Weyers verwag het met my sal gebeur as ek na ’n groot en onbekende stad kom. So kan jy sien, hy is op die oorlogspad en dit sal veel, veel beter wees as ek vir hom sê ons is getroud. Dan bly hy sommer van my lyf af.” Sy hou op praat om net asem te skep. “Wel, ek het klaar vir hom gesê, maar dit lyk my nie hy glo dit nie.”
“Jy’t klaar vir hom wát gesê?” vra Pieter.
“Dat ons getroud is.”
Pieter haal diep asem en stoot ’n hopie skuifspelde heen en weer op sy lessenaarblad, asof dit sal help om die saak op te klaar. “Maar wie is hy? Wie is Weyers dat hy so besitlik optree?”
“Ag,” sê sy. “Nog een van die mans wat so verlief geraak het. Hy besit die motorhawe op die dorp waar ek was.”
“Het hy ook ’n diamant in ’n fluweeldosie aangebied?”
“Nee, hy is nie daardie soort nie. Hy is net besitlik. Hy haat Frans net omdat Frans ook by my gekuier het en regtig, niemand kan vir Frans haat nie. Hy is ’n skattebol en dis nie sy skuld dat ek nie lief was vir hom nie.”
“Nee,” sê Pieter. “Ek veronderstel nie. Wat nou?”
“Jy moet sê ons is getroud, dis al. Dan sal hy weggaan.”
“Maar as jy dit klaar vir hom gesê het, is hy seker op pad terug na Mpumalanga.”
“Jy ken nie vir Weyers nie,” sê sy bitter. “Hy sal tog so maklik kopgee.”
“Nee, jy’s reg, ek ken hom nie,” sug hy. “Maar dink jy hy sal so ’n storie glo? Dat jy binne twee weke getroud geraak het?”
“Ek het vir hom gesê dit was nes in die boeke,” verduidelik sy. “Ons het mekaar ontmoet net ná ek van die trein geklim het – en dis waar!”
“Die enigste deel wat waar is,” stem Pieter saam.
“En ons het net dadelik geweet ons is vir mekaar bestem. Jy is klaar so oud – wel, oud genoeg – dat jy weet wat jy wil hê en jy het gedink ek is ’n geskenk uit die hemel en ons is getroud. Dis mos nie vergesog nie?”
Pieter hou sy hand oor die mondstuk dat hy kan klaar lag. “Nee,” sê hy toe hy bedaar het. “Seker nie. Wat is nou die volgende stap?”
“Hy gaan na die huis kom, dis seker. Jy moet net saamspeel.”
“Ek is glad nie veglustig nie,” sê hy. “Ek gaan met niemand baklei nie.”
“Nee, nee,” verseker sy hom. “Dis nie nodig nie. Dankie, hoor. Ek sien jou later.”
Pieter sit die gehoorstuk stadig neer en kyk op na sy kollega wat in die deur staan met ’n klomp papiere in sy hand. “Ek is getroud,” sê hy. “Net so.”
Sy kollega, ’n ou getroude, glimlag breed. “Baie geluk. Hoe het dit gebeur?”
“Dit sal ek jou nie kan sê nie. Dit het baie skielik gebeur. Báie skielik.”
“Nou toe nou.” Die man kyk na die papiere. “Ek het gewonder of ek jou kan lastig val. Daar is ’n probleem met die …”
“Kom sit,” sê Pieter en wys na ’n stoel. “Ek het ’n groot dosis nugterheid nodig.”
Hoofstuk 6
Weyers daag nie daardie aand op nie, maar Maja gaan te kere asof sy ’n gewapende peloton verwag. Toe Pieter van die werk af kom, hardloop sy om seker te maak die deur is agter hom gesluit. Sy hou selfs vir Lappies op haar skoot.
“Die man gaan tog nie klein katjies doodmaak nie,” sê Pieter vir haar. “Hy kan, om die waarheid te sê, heeltemal niks aan jou doen nie. Ek is baas van hierdie huis en ek sal besluit wie hier inkom en wie nie. Jy hoef gewoon net nie die deur oop te maak as hy klop nie. Dis regtig nie nodig om weg te kruip en allerhande snaakse stories op te maak nie.”
“Jy ken nie vir Weyers nie,” sê sy.
“Nee, en ek wil ook nie.” Hy skink vir hulle wyn en gaan sit oorkant haar. “En ek moet jou sê, ek begin die indruk kry jy is nie sommer by jou vorige werkplek weg omdat jy lus was vir ’n verandering van omgewing nie. Ek dink jy vlug.”
