Schalkie van Wyk

Dans van die sterre


Скачать книгу

“Moet asseblief nie opstaan nie, juffrou. Ek het nie bedoel om jou aan te gluur nie, maar die enigste vakante stoel in die restaurant is hier aan jou tafeltjie vir twee. Wag jy vir ’n metgesel?”

      Die man wat agter die stoel teenoor haar staan, is lank met kragtige skouers onder sy donker snyerspak. Sy stemtoon is formeel, en sy formidabele en uiters manlike voorkoms laat haar hom oomblikke lank stom aanstaar. Hy het die donkerste bruin oë en so ’n deurpriemende blik dat dit voel asof hy tot in haar siel kyk. Wat probeer hy met sy oë sê? Is sy blik ’n waarskuwing dat hy nie vir alleenlopende vroue beskikbaar is nie? Of is hy vies omdat sy al meer as ’n halfuur lank met ’n glas water en ’n halfleë koppie koffie by die tafeltjie sit?

      “Sit gerus, meneer. Ek het op iemand gewag, maar sou hy nou opdaag, kan hy voor die restaurantingang vir my wag,” reageer sy eindelik op sy vraag.

      Sy hou hom dop terwyl hy gaan sit en ’n spyskaart by ’n kelner neem. Hy is streng gesproke nie aantreklik soos ’n filmster nie, nogtans vind Jana sy ruwe, onreëlmatige gelaatstrekke en sy geboë wenkbroue bokant sy magnetiese oë onverklaarbaar fassinerend.

      “Sal ons bestel, juffrou?” vra die man oorkant haar.

      Sy kyk in sy waaksame donker oë, laat haar blik gly oor sy sensuele mond wat met ’n ferm bolip en ’n voller onderlip terselfdertyd streng en verleidelik is. “Nog ’n koppie koffie, asseblief. Ek het reeds middagete gehad.”

      Hy betrag haar skepties. “Ek is te hoflik om jou ’n leuenaar te noem, maar ek sal dit waardeer as jy saam met my iets geniet. Wat van ’n Portugese of ’n Griekse slaai of die altyd gewilde calamari of sushi? Of gaan jy biefstuk saam met my eet?” Sy oë loop tydsaam oor haar. “Jy kan werklik ’n tweede middagete bekostig.”

      “Ek voel soos ’n ondervoede skaap by die slagpale,” antwoord sy geniepsig, vies oor haar selfbewuste blos onder sy alwetende blik. “Goed dan. ’n Griekse slaai, asseblief,” versoek sy en hoop dat Barry wel sy verskyning sal maak, al is dit bloot sodat sy die uitdrukking op sy gesig kan sien.

      “Gaaf. Wat van ’n glasie wyn?”

      “Nee, dankie. Ek bestuur.”

      Die man knik, wink die kelner nader en plaas hul bestelling. Hy draai na Jana wat weer die ingang van die restaurant dophou. “As jou vriend nou opdaag, gryp ek my bord en sluit by daardie drie ou dames oorkant ons aan. Hulle verlustig hulle so in die hompe koek op hul borde dat hulle my nie sal raaksien nie.”

      “Hou jy nie van mense nie?” vra Jana verwonderd.

      “Waarom vra jy?” verneem hy kortaf.

      “Jy lyk smoorkwaad, jy frons aanhoudend en jy gluur almal aan. En nou is jy vies vir drie vreemde vroue wat van sjokoladekoek hou. Wie het jou kwaad gemaak?”

      Sy frons verdiep. “Ek is bekommerd, nie kwaad nie,” antwoord hy en steek onverwags sy hand uit na haar. “Aangesien ons saam eet . . . Ek is Wilhelm Hoffmann. Bly te kenne, juffrou . . .?”

      “Jana Richter. Bly te kenne, meneer,” groet sy en voel hoe sy wegraak in die donker dieptes van sy oë. Néé, betig sy haarself skerp. Sy het oorgenoeg kwellinge om haar ’n leeftyd lank besig te hou. Sy gaan beslis nie emosioneel betrokke raak by ’n man bloot omdat die skerp lyne en die oneweredighede van hierdie Wilhelm Hoffmann se gelaat vir haar skielik onverklaarbaar, onmeetbaar, onmoontlik mooi is nie.

      “Wilhelm. Dit klink vriendeliker, al kan ek nie juis vriendeliker lyk nie selfs al wil ek,” stel hy voor.

      “Noem my Jana en moenie jou aan my steur nie. Ek voel innerlik soos jy uiterlik lyk,” antwoord sy met ’n ligte suggie.

      “Moet ek belangstellend vra waaroor jy jou bekommer?”

      Sy staar hom onthuts aan, glimlag dan geamuseerd. “Hoe­veel tyd het jy om te luister? ’n Week? ’n Maand?”

      “Is dit so erg?” Hy kyk na haar asof hy haar vir die eerste maal werklik raaksien. “Ek glo jou nie. Jy lyk te rustig en ontspanne om enige bekommernis te hê. Of is jy ontsteld oor jou metgesel wat nie jul afspraak nagekom het nie? Jy het gesê dat jy vir ’n man wag?”

