onder die baardstoppels. Carolien onthou nou skielik dat sy oë blou was, net so blou soos die lug op ’n helder someroggend.
Daar is ’n dwingende vrees by haar dat hy sal sterf. Sy raak liggies met haar vingers aan sy dik, swart hare en ruk haar hand vinnig terug. In sy koorsige slaap is hy weerloos, maar wat lê daar werklik verskuil agter sy blou oë? Sal hulle wreed en genadeloos of sag en vriendelik wees wanneer hy gesond is?
Sy maak die deur saggies agter haar toe. Miskien sal hy net ’n paar dae bly, dink sy, en dan sal hy weer wegry op sy perd. Dalk sal sy hom nooit weer sien nie.
Carolien gaan fronsend staan. Christiaan van den Heever is vir haar ’n volslae vreemdeling, en tog roer sy teenwoordigheid iets in haar. Intuïtief weet sy dat hy ’n goeie man moet wees en dat hy geen kwade bedoelings met hulle sal hê nie. Dis egter nie dít wat haar fronsend tot stilstand bring nie. Dis die besef dat hy vir haar persoonlik iets beteken, dat sy van hom hou al het hulle net ’n paar woorde met mekaar gewissel. Dit, weet sy egter, is iets wat haar moeder nooit sal begryp nie.
Die hele Saterdag en Sondag bly Hendrieka gedurig in- en uitgaan by die vrykamer. Dit is byna asof sy dié afwisseling verwelkom en sy ontsien geen moeite om spesiale kos vir die sieke voor te berei nie.
Carolien laat haar moeder begaan. Sy self gaan nie by die kamer in nie, bloot omdat sy bang is haar ma vra haar wat sy daar gaan maak. Buitendien sien sy die drie bouers elke dag nou in die veld op oom Gert se plaas en sy brand om te weet of hulle daar goud gevind het. Hulle kom ook nie om haar van enige vonds te vertel nie.
Maandagoggend vroeg laat sy Jantjie Vuurvlieg opsaal. Haar ma probeer haar nie keer toe sy na die Oosthuizens anderkant die klofie wil ry nie. Dis vir hulle almal belangrik om te weet of daar goud op oom Gert se grond ontdek is.
Tant Debora ontvang Carolien hartlik en draf weg om Leentjie te gaan roep.
Leentjie kom opgewonde aangedraf met wippende vlegsels. Sy soen Carolien uitgelate.
“Jy was darem lank laas hier! Gaan alles nog goed met jou ma? My pa was baie kwaad toe hy verlede keer teruggekom het. Het hulle weer stry gekry?”
Carolien lag.
“Een vraag op ’n keer, Leentjie! My ma en jou pa het die laaste keer ordentlik gestry, maar ek dink nie hulle is nog kwaad vir mekaar nie,” vertel sy ’n noodleuentjie.
Leentjie frons.
“My pa is deesdae moeilik. Die drie mans soek in die veld na goud en ek is seker dat hulle al gekry het, maar my pa swyg soos die graf.”
Carolien haal haar skouers op.
“O, hier sal vir seker goud wees. Hulle het goud op óns plaas gekry en hoekom sal daar nie hier ook wees nie?”
“Sê nou maar dis waar, wat sal dan gebeur? Sal julle verkoop en weggaan?”
Carolien skud haar kop.
“My ma sal nie verkoop nie … nie noudat daar goud ontdek is nie.”
Leentjie se oë rek.
“My pa gaan báie kwaad wees! Hy wil jou ma dwing om te verkoop voordat die plaas as goudveld geproklameer word.”
“Hy sal dit nie regkry nie, Leentjie, tensy hy bereid is om óns prys te betaal.”
Debora bring vir hulle limonade en die drie vroue gaan op die stoep sit.
“Hier is baie goud, Carolien,” sê die tante skielik. “Ek het gister nog met meneer Harrison gesels. Die oom weet natuurlik nie daarvan nie, maar meneer Harrison sê dat dit die rykste veld is wat hy nog gesien het.”
Carolien kyk weg oor die vaal bulte.
