dringend nodig.”
Jana staar oomblikke lank stip na haar hande, lig haar ken en vra byna gemoedelik: “Die ander huispersoneel? Die tuindiens . . . en kontant vir kruideniersware en kos . . .? Mamma, speel asseblief oop kaarte met my en antwoord my eerlik: is Pappa bankrot?”
Sonnique se klokhelder lag laat magtelose woede pleks van verligting in Jana se binneste opstoot. Haar ma het gelyk: sy ís anders as haar jonger broer en suster. Dalk omdat sy vyf jaar lank die enigste kind was en oral op haar ouers se buitelandse vakansies rondgesleep is. Vir hulle was sy ’n oulike speelding, ’n goue kleuter wat vyf tale magtig was en hul talle vriende vermaak het, maar sy het hulle geleer ken soos hul beste vriende hulle nié ken nie. Selfs as kleuter kon sy aanvoel wanneer hul gelag net ’n skans was waaragter hul kommer geskuil het. Destyds was kwellinge oor finansies ’n seldsame gebeurtenis in haar ouers se lewe, maar met verloop van tyd het dit toegeneem; tot so ’n mate dat sy gretig was om na afloop van haar studies pad te gee uit Johannesburg en selfonderhoudend te word. Dít het haar die sekuriteit gegee waarna sy onbewustelik jare lank gesmag het. En nou eis haar ma dat sy alles prysgee.
“My liewe poplap, jy’t ’n ooraktiewe verbeelding,” protesteer Sonnique laggend. “Ons sal vanselfsprekend vir julle kredietkaarte gee om alles te koop wat julle drietjies nodig het, en sou Waldus en Danette ’n paar rand nodig kry . . . jy het seker tog ’n spaarrekening, want jy het altyd so getrou gespaar. Onthou jy hoe graag Pappa duisende rande in jou bankrekening inbetaal het?”
“Ja, Mamma,” antwoord Jana werktuiglik. Sy voeg nie by dat haar pa net so gereeld dié duisende rande onttrek het wanneer dit hom gepas het nie. En nou verwag haar ma dat sy haar swaar verdiende spaargeld met haar spandabelrige broer en suster moet deel!
“Kom help my asseblief met my klere, Janatjie. Ek en Pappa haal nog vanaand ons vlug na Singapoer, en ons sal vinnig moet inpak. Sodra jou pa terugkom van die stad af, sal ons dadelik lughawe toe vertrek,” kom dit ineens haastig van Sonnique.
“Ek kom nou, Mamma. Ek het lang ure agter die stuurwiel van my kar gesit en ’n koppie tee sal lekker smaak.”
Jana kom orent en stap na die kamerdeur waar sy bly staan toe Sonnique weer praat: “Jana?” Sonnique wag totdat Jana omdraai en haar vraend aankyk voordat sy sag vervolg: “Ek’s so jammer, my kindlief. So bitter jammer ek kan jou môres nie gelukkiger maak nie.”
Die onverwagte hartseer in Sonnique se stem laat Jana met ’n gerusstellende glimlag antwoord: “Ek sal nooit die geluk van ’n sonkind ken nie, Mamma, maar dalk is ek ’n maankind, want as ek gelukkig is, dans ek saam met die sterre.”
Sonnique glimlag, maar die skadu van hartseer in haar oë vergesel Jana soos ’n woordelose verwyt na die kombuis.
“Dis verregaande!” krys Danette, haar hande op haar heupe, haar gesig rooi van verontwaardiging. “Pappa het my met sy hand op sy hart beloof ek mag saam met die Van Rooyens in Spanje gaan vakansie hou.”
Jana onderdruk ’n glimlag toe Sonnique ongesteurd voortgaan om somerklere in ’n tas te pak terwyl sy rustig antwoord: “Jy is pas sewentien, Danette, veels te oud om aan feëverhale te glo. Jy behoort te weet jou pa sal jou enigiets beloof net om ’n einde aan jou geneul te maak. Jy kan die wintervakansie gebruik om vir jou eindeksamen te leer. Jy is tog van plan om volgende jaar universiteit toe te gaan?”
“Nie as ek dit kan verhelp nie. Ek wil ’n jaar lank deur Europa toer en ’n ryk man ontmoet – iemand van die Franse adelstand. Mamma is op negentien getroud. Hoekom moet ek miskien eers ’n graad kry voordat ek mag trou?” Danette plof op die hoek van die dubbelbed neer.
“My ouers was albei dood. Ek was letterlik alleen in die wêreld. Pappa was mondig met ’n BCom-graad, en met my erfporsie het ek al die geld in die wêreld gehad om ’n man en ’n huis vol kinders te kan onderhou.” Sonnique draai vraend na Jana. “Het ek nie al genoeg klere ingepak nie?”
“Oorgenoeg, Mamma. Ek het nie middagete geëet nie. Wil Mamma ook iets te ete hê?” Jana sien hoe Sonnique haar kop ontkennend skud, en steek haar hand uit na Danette. “Kom saam kombuis toe. Of is jy ook nie honger nie?”
