om die motor; lank, donker en uiters aantreklik, ’n toonbeeld van manlikheid.
Die ellendige man is sowaar onweerstaanbaar aantreklik! dink sy, vies vir haarself omdat sy voorkoms so ’n indruk op haar maak. Sy sou verkies het om dit nie raak te sien nie.
Waardig, soos altyd, skuif die jong edelman agter die stuurwiel in en wag dat Alvaro eerste vertrek. Met ’n sagte blik wat aan teerheid grens, hou Rina die man langs haar dop; onbewus daarvan dat hy, op sy beurt, haar weer vlugtig sydelings sit en bekyk. Sy verwonder haar aan sy besonder sterk gelaatstrekke, sy blouswart, glad gestrykte hare en sy breë skouers. Die volgende oomblik kyk sy op, vas in daardie donker, onpeilbare oë wat na haar terugstaar. Sy bloos vuurwarm en draai haar gesig haastig weg. Conzalo glimlag slegs stilweg, skakel die voertuig aan en ry weg.
In Rina se oë het hy pas al die dinge gesien wat hy haar graag in woorde wil hoor sê. Sy hart voel momenteel bly en gerus, want is ’n mens se oë dan nie die vensters van jou hart nie?
’n Kort oomblik het Conzalo dieper in Rina se hart gestaar as waarvan sy bewus is. Hy het emosies in haar oë gelees wat sy nog nie aan haarself wil erken nie. Maar liefde is ’n emosie wat ’n mens se oë maklik verraai, soms sonder dat jy self daarvan bewus is.
Op die oomblik bots Rina se hart en verstand soos twee magtige golwe wat verwoed teen mekaar aanstorm. Sy het nou tot die slotsom gekom dat sy meer van die koue, trotse en nougesette marquês hou as wat goed is vir haar vreedsame gemoed. Maar hierdie feit wil haar verstand nie aanvaar nie, want hulle lewe in aparte wêrelde, twee pole wat mekaar nooit sal of kan ontmoet nie.
Rina is so diep ingedagte dat sy kwalik daarvan bewus is toe hulle voor die hotel stilhou en Conzalo haar weer eens na haar kamer dra. Sy is vreemd stil en afgetrokke. Sy maak nie eens beswaar omdat die besorgde edelman haar al weer soos ’n invalide behandel nie.
Hulle tree haar kamer binne. Weer lê hy haar saggies op die bed neer. Terwyl hy nog so gebukkend oor haar staan, ontmoet hul oë. Daar is ’n vreemde lig in Rina se blik. Dis asof sy die man ineens met nuwe oë raaksien.
Die edelman se blik versag merkbaar toe hy met iets soos teerheid in sy stem sê: “Verklee jou asseblief en gaan dadelik bed toe. Ek moet Alvaro gou terugneem om sy motor te gaan haal.” Hy kom orent. “O ja, byna vergeet ek . . . jou paspoort.” Hy haal haar paspoort, rybewys en ander dokumente uit sy sak en plaas dit alles terug in haar handsak.
“En my motor se sleutels, señor?” herinner sy hom sonder veel belangstelling.
“Die sleutels sal ek Sondagoggend vir jou gee,” antwoord hy bedaard. “Moenie bekommerd wees nie, ek sal persoonlik toesien dat jou motor gesluit is.”
’n Glimlaggie raak aan Rina se lippe. “Is jy bang dat ek vandag nog met my motor sal gaan ry?” vra sy.
“Nie bang nie, net versigtig, menina,” antwoord hy. “Ek het al geleer om enigiets van jou te verwag, selfs die onmoontlike.”
Sy lag saggies. “O, señor . . .”
“Die naam is Conzalo, pequena,” sê hy met ’n glimlaggie wat Rina se polsslag ontwrig.
“Goed, Conzalo,” glimlag sy toegewend, “ek belowe om my vandag en môre soos ’n soet meisietjie te gedra. Maar Sondagoggend wil ek my motor se sleutels terughê, of die duiwel gaan jou haal.”
“Ek het die duiwel nog nooit gevrees nie, menina,” antwoord hy doodbedaard.
“Conzalo het gelyk,” glimlag Alvaro, “die duiwel vrees hom, want hy word geen geleentheid gegee om onheil en tweedrag in ons familie te saai nie.”
“Goeie genade, is daar dan niks wat jy vrees nie, Conzalo?” vra Rina merkbaar verbaas.
“O ja, daar is een ding wat ek vrees,” kom dit sag van die edelman.
“En wat is dit?” wil Rina nuuskierig weet.
