met haar kop. “Grappies tersyde. Dit lyk asof Weyers die boodskap het. Hy het nog nie weer opgedaag nie en ek dink nie dis regverdig teenoor Annemie nie. Vertel haar die waarheid. Sy kan nie regtig begin kollekteer vir ’n present nie.”
“Ek weet,” stem hy saam.
Toe Annemie die volgende oggend voor hom staan, haar lippe nog altyd dun en styf, is dit nie heeltemal so maklik om met die waarheid uit te kom nie. Hy is nie die soort man wat ooit grappe maak of poetse bak nie; om nou te erken dat hy dit wel gedoen het, sit in sy keel vas. Hy drink eers ’n slukkie van die koffie wat sy voor hom neergesit het en trek ’n gesig.
“Dis bitter.”
“Ag,” sê sy, glad nie spyt nie. “Het ek die suiker vergeet?”
Hy stoot die koppie weg. “Luister, dis alles net ’n … e … grap. Ek is nie regtig getroud nie. Moet asseblief nie begin kollekteer vir ’n geskenk nie.”
Haar lippe word dunner. “Jy is nie regtig getroud nie? Is dit Maja se idee van ’n grap?”
“Hoegenaamd nie. Dit was myne en dit was nie regtig ’n grap nie. Sy het ’n gewese kêrel wat … wat moeilikheid veroorsaak en ek het voorgestel sy noem dit vir hom.”
“Ek sien. En het dit gewerk?”
“O ja. Wel, dit lyk so.”
Sy ontspan en kry dit selfs reg om te glimlag, ’n neerbuigende glimlag, maar tog. “’n Mens moet seker toegewings maak teenoor die jeug. Hulle is so voortvarend, dink nog nie aan die gevolge van hulle onverantwoordelike optrede nie.”
“Ek het dan nou net gesê dit was my idee,” sê hy.
Sy glimlag breër en waai haar vinger in die lug. “Jy is baie lojaal, maar ek kon van die eerste dag af sien hoe sy jou beïnvloed. So ’n kind kan ’n mens maklik om haar vinger draai. Ek weet. My niggietjie kuier mos dikwels by my en jy weet ek is nie die soort wat ooit my standaarde laat sak nie – persoonlik of professioneel. En tog kry sy dit elke keer reg om my goed te laat doen wat ek nooit andersins sal doen nie. Kinders is net so. ’n Mens sou kon sê hulle is gewetenloos, maar …” Sy lag goediglik. “Dis maar soos hulle is. Mens moet dit net aanvaar. Dink net aan hulleself en wat vir hulle goed en lekker is. Die selfsugtigheid van die jeug. Daar is al verhandelings oor geskryf.”
“Werklik,” sê hy.
“Maar ek is bly jy het die saak reggestel. Toe Kerneels my nou die middag vertel, het ek dadelik gedink dit kán net ’n grap wees. Jy is nie die soort man wat halsoorkop besluit of optree nie. Indien dit so was, was jy nie die suksesvolle sakeman wat jy wel is nie.”
“Regtig?” vra hy.
Sy tel die suikerpot van die skinkbord op, gooi een lepel in sy koffie en roer dit. “As iemand wat jou goed ken en jou welsyn op die hart dra, moet ek jou dalk waarsku. Wat weet jy van hierdie Maja? Om sommer ’n totale vreemdeling in jou huis te neem, kan nie net tot onvoorsiene gevolge lei nie, maar gevaarlik wees.”
“Maja is nie ’n vreemdeling nie en sy kan nie gevaarlik wees vir ’n mier nie,” sê hy, sý stem waarskuwend.
Sy gee ’n simpatieke laggie. “Sulke tieners kan baie bekoorlik wees, Pieter. Ek waarsku jou maar net. Jy is ’n volwasse man met ’n sekere reputasie. Ek wil net nie hê jy moet jou vingers verbrand nie.”
Hy leun agteroor in sy stoel en bekyk haar. “Ek waardeer jou besorgdheid, maar soos jy gesê het, ek is volwasse en regtig oud genoeg om te weet wat ek doen. Jy hoef jou nie oor my te kwel nie. Kan jy nou daardie oproepe gaan maak waarvoor ek gevra het?” Hy wys na die koffie wat ongedrink voor hom staan. “En vat dié met jou saam. Ek is nie dors nie.”
Hy is die hele dag knorrig tot hy daardie aand oorkant Maja sit en eet. Sy sit hom en vertel hoe sy sy rekenaar in sy studeerkamer ontdek het en hoe lekker dit vir haar was om e-posboodskappe aan al haar vriende te stuur.
