om ’n redelike prys te betaal nie.”
Carolien kyk na hom.
“Jy ken hom nog nie. Hy kan ’n duiwel wees as hy die dag daarvoor lus het.”
Harrison lag.
“U moeder staan nie ver vir hom terug nie. Sy is ’n goeie skut. Ek het eergister gedink sy klits hom bo van sy perd af.”
Carolien verkleur effens.
“Sy was net baie kwaad, dis al.”
Walker kyk na Carolien.
“Moet ons nou na meneer Oosthuizen toe gaan?”
“Dis beter as julle wag totdat julle hier klaar is. As julle eers daar begin, sal hy julle nie weer hierheen laat kom om klaar te maak nie.”
Honeyball sluit ook by hulle aan.
“Wat is die sin daarin om klaar te maak? Wanneer die delwers kom, sal die huis en die skure in elk geval platgeslaan word om by die goud te kom.”
Daar is skielik ’n pyntrek om Carolien se mond.
“Asseblief … sal julle nie maar eers klaarmaak nie? Ek en my moeder sal geen woord oor die goud rep nie. Dit kan ek julle verseker.”
Hulle aarsel, kyk na mekaar en eindelik knik Harrison.
“Nou maar goed, ons maak klaar. Dit sal in elk geval nog net ’n week wees.”
Carolien glimlag dankbaar.
“Baie dankie. Ons sal dit baie waardeer.”
Toe sy van hulle af wegstap, sê Harrison: “Dis ’n oulike meisie daardie. ’n Ou voel nie juis lus om teë te praat wanneer sy so mooi vra nie.”
Honeyball haal net sy skouers op en gaan terug na sy werk.
Walker bly ingedagte staan. Carolien is ’n lieflike mens met die son in haar hare en die koel dieptes van ’n bergpoel in haar oë. Maar hy is ’n swerwer soos sy twee vriende. Emosies en gevoelens neem altyd die tweede plek in wanneer die horisonne wink. In sy lewe is daar nie plek vir ’n vrou nie. Hy is ’n swerwer wat net die eensaamheid van die uitgestrekte, ongerepte natuur liefhet.
Die dae gaan vinnig verby vir die twee vroue op Langlaagte. Elke dag sien hulle hoe die drie mans aan die skuur vorder en hulle weet dat dit nie meer lank sal duur voordat hulle na Gert Oosthuizen toe sal gaan nie. Daarna sal hulle dit nie meer kan keer nie. Miskien sal hulle eendag hierheen terugkom en ’n verlate dorpie vind. Dalk sal die goud nie lank hou nie … net lank genoeg om die pragtige omgewing te vernietig. Langlaagte sal nooit weer dieselfde wees nie.
Carolien frons liggies. Hoekom moes dit nou juis húlle plaas wees? Hoekom nie Doornfontein van Barend Bezuidenhout of Turffontein van oom Paul Ras nie? Hoekom is die goud dan nie liewer op Braamfontein van meneer Geldenhuys ontdek nie? Of die nuttelose stuk regeringsgrond, Randjeslaagte, nie? Hoekom húlle plaas?
Van waar sy op die rantjie staan, kan sy in die verte die opstal van Doornfontein sien met sy laning okkerneutbome. Dis almal groot plase. Langlaagte is tweeduisend-tweehonderd-en-sestig morg. Turffontein is vyfduisend-driehonderd morg. Kon die goud nie maar liewer elders in hierdie uitgestrekte wêreld gewees het as juis op húlle plaas nie?
Aan die begin van Maart voltooi die drie mans die skuur. Hulle het langer gewerk as wat hulle gereken het, maar Hendrieka het nie omgegee nie. Dit het vir haar slegs beteken dat daar ’n rukkie langer vrede in die omgewing sal wees.
Dis met gemengde gevoelens dat die twee vroue kyk hoe die werkers na die ander plaas vertrek. Dis nou nog net ’n kwessie van tyd voordat die delwers op hulle gaan toesak. In die stilligheid hoop en bid hulle dat daar nie werklik goud in die omgewing is nie … dat Harrison hom vergis het.