Danette spring op en poseer voor die lang spieël. “Ek en Hilda is op ’n streng dieet. Ons het roomys vir middagete gehad, daarom eet ons nie weer voor môreoggend nie. Kan jy sien ek het gewig verloor, Jana?” vra sy terwyl sy haar eie spieëlbeeld goedkeurend betrag.
Jana sluit by Danette voor die spieël aan, maar word vinnig weggestamp. “Moenie langs my staan nie, Jana! Jy’s so maer en uitgeteer dat jy sieklik lyk. Bleek en tengerig, dis jy. Ek sal altyd vet lyk langs jou, selfs al is ek brandmaer.”
“Ek is heelwat langer as jy, Kleinsus,” skerts Jana. “Ek gee toe: jy het al die nodige kurwes.”
“Soos Mamma. Waldus het my vertel sy vriende dink ek het verleidelike kurwes. Hy sê die manne stel nie in meisies met lang, skraal lyfies en popgesiggies belang nie. Dis seker waarom jy op vier-en-twintig nog ongetroud is. Wil niemand jou hê nie, arme Jana?” verneem Danette met valse simpatie.
Sonnique sug hoorbaar. “Genade toggie! Móét ek na die kind luister? Danette, jou suster het fynbesnede gelaatstrekke wat die meeste meisies met hul hele hart begeer. Ek en jy is geseënd met groter neuse, groter monde en kurwes. Wees dankbaar vir alles wat jy het en gaan doen jou huiswerk. Ek gaan saam met Jana kombuis toe.”
“Vervlaks, dis al ná sewe! Ek het al my sepies gemis. Ek en Hilda het vanmiddag ons huiswerk gedoen, Mamma. En wat nou van my vakansie saam met Hilda en haar ouers in Spanje? Mamma, ek praat nog!” skree Danette toe Sonnique vir Jana by die kamer uitstoot en die deur hard agter haar toeklap.
“Ek sien nie kans vir ’n gillende tiener nie. Sê vir Danette ek het beloof om so spoedig moontlik ’n vlugkaartjie vir haar te laat aflewer. Ek gaan nou in jou pa se studeerkamer sit en ’n paar van my vriendinne bel. Sorg asseblief dat Danette of Waldus my nie pla nie. Dankie, Jana.”
“Goed, Mamma,” beloof Jana en staar Sonnique met ’n gevoel van onrus agterna. Haar ma is soos ’n slaapwandelaar, net half teenwoordig in die hede, ’n veraf blik in haar oë wat die onsigbare sien. Nee, dis net haar verbeelding, paai Jana haarself. Haar ma is altyd in ’n dwaal wanneer haar pa nie teenwoordig is nie, want saam vorm hulle ’n eenheid wat onstuitbare lewensvreugde uitstraal en deur niks en niemand geskei kan word nie.
Jana en Danette staan voor die oop dubbelvoordeur en kyk hul ouers in die luukse motor waarin hulle lughawe toe geneem word, stilswyend agterna.
“Ek ken die Nobles nie eintlik nie. Is hulle nuwe vriende van Mamma-hulle?” vra Jana bloot om aan haar knaende gevoel van kommer te ontsnap.
Danette gaap verveeld. “Ek weet nie. Dalk speel hulle almal saam gholf of dans Saterdagaande in die buiteklub. Jy weet mos hoe is die ou mense: drink ’n paar drankies en verbeel hulle dan hulle is nog tieners. As ek so oud soos ons ma is, sal ek goed weet hoe om my te gedra.”
“Goeiste, Danette, Pappa is sewe-en-veertig en Mamma is twee jaar jonger. Hulle lyk asof hulle albei nog in hul dertigs kan wees, nie soos ou mense wat tuisversorging nodig het nie. En is jy nie bly ons ouers is gelukkig getroud nie? Hulle wys openlik hoe lief hulle vir mekaar is en geniet hul lewe ten volle.”
“Kinders van geskeide ouers word meer bederf. Hilda se ouers is ôk gelukkig, maar hulle boer nie saam oorsee en laat hul kinders aan die genade van ’n baasspelerige huishoudster oor nie. En wat nou van my vakansie saam met die Van Rooyens?” vra Danette dikmond.
“Mamma het beloof om jou vlugkaartjie te laat aflewer.”
“Sowaar?” Danette glimlag stralend en gee Jana ’n onverwagte drukkie. “Ousus, kon jy my nie lankal vertel het nie? Ek was so vies vir Mamma dat ek haar net ’n skewe soen op die wang gegee het. Ek het haar nie eens gesê ek gaan my morsdood verlang nie . . . jy weet mos, al die dinge wat kinders veronderstel is om aan hul ouers te sê sodat hulle meer sakgeld kan kry.”
Was ek ook so sinies en oppervlakkig toe ek sewentien was? Jana besef dat die jare in die Kaap haar van haar jonger suster vervreem