pak, sodat sy môreoggend vroeg na Estoril kan vertrek.
Met hierdie takie afgehandel, skryf sy ’n kort briefie aan die marquesa waarin sy die twee families hartlik bedank vir hul vriendelikheid tydens haar siekte en verduidelik dat sy besluit het om maar vroeër na Estoril te vertrek. Boaan die brief skryf sy die volgende dag se datum, aangesien die brief eers na haar vertrek aan die marquesa afgelewer moet word. Ook aan die twee Peredas skryf sy ’n kort bedanking, maar verseker hulle dat sy Saterdag terug sal wees.
Pas voor middagete kom sy in Estoril aan en ’n halfuur later is sy in die Santa Cruz gevestig. Die hotel is gerieflik langs die strand geleë. ’n Mens stap net oor die straat, dan is jy onmiddellik op die wit seesand.
Na middagete neem Rina aan die Portugese se gebruiklike siesta deel en gaan rus ook ’n paar uur. Vieruur begeef sy haar na die strand, waar sy haar op ’n bankie tuis maak en haar verlustig in die wispelturigheid van die ewig deinende golwe.
Die son is byna onder toe sy eindelik na die hotel terugkeer. Die seelug is heerlik en verfrissend. Sy voel hoe die ou lewenslus weer sterk deur haar are bruis. Haar gelaatskleur is nog ietwat bleek weens haar onlangse siekte, maar haar oë vonkel al weer van lewensblyheid.
Onderwyl sy ’n vrolike deuntjie neurie, bad en verklee sy haar vir aandete. Gevolglik is sy heeltemal gereed om af te gaan toe die ghong aandete aankondig.
Deftig en volkome op haar gemak, stap Rina reguit na haar tafeltjie. Die volgende oomblik val sy byna op haar rug van verbasing toe sy sien wie vanaand haar tafelgenoot is.
“Señora De Mora!” roep sy verras uit en vergeet heeltemal om die ou dame te groet. “Wel, u is inderdaad die laaste persoon wat ek verwag het om hier aan te tref,” gaan sy voort onderwyl sy haar plek langs die tafel inneem.
Ada de Mora glimlag en kyk Rina met ondeunde oë aan. “Ek glo jou, Rina-kind,” antwoord sy geamuseer. “Maar nadat Astrid, my suster, vanoggend jou briefie ontvang het, het Conzalo byna ’n aanval van beroerte gehad.”
“So, en waarom nogal?” wil Rina bedaard weet, ofskoon haar hart hom glad nie so bedaard gedra by die aanhoor van Conzalo se naam nie.
“Omdat jy nog swak is en boonop sonder ’n duenna hier met vakansie is,” antwoord die ou dame met ’n ondeunde lig in haar oë.
“Maar . . . ek . . . ek het nie ’n duenna nodig nie!” stik Rina byna van verbasing. “Ek is mos nie ’n Portugese meisie nie. Is Conzalo laf? Nou het hy die feestelikheid by sy quinta vir u bederf, señora.”
“Ag, kind, noem my gerus maar tia Ada; waarom sal jy my nou so formeel aanspreek?” sê-vra sy glimlaggend. “Boonop het ek self aangebied om jou . . . e . . . geselskap te kom hou. Nadat Conzalo jou briefie gelees het, het hy daarop aangedring dat sy moeder haar onverwyld by jou aansluit. Maar Astrid is gasvrou tydens die olyffees, derhalwe het ek aangebied om in haar plek te kom.”
“Maar dit was nie nodig nie . . .”
“Natuurlik was dit nodig, kind. Conzalo is pynlik gesteld op etiket en konvensies,” help sy die jong meisie met moederlike besorgdheid reg.
“Maar die olyffees, tia . . .” begin Rina.
“Dit is pret en plesier vir jong mense, nie vir ’n ou vrou soos ek nie! Ek sal dit meer geniet om vir jou ’n duenna te wees. As jy alleen hier rondkuier, sal die mans jou nooit met rus laat nie, Rina. Maar met my aan jou sy, sal hulle voortdurend op hul hoede wees en in hul spoor trap. Vertel my wat jy na ete wil doen?”
“Ons gaan absoluut niks doen nie, tia,” glimlag Rina. Die gedagte dat sy vyf volle dae lank ’n duenna gaan hê, amuseer haar geweldig. “Ons gaan vanaand sommer net op die voorstoep sit en ontspan,” gaan sy voort. “Van môre af sal ons die wêreld hier langs verken. Maar sê vir my, wie het u hierheen gebring?”
“My liewe Rina, net Conzalo kan ’n mens inderhaas in sy motor bondel en jou in ’n japtrap aflaai waar jy, volgens hom, behoort te wees.”
Albei vroue begin hartlik lag, want dit is sowaar ’n tipiese beskrywing van die marquês. Ja, net hy sal so iets doen.
