jy gesien nie, Rina,” sê hy met ’n vrolike glimlaggie en ’n ondeunde lig in sy oë. “Dink net hoe die kêrels my vanaand by die dans gaan beny. Almal sal my tot in die afgrond verwens net om jou te kry.”
“Toemaar,” lag sy hom saggies uit, “jy vlei my verniet, Alvaro. Ek is immuun teen vleitaal, weet jy?”
“Nee, kyk, ek gee op met jou!” lag hy saam. “Kom, laat ons liewer gaan.”
In ’n vrolike luim kom hulle by die danssaal aan. Alvaro, net soos sy adellike neef, is die hoflikheid self. Hy neem Rina se arm en vrolik, geselsend tree hulle die saal binne.
’n Kelner is dadelik by om hulle na ’n tafeltjie te lei.
Hulle bereik die tafel wat die kelner hulle met ’n eerbiedige buiging aanwys. Tot Rina se uiterste verbasing merk sy dat die marquês, in die geselskap van ’n mooi jong vrou, ook by die tafel sit. Dít het sy inderdaad nie verwag nie. Maar sy laat niks van haar verbasing blyk nie.
Die jong edelman groet Rina en Alvaro met ’n vriendelike glimlaggie en stel sy metgesellin, Loreta Valdes, aan Rina voor. Dit blyk dat Alvaro die meisie betreklik goed ken, want hy groet haar vriendelik en informeel, hoewel baie hoflik.
Dis egter Conzalo wat Rina ’n stoel aanbied. Hy neem weer plaas, kyk haar ondersoekend aan en sê met sy mooi, diep stem: “Ek sal jou nie eens vra of jy die vyf dae by Estoril-strand geniet het nie, Rina. My tante het my reeds verseker dat julle twee dit besonder baie geniet het; trouens, jou sprankelende voorkoms getuig ook daarvan. Dit lyk of jy al weer blakend gesond is.”
Rina kyk die man effens peinsend aan en glimlag dan effens. “Ek het al vergeet dat ek twee weke lank Alvaro se pasiënt was. Ek voel soos ’n nuwe escudo.”
“Gits, ja, en wat ’n pasiënt!” sê Alvaro goedig. “Die eiesinnigste en ongehoorsaamste pasiënt wat dit nog ooit my lot was om te behandel. Ek hoop jy maak nooit weer jou opwagting in my hospitaal as pasiënt nie, Rina. Jy het Conzalo en my menige dag byna ’n hartaanval laat kry.”
Loreta kyk Rina met ’n guitige blik en ’n vriendelike glimlaggie aan.
“Señorita Valdes,” glimlag Rina ondeund terug, “moenie alles glo wat Alvaro en Conzalo jou vertel nie. Hulle oordryf gruwelik. Tia Ada sal jou vertel dat ek ’n mens is wat nooit sonde en ergernis verwek nie, en sy behoort te weet. Ons twee was vyf dae saam in Estoril met vakansie en glo my, sy het my nie eens een keer berispe nie. Dit wys jou net dat hierdie twee mans onnodig kla. Ek sê jou, hierdie twee saam is op hul beste net een groot klaaglied . . .”
Loreta se hartlike lagbui maak ’n einde aan Rina se betoog. “Ek glo dat jy ’n modelpasiënt was, señorita Verhoef,” sê Loreta, nog vol lag.
“Wát ’n modelpasiënt! Jy bedoel . . . ”
“Alvaro, sê dit net en ek dans vanaand nie één dans met jou nie,” val Rina hom waarskuwend, maar darem met ’n ondeunde blik, in die rede.
“Dan dans ek met Loreta,” troef hy haar met ’n breë glimlag.
“Jy mag nie, sy is Conzalo se dansmaat,” begin Rina, maar Alvaro gee haar g’n kans om meer te sê nie.
“Jy vergis jou, pequena,” help hy haar reg. “Nóg ek nóg Conzalo het ’n spesifieke dansmaat vir die aand. Ons is hier in ’n groep en kan dans met wie ons wil.” Hy kyk haar laggend aan en vervolg tergerig: “Ek gaan in elk geval nie die hele aand met jou dans nie. Jy trek gans te veel aandag na my sin. Al die mense kyk net na jou.”
“Nou gaan ek glad nie met jou dans nie,” sê Rina terglustig. “Ek gaan met daardie lelike kêrel dans, daardie een skuins oorkant ons in die hoek met die yslike moesie op sy neus. Kyk hoe staar hy my aan. Hy wil my stellig vir ’n dans vra, daarom bekyk hy my so asof ek openbare eiendom is.”
Loreta en Alvaro begin albei lag. Conzalo glimlag slegs stilweg. Dis vir hom glad nie snaaks dat mense nie hul oë van die bekoorlike Rina kan afhou nie. Sy lyk vanaand werklik soos ’n droom: beeldskoon en begeerlik. En daardie pragtige, ondeunde oë van haar is inderdaad genoeg om enige man van sy balans te gooi.
