staan en al twee hom ten minste nou kan sien. “Kerrievere.”
Maja gee ’n laggie en streel met haar gesonde hand oor Pieter se been op ’n manier wat hom hoendervleis gee. “Bokkie, sê dan vir hom.”
Pieter is nie doodseker wie sy aanspreek nie, maar kom dapper tot haar redding. “Ja, sy is … Ek en Maja is getroud, ja.”
“Sy’s twee weke gelede by my weg,” sê die man. “Van wanneer af raak ’n mens so gou getroud? Ek ken vir Maja.” Hy gluur na haar. “Sy kan jou enigiets wysmaak.”
In sy hart stem Pieter hiermee saam, maar hy sê dit nie hardop nie. In stede daarvan trek hy die mandjie nader en haal twee biere uit die koelsak. “’n Bier, meneer Bekker?”
“Sal nie nee sê nie.” Hy maak die blikkie oop en neem ’n diep teug voor hy somber sit en uitstaar oor die see. “Sy maak ’n mens mal. Sy werk met ’n man.”
Ook hierteen kan Pieter nie stry nie, al is Maja se strelende hand oor sy arm nie onaangenaam nie. “Is u hier op besigheid, meneer Bekker?” vra hy.
“Nee, ek het vir Maja kom haal.”
Maja sit kwaad regop. “Jy’t geen reg om my te enigiets nie! Ek behoort nie aan jou nie.” Sy kyk na Pieter. “Sê vir hom, patat.”
Pieter proes in sy bier en vat haar aan die arm vas, net hard genoeg dat sy ’n protesterende geluidjie maak. “Ekskuus?”
“E … liefie. Sê vir hom jy sal dit nie duld dat hy so praat nie. Dis nie asof ons verloof was of so iets nie. Hy is net gans te besitlik.” Sy kyk Weyers uit die hoogte aan. “Ek is nou ’n getroude vrou, jy kan nie so met my praat nie.”
Pieter wonder hoe dit sou gewees het as hy daardie dag na die restaurant gestap het. Hy kon dit baie maklik gedoen het, die restaurant was nie so ver van sy kantoor af nie. Die enigste rede waarom hy wel met sy motor gegaan het, was omdat hy daarna iemand moes gaan sien. Maar hy kon klaar geëet het, teruggestap en toe sy motor gekry het. Teen daardie tyd sou Maja lankal oor die straat geloop het en was sy veilig op pad na haar jeugherberg en hy na sy volgende afspraak. Hy sou nie op die strand gelê en luister het hoe sy hom patat noem nie.
“Hoe’t julle ontmoet?” vra Weyers grimmig. “So ’n oorhaastige spul.”
Pieter antwoord nie vir die eenvoudige rede dat hy nie weet nie. Dis Maja wat lekker diep asemhaal en begin vertel.
“In die hospitaal,” sê sy. “Daar was ’n buffel wat nie gekyk het waar hy ry nie en my toe raak ry. Ek was in baie pyn en die ambulans het my hospitaal toe geneem. Terwyl ek gewag het vir die x-strale het Pieter saam met my gewag. Hy het …”
“Hy’t g’n niks gebreek nie,” val Weyers haar in die rede.
“Nie nou nie,” stem Maja saam. “Maar hy was ses weke gelede op die krieketveld toe ’n bal hom in die ribbes tref en ’n paar breek. Hy was daardie dag in die hospitaal vir x-strale net sodat hulle kon sien alles is nou weer heel. Ons het begin gesels en dadelik besef ons is vir mekaar bedoel.”
“Ek het al baie keer ribbes gebreek,” sê Weyers aanvallend. “Dis niks nie. Toe ek nog rugby gespeel het …”
“Hy was in verskriklike pyn,” sê Maja ferm. “Is dit nie so nie, bokkie?”
“Nou eers,” prewel Pieter, gelukkig te sag dat Weyers hom kan hoor.
“Kerrievere,” sê Weyers weer. “Jou tante sou my gesê het.”
Maja begin desperaat word. “Dis ’n geheim. Ons beplan om een van die dae vir hulle te gaan kuier en dan sal ons hulle sê.”
Weyers suig aan sy bier en kyk somber in die verte. “Frans het jou vergeet. Hy gaan nou uit met Linda van die hotel.”
“Regtig?” vra Maja gekrenk.
