tog verwag nie.
Sy draai besluiteloos terug, terwyl haar tasse in die middel van die sitkamer neergesit word. ’n Huishulp dra ’n skinkbord met tee binne.
Hannelore stap na die venster en kyk na die golwe wat onder teen die rotse klots. Sy haat die see. Kolkbaai, skuins voor haar, het uitgebrei soos die Bernhardi’s uitgebrei het. Hy het gepraat van ’n fabriek – iets wat vroeër jare nie hier was nie.
Sy wil die wete dat sy ’n kind van Kolkbaai was, uit haar gedagtes druk – soos sy dit elf jaar gelede al gedoen het. Maar met ’n bitterheid in haar weet sy dat sy hierdie feit nie kan uitwis nie. Sy wás ’n kind van Kolkbaai, en só moes sy dit aan die Eyberse vertel.
Dit was nie maklik nie. Dit was nie maklik om aan Dewald en sy ma te vertel dat sy meer as ses jaar lank in ’n leuen gelewe het nie. Dat sy nie regtig ouerloos was soos wat sy voorgegee het toe sy en Dewald bevriend geraak het nie. Sy moes erken dat sy ’n ma op Kolkbaai het. Dit was pynlik om te verduidelik waar Kolkbaai is, want die Eyberse van Johannesburg het nog nooit van so ’n plek gehoor nie.
Die dag toe sy die telegram gekry het, was Dewald en sy ma ongelukkig teenwoordig. Niksvermoedend het sy dit oopgeskeur. Sy het nie kon dink dat dit so ’n omwenteling in haar goed beplande lewe en toekoms sou bring nie: Jou moeder ernstige hartaanval in hospitaal op S. Stiefpa oorlede. Bernhardi.
Op daardie oomblik, toe haar blik oor die woorde gaan, kon sy haar gewete nie langer ignoreer nie. Haar ma, die enigste mens op aarde wat regtig hare is, was ernstig siek. Haar gedagtes het teruggegaan na die jare toe haar pa nog skoolmeester van Kolkbaai was en haar ma bekend was as Hannie Dorffling. Daardie eerste jare was Kolkbaai haar hele wêreld en die visserskinders haar maats. Met al hierdie herinneringe helder voor haar, het sy die moed gekry om vir die Eyberse alles te vertel.
Natuurlik was dit vir hulle ’n skok, veral vir haar aanstaande skoonma – ’n vrou uit die voorste elitekring. Háár skoondogter uit ’n vissersgemeenskap! Dat haar oorlede pa nie ’n visser was nie, maar die skoolmeester van ’n tweemanskooltjie het die saak niks verbeter nie.
Sy het besef dit is die einde van hul verlowing en haar toekoms as die vrou van een van die hubaarste mans in die stad. Daar is daarna nie veel woorde gewissel nie. Dewald het haar stasie toe geneem.
“Ek weet nie wanneer ek terugkom nie.”
“Natuurlik. Bly so lank nodig. Ek sal jou geweldig mis – op kantoor en in my persoonlike lewe.”
Sy het by haarself gedink: ’n Mens mis altyd ’n bekwame private sekretaresse as dié skielik êrens heen moet vertrek. Maar buite die kantoor sou Emerit Eybers sorg dat haar seun sy verloofde nie te veel mis nie. Sy gewese verloofde – want die ring was reeds in ’n koevert in die boonste laai van sy lessenaar. Sy gaan nie eens probeer om die stryd teen ’n vrou soos Emerit Eybers aan te knoop nie. Want al kom sy van Kolkbaai, het sy ook haar trots.
Hannelore herleef in haar gedagtes alles wat sy die afgelope elf jaar bereik het. Sy het haarself as topsekretaresse bewys. Sy het geleer hoe om smaakvol aan te trek, haar bates ten beste te benut, watter haarstyl en grimering haar vlei. En toe het sy by Dewald Eybers se kantoor ingestap.
Die vriendskap het gou op dreef gekom en sy het haar onmisbaar op kantoor gemaak. Intussen het sy haarself nog verder ontwikkel: as ’n volmaakte gasvrou, kenner van etiketreëls en die moets en moenies van die uitsoekkring waarin sy nou beweeg het. Uiteindelik het sy haar doel bereik toe sy Dewald Eybers se verloofring aan haar vinger gekry het.
Toe kom die telegram – en alles waarvoor sy so hard in hierdie elf jaar gewerk het, het aan skerwe gespat.