“Dan sal ons dit nie kan keer nie, tante.”
Debora sug diep.
“Ek wens ons kon iets daaraan doen.”
Leentjie glimlag.
“Ag wat, Mamma, dis nie so erg nie. Ek het ten minste nou geselskap hier op die plaas.”
Haar ma kyk streng na haar.
“Dis juis dít wat my bekommer. Jy is alte danig met meneer Walker en ons ken hom nie eens nie.”
“Hy is ’n gawe man,” hou Leentjie hardnekkig vol. “Dis meer as wat ek van Barend Bezuidenhout kan sê.”
“Barend is buitendien te oud vir jou en ek hoor dat hy gaan trou.”
“Dit kan my maar min skeel.”
Carolien kyk na Debora.
“Vrydagoggend het daar ’n man op ons plaas aangekom. Hy sê sy naam is Christiaan van den Heever. My ma is op die oomblik besig om hom te verpleeg.”
“Wat is dan verkeerd?” wil Debora weet.
“Hy was baie siek … hy kon skaars nog op sy bene staan.”
Debora skud haar kop stadig.
“Jou ma is vrou-alleen op daardie plaas, Carolien. Sy behoort nie sommer enige man herberg te gee nie.”
“Hy sou gesterf het as my ma niks gedoen het nie, tante.”
Debora haal haar skouers liggies op.
“Wel, sy weet seker wat sy doen. Sy is buitendien nie iemand wat vir ’n man hoef terug te staan nie.”
Later neem Carolien van hulle afskeid en ry op ’n stywe galop terug na die huis. Christiaan van den Heever is nie sommer enige man nie, dink sy. Dis tog duidelik dat hy uit ’n goeie huis kom. Sy kan nie glo dat daar enige kwaad in hom skuil nie.
Haar ma wag haar op die agterstoep in.
“Ek dink dis tyd dat jy darem ’n paar woorde met ons gas wissel, Carolien,” sê sy skerp. “Jy het in die twee dae wat hy hier is nog nie gaan gesels nie en ek dink dis baie swak maniere.”
Carolien onderdruk ’n glimlag.
“Nou goed, Mamma. Sal ek vir hom koffie neem?”
“Geen koffie nie. Net rooibostee.”
Christiaan lê met sy rug teen ’n klomp kussings wat agter hom opgestapel is. Hy kyk op toe Carolien haar verskyning in die deur maak.
“Goeiemôre,” groet hy met ’n effense glimlag. “Is jy dalk Carolien?”
Sy verkleur effens en gaan haastig nader sodat sy die tee op die tafeltjie langs die bed kan sit.
“Ja … is u gemaklik, meneer Van den Heever? Is daar enigiets wat ek vir u kan doen?”
Hy lag sag.
“Genade, nee! Ek het al hopeloos te veel van julle goedheid gebruik gemaak. Ek moes lankal gery het.”
“U was baie siek, meneer.”
Sy blou oë rus ’n oomblik op haar; hy het koue oë met ’n flikkering in hulle dieptes wat Carolien onwillekeurig op haar hoede stel.
“Ja, skynbaar was ek. Ek het gehoop dat ek Muldersdrif sou haal, maar dit lyk nie asof ek dit sou kon doen nie.”
Sy staan onseker deur se kant toe.
“Is daar nog iets wat ek vir u kan doen?”
Hy glimlag effens.
“Nee, dankie.” Hy aarsel en vervolg dan: “Jou ma lyk bekommerd.”
“Dis oor die goud wat op ons plaas ontdek is. Sy is baie ontsteld daaroor.”
“In 1878 het Alfred Armfield al gesê dat hier geen goud is nie. Fred en Harry Struben het twee jaar gelede al tou opgegooi. Wilgespruit, waar hulle gedelf het, is nie ver hiervandaan nie.” Hy glimlag, maar die kilte bly in sy blou oë. “Buitendien dink ek die Transvaalse regering het teen hierdie tyd genoeg gehad van delwerye.”
Carolien kyk weg.
“Ek weet, maar hierdie keer is dit anders.