met ’n sny brood in die hand.
“Het dit iets te doen met die stories oor Kato?”
“Dit het niks met enige storie te doen nie, Ma. Dit het te doen met die lewe hier. Ek kom nie weer terug nie, Ma.”
Haar ma het geknik, haar hande stil op haar skoot gevou.
“Ek verstaan, my kind. Maar eendag sal jy tog terugkom.”
En nou is sy terug. Al is dit net tydelik. En dieselfde Oloff staan weer voor haar.
Met die eerste oogopslag lyk hy nog dieselfde. Dieselfde opstandige, windverwaaide kuif. Dieselfde breë skouers en bruingebrande arms. Dieselfde vissermansklere. Dieselfde sout reuk. Maar hy is elf jaar ouer en het die kenmerkende Bernhardi-lyne op sy gesig bygekry wat hom ’n ruwe, aantreklike voorkoms gee.
Hy staan en kyk na haar met daardie selfde reguit, bewonderende blik van destyds toe hy gesê het hulle gaan eendag trou omdat sy die mooiste meisiekind op Kolkbaai is.
“Ek het altyd geweet jy sal die godin van Kolkbaai bly. Jy is nou mooier as ooit. En jy het niks verander nie. Steeds neus in die lug soos destyds.” Met ’n breë glimlag en fyn spot in sy blou oë gaan hy voort: “Onthou jy ek het jou destyds gesê dis omdat jou neus te hoog in die lug is dat jy altyd vis ruik. Jy moet dit net so ’n bietjie laat sak.”
“Ek sien jy het ook nog niks verander nie.”
Die glimlag flits weer breed. “Nee, ek is bevrees daar is geen hoop daarvoor nie. Hoe gaan dit met jou ma?”
“Baie beter, dankie.”
Hy knik. “Dis gaaf. Nou maar goed. Ek sien jou weer die een of ander tyd. Maak jouself tuis.”
“Oloff.” Haar stem roep hom terug. “Ek wil huis toe gaan.”
“Huis toe?”
“Ja. Na my ma se huis toe.”
“Jy bedoel die rietdakhuisie?”
“Ja. Ek bedoel die rietdakhuisie.”
“Niemand woon daar nie.”
Sy frons. “Wel, dan waar my ma nou bly.”
“Jy ís daar.”
Haar frons verdiep en sy kyk stadig om haar rond. “Hier?”
“Ja. Dis haar woonstelletjie wat Pa destyds spesiaal vir haar laat aanbou het.”
“Jy bedoel my ma bly hiér?”
“Heeltemal korrek. Sy bly al meer as vier jaar lank hier.”
“Hoekom?”
“Omdat ons mekaar nodig het. Sy het eers my ma help verpleeg totdat sy dood is. Daarna het sy aangebly.”
“Aangebly?”
“Ja, sy sien om na die huishouding. Maar dis nie die rede hoekom sy hier aan die sykant in ’n woonstel woon nie.”
“Wat presies bedoel jy?”
“Jou ma bly hier omdat sy, ter wille van jou, nie kans sien om my pa se huweliksaanbod te aanvaar nie.”
Sy kyk hom verbysterd aan. “Jy bedoel my ma bly hier in die Bernhardi-kasteel as … as …”
Hy skud sy kop, die blou oë skielik ysig. “Nee, nie as my pa se bywyf nie, as dít is wat jy dink. Jy en die res van die wêreld kan maar so dink, maar ek bly saam met hulle in hierdie huis en ek weet dit is nie so nie. Soos jy weet, is ons Bernhardi’s nie baie sterk moreel ingestel nie. Maar Hanchen Krause is ’n vrou soos min. Sy is ’n beginselvaste vrou met die hoogs moontlike standaarde. Maar ek veronderstel jy sal my nie glo nie, want dit was nog altyd jou kwaal om te oordeel voordat jy alles weet.”
Sy kyk hom woedend aan. Sy onthou nou die vreemde klank in meneer Bernhardi se stem toe hy haar ma Hanchen genoem het. “Probeer jy my wysmaak dat daar nie ’n verhouding tussen jou pa en my ma is nie? Dink jy ek ken nie die lewe ook ’n bietjie nie?”
