Ena Murray

Terug na Kolkbaai


Скачать книгу

ion>

      

      ENA MURRAY

      Terug na Kolkbaai

      Jasmyn

      1

      “Ma …” Die jong meisie buk laer. “Mamma …”

      Die woord klink vir haar vreemd. Wanneer laas het sy daardie woord gebruik? Wanneer laas het sy vir die vrou hier voor haar “Mamma” genoem? So lank terug dat sy dit skaars kan onthou.

      Met spore van pyn op die bleek gesig lê sy voor haar – dié vrou wat sy nou al jare lank uit haar lewe weer, maar nooit regtig uit haar gedagtes nie. Dit weet sy in hierdie oomblik. Toe sy die telegram gekry het, het sy gevoel hoe ’n onsigbare band haar terugtrek na haar plek van oorsprong.

      Versigtig vou sy haar hand oor haar ma se hande, oordek met die tekens van baie jare se werk, baie jare se liefdesdiens. Elke plooitjie, elke litteken vertel ’n verhaal van swaarkry en die daaglikse stryd om net kop bo water te hou.

      “Mamma … dis ek. Kan Mamma my hoor?”

      Sy bid dat dit nie te laat is nie. Dat sy net weer in daardie oë kan kyk. Al verdien sy dit nie …

      “Mamma!”

      Dankbaarheid oorweldig haar toe die oë skielik oopgaan.

      “Hannetjie!”

      “Mamma!”

      “Jy het gekom! Jy het teruggekom!”

      Sy knik, vee met fyn, lang vingers en goed versorgde naels die trane van haar wange af. “Ja, ek is terug. Ek het teruggekom, Mamma.”

      “Ek is so dankbaar, my kind. Ons het jou baie nodig hier. Wil en Elaine ook. Hulle is tog jou broer en suster.”

      Haar blik draai effens weg, keer dan terug. “Natuurlik sal ek help solank …”

      “Nou is jy terug en alles is weer reg. Dis net jy wat nog altyd gekort het.”

      “Mamma …”

      “Ek het nooit ophou bid nie. Ek het geweet, eendag, eendag sal jy terugkeer. Ek het altyd geglo – nie Christoff nie. Maar ek het altyd vir hom gesê: Sy sál nog terugkom.”

      “Christoff?”

      “Meneer Bernhardi. Jy onthou hom tog? Bernhardi van die skuite.”

      “Ja, natuurlik.”

      “Het iemand my naam genoem?”

      Skielik staan hy aan die ander kant van die bed en sy sien hoe hul hande ineenstrengel. Sy kyk amper onwillig op na die man. Natuurlik onthou sy hom. Die ryk man van Kolkbaai. Die man met die vloot visserskuite waarom alle lewe op Kolkbaai draai. Die man wat nooit self op een van sy skuite uit was nie, maar dit van die land af beheer het soos ’n eietydse Prins Hendrik die Seevaarder. Die ongekroonde koning van Kolkbaai, met sy sterk persoonlikheid, sy algehele invloed oor die dorp. Sy naam is altyd met die grootste respek en vrees genoem, want as meneer Bernhardi besluit het jy is nie meer goed genoeg vir een van sy visserskuite nie, sit jy sonder dak en brood.

      Hy lyk vandag nog net soos jare gelede. Hy het niks verander wat voorkoms betref nie. Hy bly ’n man wat gesag afdwing.

      Op sý beurt bekyk hy haar asof sy ’n algehele vreemdeling is. Dié meisie onthou hy as klein dogtertjie met twee stokstywe vlegseltjies, op pad skool toe. Later het die vlegseltjies verdwyn; het sy die jong meisie geword met die koel blik en beleefde stem. En toe het sy van Kolkbaai verdwyn.

      Dit wat hy agter die sluiers in haar oë kan peil, vertel hom dat dieselfde woelinge wat haar destyds van Kolkbaai weggedryf het, nog nie gaan lê het nie. Dit woel steeds binnekant, al is sy nou ’n vrou van diep in die twintig. In haar netjiese, byderwetse uitrusting, met die lang, slanke figuur en gesofistikeerde haarstyl, pas sy nie in die prentjie van Kolkbaai in nie, nes sy destyds ook nie ingepas het nie.

      “Kyk, Christoff, sy is terug! Ek het jou mos gesê sy sal eendag terugkom!”

      “Ek onthou jy het dit vas geglo. Ek moes geweet het jy het reg, Hanchen. Ek is bly jy lyk soveel beter vandag.”