“Maar Hugo loop nog rond soos ’n hond wie se been gesteel is.”
Pieter kyk na Maja. Wie is Hugo? Miskien moes hy nie so vroeg al ’n bier gedrink het nie, sy kop draai effens.
“As julle getroud is,” sê Weyers, “waar is julle ringe?”
Pieter wonder belangstellend wat Maja hierop gaan antwoord.
“Ons was bang dit val af in die see,” sê sy gladweg. “Die ringe is nog baie nuut en los. Dis by die huis.”
Weyers se bier is op. Hy vermorsel die blikkie in een hand dat dit net ’n plat stukkie metaal is en gooi dit in die mandjie. Hy staan op, vee die sand van sy sitvlak af. “Ek sien julle,” sê hy. “Ek sal kom kuier.”
Pieter kyk hom agterna tot hy by sy bakkie kom en inklim. Maja het intussen weggerol van hom en lê weer op haar eie handdoek. “Patat,” sê hy. “Waar kom jy daaraan? Liefie en bokkie is erg genoeg, maar patat?”
“Getroude mense praat altyd so,” sê sy ongeërg. “My oom noem my tante bollie en sy noem hom skapie. Wat is verkeerd met patat?”
“Dis verspot. Dis soos jou goeie vriend sê: kerrievere.” Hy leun op sy elmboog. “Waar kom hy aan so ’n uitdrukking?”
“Ek weet nie, hy sê dit altyd.” Sy lê nou plat op haar rug, haar kop in die skadu van die sambreel en haar lyf in die son.
“Hoekom is hy so besitlik?” vra Pieter. “Wat presies was daar tussen julle? Jy en Frans was kennelik in ’n verhouding diep genoeg dat hy fluweeldosies aangedra het, maar wat het jy in hierdie rooikop gesien?”
“Ag, ons het ’n paar keer uitgegaan en so.”
“Maja,” sê hy gebiedend. “Wat is: ‘en so’?”
“Jy weet.”
“Nee, ek weet nie.”
Sy sug. ”Ons het uitgegaan, saam gaan fliek, saam geëet, bietjie gesoen, niks ernstigs nie.”
“Bietjie gesoen?” Hy is geskok. “Jy het hierdie wilde man met sy snaakse uitdrukkings gesoen?”
“Ek het hom nie gesoen nie, hy het my gesoen.”
“Die resultaat is dieselfde. Jy kloof nou hare.”
“Daar was geen resultaat nie. Hy is ’n swak soener.”
“En Frans?”
“Ook nie watwonders nie.”
Hy druk sy leë blikkie inmekaar met byna soveel krag as Weyers.
“Hoekom laat jy dan toe dat vreemde mans jou soen as hulle nie watwonders is nie?” vra hy kwaad.
Sy sit weer regop. “Ek sê dan vir jou, dis nie ék wat die soenery gedoen het nie. Dis hulle. Kan ek dit help as hulle so sleg is daarmee?”
Hy leun oor, vat haar hardhandig aan haar kaal skouers beet en soen haar. Lank en deeglik.
“Jinne,” sê sy en gee ’n suggie. “Ja. Jissie.”
Hy lê weer plat. “Dink jy dis beter?”
Sy druk haar voorvinger liggies teen haar lippe. “Ja. Jy weet hoe om dit te doen.” Sy haal vir haarself ’n koeldrank uit die koelsak en drink vinnig ’n paar slukke. “Dis seker jou ouderdom. Jy het meer ondervinding as hulle.” Sy kyk oor haar skouer na die parkeerarea en giggel. “Hy staan nog daar. Hy’t ons gesien.”
Pieter spring op. “Ek gaan weer swem. Dis te warm hier op die sand. Maar eers moet ek vir jou ’n ding of twee vertel. Ek is nie ’n tiener nie; ek is heeltemal te oud om hierdie speletjie te speel. Ek gaan nie rondjaag om jaloerse mans te ontduik nie. Dis glad nie my styl nie.” Hy kyk na die parkeerplek en sien dat Weyers weer in sy bakkie geklim het al lyk dit nie asof hy wil ry nie. Hy sit net daar en kyk na hulle. “Hoe het hy ons hier gekry?”
“Volg ons seker al van die huis af. Hy het die adres,” sê sy ongeërg. Sy drink weer ’n sluk koeldrank. “Man! Dit wys jou net. Twee weke