taxi ontbied?” wil die edelman dadelik weet. “Nee, sy is te voet hier weg.”
“Wat? Te voet? Onmoontlik!” Die jong man se gelaat is doodsbleek. Voordat die bestuurder nog ’n enkele woord kan sê, draai Conzalo om en verlaat die hotel.
Toe Rina so skielik daar voor die toonbank inmekaarsak, het die middeljarige beampte hom yskoud geskrik. Haar pols het hom egter dadelik verseker dat sy slegs flou is. Met behulp van een van die omstanders het die beampte Rina na die personeel se ruskamer geneem, waar hulle haar gemaklik op ’n bank laat lê het.
Gelukkig is die beampte ’n ou getroude man, gevolglik weet hy darem iets van siekte en floutes af. Hy neem ook sommer dadelik die vlugsout uit die noodhulpkassie en hou dit onder Rina se fyn neus. Na etlike minute word sy moeite beloon toe Rina se oë stadig oopgaan. Daarna bied hy haar ’n glas water aan. Rina drink dit soos ’n gehoorsame kind. Sy stel haar aan die man voor, vertel hom wat die doel van haar besoek is en vra dan om verskoning vir die moeite wat sy hom aangedoen het.
“Dis geen moeite nie, señorita,” verseker die beampte haar met ’n vaderlike glimlaggie. “Rus maar nog ’n paar minute. Ek sal u oor vyftien minute kom haal en sommer dadelik die saak in verband met u motor afhandel.”
Hierna keer die beampte terug na sy kantoor. Die eerste persoon op wie sy blik val, is die lang, breedgeskouerde gestalte van die bekende marquês De Valcada wat trots en statig langs die toonbank staan.
Conzalo groet die beampte beleef en vra sag: “Kan u my asseblief sê of señorita Rina Verhoef al haar motor, wat gister met die Suid-Afrikaanse vragskip aangekom het, kom haal het?”
“Ek vrees die jonge dame voel nie wel nie, my heer die marquês,” antwoord die beampte ernstig.
Die edelman se swart oë verdonker meteens, maar sy stem is nog steeds bedaard toe hy weer vra: “Waar is sy dan nou?”
“Sy rus in die personeel se ruskamer.”
“Neem my asseblief sonder versuim na haar, my goeie vriend.”
Nadat Rina die water gedrink het, het sy haar op die bank uitgestrek en gerus, soos die beampte haar aangeraai het. Die volgende oomblik gaan die vertrek se deur oop en die marquês staan lewensgroot daar.
“So, dan het jy my vermanings oorboord gegooi en jou eie kop gevolg,” kom dit eensklaps sag, onheilspellend sag van Conzalo. “Jy verkies veel eerder om op die harde manier te leer as om jou deur ’n ouer persoon met meer kennis en ervaring te laat lei. Maar ons sal nie nou verder gesels nie, señorita, jy moet rus.”
Die volgende oomblik neem hy haar handsak wat langs haar op die bank lê. Hy knip die sak oop, neem haar paspoort en die nodige dokumente van haar motor en steek dit in die binnesak van sy baadjie. Daarna plaas hy haar handsak langs haar neer.
“En nou, señor?” vra sy verbaas.
“Nou ontspan jy hier op die bank totdat Alvaro opdaag.”
“Alvaro?”
“Ja, ek het die beampte gevra om Alvaro te ontbied. Ek wil weet of hierdie jongste eskapade van jou nadelige gevolge gaan hê, señorita. Onderwyl Alvaro jou deeglik ondersoek, sal ek intussen die saak in verband met jou motor afhandel.”
“Maar jy kan dit nie doen nie, señor!” roep sy onthuts uit.
“So!” Sy wenkbroue vorm ’n sierlike vraagteken. “Wie gaan my belet, jý?”
“Maar natuurlik, wie anders?”
“Hoe gaan jy dit regkry, señorita? Ek is tans in besit van jou paspoort, al die dokumente van jou motor en selfs ook jou rybewys. Op die oomblik is ek die enigste persoon wat jou motor deur die doeane kan kry, weet jy?”
Rina werp hom ’n deurdringende blik toe wat sy arendsoë nie ontgaan nie. Sy voel hoe die trane warm agter haar ooglede brand, trane van gebelgdheid en frustrasie. Sy besluit egter saggies dat sy hom nie die genot gaan verskaf om voor hom in trane uit te bars nie.
