nie verstaan nie,” stel Driekie voor. Sy neem Jana aan die arm en trek haar op die rusbank langs haar neer.
Jana draai skuins op die rusbank en neem een van Driekie se hande in hare. “Ek is te bly om tannie weer te sien om my nou oor ander dinge te bekommer. Of dalk is ek te bang om te veel te wonder.” Tog soek sy na antwoorde op al die vrese wat sy ook op Driekie se gesig lees. “Ek weet tannie is al sewe-en-sestig, maar tannie is fiks en gesond. Het tannie werklik besluit om af te tree, of kon my ouers nie meer ’n huishoudster bekostig nie?” vra sy aarselend, bang om die waarheid te hoor.
“Vrees het net mag oor jou totdat jy dit trompop loop en reguit in die oë kyk, Janatjie,” antwoord Driekie, ’n bemoedigende glimlaggie om haar lippe. “Destyds, toe jy so bang was dat jy ’n aangenome kind is, het ek jou van jou ouma Engela Richter vertel. Onthou jy nog?”
“Natuurlik! Ek onthou ook tannie het volstrek geweier om enige verdere vrae oor my ouma Engela te beantwoord, selfs toe ek opnuut begin huil het.”
“Jou tweede tranebui was die geforseerde trane van ’n bedorwe brokkie. Ek kon jou nie met dié vrees oor jou ouers laat grootword nie, maar ek het goed geweet wanneer jy sommer net geneul het. Maar nou . . . Ek meen die tyd het aangebreek dat jy meer weet van jou pa se ouers. Onthou net: ek vertel jou dié dinge vertroulik, my hartjie, want jou broer en suster mag nie weet nie.”
“Ek verstaan, tant Driekie. Tannie het destyds gesê tannie weet nie of my ouma Engela nog leef nie. Vandag het ek ’n man ontmoet wat my gevra het of ek familie is van Herman Richter en daarna het hy gesê ek herinner hom aan Engela Richter.” Jana hou Driekie se hand stywer vas en vra dringend: “Hulle leef nog, nè, tannie?”
“Ja, my kind, jou oupa en ouma is diep in die sestig, maar met hul gesondheid skort daar niks. Hulle speel gereeld gholf en tennis, en jou oupa behartig nog self sy sakebelange,” antwoord Driekie met ’n tikkie jammerte in die blik wat op Jana rus.
“Hoekom wil hulle ons nie ken nie, tannie? Het hulle en my ouers rusie gehad?”
“Ek voel soos ’n verraaier, want ek het soveel jare op jou ouers se versoek oor dié dinge geswyg. Selfs nou . . . Ja, daar was ’n rusie oor jou ouers se troue. Maar al was julle grootouers nie by jul lewes betrokke nie, moet jy weet dat as daar dalk in die toekoms probleme sou opduik wat jy nie alleen kan oplos nie, sal jou ouma altyd bereid wees om te help.”
Jana los Driekie se hand en sit meer regop. “As ouma Engela nie genoeg belang stel in haar kleinkinders om ons te leer ken nie, wil ek haar ook nie ken nie. My ouers is in elk geval my eerste lojaliteit. Hulle het ’n wonderlike huwelik – wat kan nou daarmee verkeerd wees? In elk geval is ek seker alles sal binnekort weer na normaal terugkeer, want my pa is . . .” Jana laat haar sin onvoltooid toe sy die uitdrukking op Driekie se gesig sien. “Tannie kry my jammer. Wat . . . wat weet tannie wat my ouers teenoor my verswyg het?” Die knaende vrees is terug in Jana se bors.
Driekie sug hoorbaar en antwoord spytig: “Ek wens dit was nie vir my nodig om my vrese met jou te deel nie, Janatjie, maar miskien is dit my plig. Sien, jou pa het my verlede Donderdagaand na sy studeerkamer toe genooi – iets so ongewoons dat hy sy versoek moes herhaal voordat ek my eie ore kon glo. Hy het my probeer oortuig om af te tree as huishoudster, aangesien ek nie meer jonk is nie. Maar ek ken jou pa soos ’n eie kind. Sy voorstel was net té hartlik, sy handgebare té grootdoenerig en sy laggies té gedwonge, daarom het ek hom reguit gesê ek sal aanbly as huishoudster, maar dat ek nie meer ’n salaris wil hê nie.”
“En?” por Jana toe Driekie swyg.
Driekie se oë pleit om vergifnis toe sy voortgaan: “Jou pa se grootdoenerigheid het eensklaps verkrummel. Hy het weggedraai na die venster en gesê hy kan nie meer salarisse of kos en verblyf vir die huispersoneel bekostig nie. Hy het dankie en tot siens gesê sonder om weer na my te kyk.” Driekie sug aangedaan. “Ek kon huil om ’n selfversekerde man soos jou pa so gebroke te sien . . . Ek hét gehuil, maar ek het dit nie besef voordat ek my privaat sitkamer bereik het nie.”