      “Ek het, maar is geensins ontsteld omdat hy nie opgedaag het nie. En noudat jy hier is, gluur die mense my nie meer beskuldigend aan omdat ek alleen by ’n tafeltjie sit nie.”

      “Kon hy jou nie gebel het nie?” Wilhelm frons weer dieper.

      “Hy het nie my selnommer nie en ek . . .” Jana snak na haar asem toe ’n hand haar skielik aan die arm gryp.

      “Jana, my skat. Dis so goed om jou weer te sien,” sê Barry Dreyer, sy stemtoon warm en intiem, terwyl hy vinnig buk en Jana vol op die mond soen. “Ek is jammer ek is laat, my liefste. Gaan jy my voorstel? Ek probeer al maande lank om ’n afspraak met Wilhelm Hoffmann te maak.”

      Jana ignoreer vir Barry en kyk met gloeiende wange en blitsende oë na Wilhelm wat haar betrag met wisselende uitdrukkings wat sy nie kan peil nie.

      Hoofstuk 2

      Jana sit haar hand teen Barry se bors om te verhoed dat hy haar weer soen en sis verwoed: “Ek wens ek was so dronk dat ek jou in die openbaar ’n dwarsklap kon gee, jou ongemanierde tweegesig. Ek ken nie die man wat oorkant my sit nie. Gee pad voordat ek my selfbeheersing verloor. Tot siens, Barry. Moenie eens probeer om weer ’n afspraak met my te maak nie.”

      Barry kom stadig orent, ’n donker gloed van verne­dering op sy grimmige gelaat. Hy blik flitsend na Wilhelm en buk weer nader aan Jana. “Ek wou jou met Waldus gehelp het, maar as jy nie vir jou eie broer omgee nie . . .” Hy haal sy skouers op en glimlag geforseerd. “Ek dra nie ’n wrok teen ’n beeldskone meisie soos jy nie, my skat. As jy my my hartlike verwelkoming kan vergewe, sal ek jou graag oor Waldus se doen en late inlig. Sien jou binnekort, lieflike Jana,” vervolg hy kamma ongesteurd en stap tydsaam weg na die uitgang van die restaurant.

      Wat nou? Jana is te bang om na Wilhelm te kyk. Dit sal ongeskik wees om op te spring en te loop nadat Wilhelm vir hulle middagete bestel het, maar sy sal nie in staat wees om ’n flentertjie blaarslaai af te sluk ná haar onderonsie met Barry nie.

      “Ek verneem van kennisse en kollegas Barry Dreyer is die mees gesogte man onder die meisies in Summerside – moontlik in die hele Gauteng. Ek gee toe: die man is lank, blond en aantreklik genoeg om tuis te voel op die silwerdoek. Was hy ontrou aan jou?” verbreek Wilhelm die stilte tussen hulle op verrassende wyse.

      Sy staar hom oomblikke lank verdwaas aan en skud haar kop ontkennend. “Ek is intelligent. Net dom meisies of meisies wat nie sy reputasie ken nie, knoop ’n verhouding met Barry aan.” Sy byt op haar onderlip en vra onseker: “Wou jy aan Barry voorgestel word? Ek bedoel, dis moeilik om te raai wat jy dink, want jy lyk permanent die joos in. Ek het net aangevoel jy sal nie een van Barry se vriende wil wees nie. Het ek reg geraai?”

      “Jy lees my soos ’n boek, Jana,” antwoord hy stroef. “Dis iets wat Charmaine nog nooit kon doen nie. Dalk moet ek julle twee aan mekaar voorstel en hoop jy kan Charmaine leer om my beter te verstaan.”

      “Asseblief nie! Ek het oorgenoeg probleme sonder om by jou verhouding betrokke te raak,” sê sy en sit verlig terug toe die kelner met hul etes opdaag. Dit lyk asof Wilhelm diep dink en nie hoor nie.

      Ná ’n paar oomblikke se halfhartige gepeusel, besef Jana dat sy werklik honger is. Die dag het haar energie getap. Dít was reeds duidelik nadat sy ’n protesterende Danette by die skool afgelaai het, teruggekeer het huis toe en op haar bed, wat sy wou opmaak, aan die slaap geraak het. Dis ook g’n wonder nie, want sy kon die vorige aand glad nie slaap nie weens ontsteltenis oor haar gesprek met haar ma, haar skielike verantwoordelikheid om die huishouding op haar smal skouers te neem en veral die vooruitsig om haar werk in die Kaap te moet bedank. Sy sal die werk bedank, maar eers môre of oormôre, want sy bid heimlik nog vir ’n wonderwerk wat weer balans in haar kantelende wêreld sal bring.

      “Hoekom frons jy, Jana? Is my frons aansteeklik of is jy nog kwaad vir Barry Dreyer?” onderbreek Wilhelm haar getob.