Byna twintig minute later maak Alvaro sy opwagting in die vertrek waar Rina en Conzalo hulle bevind. Die edelman kom dadelik orent. Hy groet sy neef, vertel hom kortliks op Portugees van Rina se jongste eskapade en verlaat daarna die vertrek.
“Boa tarde, Rina, pequena!” groet hy haar geamuseer en neem doodluiters op die stoel voor die bank plaas.
“Goeiemiddag, Alvaro,” glimlag sy suur. “Bêre gerus maar jou stetoskoop, jong, ek makeer op die aarde niks nie. Jou neef was skoon laf om jou hierheen te ontbied.”
“Ek hoor jy het flou geword,” sê hy bedaard.
“Wel, dis nie dodelik nie,” antwoord sy ongeërg. “Ek ken baie mense wat al flou geword het en hulle lewe vandag nog.”
“Ek sal jou nogtans moet ondersoek,” gaan hy voort. “Conzalo sal ’n verslag van my eis. Kom, verwyder jou baadjie en lê op jou rug: ek wil na jou hart luister.” Hy luister na haar hart, na haar longe en neem dan haar pols.“Nee wat,” verklaar hy met ’n glimlaggie van tevredenheid, “jou hart en longe is nog goed genoeg vir ’n honderd jaar. Jy is maar net swak, dis al. Conzalo was verniet bekommerd.”
“Ek het jou mos gesê,” antwoord sy. Alvaro lag haar saggies uit, plaas sy stetoskoop terug in sy tas en neem weer voor die bank plaas. Sy blik is kameraadskaplik.
“As ek elke keer na jou moet luister en maak soos jy sê, Rina, sal ek hopeloos verlore wees. Jy besef natuurlik nie dat jy die hospitaal op Conzalo se verantwoordelikheid verlaat het nie, nè? Dit verbaas my eerlikwaar dat hy jou nie oor sy skoot getrek het en jou ’n drag slae gegee het nie, omdat jy so ongehoorsaam is. Die man moet jou inderdaad baie liefhê.”
“Wat, hý my liefhê? Moenie verspot wees nie, Alvaro. Ek twyfel of daardie man weet wat die woord liefde beteken. Sy soort raak nie verlief nie, hulle trou slegs omdat dit gerieflik is om iemand te hê wat na hul pype kan dans en vir hulle kinders in die wêreld kan bring.”
“Jy vergis jou hopeloos met Conzalo, meisie,” glimlag Alvaro beterweterig. “Al is hy die hoof van ons hele familie, is hy nogtans ’n man met al die inherente drange van ’n warmbloedige man . . . Nee, ek verseker jou, as Conzalo liefhet, sal sy liefde vurig en besitlik wees.”
“Ag, vergeet die man,” val Rina hom ongeërg in die rede. “Vertel my liewer hoe dit met jou ma gaan en of julle ook die De Valcadas se olyffees gaan bywoon.”
“Ons woon dit elke jaar by; altans, my moeder woon dit elke jaar by. Vir my is dit op die oomblik onmoontlik om van die hospitaal af weg te breek.”
Hulle gesels oor die fees en oor Alvaro se werk as superintendent van die hospitaal totdat Conzalo eindelik sy verskyning maak. Sy donker, deurdringende blik dwaal vlugtig na Rina se bleek gesig, toe weer na Alvaro wat ewe rustig daar voor die rusbank sit.
“Ek vrees jy sal eers die señorita se motor na haar verblyfplek moet neem, Alvaro,” kondig hy bedaard aan. “Daarna sal ek jou terugbring om jou eie motor te kom haal.”
“Ek is heeltemal in staat om my motor self te bestuur, señor,” begin Rina.
Maar hy maak haar dadelik stil. “Nee, jy ry saam met my,” sê hy. “Alvaro sal jou motor veilig by die hotel besorg.” Die volgende oomblik tel die edelman Rina in sy gespierde arms op, maar hiermee is sy glad nie gediend nie en wys dit baie gou baie duidelik.
“Señor,” sê sy, rooi van ergernis, “sit my asseblief dadelik neer. Ek kan self na die motor loop.”
“Jy het vandag reeds te veel geloop,” antwoord hy onverstoord. “Ek is verstom dat jy nie op pad hierheen al flou geword het nie.”
Alvaro tree haastig na vore en maak die deur vir sy neef oop. Na ’n rukkie stap hulle uit in die straat, waar sowel Conzalo se swart motor as haar eie wit Jaguar in die middagson blink. Ten aanskoue van haar motor, voel dit vir Rina soos ’n herontmoeting met ’n dierbare vriend wat sy jare laas gesien het.
Conzalo is bewus van die