Sy pas net so min hier in die Bernhardi-kasteel as in Emerit Eybers se luukse huis in Johannesburg, dit weet Hannelore. En ewe min in die rietdakhuisie waar sy haar ma die laaste keer in die deur sien staan het toe sy elf jaar gelede weg is. Sy het as vreemdeling na Kolkbaai teruggekom en wanneer sy weer weggaan, sal sy as vreemdeling na die stad terugkeer. Waar pas sy nou eintlik in?
Die tee in die fyn teepot het koud geword. So ook die warm botterbroodjies daarnaas. Toe Hannelore van die venster af omdraai, word dit ook koud binne-in haar. Want die man wat in die deur staan, laat die jare teen haar sin terugrol.
Hy het daardie besondere dag reg voor haar kom staan en hul oë het waterpas ontmoet, want die seun en die dogter was ewe lank.
“Hoekom hou jy nie van my nie?” het hy op egte Bernhardi-manier gevra. Want dit was die Bernhardi’s se voorreg om reguit te kan praat. Die res van Kolkbaai moes versigtig praat, veral as hulle met een van die Bernhardi’s te doen gekry het.
Maar die jong meisie het haar min aan daardie ongeskrewe reëls van Kolkbaai gesteur. “Jy ruik na vis.”
“Jy jok. Dis die sout van die see wat jy ruik. Ek was vandag nog nie naby ’n vis nie.”
“Dit maak nie saak nie. Die visruik is al soos salpeter in julle Bernhardi’s ingetrek.”
“En wat van jou? Jy is ook ’n visserman se kind. Jy bly ook hier.”
“Ek is nie ’n visserman se kind nie! Willem Krause is nie my pa nie! En ek gaan nie meer lank hier bly nie.”
“O? En waarheen dink jy gaan jy miskien? Jy is ’n Kolkbaaier en Kolkbaaiers gaan nie weg nie.”
“Ek gaan padgee van Kolkbaai wanneer ek groot genoeg is. Dis een van die dae, en julle sal my daarna nooit weer sien nie!”
Hy was verbaas en ontsteld. “Wat gaan met jou aan, Hannetjie? Wat is verkeerd met Kolkbaai? Dis die beste plek op aarde. Ek wil nie hê jy moet weggaan nie. Ek en jy gaan eendag trou.”
“Dit sal die dag wees,” het sy hom geantwoord.
“Maar natuurlik gaan ons twee eendag trou!”
“Wat is so natuurlik daaraan?”
“Want jy is die mooiste meisiekind op Kolkbaai.”
“O, dankie vir niks. Vergeet daarvan, Oloff. Ek gaan eendag trou met ’n man wat in die stad bly, en ek gaan nooit weer my mond aan vis sit nie.”
’n Paar jaar later het ’n soortgelyke gesprek tussen hulle plaasgevind, maar dié keer was daar veel meer erns daarin.
“Gaan jy regtig nooit weer terugkom nie?”
“Nee. Ek gaan leer.”
“Vakansies?”
“Vakansies gaan ek werk. Ek het my ma ook so gesê.”
“Maar eendag sal jy terugkom – wanneer jy klaar geleer het.”
“Om wat hier te kom maak?”
’n Selfbewuste glimlaggie het aan sy een mondhoek getrek. “Om met my te kom trou, natuurlik.”
“Nooit. Nóóit, sê ek jou! Ek is nie van plan om die res van my lewe op Kolkbaai te slyt nie. As jy en Martin wil, is dit julle saak.”
Maar sy het tog een keer daarna weer huis toe gekom. Sy het daardie dag van die graf van haar broer weggedraai en haar blik laat gly oor die see, die Bernhardi-kasteel en die skuite in die klein hawetjie. Dit was hulle skuld – die see en die Bernhardi’s se skuld dat Martin onder die duine van Kolkbaai begrawe is, het sy gedink. As hy na haar geluister het, en ook verder gaan leer het, sou hy nie dood gewees het nie.
Toe iemand voor haar kom staan, het sy hom amper nie herken nie. Oloff Bernhardi in ’n pak klere was ’n vreemdeling.
“Hannetjie …”
“Los my uit.”
“Jy moet na my luister …”
Haar oë het hom deurboor. “Gaan soek liewer Kato se lyk, dan doen jy darem een keer in jou lewe iets goeds.”
“Dis nie wat die mense sê …”
“Ek gee nie om wat die mense van Kolkbaai sê nie. Ek gee nie om wat jy te sê het nie. Ek is klaar met Kolkbaai.”
Dieselfde