“Wat het jy gedoen?” vra hy skerp.
“Niks nie. Oom Boetie het vanoggend my motor gebring.”
“Ek sien so, ja, en ek is bly om te sien dit staan langs myne. Jy het nie dalk ’n gier gekry om daarmee te gaan ry nie?”
“Nee, natuurlik nie. Ek sal nie die ratte kan werk nie.”
“Juis,” stem hy saam. “Wat is dit dan?”
Sy kou aan haar onderlip en trek die toutjie waaraan die garingtolletjie vasgemaak is halfhartig rond sodat Lappies dit kan probeer vang. “Miskien was dit tog die tas.”
Hy skakel die ketel aan aangesien dit nie lyk asof sy van plan is om tee te maak nie. “Watse tas?”
“My tante het my groot koffer met klere ook saamgestuur.” Sy wys weer na die rok wat sy dra. “Soos jy kan sien.”
“En waar’s die tas? Ek het niks gesien nie.”
“Uitgepak,” sê sy swaar.
Hy leun teen die toonbank en vou sy arms. “Dink jy dis die uitpakkery wat jou arm seergemaak het?”
“Nee … e …” antwoord sy huiwerig. “Ek dink dis die dra.”
“Watse dra? Wie het die tas boontoe gedra? Tog seker nie jyself nie?”
“Wel, ja,” moet sy erken. “Maar ek het op die trappe gesit en so trap vir trap boontoe versit. Die tas was baie swaar.”
Hy slaan met sy plathand teen die toonbank. “Hoekom het jý dit gedoen? Kon die oom jou nie help nie? Waar was Anna?”
“Winkels toe en oom Boetie was haastig. Ek wou hom nie langer ophou nie, hy het my klaar ’n groot guns gedoen en hy was laat vir sy afspraak.”
“Liewe vader, Maja,” sê hy kwaad. “Hoe kan jy so dom wees? Jy is in die eerste plek veronderstel om die arm in sy stut te dra, maar dit het ek nog nie van die eerste dag af gesien nie. Nou dra jy swaar tasse!”
Trane begin oor haar wange rol. “Ek weet,” erken sy miserabel. “Maar dis nou te laat om dit ongedaan te maak en my arm is baie seer.”
Hy haak sy das van die deurknop af en knoop dit weer om sy nek. “Is daar kos in die oond? Iets wat afgeskakel moet word?”
“Nee, my arm was te seer om kos te maak.”
“Kom dan,” sê hy. “Het die kat kos?”
Sy knik en staan op om hom na die garage te volg. “Die dokter gaan met ons raas,” sê sy toe hulle ry.
“Nee, nee, nee,” keer hy vinnig. “Nie met óns nie, met jou. Ek het hierdie keer niks verkeerds gedoen nie. Ek is onskuldig en ek gaan dit vir hom sê ook.”
Dis baie laat voor hulle weer by die huis kom en teen daardie tyd is Maja gedaan gehuil en moeg om mee geraas te word. Die arm moes van voor af gespalk word, die aanvanklike kraak is groter en die dokter het haar onomwonde vertel wat hy dink van mense met gebreekte arms wat swaar tasse dra.
“Gaan klim nou dadelik in die bed,” gebied Pieter haar toe hulle in die huis kom.
“Maar …”
“Dadelik,” sê hy en wys na die trappe.
“Maar ek is so honger! Ek het nie eers middagete geëet nie.”
“Ek sal kyk wat ek vir ons kan maak.” sê hy. “Loop klim in die bed of ek sit jou in die bed.” Hy swets onderlangs toe die telefoon lui en terwyl sy bekaf boontoe loop, raap hy die gehoorstuk op.
“Is juffrou Henning daar?” vra ’n manstem.
“Nee,” antwoord Pieter. “Kan ek ’n boodskap neem?”
“Wel,” sê die man huiwerig. “Is u haar oom?”
Pieter het geen idee watse storie Maja vir hierdie onbekende man versin het nie en maak dus net ’n gromgeluid. “Sy bly hier, as dit is wat u wil weet.”
“O. As u net vir haar kan sê daar is ’n probleem by die huis. Die kommune. Sy sou die einde van die maand hiernatoe gekom het.”
