wat kosbaar is nie.”
Sy het hom belowe dat sy daaroor sou nadink, maar al wat gebeur het, was dat sy Pierre aan ’n lyntjie gehou het. Hy wou trou en sy het gesê sy was nie seker nie. En die gesprek met Neels het haar bedruk, want sy kon week ná week meer sien dat hy gelyk gehad het.
Sy het Pierre begin toets.
“Ag nee,” het sy een aand gesê. “Ek is regtig nie lus vir ’n partytjie nie. Kom ons bly by die huis en luister musiek.”
Hy het na haar gekyk asof sy van haar sinne beroof was. “Nee. Ek is lus vir jolyt. Jy ook, jy wil dit net nie erken nie.” Hy het haar om die middellyf gegryp en haar ’n slag in die rondte gedraai. “Toe, erken dit. Weet ek nie altyd beter nie? Het ek nie van daardie eerste aand af geweet wat jy wil hê nie? ’n Mens moet jou aan die gang hou, anders word jy alte maklik neerslagtig.”
“Dis nie waar nie, Pierre,” het sy geprotesteer. “Jy laat dit klink asof ek ’n bedrukte, morbiede mens is. Ek is net nie vanaand lus vir ’n lawaai nie.”
“Lawaai? En wie sê dit gaan ’n lawaai wees?”
Op die ou end het sy maar saamgegaan om die vrede te bewaar, maar het dit glad nie geniet nie. Dit het al hoe meer gebeur dat sy teësinnig geraak het, en Pierre het dit opgemerk en haar daaroor probeer terg. Soms het hy kwaad geword, maar dan kon hy weer so liefdevol wees dat sy hom vergewe het en dan het alles weer goed gegaan. Tydens so ’n kalm periode het sy ingewillig om verloof te raak en die weke ná hy die groot, blink diamant aan haar vinger gesteek het, was besonder vredevol en sonder konflik. En tog was sy nie haastig om ’n troudatum vas te stel nie. Pierre kon nie verstaan waarom sy wou wag nie en sy kon dit ook nie aan hom verduidelik nie.
Een aand was hulle vir ’n wonder tuis. Sy het gesit en lees en hy was kwansuis besig met kantoorwerk, maar toe sy opkyk, het sy gesien hy sit haar deurborend en aankyk.
“Weet jy,” het hy skielik gesê. “Ek weet nou wat verkeerd is. Jy moet jou hare laat sny.”
Sy het verbaas aan haar hare gevat, wat soos gewoonlik in haar nek vasgebind was. “My hare? Hoekom?”
“Dit laat jou oud lyk so. As jy dit kort laat sny en laat krul in hierdie styl wat nou die mode is, sal jy pragtig lyk.”
“Nee, Pierre. Ek hou van my hare so en ek weet ek sal nie mooi lyk met kort krulhare nie.” Sy het ’n grap daarvan probeer maak. “Ek is eenvoudig nie ’n krullerige soort mens nie. Jy weet dit tog.” In haar hart was sy seergemaak, want sy het altyd gedink haar dik, blink hare is een van haar bates en sy het nooit besef hy hou nie daarvan nie.
Maar hy was skielik vol entoesiasme vir sy nuwe idee en hy het opgestaan en al om haar stoel geloop. “Ja. Ek kan dit sien. Jou hare kort en gekrul – so sag om jou gesig – en dan pak ons jou klere en gooi alles uit en jy gaan koop vir jou nuwe goed om by jou nuwe gesig te pas.”
“Is my klere skielik ook nie goed genoeg nie?” het sy koud gevra.
Hy het afgebuk en haar versoenend op die voorkop gesoen. “Nee, jy trek baie mooi aan,” het hy gevlei. “Dis net … ek dink jy moet ’n bietjie wegbreek van die snyerspakke en die donker kleure.”
“Maar dit pas my,” het sy probeer wal gooi. “Ek is lank en skraal en ek weet uit ondervinding dat eenvoudige, goed gesnyde klere my die beste pas. Die mense op kantoor reken ek is baie deftig,” het sy katterig bygevoeg.
“Té deftig,” het hy gesê. “Ek dink as ons jou deftige klere uitgooi, sal jou persoonlikheid ook minder styf word.”
Sy het opgestaan en hom kwaad aangekyk. “Nou is my persoonlikheid ook nie goed genoeg nie! Miskien moet jy dan liewer ’n ander meisie soek wat meer na jou smaak is.”
Hy het gepaai en mooigepraat en nooit weer daarna verwys nie. Om te wys dat sy ook spyt was oor haar uitbarsting, het sy regtig moeite gedoen om ander soort klere te koop, maar keer op keer het sy na haarself in die spieël gekyk en besef dat dit nie haar styl was nie, dat sy nie tuis voel in die soort klere waarvan hy hou nie. Sy het selfs haar hare korter laat sny en dit in ’n ander styl probeer dra, maar sy het soos ’n vreemdeling gevoel en Neels was verontwaardig toe hy haar sien.