“Dis nie waar nie. Ek kan dit nie help as mans só raak nie.”
Hy vryf hard oor sy slape, net bokant die oor waar hy ’n drukking voel. “Hoe raak nie? Ek het al dikwels ’n bloutjie geloop met meisies, veral toe ek jonger was. ’n Man raak maklik verlief en die meisie voel nie dieselfde nie. Dit beteken nie jy sit haar agterna en terroriseer haar nie.”
“Jy’s nie Weyers nie,” is al wat sy hierop te sê het.
Die volgende oggend is dit ’n lieflike dag. Nog steeds baie warm, maar windloos. Maja was vroeg op en het vir hulle ’n piekniekmandjie gepak. Koue groentetert, broodjies, vrugte, flesse koffie en vir Pieter ’n bier of twee. Toe Pieter ondertoe kom om ontbyt te eet, is sy reg.
“Kyk,” sê sy en trek haar hempie op. “Ek het klaar my swemklere onder aan.”
Hy sou nie die stukkie gehekelde lap swemklere noem nie, maar dis nog te vroeg om te begin stry.
Sy is ook besonder haastig. Hy het skaars sy roereiers klaar geëet of sy raap sy bord weg en sit sy koffie neer.
“Hoekom jaag ons so?” vra hy. “Dis Saterdag, en ek het niks op my program nie.”
“Nou-nou kom die wind op.”
“Nee,” sê hy. “Geen wind is voorspel nie.”
“Ag, hulle voorspel nooit reg nie.”
Hy drink sy koffie klaar en staan op. “Ek sal die sambreel in die motor sit. Het jy alles wat jy kan nodig kry?”
Sy ontspan toe hulle ry en hy voel weer skuldig toe hy sien hoe sy alles geniet, hoe sy vooroor leun om af te kyk oor die hawe, hoe sy kommentaar lewer oor alles wat sy vir die eerste keer sien.
“Ek het gedink ons ry Gordonsbaai toe,” lig hy haar in. “Die see is kalm daar, jy kan in die vlak water rondloop solank jy nie jou arm natmaak nie.”
Alles geval haar, alles is vir haar lekker en haar entoesiasme is aansteeklik. Hy beskou die uitstappie nie meer as ’n toegewing, ’n opoffering nie – hy geniet dit ewe veel. Daar is nogal baie mense op die strand, maar hy kry ’n kol waar hy die sambreel opslaan en hulle hulle handdoeke oopgooi. Sy is ook nie links nie en stroop haar kortbroek en hemp af, gooi haar arms wyd om eers uit te rek.
Hy kyk haar op en af. Die lyf in die skraps bikini is nie die lyf van ’n dogtertjie nie. Allesbehalwe.
“Jy moet jou goed insmeer,” maan hy. “Jy’s baie wit.”
Sy kyk hom agterna toe hy die branders instap en is ewe beïndruk. Hy is bruingebrand en lenig en sy kyk streng na ’n ander meisie wat regop sit toe Pieter verbystap en hom met meer as normale belangstelling aankyk. Met haar gebreekte arm in sy stut gaan speel Maja in die vlak branders en moet heelparty simpatieke opmerkings oor haar arm verduur. Toe sy genoeg afgekoel het, gaan lê sy op haar handdoek. Sy kyk op toe Pieter by haar aansluit, sy lyf nat en glad en bruin. “Heerlik,” sê hy uitasem en sak op sy handdoek neer. “Dit was ’n baie goeie plan van jou.”
Sy glimlag breed en wil net iets sê toe haar gesig verstrak en sy ’n gesmoorde kreet uit. “Weyers!” sis sy.
’n Fris man met woeste rooi hare kom na hulle aangestryk. Hy dra nie swemklere nie en sy stewels ploeg doelgerig deur die sand. “Maja,” sê hy toe hy by hulle kom.
Sy werp haarself bo-oor Pieter en lê met haar wang teen sy nat bors. “O, hallo, Weyers,” groet sy onbelangstellend.
Pieter probeer regop kom, maar dis onmoontlik met Maja bo-op hom. Al wat hy kan sien, is die twee stowwerige stewels en twee baie fris bene, sproeterig en bedek met rooi hare. “E …” sê hy vir Maja en kry dit reg om hom effens op te lig. “Hier is iemand wat jou …”
Sy