      Dit was net haar pa wat haar ma Hanchen genoem het, onthou Hannelore. Vir Kolkbaai was sy Hannie – Hannie Dorffling, die skoolmeester se vrou.

      Die vrou glimlag na hom op. “Gister het jy gedink ek gaan sterf. Ek het self so gedink, maar ek was nog nie gereed nie. Nou wil ek lewe.”

      “Ons sal weer kom, maar nou moet ons eers gaan. Anders praat jy te veel en jy moet baie rus. Ek sal môre vir Wil en Elaine saambring. Almal stuur baie liefde en groete.”

      “Dankie, Christoff. Neem jy Hannetjie saam met jou?”

      “Natuurlik. Tot môre.”

      Buite die hospitaal gaan hulle staan. “Ek het reeds by die hotel plek bespreek, dankie.”

      “Dan wil jy nie Kolkbaai toe gaan nie?”

      Sy frons. Sy het haar ma beloof sy sal omsien na haar halfbroer en -suster solank sy in die hospitaal is. Sy kan nie nou haar belofte verbreek nie. Maar sy probeer dit omseil.

      “Ek kan tog meer vir my ma beteken as ek hier bly en haar gereeld besoek.”

      “Ek kom elke besoektyd deur, dan kan jy saamkom. Dit sal jou ma ontstel as jy hier alleen in ’n hotel tuis is. Ek het haar beloof ek neem jou saam na Kolkbaai.”

      “Dankie dan.”

      Sy oë soek rond na haar motor en Hannelore verduidelik: “Ek het met die trein gekom. Daar was ’n fout met my motortjie en die pad van Johannesburg is lank.”

      “Baie verstandig. Kom. Ons gaan haal jou goed by die hotel.”

      Dis stil op pad Kolkbaai toe. Die man agter die stuur van die luukse motor probeer nie ’n beleefde gesprek voer nie, en die meisie langs hom is ook stil.

      Dis eers toe hulle amper daar is, dat sy die stilte verbreek: “Ek neem aan dis u wat vir my die telegram gestuur het. Dankie.”

      “Ja. Iemand moes dit doen – ter wille van jou ma.”

      Sy reageer nie daarop nie. Dis onnodig, want sy weet wat hy bedoel. Dis net ter wille van haar ma dat hy haar van die hartaanval en moontlike implikasies laat weet het.

      Skielik lê Kolkbaai voor hulle. Teësinnig soek haar oë die bekende plekke van haar kinderjare uit. Hier regs, teen die rantjie, staan die skool nog. Maar dis nie meer die rietdakskooltjie waarheen sy saam met haar pa soggens skool toe gestap het nie. Dit het nou ’n teëldak en is vergroot. Dis beslis nie meer die tweemanskooltjie van destyds nie. En die vissersdorpie, soos sy dit nog altyd in haar gedagtes onthou het, het uitgebrei. Dis nou ’n dorp met nuwe, moderne huise teen die sandheuwels oorkant; ’n nuwe saal langs die ou witgekalkte kerk en ’n nuwe poskantoor waarop die dorp se naam pryk. En die hoofstraat spog met ’n teerblad. Dit lei reguit na die groot huis wat byna bo-op die rotse gebou is – die Bernhardi-kasteel, soos dit destyds bekend gestaan het.

      Sy frons liggies, maar sê niks voordat die motor voor die indrukwekkende woning stilhou nie.

      “Ons is tuis.”

      “Dis baie vriendelik van u, meneer Bernhardi, maar ek verkies om na my ma se huis te gaan.”

      “Daardie huis is lankal in onbruik. Ek is seker jy sal dit hier geriefliker vind.”

      Sy swyg weer en klim uit. Sy is glad nie van plan om by die Bernhardi’s tuis te gaan nie. Dis heeltemal buite die kwessie. En natuurlik sal mevrou Bernhardi ook nie daarvan hou nie.

      In die huis is dit baie stil. Hulle stap na die syvleuel en ’n binnedeur word oopgemaak. Hulle stap ’n klein, sonnige sitkamer binne en dan draai die man na haar toe.

      “Maak jou tuis, asseblief. Daar is ’n klokkie. Bestel vir jou tee of enigiets waarvoor jy lus voel. Jy moet my asseblief verskoon. Ek moet fabriek toe gaan.”

      Hannelore staan huiwerig in die middel van die sitkamertjie. Anders as die res van die groot huis met sy saalagtige vertrekke – ongetwyfeld mevrou Bernhardi se smaak – straal hierdie vertrek ’n