“Hoekom het jy jou pragtige hare gesny?” wou hy weet. “Die nuwe styl pas jou glad nie!”
Sy moes saamstem en het haar hare maar weer laat groei. Sy het ook besef dat sy gelukkig was met haarself en dat Pierre nie was nie.
So het die maande verbygegaan en Pierre het al haastiger geword om te trou. Sy het maar geskerm en verskonings gemaak en net toe sake ’n dooie punt bereik het, is Marie dood en het haar lewe heeltemal verander.
Kristien staan op en sit haar tikmasjien op die eetkamertafel neer. Net voordat sy begin werk aan die verslag, gaan loer sy in die slaapkamer en glimlag toe sy sien hoe rustig klein Neelsie slaap.
Toe sy agter die tikmasjien gaan sit, staar sy net vir ’n oomblik teen die muur vas. Sy het mans nie meer nodig nie. Sy het nou haar les geleer. Mans wil haar nie aanvaar soos sy is nie en sy is nie meer bereid om te verander net om hulle te plesier nie. Pierre het uit haar lewe verdwyn asof hy nooit bestaan het nie en ná haar aanvanklike bittere teleurstelling, het sy dit aanvaar. Sy het gehoor dat hy nou met ’n ander meisie uitgaan en dat hulle blykbaar op troue staan en dit het haar verstommend min geraak. Sy het Neelsie en hy hou haar besig genoeg. Sy sal haar bes doen om haar tante se pos te vul totdat die ou dame weer op die been is en daarna kan sy weer vreedsaam by die huis bly en haar lewe aan die kleinding wy.
Gelukkig lyk meneer Fourie na ’n afsydige man wat niks meer van ’n mens vereis as dat jy jou werk goed doen nie. En sy weet sy kan dit doen. Haar vorige baas was ’n liewe, ouer man wat baie in haar persoonlike lewe belang gestel het. Hy het altyd raad gegee, getroos en uitgevra as dit nodig was, maar daardie dae is verby. Hoe onpersoonliker haar nuwe baas is, hoe beter. Hoe minder hy van haar wil weet, hoe beter.
Sy begin tik en dink nie verder aan die saak nie. Werk en Neelsie – dis al waarin sy nou belang stel.
Hoofstuk 3
Die volgende week verloop baie kalm. Frans is daagliks meer tevrede met sy nuwe sekretaresse. Sy is altyd onberispelik versorg, die donker hare blink en sag om haar gesig, haar hande stil en netjies, haar gesig uitdrukkingloos. Sy giggel en vroetel nie. Sy sit nie met die ander meisies en gesels nie – sy doen bloot haar werk en sy doen dit vinnig en korrek. Meer as dit kan hy nie verwag nie.
Die Donderdag eet hy en Ben weer saam en terwyl hulle sigarette aansteek en wag vir hulle koffie, vra Ben: “Jy kom nog Saterdagaand, nie waar nie? Elsa het gesê ek moet jou net herinner.”
Frans sit agteroor in sy stoel. Hy voel tevrede met die wêreld en sy vriend kan dit sien. “Dankie, ja. Ek het nie vergeet nie.”
“Wil jy nie ’n meisie saambring nie?” vra Ben en sy oë vonkel. “Sy sal baie welkom wees, dit weet jy tog.”
“Nee dankie.” Frans se stem is koel. “Is julle moeg vir my vervelige geselskap?”
“Nee, natuurlik nie. Ek het net gedink as jy ’n vriendin wil saambring, is jy baie welkom. Wat van jou nuwe sekretaresse?”
Frans staar onthuts na hom. “Nee!”
“Goed, goed,” paai Ben. “Dit was net ’n voorstel. Sal ons maar teruggaan?”
Maar toe Frans weer agter sy lessenaar sit, knaag sy vriend se woorde aan hom. Dis seker al ’n jaar sedert hy en Elaine van mekaar afskeid geneem het. Miskien moet hy vir juffrou Nel vra. Net die een keer. Sy lyk nie na die soort meisie wat die verkeerde idees sal kry nie. Sy lyk nugter en saaklik en hy hou daarvan. Elaine se histerie en dramatiese uitbarstings het hom heeltemal sy smaak vir meisies laat verloor.
Toe Kristien dus weer die kantoor binnekom, kyk hy op en glimlag strammerig. “Juffrou Nel,” sê hy en verwonder hom dat hy so verleer het hoe om ’n meisie uit te nooi. “Doen u Saterdagaand iets?”
Sy kyk hom waterpas in die oë. “Nee, meneer.”