“Ja,” sê Pieter kortaf, nie lus vir lang stories nie, want hy is ook moeg en honger.
“Jolandie wat Londen toe sou gegaan het, kan nou eers die einde van Mei vertrek. Ek is bevrees daar is dus nie gou ’n opening nie. Miskien gaan Hein na ’n woonstel, maar dis ook nog glad nie seker nie en …”
“Ek sal vir haar sê,” sluit Pieter die gesprek af. “Dis nie ’n probleem nie.”
“Sy kan my weer kom sien en ons kan kyk wat …”
“Sekerlik,” sê Pieter. “Dankie dat jy gebel het. Totsiens.”
Hy sit die gehoorstuk neer en loop kombuis toe waar Lappies uit sy vel van plesier nader storm om Pieter se skoenveters aan te val. “Wag,” sê hy. “Ek het nie nou tyd vir speel nie. Ek is honger.”
Hy maak vir hulle toebroodjies van koue vleis en tamatie en neem dit saam met ’n glas melk boontoe. Maja lê al in die bed en sy lyk baie klein. Sy het die laken tot onder haar ken getrek en die komberse afgeskop.
“Dis baie warm,” sê sy en trek haar regop en begin gulsig eet.
Hy sit sy eie bord neer, loop terug na die deur en skakel iets aan. Oombliklik stroom koue lug in die kamer in.
“Haai,” sê sy en hou op met kou. “Hoe het jy dit reggekry?”
“Ek het die lugversorger aangeskakel.” Hy gaan sit in een van die twee leunstoele en begin eet.
“En hier dood ek al ’n week lank van die hitte,” sê sy.
“Dis nie my skuld nie.”
Sy eet in stilte klaar, sit haar bord neer en drink die melk. “Baie dankie, dit was wonderlik. Ek dink ek sal nou kan slaap, want al het hulle my pynpille gegee, is ek seker ek sou nie kon slaap solank ek so honger was nie.”
“Dis ’n plesier.” Hy tel haar bord op en kyk af op haar, sy uitdrukking skielik minder kwaai. “Jou arm is nie die enigste terugslag van die dag nie. Jou kommune het pas gebel om te sê die vakature is nie meer daar nie. Iemand genaamd Jolandie kan nou eers in Mei oorsee vertrek. Daar is ’n vae moontlikheid dat iemand genaamd Hein na ’n woonstel trek, maar dis alles báie vaag.”
“Wie is Hein?”
Sy wenkbroue skiet op. “Hoe met ék weet?”
Haar vingers frommel die rand van die laken en haar gesig is somber. “Dan weet ek nie. Wat gaan ek doen? Miskien moet ek maar huis toe gaan. Ek dink mens moet die tekens kan lees en al die tekens sê: gaan huis toe. Van ek hier geland het, is dit een terugslag op die ander. Ek is seker nie veronderstel om hier te wees nie.”
“Onsin,” sê hy. “Wat jou arm betref, is ek verantwoordelik vir die eerste terugslag, maar nie die tweede nie. Wat die kommune betref – daar moet tog ander wees. Slaap nou eers, vandag het genoeg van sy eie kwaad gehad. Môre kan jy plekke bel en intussen is daar geen probleem nie. Jy het ’n dak oor jou kop en jy weet jy is welkom om hier te bly solank as wat jy wil.”
“Ha!” sê sy bitter.
“Wat is dit veronderstel om te beteken? Het ek jou onwelkom laat voel?”
“Nee … e,” sê sy. “Maar ek kan mos sien. Jou lewe sal veel rustiger wees as ek weg is.”
“Dit betwyfel ek vir geen oomblik nie,” sê hy. “Maar aan die ander kant kan rustig ook vervelig wees. Van jy voor my motor beland het, is my lewe nie vervelig nie. Inteendeel.” Hy tel haar leë glas op en beweeg na die deur. “Sou jy vir Lappies en die trapsuutjies in die kommune of die jeugherberg kon aanhou?”
“Ek weet nie. Miskien nie.”
“Nou toe. Daar het jy dit. Elke donker wolk het ’n silwer