“Maar dis nie die eerste maal dat my pa finansiële probleme ondervind nie, tant Driekie. Hy kon nog altyd van sy talle aandele of eiendomme verkoop wanneer hy kontant dringend nodig gehad het. My ma het multimiljoene geërf; almal weet dit tog . . .” Jana se protes klink onoortuigend in haar eie ore. Wie probeer sy nou eintlik bedrieg? Haar ma was byna buitensporig opgewonde oor hul vakansie en haar pa koorsagtig in sy haas om by die lughawe te kom; soos twee vlugtelinge wat aan die realiteit wou ontsnap. “Tannie verwag dat my pa alles gaan verloor,” vervolg sy, haar stemtoon doods.
“Ek voel net onrustig, daarom het ek teruggekom, Janatjie. Ek wil my graag verbeel julle kinders het my nodig. Verkwalik jy my?” vra Driekie onseker.
“Nooit nie, tant Driekie! Dalk . . . dalk moet ons niks vir Danette en Waldus sê nie. Danette sal probeer om ons ouers te bel, en Waldus sal glo dis sy kans om te gaan werk, want hy vertel my graag hy verveel hom morsdood op universiteit.”
“Ek sal nie praat nie, my kind, maar wie is die man wat jou oor jou oupa uitgevra het? Al jou grootouers se vriende weet van die vervreemding tussen hulle en jou ouers, en hulle sou jou oupa-hulle nooit met jou bespreek het nie,” sê Driekie gekweld.
“Sy naam is Wilhelm Hoffmann, tannie. Ons het net toevallig aan dieselfde tafeltjie in die Noontide Restaurant gesit omdat die plek stampvol was. Ek veronderstel hy is ’n nuwe intrekker – of ken tannie hom dalk?” vra Jana met onderdrukte nuuskierigheid.
“Nee, my hartjie, maar ek sal jou ouma Engela waarsku dat die jong man uit sy beurt gepraat het. Het hy belang gestel om te kom kuier?”
“Gelukkig nie, tannie. Hy is die knorrigste man wat ek ooit ontmoet het. Hy het in elk geval ’n verhouding met ’n meisie wat hy agter haar rug kritiseer,” antwoord Jana afkeurend en kyk op na die staanhorlosie. “Dis byna vieruur. Sal ons gaan tee maak, tant Driekie?”
“Tee sal nou lekker . . .” begin Driekie terwyl sy opstaan, maar swyg weer toe Danette se stem en naderende voetstappe in die gang opklink.
“Jana! Wie ken jy wat vir jou blomme sal stuur? Jana, waar kruip jy weg? Ek kan nie glo ’n man sal geld op jou mors nie. Of is hy vrek lelik?” weergalm Danette se stem deur die huis.
“In die oostelike sitkamer,” roep Jana, opnuut kwaad vir die opdringerige Barry Dreyer. Dis presies wat hy sal doen: ’n duur ruiker stuur sodat sy verplig voel om hom te bel en te bedank. As dit nou Wilhelm was . . . Maar Wilhelm ken nie haar adres nie en hy is verknog aan sy Charmaine, selfs al twyfel hy aan haar intelligensie. Wilhelm is veels te befoeterd om enige meisie werklik lief te hê. Nee, nou raak sy stuitig. Wilhelm Hoffmann en liefde is twee teenoorgestelde pole, en sy sal hom in elk geval nooit weer sien nie.
Of dink hy tog ’n bietjie aan haar soos sy aan hom dink?
“Eindelik. Kyk net hier, Jana. Ek wed die ruiker kos duisende rande. Sal ek die koevertjie oopmaak en kyk wie dit gestuur het?” Danette plak die ruiker op die koffietafel neer en pluk die kaartjie uit die plastiekhouertjie tussen die blomme.
“Nee!” Jana bereik Danette met enkele treë en gryp die koevertjie uit haar hand uit. “Goeiste tog, het jy nie ’n druppel respek vir ander mense se privaatheid nie, Danette? ’n Sewejarige kind het beter maniere as jy. Hoekom groet jy nie vir tant Driekie nie?”
“Wie het nou nie maniere nie?” vra Danette bitsig. “Hallo, mevrou Brewis. Jana, Mamma dring daarop aan dat ons ons werknemers as meneer of mevrou aanspreek. Mevrou Brewis is nie jou tannie nie.”
“Mevrou Brewis werk nie meer by ons nie, daarom kan ek haar noem wat ek wil,” antwoord Jana uittartend en blik oor haar skouer na Driekie wat Danette bedees groet. “Kom saam kombuis toe sodat ons ons middagtee kan maak, tannie. Dalk oorweeg ek dit om die onskuldige blomme ’n bietjie water te gee, pleks van om hulle in die vullisblik te gooi.”
“Maar jy het nog nie eens die koevertjie oopgemaak nie,” protesteer Danette luidkeels terwyl sy agter Jana en Driekie aandraf kombuis toe. “Weet jy klaar wie die blomme gestuur het? Wie is dit? Ag, toe nou, Jana, moenie vermakerig wees nie. Vertel my wie is jou groot bewonderaar.”