“Kind, dit is vir my nou baie duidelik dat jy Conzalo maar sleg ken,” antwoord die ou dame met ’n gedempte laggie. “Hy vind gewoonlik alles uit wat hy wil weet; dit is ’n gewoonte van hom. Ek sê jou, ’n mens kan vir hom niks verbloem nie. Hy het blykbaar na al die hotelle hier in Estoril gebel om vas te stel waar jy tuis is, want hy het met ons aankoms sommer reguit na die Santa Cruz gery, sonder om by enige ander hotel navraag te doen . . . Nee, hy het met ons vertrek uit Lissabon al geweet waar jy tuis is. Ek sê jou, dis ’n gewoonte by Conzalo om alles te weet.”
Die volgende vyf dae geniet Rina elke oomblik van die dag. Onderwyl sy sorgeloos tussen die golwe baljaar, sit tia Ada gewoonlik ewe rustig op die strand onder ’n sambreel en brei. Soms onderneem die twee lang motorritte al met die kus langs. Hulle besoek skilderagtige vissersdorpies en talle ander interessante plekke in Sintra. Party aande besoek hulle die een of ander skouburg, maar soms onderneem hulle slegs kort wandelings langs die strand om na die wisselende geluide van die ruisende golwe te luister.
Dit is vir Rina duidelik dat tia Ada dit hier net soveel geniet soos syself. Spoedig groei daar ’n hegte band van vriendskap tussen die twee. Rina vind die opgewekte ou dame se geselskap besonder interessant, en tia Ada koester elke dag meer en meer respek vir hierdie lewenslustige Suid-Afrikanertjie met haar sterk karakter en mooi persoonlikheid. Sy is nou baie bly dat die geleentheid haar gegun was om die ware Rina van naby te leer ken. Hierdie vyf dae het haar ’n diep insig in die meisie se rotsvaste beginsels, minsame geaardheid en liefdevolle hart laat kry. Vir haar is Rina ’n meisie op wie enige moeder met reg trots kan wees. Sy kan inderdaad as voorbeeld vir elke meisie dien . . . Ja, selfs vir elke jong meisie uit die Portugese adelstand, al is sy ietwat van ’n rebel wat die Portugese gebruike betref.
Dis geen wonder dat Astrid sommer van die staanspoor van Rina gehou het nie, gesels tia Ada in haar gedagtes met haarself, hier waar sy en Rina ingehaak langs die strand wandel. Astrid het nog altyd ’n wonderlike gawe besit om mense reg op te som.
“So is dit vanaand ons laaste aand hier in Estoril, tia,” maak Rina met ’n sagte stem inbreuk op die ou dame se gedagtes. “Ek hoop u het die paar dae hier langs die strand geniet. Vir my het dit die wêreld se goed gedoen, na die twee weke wat ek in die bed moes deurbring. Ek voel al weer springlewendig en gereed vir die lang reis deur Europa. Was dit nie dat ek Alvaro belowe het om môreaand saam met hom te gaan dans en die volgende dag saam met hom en sy ma deur te bring nie, sou ek sommer môre al na Santarém en Coimbra vertrek het.”
“Dis waar,” glimlag tia Ada, “ook ék het hierdie paar dae langs die strand baie geniet. Ek sal jou geselskap mis, Rina. Wanneer jy in Coimbra aankom, moet jy asseblief nie in ’n hotel tuis gaan nie, kind. Onthou, my deur staan altyd vir jou wawyd oop. Ons sal jou in elk geval verwag.”
Daardie aand gaan die twee vroeg bed toe, gevolglik is hulle nege-uur die volgende môre al weer onderweg na Lissabon. Hulle daag net betyds vir middagete by die Hotel Universo op. Op aandrang van Rina nuttig die ou dame die maaltyd saam met haar in die hotel. Daarna word Marco gebel om sy ma te kom haal.
Na tia Ada se vertrek, bel Rina gou vir Alvaro om te sê dat sy terug is in Lissabon. Daarna begeef sy haar na die naaste haarsalon, sodat haar hare darem netjies kan lyk vir die dansparty. Dis byna vieruur toe sy haar eindelik op haar bed neerstrek om ’n rukkie te rus. Sy weet by voorbaat dat sy vanaand baie laat in die bed sal kom.
Dis ’n opgewekte Rina wat haar daardie aand met sorg klee vir die geleentheid. Haar aandrok is van silwer lamé, waarvan die ruglyn ietwat laag is maar nie te gewaag nie. Ook haar skoene en aandsakkie is silwerkleurig. Sy dra ’n wit pelsstola en haar juwele is van egte diamante wat sy saam met ’n aansienlike bedrag geld van haar ouma geërf het.
Dit is reeds halfagt toe die kamermeisie Rina kom verwittig dat señor Pereda in die sitkamer op haar wag. Die kamermeisie verloor byna haar asem toe sy die beeldskone Rina soos ’n glinsterende ster voor haar sien staan.
Ook Alvaro kan nie sy bewondering