sy besliste antwoord. “Jy het nie meer tyd vir my nie. Jy stel nie meer belang in ons trouplanne nie. Jou aandag is net heeltyd by die kind.”
Haar oë het vol trane geskiet. “Wat kan ek anders doen? Daar is niemand anders om na hom te kyk nie. Ek dog jy het altyd gesê jy is lief vir kinders?” Sy kon nie help om beskuldigend te klink nie.
“Ek is,” het hy homself probeer verweer. “Ons eie kinders. Jou broer moet ’n ander plan maak; hy kan nie verwag dat jy die kind moet versorg nie.”
Die baba het teen haar skouer aan die slaap geraak en sy het hom gaan neerlê. Toe sy terugkom, was Pierre egter nog net so ontstoke.
Sy het kalm na hom gekyk en gaan sit. “Daar is geen ander uitweg nie. Ek sal nooit toelaat dat die kind na vreemdelinge of na ’n inrigting gaan nie. Ek is dit aan Marie verskuldig. As jy my liefhet soos jy sê, sal jy dit so aanvaar. Dit is nie een van ons se skuld dat dinge gebeur het soos dit gebeur het nie en ons moet dit so aanvaar en daarmee saamleef.”
“Nee,” was sy kortaf antwoord. “Ek weier om dit so te aanvaar. Toe ek jou Saterdagaand wou uitneem, was jy te moeg en het nee gesê. Dit gebeur al hoe meer. Jou hele lewe draai skielik om die baba en ek is net nie meer belangrik nie.”
“Ek is jammer,” het sy moeg gesê. “Dit is seker waar, maar ek weet nie wat om anders te doen nie. Dis vir my ook ’n groot aanpassing en ek is dikwels moeg.” Sy het haar hande opgelig en weer laat sak. “Ek is jammer.”
Hy het op die armleuning van haar stoel kom sit en haar op die voorkop gesoen. “Ek sal jou sê wat ons doen. Ons gaan die naweek weg, net ek en jy. Dit kan ons net goed doen en miskien sien ons alles dan weer in die regte perspektief.”
“En die baba?”
Sy gesig het verstrak. “Los hom by jou tante of by Lina.”
Sy het haar kop geskud. “Nee, ek kan dit nie doen nie. Tante is nie meer jonk genoeg om na ’n baba te kyk nie.”
“Jy sal moet kies, Kristien,” het hy gesê en opgestaan. Sy onthou dit nog so goed. Sy het opgekyk na hom waar hy voor haar gestaan het en om sy mond was ’n harde trek. Meteens het sy gewonder hoe goed sy hom regtig ken en hoe lief sy werklik vir hom is. Die man wat voor haar gestaan het, was ’n vreemdeling. Dit was nie die Pierre wat saam met haar gelag het nie. Dit was nie die man wat gesê het hy ken en verstaan haar nie.
“Ek wil liewer nie nou daaroor praat nie,” was haar lafhartige uitweg. “Ek is moeg vanaand. Miskien kan ons in die naweek uitgaan.”
Hy het haar die Saterdagmiddag kom haal en sy het traag die baba en sy oppasser by haar tante gaan aflaai. Pierre se bui het opmerklik verander toe hulle weer alleen was en sy kon byna glo dat hy weer die ou, onselfsugtige man was vir wie sy lief geword het. Maar toe neem hy haar na sy ouers en hulle het nog nie eers tee gedrink nie, toe sy ma haar begin takel het.
“Jy is besig om ’n groot fout te begaan, Kristien,” het sy met die deur in die huis geval. “Pierre is ’n geduldige man en lief vir kinders, maar daar is perke. Jy kan nie verwag hy moet sonder meer aanvaar dat julle troue uitgestel word net omdat jy na jou broer se baba moet omsien nie! Pierre kom tog eerste in jou lewe, nie waar nie?”
Kristien het goed nagedink en toe haar kop geskud. “Op die oomblik kom die baba eerste,” moes sy erken. “Ek is jammer dat dit so gebeur het, maar dit is nou so.” Wat sy nié gesê het nie, is dat sy nie kon verstaan waarom dit op ’n keuse moes uitloop nie. Waarom kon hy haar nie aanvaar en liefhê ten spyte van die nuwe wending in hulle lewe nie? Hoe lief was hy dus in werklikheid vir haar?
“Dis jammer,” het Pierre se ma gesê en die klokkie gelui dat tee gebring moes word. Sy het nie jammer gelyk nie en Kristien het die indruk gekry dat die vrou heimlik bly was.
Kort nadat hulle tee gedrink het, het sy Pierre gevra om haar huis toe te neem en sy het gesien hoe deurborend hy na haar kyk toe sy die baba weer in haar arms hou. En toe sy die diamantring van haar vinger afhaal en woordeloos na hom uithou, het hy net na haar gekyk met ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë en dit geneem.
