“Ons sal sien of ek reg of verkeerd is. My vroulike intuïsie sê vir my Mark gaan nog voordat die week om is ’n afspraak met jou maak.”
Jessica was reg. Dieselfde aand nog het hy by Melanie se woonstel opgedaag en haar genooi om saam met hom te gaan fliek. Van die prent sou sy later bloedweinig onthou. Maar van hom alles, amper elke asemteug wat hy langs haar gegee het. Die streling van sy vingers oor die bopalm van haar hand, die manier waarop hy kort-kort na haar kant toe geloer het. En die sorgsaamheid waarmee hy sy baadjie oor haar skouers gehang het toe hulle buite kom en ’n snerpend koue windjie deur hulle gesny het.
“Mag ek môreaand weer kom?” wou hy weet toe hulle haar woonsteldeur bereik. “Of is daar iemand wat my bloedneus gaan slaan?”
“Nee, daar is niemand nie,” het sy blosend gesê.
Dit was ’n warrelwind-romanse. Binne ’n week het sy omtrent alles van hom geweet. Dat hy net een ouer broer het, van sy ouers se egskeiding die vorige jaar, dat hy tien jaar ouer is as sy, en nog baie ander dinge.
Hy het ook sy nuutgeboude huis vir haar gaan wys, en wou weet of sy veranderinge wil laat aanbring voordat hulle trou. Wat klaar is, is klaar.
“Goeiste, maar jy is haastig,” het sy gelag. “Ons ken mekaar skaars ’n week, en jy praat al van trou!”
Hy het haar in sy arms geneem en, soos dit vir haar gevoel het, tot binne-in haar siel gekyk.
“Die eerste keer toe ek jou sien, het ek geweet ons is vir mekaar bedoel, Melanie. En jy?”
Sy erns het ’n ongekende rustigheid in haar gebring. “Ek het dit ook so ervaar, ja.”
“Nou hoekom sal ons wag? Ek gaan jou môreaand aan my ma voorstel, en sommer van ons planne vertel.”
“Sy sal seker flou val! Sy ken my van geen kant af nie!”
“Dis wat jý dink,” het hy geglimlag. “Ek het die heel eerste aand van ons ontmoeting al vir haar gesê ek het my droomvrou ontmoet. En een van die dae gaan sy met haar pragtige skoondogter kan spog. Sy weet presies hoe jy lyk … die lang swart hare, fyn postuurtjie, mooi diepgroen oë, pragtige geaardheid.”
“Jy vergroot verskriklik!” het sy gelag.
Haar senuwees was skoon op hol daardie volgende aand op pad na sy ma se huis toe. Sy was oortuig daarvan die vrou gaan foutsoekerig, selfbejammerend en vol fiemies wees. Maar net die teenoorgestelde was waar. Sy was soos Mark. Energiek, ongekompliseerd, gasvry en vriendelik, met dieselfde fyn humorsin as Mark.
“Gaan Ma enige beswaar hê as ek en Melanie binnekort trou?” was die groot vraag toe hulle baie later die aand aanstaltes maak om te vertrek.
“Nee, glad nie,” het Louisa gesê. “Ek het genoeg vertroue in jou om te weet jy sal nie ’n verkeerde besluit neem nie.”
Mark het geknipoog. “Wat het ek vir jou gesê? Sal ons dit volgende Saterdag maak?”
“Gaan julle nie wag totdat Louis terug is van oorsee af nie?” het Louisa gevra voor Melanie haar asem kon terugkry.
“Soos ek Louis ken, kan dit dalk eers oor ’n jaar of twee ook wees. Teen daardie tyd kan Ma al ’n ouma wees.”
“Moenie dat dit net by beloftes bly nie,” het Louisa gelag. “Jy weet hoe graag ek ouma wil word.”
Op pad terug na haar woonstel, wou Melanie weet of hy ernstig was oor die volgende Saterdag. “Dis mos darem hopeloos te gou, al het jou ma haar toestemming gegee.”
“Hoekom sê jy dis te gou? Is jy onseker oor jou liefde vir my?”
“Nee, natuurlik nie. Maar wat van reëlings en dinge? Ek moet mos darem ’n rok laat maak, en alles.”
“Jy kan môre vir jou die heel mooiste rok in die stad uitsoek. Ek sal daarvoor betaal. En die onthaal hou ons sommer in die restaurant.”