“Ek sal jou nie aanraai om met vreemde mans te dans nie, Rina,” kom dit bedaard van die marquês. “Dit sal ook nie nodig wees nie. Ek en Alvaro is die hele aand tot jou diens.Wat sal jy drink, ’n glasie ligte wyn?”
“Nee, dankie, ek sal vanaand liewer geen alkoholiese drank drink nie, Conzalo. Ek vrees ek het die afgelope vyf dae gans te veel gedrink,” jok sy sonder om te bloos of te stamel. “Ek sal liewer ’n vrugtedrankie geniet.” Sy draai na Loreta en merk nie die glimlaggie om Conzalo se mond nie.“Conzalo het drie weke gelede byna ’n hartaanval gekry toe hy hoor dat ek so ’n sonderlinge voorliefde vir sterk drank het, grappa by voorkeur,” deel sy Loreta vriendelik mee.
“Ja, tia Astrid het my vertel hoe ’n wilde, ontembare meisie jy is, señorita,” verklaar Loreta met lagduiweltjies in haar oë. “Sy het my ook vertel van jou . . . e . . . voorliefde vir bikini’s, minirokkies en kortbroekies. Maar sy is nogtans baie lief vir jou, señorita, ten spyte van jou . . . e . . . uitheemse smaak.”
“O, ek is ook baie lief vir die marquesa,” antwoord Rina vriendelik. “Sy mag nou wel oud wees in jare, maar in haar hart sal sy altyd jonk en opgeruimd bly. Ek dink Alvaro se ma en tia Ada se harte sal ook altyd jonk bly. Dit is vir my verbasend dat die drie susters so opvallend na mekaar aard. Hulle is besonder aangename dames. Ek is baie lief vir hulle al drie.”
Die orkes begin meteens speel. Die jong marquês kom statig orent. Hy kyk Rina aan en vra sag: “Sal ons hierdie dans probeer, menina?”
Rina kom grasieus orent. Met ’n vreemde, besitlike houding verwyder die edelman haar pelsstola en hang dit versigtig oor die rugleuning van haar stoel. Hy neem haar arm en lei haar na die dansbaan. Dan beweeg hulle grasieus op die ritmiese maat van ’n stadige wals.
Nie een sê ’n woord nie, want op hierdie oomblik is hulle albei intens bewus van mekaar se nabyheid. Rina weet dat hierdie intieme dansery ’n gevaarlike speletjie is vir haar verliefde hart wat hom maar nie aan bande wil laat lê nie. Maar dan troos sy haar met die gedagte dat vanaand die laaste keer sal wees dat sy ooit met Conzalo sal dans.
Dit sal trouens vanaand ook die laaste keer wees dat sy hom ooit sal sien, want môre sal sy vir die dag by Alvaro en sy ma kuier en oormôre vertrek sy na Oporto. Dus sal sy haar vanaand maar koester in haar ongevraagde en hopelose liefde vir hierdie onbereikbare man. En as haar hart later voel asof dit aan skerwe gebreek is, sal sy darem die goue herinnering aan een aand se dans hê.
In Conzalo se hart woed daar ’n ander storm. Nog nooit in sy lewe het ’n meisie hom ernstig beïndruk nie. Maar noudat hy eindelik die een meisie ontmoet het wat sy hele hart en lewensgeluk in die palm van haar fyn handjie hou, staar die wete dat sy Lissabon nou enige dag gaan verlaat, hom soos ’n monster in die gesig. Hy weet dat hy nooit weer ’n meisie so lief sal kry soos wat hy Rina het nie. Sy vul sy hele hart, sy denke en sy lewe. Sy is die spil waarom hy die afgelope drie weke al sy drome geweef het. En tog weet hy dat dit hopeloos is om nou al sy liefde aan haar te verklaar. Ten eerste is sy hom nog steeds ietwat vyandiggesind oor dinge wat hy tydens hul eerste ontmoeting geïnsinueer het, en ten tweede is hul kennismaking ook nog van ’n te korte duur. Ja, sy moet hom eers goed leer ken en ook bereid wees om haar onvoorwaardelik by hul adellike gebruike en konvensies neer te lê. Laasgenoemde, weet hy, sal nie ’n ernstige probleem oplewer nie, want Rina het ’n goeie opvoeding van haar ouers ontvang. Selfs tia Ada het hom vanmiddag verseker dat sy in alle opsigte ’n voorbeeldige meisie is.
Nee, hy kan haar nooit uit sy lewe laat gaan nie. Hy wil trouens nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie. Daar moet beslis ’n oplossing wees. Vir elke probleem van sy familie het hy nog altyd ’n oplossing gevind, waarom dan nie vir sy eie probleem nie?
Net soos Rina, besluit ook Conzalo om hom vanaand in haar dierbare nabyheid te koester. Na die dansparty sal hy hierdie knelpunt, waarvan sy hele lewensgeluk afhang, opnuut in oënskou neem. Hierdie beeldskone meisie wat so sag en warm in sy arms voel, gaan nog sy bruid word. Hy het haar lief van daardie