“Ek sal jou anderdag vertel,” antwoord hy ontwykend. Hy draai na Alvaro. “Adeus, pequena. Ons sien jou weer vanaand,” groet hy haar oor sy skouer.
“Adeus, Conzalo,” groet Rina met ’n sagte stem terug. Ook Alvaro sê tot siens, dan vertrek die twee mans onverwyld.
Die nag is reeds besig om sy swart vlerke oor die stad te vou toe die kamermeisie Rina eindelik kom wakker maak vir aandete, die een wat ’n bietjie Engels verstaan. Sy groet Rina vriendelik en verneem belangstellend na die beeldskone señorita se gesondheid.
Na ete verklee Rina haar in ’n swierige ligblou kamerjas wat haar oë nog blouer laat lyk. Sy knap haar grimering op, kam haar hare en wag dat haar besoekers moet opdaag. Meteens val dit haar by dat sy Conzalo geld skuld, die invoerkoste op haar motor. Sy neem haar handsak en kyk al die dokumente deur, op soek na die kwitansie, maar vind niks nie.
Ek het seker half gekyk, berispe sy haarself en keer haar handsak op haar skoot om. Noukeurig gaan sy elke dokument en papier na.
Sy is nog hiermee besig toe haar besoekers hul opwagting maak; die De Valcadas, De Moras en Peredas. Almal groet haar vriendelik en verneem belangstellend na haar gesondheid.
“Wat maak jy met al daardie papiere wat so verstrooid op jou skoot lê, menina?” vra Conzalo en trek sy stoel langs haar bed.
“Ek soek na die kwitansie van die bedrag wat jy vanmiddag by die doeanekantoor betaal het, Conzalo,” antwoord sy ernstig. “Ek kry glad nie so iets nie.”
“Daar is nie ’n kwitansie nie, pequena,” laat die edelman sag hoor.
“Conzalo, jy jok. Daar móét ’n kwitansie wees . . .” begin Rina, maar hy help haar dadelik reg.
“Ek vrees jy het my nie mooi verstaan nie, menina,” sê hy bedaard, maar met ’n sweem van ’n glimlaggie. “Ek het gesê daar is nie ’n kwitansie in jou handsak nie. Kom, laat ons al hierdie papiere en goed weer terugsit in jou handsak.”
“Nee, los jy hierdie papiere uit, Conzalo,” keer sy ietwat streng. “Jy het reeds my motor se sleutels en ook die kwitansie.”
“Die sleutels kry jy Sondagoggend of Saterdagaand,” val hy haar sag in die rede.
“En die kwitansie?”
“Die dag wanneer jy na Suid-Afrika terugkeer,” antwoord hy.
“Maar ek moet tog weet wat ek jou verskuldig is!” hou sy vol.
“Slegs ’n paar escudos,” antwoord hy ontwykend, “en daarvan kan jy gerus vergeet, menina.”
“Ja, vergeet daarvan, Rina-kind,” tree sy ma vriendelik tussenbeide. “Conzalo is ’n miljoenêr, hy sal daardie paar escudos nie eens mis nie.”
“U bedoel ’n paar duisend escudos, señora,” sê Rina ernstig.
“Menina, vergeet nou van daardie onbenullige sakie,” kom dit sag van die ou marquesa.
“Ek vrees dit is teen my beginsels om so iets toe te laat, señora,” kom dit ernstig en beslis van Rina. “Ook my ouers sal bitter ontevrede wees as ek Conzalo toelaat om sulke bedrae uit sy sak te betaal. Nee, ek moet die verskuldigde bedrag aan hom vereffen. As hy my nie vanaand die kwitansie gee nie, sal ek môre persoonlik by die doeanekantoor gaan verneem wat die bedrag was. En as hy weier om die geld van my te neem, sal ek dit eenvoudig in sy bankrekening gaan inbetaal.”
“Beskou dit as ’n verjaardaggeskenk, pequena,” doen Conzalo aan die hand.
“Ook dít is teen my beginsels, Conzalo. Ek is van kleins af geleer om nooit ’n duur geskenk van ’n man aan te neem nie, tensy ek aan die man verloof is.”
“Wel, as dit is hoe jy oor die saak voel,” kom dit teleurgesteld van die edelman, “sal ek môreoggend vir jou die kwitansie bring, Rina. Ek is jammer, maar ek het dit nie nou hier by my nie. Dit is nog steeds in die sak van die baadjie wat ek vandag aangehad het.”
Etlike minute lank gesels Rina en die drie ouer dames oor haar voorgenome reis deur Europa. Conzalo ontbied die kelner en bestel vir