Diep in Maart kom daar weer een oggend ’n ruiter te perd na die opstal. Carolien los die wasgoed wat sy besig is om op te hang ’n oomblik en tuur fronsend in die rigting van die ruiter. Hy kom baie stadig nader en toe hy eindelik die opstal bereik, gly hy moeisaam uit die saal.
Haar eerste gedagte is dat hy baie moeg is, maar toe sy nader gaan om te groet, besef sy dat die man siek is. Sy gesig is grysbleek onder die baardstoppels en sy oë lyk dof en verlep.
“Ek … wil u nie steur nie,” sê hy moeg en probeer vir Carolien glimlag. “Ek soek net water vir my perd.”
Genade! dink Carolien ontsteld. Die man is tot die dood toe siek en hy sal nie nog ’n dag op die rug van sy perd oorleef nie. Toe draf sy na die hoek van die huis en roep Jantjie om die vreemdeling se perd te kom haal. Sy kom terug en gaan voor die man staan.
“U kan nie nou ry nie. Rus liewer eers ’n bietjie.”
Hy leun teen een van die stoeppilare.
“Ek wil nie ’n oorlas wees nie.”
Sy skud haar kop heftig.
“U is siek, meneer. Kom liewer in die huis in. Jantjie sal u perd versorg en dan kan ek en my moeder kyk wat ons vir u kan doen.”
Hendrieka kom in die deur staan.
“Hoekom nooi jy nie die man in nie, Carolien?”
Hy draai om na Hendrieka toe en sy skrik toe sy die onnatuurlike glinstering in sy oë sien.
Die ou dame drafstap na hom toe en druk haar arm onder sy skouer in.
“Kom, ou seun, ek sal dit haat as iemand iets op mý plaas moet oorkom. Carolien, help jy aan die ander kant. Dié man is selfs te swak om alleen die trap uit te kom.”
Hy wil hom teësit, maar kan nie en laat willoos toe dat die vroue hom die huis inhelp en in die vrykamer op die bed laat lê. Hendrieka trek sy baadjie en skoene uit en stuur Carolien om haar medisynekassie te gaan haal.
“Wie is jy, meneer?” vra sy terwyl sy ’n paar druppels medisyne in ’n lepel meng.
“Christiaan … van den Heever.”
“Nou goed, meneer Van den Heever, jy verroer geen voet voordat jy gesond is nie. Siekte is nie iets om mee te speel nie.”
Hy wil nog protesteer, maar Hendrieka druk die lepel tussen sy tande in.
Met ’n nat lap vee Carolien die sweet van sy voorkop af. Hy is nog jonk, dink sy afgetrokke, te jonk om nou al te sterf. Hulle weet nie eens wat hom makeer nie, maar dokters hier rond is baie skaars. Die naaste een is op Heidelberg, twintig myl hiervandaan. Dit sal te lank duur om daar te kom en terug.
Eindelik het Hendrieka klaar gedokter en gooi sy ’n paar komberse oor die man. Dis ’n warm dag, maar sy hele liggaam ruk van die kouekoors.
“So ja,” sê sy tevrede en maak haar botteltjies weer bymekaar. “Wat hy broodnodig het, is rus. Meer kan ek nie nou vir hom doen nie.”
Carolien kyk onseker na die jong man wat intussen aan die slaap geraak het.
“Hy sal nie doodgaan nie, sal hy, Mamma?”
Hendrieka haal haar skouers op.
“Hy is nog jonk en sterk. Ons weet nou wel nie wat hom makeer nie, maar daar is min dinge wat rus en goeie kos nie kan regmaak nie.”
Carolien aarsel.
“Miskien is dit hierdie keer nie genoeg nie.”
Hendrieka kyk ondersoekend na haar dogter.
“Vir wat staan jy jou nou en verknies oor ’n siek vreemdeling? Jy ken hom van geen kant nie!”
“Hy is nog jonk, Mamma. Hy wou maar net water vir sy perd gehad het. Hy wou ons nie lastig val nie.” Carolien kyk na haar ma. “Hy kan dan mos nie sleg wees nie?”
Hendrieka tel die medisynekassie op.
“Niemand het gesê dat hy sleg is nie. Kom nou, die kos in die es het seker al verbrand.”
Carolien huiwer nog ’n paar sekondes voordat sy haar ma na die kombuis volg. Selfs in sy slaap is daar nog