Hendrieka se oë blits vuur. “Loop, of ek help jou met die geweer van die plaas af. En moenie terugkom nie!”
Hy is reeds halfpad na die stal.
“Ek sal terugkom … weer en weer en weer! En as jy my skiet, hang jy aan jou seningnek!”
Hendrieka drafstap die huis binne en kom met die geweer te voorskyn.
Carolien staar geskok na haar ma.
“Mamma, moenie …”
“Dis die laaste keer dat hy my ’n donkiemerrie genoem het, Carolien. Ek sal hom ’n les leer!”
Carolien staan met wydgerekte oë en kyk hoe haar ma korrelvat op Gert Oosthuizen wat intussen op die rug van sy perd uit die stal gekom het. Net een kyk na Hendrieka met die geweer in haar hande, laat hom besluit dat die tyd vir redenasies verby is. Hy gee sy perd vrye teuels en kry koers die veld in buite bereik van die geweer.
Met ’n oorverdowende gedonder klap die skoot. Gert maak homself klein op die perd se rug.
Uit die rigting van die drie mans se tente kom ’n vrolike gelag.
“Ry hom, oompie! Hier kom nog een!”
Die skoot klap en Carolien kan selfs op hierdie afstand sien hoe die stof net regs van die hardlopende perd uit die grond opslaan.
“Dit was amper, tannie!” roep een van die mans en die ander lag. “Net ’n bietjie links en nog ’n bietjie hoër!”
Hendrieka laat die geweer skielik sak.
“Ek word oud. Vier jaar gelede sou ek hom raak geskiet het.”
Carolien sug van verligting.
“Hoe kán Mamma so iets doen?”
Hendrieka gaan die huis binne en sit die geweer terug op sy plek. “’n Mens kan net só ver gedryf word, kind. Van nou af gaan Gert Oosthuizen les opsê.”
Carolien lyk onseker.
“Hy het die hef in die hand, Mamma. Hy weet dat hy net hoef te sit en wag en Mamma sal uiteindelik tog móét verkoop. As julle liewer vriende raak, sal hy ’n beter prys betaal.”
“Hy het nie geld om ’n beter prys te betaal nie.”
Carolien kyk pleitend na haar ma.
“Ons kan die skape verkoop. Hulle is vet en ons behoort ’n goeie prys te kry. Dan kan ons na tant Saartjie op Heidelberg toe gaan. Iewers sal ons tog ’n heenkome vind.”
Hendrieka gaan moeg by die kombuistafel sit.
“Ons kan weer later praat, Carolien. Dit sal die heel laaste uitweg wees.”
Carolien draai stadig om en gaan by die agterdeur uit. Toe haar pa se testament gelees is, het sy en haar ma besluit dat hulle hier sou bly en van die plaas ’n winsgewende onderneming maak. Die terugslae was te veel. Die baie reën in die somer en die snerpende koue in die winter het te veel skade aangerig. Koring was die enigste uitweg, maar dit sou beteken dat hulle osse en ploeë en ander duur gereedskap sou moes aanskaf en die geld daarvoor het hulle net nooit gehad nie. Die hele tyd was hulle hoop op die diamante gevestig. As hulle die vyf diamante kon kry, sou hulle die plaas kon behou.
Sy stap vinnig in die rigting van die watervalle. Die Februarie-son brand skroeiend op haar neer en sy druk die kappie terug op haar kop. Miskien moet sy liewer self met oom Gert gaan praat. Hy kan tog nie so onmenslik wees soos wat hy wil voorgee nie.
’n Lang ruk staar sy gedagteloos na die waterval en verlustig haar net in die blink helderheid daarvan. Die mense van die omgewing noem hierdie heuwel met sy watervalle die Witwatersrand. Dis ’n baie gepaste naam vir die skuimende, dartelende valle met die varings daaromheen. Die Groot en Klein Witpoortjievalle strek myle ver teen die heuwels af na die klofie. Weerskante is daar kleiner stroompies wat verdere watervalletjies veroorsaak en die hele noordekant van die rif is een massa skitterende wit water.