Die aand het sy gesit en dink aan hom en hulle verhouding en die trane het oor haar wange geloop sonder dat sy dit wou keer. En tog het sy geweet sy het die regte ding gedoen. Pierre is volwasse en sterk. Hy kan vir homself sorg. Die baba kan nie. Die baba, meer as enige van hulle, is die slagoffer van omstandighede en in die kwetsbaarste posisie omdat hy nie vir homself kan sorg nie. Vir die eerste keer in haar lewe het Kristien ook besef dat die lewe uit keuses bestaan. ’n Mens kan nie alles kry wat jy wil hê nie. Sy mag nie vir Pierre én die baba hê nie. En wat haar die hartseerste gemaak het, was die feit dat Pierre die verbreking van die verlowing so maklik aanvaar het. Was hy dan nie lief vir haar nie?
Kristien was nooit van die soort meisies wat omring was van kêrels nie. Sy was mooi, ja, maar dit was ’n vreemde soort skoonheid, en anders as dié van haar vriendinne. Toe haar vriendinne in ligte valletjiesrokke geklee was, was sy in eenvoudiger, donker kleure geklee. Sy het geweet dit pas by haar donker hare en oë en ligte vel, en dat sy verspot lyk in enigiets anders, maar feit bly staan: sy het anders gelyk en boonop was sy ’n ernstiger mens. Miskien was dit die skok van haar ouers se dood wat haar in haarself laat keer het; miskien was dit ingebore en deel van haar persoonlikheid. Sy was nooit deel van die groep nie, het verkies om met ’n boek onder die bome te sit wanneer almal buite baljaar het. Sy weet die ander jongmense het gedink sy is snaaks en hoogmoedig, maar dit was nie die geval nie. Sy het bloot haar plesier uit ander dinge verkry.
Daar was kêrels, maar niemand met wie sy ernstig betrokke wou raak nie. Pierre was die eerste man vir wie sy meer as blote vriendskap gevoel het. Drie jaar nadat sy by die firma begin werk het, het sy in haar woonstel ingetrek en die eerste aand reeds was daar ’n klop aan die deur en ’n aantreklike, mooi geboude man het daar gestaan.
“My naam is Pierre Jansen,” het hy gesê en sy hand uitgesteek.
Sy het haarself voorgestel en na hom gestaan en kyk. Wat wou hy hê?
“Gaan jy my nie innooi nie?” het hy gevra. “Ek is jou buurman.”
Sy was verbouereerd. “Dis alles nog baie deurmekaar. Ek het vandag eers ingetrek.”
“Ek is seker jy kan ’n koffiebeker êrens uitgrawe,” het hy gesê. “Of wil jy na my woonstel kom?”
“Nee, nee,” het sy gesê en opsy gestaan dat hy kon binnekom.
“Ja-nee, ek kan sien dit is nog deurmekaar. Maak jy vir ons koffie dan help ek jou om die goed reg te skuif,” was sy reaksie.
“Dis regtig nie nodig nie …” Maar sy het tog gaan koffie maak en terwyl hulle gedrink het, het hy haar uitgevra. Hy wou weet waar sy vandaan kom, waar sy werk, of sy getroud is – dit het haar laat lag en daarna het hulle gou vriende geword. Hy het sy koffie klaar gedrink, gesê hy sou binne ’n paar minute terug wees en ’n oomblik later was hy daar met sy gereedskap. Hy het haar platespeler gekonnekteer, haar skilderye opgehang, die meubels volgens haar instruksies rondgeskuif en binne ’n verbasend kort tyd was die woonkamer leefbaar en mooi toe die lampe eers brand.
“Is jy nou nie bly ek het aangebied om te help nie?” het hy geterg. “Jy kan nou rustig gaan slaap wetende dat alles darem in orde is.”
“Dankie,” het sy gesê. “Jy het regtig hard gewerk. Maar dis nou genoeg, ek kan die res môre doen.”
Hy het opgestaan om die koffiebekers kombuis toe te neem en toe hy die chaos in die kombuis sien, het hy hardop gesug en na haar geroep. “En al die kartondose wat nog nie uitgepak is nie?”
“Dis nie dringend nie,” het sy probeer keer.
“Almiskie. Vele hande maak ligte werk. Ek sal jou gou help. Ek sal uitpak en jy kan wegpak. Dink jy nie dit sal vinnig gaan nie?”
Sy het skuldig gevoel en probeer verduidelik waarom dit nog nie gedoen was nie. “Ek het netnou maar eers by die huis gekom. Ek was baie besig op kantoor en op pad huis toe moes ek kos koop. Dis regtig nie nodig dat jy …”
Maar hy