ek het die man lief, maar ek is ook intelligent genoeg om te weet dat my liefde vir hom hopeloos futiel is. Gevolglik is dit beter dat ek hom liewer vermy sover ek kan. Op hierdie manier sal ek my oneindig baie hartseer bespaar.
Maar hierdie intieme saak kan sy nie met sy ma bespreek nie. Dis ’n geheim wat sy diep in haar hart bewaar, derhalwe sê sy gemaak ongeërg: “Ongelukkig was dit nodig om sy uitnodiging van die hand te wys, señora. Conzalo het my bloot hoflikheidshalwe genooi, dus sou dit uiters swak maniere van my gewees het om sy uitnodiging aan te neem.”
“Maar jy vergis jou, Rina,” begin die marquesa.
“Nee, ek vergis my nie, señora,” val Rina haar sag in die rede. “Hy het met ons eerste ontmoeting baie duidelik laat deurskemer wat hy van my en alle uitlanders dink. Ook om daardie rede weier ek beslis om ooit ’n voet in sy castelo of op sy quinta te sit . . .”
Conzalo se binnekoms maak oombliklik ’n einde aan hierdie gesprek. Rina se gaste vertoef nie veel langer nie, toe groet hulle en vertrek.
7
Onderweg na die castelo is Conzalo stil en afgetrokke. Hy voel bitter teleurgesteld omdat Rina sy uitnodiging met so ’n flou verskoning van die hand gewys het. Tog besef hy dat hy hierdie behandeling van haar verdien. Ja, hy het daardie aand met die dansparty te duidelik getoon dat hy haar nie as gas op sy quinta verwelkom nie.
Nadat haar besoekers vertrek het, lê Rina peinsend oor die edelman se onverwagte uitnodiging en tob. Voor haar besoekers het sy haar ongeërg en ietwat onverskillig voorgedoen, ten spyte van die liefde wat so onverwags soos ’n blom in haar hart ontvou het.
Sy dink aan die absolute gesag waarmee die marquês oor sy familie heers, die nederige gedienstigheid en gewilligheid van almal om hom te behaag. Ineens weet Rina dat dit altyd so sal wees, dat vroue altyd gewillig en gedienstig sal wees om elke begeerte van hom, sy geringste wens uit te voer. Want selfs in haar is die begeerte om te doen wat hy van haar verlang, byna sterker as die verset van haar verstand. Is dit iets in die breë lyne van sy skouers of die trotse manier waarop hy sy kop hou, of is dit die adellikheid van sy rotsvaste karakter wat vroue week maak van begeerte om hom te behaag?
Dis meteens asof Rina skrik vir haar eie gedagtes, gedagtes wat sy glad nie durf toelaat nie, wat vir haar slegs hartseer en trane voorspel.
Jy is ’n gek, Rina Verhoef, vermaan sy haarself, die man is nie vir jou bedoel nie. Dit sal vir jou veel beter wees om van hierdie verspotte liefde van jou te vergeet. Jy sal tog nooit kan voldoen aan die hoë eise wat hy aan sy vrou stel nie.
Na hierdie selfvermaning besluit Rina dat dit beter sal wees as sy maar sommer Sondag al na Estoril vertrek. Daar tussen die rustelose golwe van die Atlantiese Oseaan sal sy hierdie onsinnige liefde van haar vir ewig begrawe.
Met hierdie gedagte raak sy eindelik aan die slaap, slegs om van ’n sjarmante, aantreklike marquês te droom. In haar droom is daar nie ’n beduidenis van hardheid of ongenaakbaarheid in die man nie, slegs lieftalligheid en behulpsaamheid; inderdaad ’n silwer droom.
Hierdie droom laat haar die volgende oggend diep dink. Sy wonder selfs of sy die edelman nie straks verkeerd beoordeel het nie. Hy is so behulpsaam en skyn so besorg oor haar gesondheid te wees.
Maar dan dink sy weer aan haar eerste ontmoeting met Conzalo en alles wat daarop gevolg het, en dit laat haar terstond besluit dat sy behulpsaamheid en besorgdheid geen spesiale betekenis inhou nie . . . Hy is maar net gewoond daaraan om ander se sake en lewens te reël en reguleer, dink sy. Dit is by hom al tweede natuur om hierdie dinge vir ander te doen. Alvaro het self gesê dat sy neef nie eens die duiwel toelaat om onheil en tweedrag in sy familie te saai nie. Nee, die man is gevoelloos. Haar droom was slegs wensdenkery, ’n seepbel met ’n silwer skynsel wat onverhoeds gebars het.
Soos hy belowe het, daag Conzalo elfuur daardie môre in Rina se kamer op, netjies uitgevat in ’n donker pak wat sy glansende swart hare pragtig beklemtoon. Soos sy gewoonte is wanneer hy haar op sy eie besoek, vertoef hy nie lank in haar kamer nie. Die rede vir sy besoek is hoofsaaklik om haar motor se sleutels aan haar te oorhandig, aangesien daar vanoggend gaste by die castelo opgedaag het en hy en sy familie haar dus nie vanaand sal kan besoek nie. Hulle handel ook sommer die sakie van die doeanerekening van haar motor af, daarna