Carolien gaan sit op ’n klip. Sy is tog lief vir hierdie mooi, koue wêreld. Die lug hier is skoon en vars, die velde vol wuiwende waaigras. Sy ken die kwarteltjies en die kiewiete en die kuddes springbokke en sy wil hulle nie vir enigiets anders verruil nie. Tog sal die dag kom dat sy van hulle afskeid moet neem.
Miskien kan sy met Barend Bezuidenhout van Doornfontein gaan praat. Dalk kan hy hulle help. Hy wou al die grond van Hendrieka gekoop het, maar natuurlik sal hy dit nie kan doen nie. Dis oom Gert wat sy tande daarvoor slyp. Barend is ’n goeie man. As hy kan, sal hy help.
Sy frons liggies. Daar is ook nog oom Paul Ras van Turffontein, maar sy ken hom nie juis goed nie. Die mense bly so ver uitmekaar dat hulle mekaar omtrent net nog met Nagmaal op Heidelberg sien.
Sy skrik toe ’n skaduwee oor haar val en kyk op.
George Walker glimlag.
“Jou moeder is ’n kwaai vrou,” sê hy en gaan sit oorkant haar op ’n klip.
“Sy is nie altyd so nie,” skerm Carolien. “Dis maar net oom Gert Oosthuizen wat haar omkrap.”
Hy trek ’n rooigraspol by sy voete uit.
“Is julle dan … kwaaivriende?”
Sy glimlag effens.
“’n Mens kan dit so noem. Met tant Debora en Leentjie is ons nog vriende. Dis net oom Gert wat die wêreld so ’n bietjie moeilik maak.”
Hy lag.
“Nie ’n bietjie nie! Na wat ek vanoggend gesien het, dink ek dit grens aan ’n jong oorloggie.”
Sy kyk ondersoekend na hom.
“Spot jy nou?”
“Natuurlik nie,” sê hy skielik ernstig. “Ek dink nie ’n mens moet jou moeder té ligtelik opneem nie. As ek jou oom Gert was, sou ek ’n bietjie minder skoorgesoek het.”
Sy sug liggies.
“Jy ken hom nie. Skoorsoek is sy kos. Hy weet dat my ma niks kan doen nie, maar miskien het hy tóg vandag ’n bietjie geskrik.”
Hy kyk half nuuskierig na haar.
“Hoekom trek julle nie? Verkoop die plaas en gaan woon elders.”
Sy laat haar blik sak.
“Ons kan nie. Oom Gert is die enigste een wat die plaas mag koop volgens my pa se testament en … hy bied ons net dertig pond daarvoor aan.”
“So ’n jakkals,” sê Walker mymerend. “En nou sit julle maar op die eensame plaas met ’n beduiwelde buurman. Dis nie juis ’n aangename lewe nie, is dit?”
Sy skud haar kop stadig.
“Nee, aangenaam is dit nie, maar ek bly nog lief vir hierdie plek. Solank ons hier bly, het ons nog ’n inkomste uit die plaas. As ons trek, sal ons op ’n ander manier ’n bestaan moet maak.”
Hy lag sag.
“Jy kan altyd met ’n ryk man trou.”
Carolien kyk hom skeef aan. Sy bruin hare blink in die son en sy donker oë is half in skadu’s gehul. Hy is nie te onaardig nie, dink sy afgetrokke. Hy is nie fris en groot soos Barend nie, maar tog is dit al asof hy taaier en harder voorkom.
“Ryk mans is skaars,” antwoord sy na ’n kort stilte. “En dan soek hulle die verfynde dametjies uit … nie arm meisies soos ek nie.”
“Onderskat jy nie miskien jouself nie?” wil hy versigtig weet.
Sy lag en twee kuiltjies verskyn in haar wange.
“Nee … ek onderskat nie myself nie. Ek het vroeg reeds geleer om die wêreld te aanvaar soos hy is. Ek kan geen jota of tittel aan hom verander nie.”
Hy glimlag.
“Jy sal dalk verbaas wees.”
“Carolien!”
Die