“Wat jy van die lewe ken, Hannelore Dorffling, is wat jy van hom leer ken het anderkant hierdie sandduine. Maar aan hierdie kant – of jy dit wil glo of nie – is daar ’n lewe wat so pragtig is dat ek my daaraan kan verkyk. Hulle het mekaar lief met ’n soort liefde wat jy nie sal verstaan nie. Jy sal nie kan begryp dat ’n man en vrou mekaar jare lank kan bemin en onder dieselfde dak woon sonder dat dit afbreuk doen aan die suiwerheid van hul verhouding nie.”
Oloff is in een opsig reg. Uit wat sy van die lewe in die stad leer ken het, kan sy nie glo dat so ’n verhouding kan bestaan nie. Was dit enige ander man sou sy dit miskien nog kon glo. Sy ken immers haar ma, en sy ken haar hoë sedelike beginsels. Maar die man is ’n Bernhardi. Hoe kon haar ma met so ’n mens deurmekaar geraak het?
“Nee. Jy het gelyk. Ek sal dit nie kan verstaan nie. Nog minder glo.” Sy kyk hom vas in die oë. “Want ek ken die Bernhardi’s.”
“Dis wat jy dink, Hannelore. Jy ken hulle nie. Nie die pa óf die seun nie. Jy het ons nooit geken nie. Maar jy behoort jou ma te ken en daarom behoort jy jou te skaam vir jou gedagtes.”
“Dis vreemde woorde komende van jou lippe, Oloff. Julle Bernhardi’s was nog nooit skaam oor enigiets nie – nie wanneer julle van jul losbandige eskapades anderkant die duine teruggekom het nie, en ook nie eens by die oop graf nie. Natuurlik is jy nie skaam vir wat onder jou pa se dak aangaan nie, want julle ken nie skaamte nie. En nou het julle my ma daarby betrek.”
“En enigiemand wat enigiets met die Bernhardi’s te doen het, kan nie anders as om bevuil en besoedel te word nie. Dis jou mening. Vreemd dat juis ’n Bernhardi op hierdie oomblik moet voel hy het hom teen iets smerigs vasgeloop. Die visruik kan ’n mens afwas, maar …”
Hy draai in sy spore om. Hannelore stap blindelings na die venster. Dieselfde onstuimigheid van die golwe daaronder teen die rotse woed ook in haar.
Sy kyk om haar rond in die slaapkamer, laat haar blik op die enkele roos in die smal vaas rus. Sy kan dit nie verwerk nie. Dit kan nie waar wees van dié ma wat sy onthou nie. Of het die lewe saam met haar tweede man alles wat mooi en standvastig in haar was, tot in die stof vermorsel? Het die bitter swaarkry saam met Willem Krause dit reggekry om die mooi siel van hierdie vrou af te breek tot iets waarvan haar eie dogter op hierdie oomblik wegdeins? Maar hoekom het sy nie toe Willem Krause dood is, weggebreek van Kolkbaai nie? Hoekom toe nog dieper onder die skuim gaan wegsak?
2
Oloff se gestalte vul byna die deuropening en sy pa kyk vinnig op.
“Pa sal moet huis toe gaan en met Hannelore gaan praat.”
“Waaroor?”
“Oor hoekom Hanchen Krause onder jou dak bly. En op watter grondslag sy daar bly.”
Die ouer man se gesig lyk bekommerd. “Was jy by die huis aan?”
“Ja. En ek het my teen iets leliks vasgeloop – agterdog dat die Bernhardi’s van Hanchen Krause ’n slagoffer van hul beginsellose lewenswyse gemaak het. En ek twyfel of Pa dit gaan regkry om Hannelore tot ’n ander slotsom te laat kom. Dit kan my nie skeel wat sy dink nie, maar sy kan haar ma baie kwaad aandoen. Dit kan fataal wees as sy besluit om skielik weer ’n lojale dogter te word en dit as haar plig beskou om haar ma uit die kloue van die Bernhardi-monster te red. Die dokter het uitdruklik gewaarsku dat Hanchen se hart geen skokke en ontsteltenis kan verduur nie.”
“Jy bedoel Hannelore is ontsteld omdat haar ma onder my dak woon?”
“Dis sag gestel. Ek hoef Pa nie te sê wat sy werklik daarvan dink nie.”
Die ou man is nou openlik ontsteld. “Maar sy ken tog haar ma, Oloff!”
“Ja, maar sy sê sy ken ook die Bernhardi’s. Of so dink sy altans. Pa moes nooit daardie telegram gestuur het nie.”
“Maar jy het tog saamgestem met my besluit.”
“Ek