“Jy gee mos nie om nie?” vra sy met haar groot oë op hom.
“Glad nie.”
“Want ek raak baie verveeld by die huis.”
“Ek kan dit glo.” Hy wys na die veelkleurige slaai voor hom. “Ek weet nie wat jy alles hierin het nie, maar dis wonderlik.”
“Ek is bly. Jy merk natuurlik op dat ek jou gesondheid op die hart dra en niks ryks voorsit nie.”
“Mm,” sê hy.
Sy bestudeer sy gesig sonder om iets wys te word. “Jy het toe vir Annemie vertel,” sê sy.
“Ja.”
“En sy was verlig.”
“Hoe sal ek weet? Dit het min met haar te doen.”
Maja drink haar yswater en besluit dit sal taktvol wees om liewer oor iets anders te praat. “Ek gaan môre na die kommune kyk. Hulle het gebel en dit lyk nou asof ’n kamer gouer beskikbaar kan wees.”
Hy is dadelik weer kwaad. “Dis nie wat daardie mannetjie vir my gesê het nie.”
“Almiskie,” sê sy.
Die volgende oggend haal sy ’n bus, maar toe sy voor die huis staan, sug sy. Dis oud, die tuin het duidelik jare laas aandag gehad, die dak is geroes en afgeskilfer en op die stoep lê fietse, modderbesmeerde stewels, gebreekte branderplanke en ander rommel. Die hele huis vibreer van die geluid van harde rockmusiek wat uit een van die kamers kom.
Maja klop, maar niemand hoor haar nie en as ’n meisie nie toevallig in die gang verskyn het, het niemand haar tot hulp gekom nie. Die meisie blyk Jolandie te wees en sy wys Maja deur die huis.
Dis alles baie bedrukkend. Die kombuis word op ’n raap-en-skraap-basis deur al die inwoners en hulle aanhangsels gebruik. Die stoof lyk antiek, is lank laas behoorlik skoongemaak en het net twee plate wat werk. Die kastrolle het ronde bodems en ’n jong man wat vir hom melk warm maak, moet die kastrol met albei hande teen die plaat vasdruk sodat bietjie hitte darem kan deurkom.
“Ek is ’n kok,” verduidelik Maja toe sy sien Jolandie word ongeduldig omdat sy soveel tyd in die kombuis bestee.
“Hier gaan nie veel aan nie,” sê Jolandie. “Ons maak maar blikkies oop of gebruik die mikrogolf.”
“Ek sien, ja.”
Die slaapkamer wat Maja gaan kry, is baie ruim omdat dit ’n ou huis is wat nog so gebou was. Meer as dit kan sy nie dadelik sien nie, want die kamer lê begrawe onder klere, bedlinne, tasse, kartonbokse vol boeke en papiere. Nat swemklere hang aan die kas se knop en drup ’n klam poeletjie op ’n stapel tydskrifte. ’n Bont strandhanddoek is aan die vensterknip gehaak en verdonker die reeds donker kamer nog meer.
“Dit sal beter lyk as my gemors uit is,” verseker Jolandie haar. “Ek is besig om uit te sorteer. As daar iets is wat jy wil hê, moet jy sê, want ek gaan omtrent alles verkoop. Ek vat net my rugsak Londen toe.”
Toe Maja terugkom in Pieter se glas-en-beton-huis, is sy baie bedruk. Sy sit op haar bed en kyk om haar rond. Die blink vloer en die groen-en-blou mat. Die spierwit mure en die blougroen gordyne. Die wit ingeboude kaste en die groot bed met sy fyn linne. Die bedrukking word net erger toe sy die middag in die kombuis staan en werk met kastrolle wat waterpas op hulle swaar bodems staan. ’n Stoof wat blink en werk, laaie vol alles wat sy moontlik nodig kan kry. Teen die tyd dat Pieter by die huis kom, is sy omtrent in trane.
“Wat makeer?” vra hy dadelik.
Sy kyk hom tragies aan. “Ek weet nie wat om te doen nie,” sê sy en begin huil omdat dit is wat sy al heeldag wil doen.
“Ag nee,” sê hy en sit sy arm om haar skouers. “Wat het gebeur?”
Sy maak haar los, skeur ’n stuk kombuispapier af en vee haar gesig droog. “Ek het na die kommune gaan kyk.”
“En dis nie wat jy wil hê nie?”
Sy druk die opgefrommelde papier teen haar neus.