Daardie aand het hy haar weer laat haal na die restaurant. ’n Paar van sy vriende het ’n draai kom maak, en sy kon bars van trots toe hy haar as sy toekomstige bruid aan hulle voorstel. Nadat die meeste mense daar weg is, het Mark die jongklomp genooi om by hulle aan tafel te kom sit en vir hulle ’n gratis rondte bier bestel. Hulle het oor perdewedrenne aan die gesels geraak. ’n Gesprek waarin sy geen trek gehad het nie, want sy sou kwalik die verskil tussen ’n perd en ’n donkie ken. Al die manne was dit eens dat ’n sekere perd die volgende dag die wedren gaan wen. Net Mark het nie saamgestem nie. Hy’t sy hart op ’n buiteperd gesit.
Die volgende dag het hy haar werk toe gebel en gevra of sy ook iets op die buiteperd wil wed.
“Nee, toggie. Ek weet niks van daardie dinge af nie, man.”
“Ek is ook nie ’n beroepswedder nie, maar ek het ’n gevoel daardie Jack-perd gaan stof in die ander se oë skop. As hy wen, koop ek vir jou die mooiste verloof- en trouring wat jou oë nog aanskou het.”
Toe kom die Jack-perd eerste. Hy’t haar dadelik gebel, en wou ook sommer weet wat die nommer van haar bankrekening is.
“Wat op aarde wil jy daarmee maak?” wou sy weet.
“Ek gaan die wengeld in jou bankrekening deponeer.”
“Hoekom? Dis mos nie ék wat die geld gewen het nie.”
“Omdat ek jou nie gaan toelaat om ná ons troue te werk nie. Dan het jy jou eie geld, sien.”
“Wat is die bedrag nogal?”
Sy antwoord het amper haar asem weggeslaan. “Maar dis ’n enorme bedrag! Jy kan ’n huis daarmee bou. En nog ’n nuwe motor ook koop.”
Hy’t gelag. “Ek hét ’n huis en ’n bykans nuwe motor. Sien jou vanaand.”
Die aand het hy met ’n pragstuk van ’n verloofring en ’n bottel vonkelwyn by haar woonstel opgedaag. Haar laaste bietjie teenkanting teen ’n oorhaastige huwelik het soos mis voor die son verdwyn. Kwalik ’n week later is hulle stilweg in ’n intieme kerkie getroud. Net sy ma was daar, want Louis was steeds oorsee. Verder was dit net Jessica en Johan Sauerman – die man agter wie Jessica die dag by die restaurant aangehardloop het, ’n paar van hul ander kollegas en drie van Mark se vriende.
Mark kon nie iemand kry om langer as twee dae na die restaurant om te sien nie, dus was daar geen sprake van ’n lang wittebrood nie. Net twee onvergeetlike nagte in ’n hotel op ’n plattelandse dorpie was hulle beskore … die enigste twee nagte saam. Want die Maandagmiddag op pad terug stad toe het ’n dronkaard teen hulle vasgejaag. Mark was op slag dood. Sy het wonderbaarlik die dood ontkom en slegs ’n paar snye en skrape opgedoen.
Die begrafnis het asof in ’n waas by haar verbygegaan. Sy kon nie glo dis Mark wat in die kis lê nie. Mark wat in die dieptes van die aarde weggebêre word nie. Op ’n keer het Mark se ma langs haar kom staan. Daar was ’n man saam met haar. ’n Man met ’n somber gesig en koue oë. “Dis Mark se broer, Louis,” het sy Louisa hoor sê. Maar sy verskyning en verdwyning was ewe vaag. Sy het geglo sy is ook dood, soos Mark. Dat sy iewers in ’n tussentydse wêreld sweef, en dat hulle oor ’n dag of wat weer by mekaar sou uitkom.
Twee weke ná Mark se begrafnis het haar woonsteldeur se klokkie gelui. Toe sy die deur oopmaak, het dieselfde man met die somber gesig en kil oë voor haar gestaan. Sy’t hom kwalik binnegenooi, of hy wou weet watter metodes sy ingespan het om Mark te oorreed om met haar te trou.
Melanie was geskok deur sy brutale houding, maar het probeer om dit nie te wys nie. “Metodes? Die enigste rede waarom ek met hom getrou het, was omdat ons lief was vir mekaar.”
“Liefde!” Hy’t deur sy neus gesnork. “Geen mens met verstand sal van liefde praat ná ’n blitsromanse van net twee weke nie. Hoekom erken jy nie liewer daar was ander redes vir dié skielike huwelik nie?”
Sy was so oorbluf om ’n woord uit te kry. “Het Mark jou vertel van Tania?” het hy skielik gevra.
“Tania?”