Ena Murray

Ena Murray Keur 7


Скачать книгу

res van die pad is dit weer stil. Die effense gemoedelikheid wat pas ná haar onkundige flater ontstaan het, het byna weer net so gou verdwyn. Sy loer tersluiks na haar nuwe baas … of liewer, een van haar nuwe base. Hy is heeltemal ’n ander soort man as dié met wie sy tot dusver te doen gekry het. Byna net mooi die teenoorgestelde van Wouter Malan.

      Wouter is effens skraal, sodat sy byderwetse klere altyd knap aan sy lyf sit. Hy is die stadsmeneer wat altyd deur ’n ring getrek kan word met die woord verfyndheid dwarsoor hom geskryf.

      Die man hier langs haar is weer groot, frisgebou en sterk met dienlike kakieklere aan wat klaar ’n halwe oggend se arbeid verraai. Sy skoenpunte is wit van Duiwelskloof se stof. Sy sterk vingers om die stuurwiel, met die een duimnael blou, die fyn haartjies op die ontblote voorarms tot waar die kakiehemp se moue duidelik vinnig en ongeërg opgerol is, is verbleik van baie son – en daar waar die kraag oopslaan, blink sy sterk nek koperbruin.

      Selfs sy manier van loop is anders. Dis eerder asof hy hom langsaam haas, met ’n bedrieglike lui pas en tog verbasend vinnig. Sy onthou hoe sy langs hom moes drafstap om by te hou toe hy haar op die stasie gekry het.

      Dan, baie vlugtig, gaan haar blik oor sy gesig. Die vel is donker, die ruie wenkbroue loop saam op die neusbrug en vorm een lang lyn wanneer hy frons, soos nou. Die groen oë lyk amper verbleik, asof die felle Karooson ná baie jare die kleur gesteel het. Sy lippe is vol wanneer hy ontspan, maar meestal is hulle streng saamgepers. Die kakebeen staan hoekig uit en vorm ’n sterk, vasberade lyn.

      ’n Man wat weet wat hy wil hê. ’n Man wat sy eie mening oor sake het en nie maklik beweeg sal word om anders te dink nie. ’n Goed beduiwelde man, soos ouma Miemie gewaarsku het. Toe het sy gedink sy is maar net besig om haar te terg of bang te praat, eintlik om haar te toets. Maar nou weet sy dat sy dit werklik bedoel het. ’n Bietjie laat om dit agter te kom, dink sy met beklemming.

      Die prentjie voor haar geestesoog vertel haar dat hierdie man nie enige kaf sal sluk nie, en die gode alleen weet watter kaf hy nog sal moet sluk wanneer sy voor Duiwelskloof se stoof te lande kom!

      Weer borrel ’n half histeriese giggellaggie na bo en hoewel sy net betyds die vreemde geluid op haar lippe keer, trek haar mond agterdogtig. Sy is nie bewus daarvan dat sy ook op haar beurt tersluiks bestudeer word nie en dat hy gou is om die bewing in die mondhoeke raak te sien. Sy kom dit eers agter toe hy droog opmerk:

      “Ek is bly om te sien dat u ’n humorsin het, juffrou.”

      Sy byt haar onderlip vas en draai haar kop vinnig weg. Dis omtrent ál wat ek op hierdie oomblik het, meneer Michael, voel sy lus om hardop te sê, maar laat dan hoor, terwyl sy haar dwing om hom kalm in die oë te kyk: “Die lewe sou maar swaar gewees het sonder ’n humorsin, nie waar nie?”

      Hy knik. “Ja, solank dit net nie verwronge is nie.”

      Hierna waag Marista dit nie om iets te sê of weer by haarself te glimlag nie. Die man kan haar dalk vra wat sy so snaaks vind en sy sal hom nie kan antwoord nie. Of as sy hom móét vertel, sal hy haar bepaald daarvan beskuldig dat sy ’n verwronge sin vir humor het. ’n Man met ’n skreeuhonger maag sal dit beslis nie snaaks vind dat hy ’n kok wat niks van kookwerk af weet na sy plaas aanpiekel nie. By die gedagte aan sy en sy broer se leë mae begin haar eie maag allerhande draaie maak, maar nie van honger nie. Hoe meer sy aan die nabye toekoms dink, hoe minder hou sy van kos.

      Net toe sy begin dink dat die res van die reis in doodse stilte afgelê gaan word, laat Michael hoor: “Ek weet nie of Johan, my broer, u vertel het nie, maar dis net ons twee op die plaas. Johan is verlam. Hy het ’n paar jaar gelede polio opgedoen. Dis grotendeels ter wille van hom dat ons vir ’n huishoudster geadverteer het onderwyl tant Anna in die hospitaal is. Hy is baie alleen. Hy moet geselskap hê, want ek is omtrent heeldag buite aan die gang. Hy het sy persoonlike bediende, Efraim, wat hom met alles help, maar hy moet tog darem iemand hê om mee te gesels. Ek wil nie hê dat hy die hele dag so alleen met sy gedagtes moet wees nie.”

      Sy knik, skielik meer op haar gemak. “Hoe aanvaar u broer sy toestand?” vra sy belangstellend, en hy sug.

      “Baie goed onder die omstandighede. Natuurlik is daar dae dat hy vreeslik gefrustreerd voel, maar dit kan ’n mens begryp. Oor die algemeen is hy egter ’n baie makliker mens om mee oor die weg te kom as ek.”

      Marista se wenkbroue lig effens. Sou dit ’n bedekte waarskuwing wees? Sy besluit om dit liewer te ignoreer.

      “Kon terapeutiese behandeling hom dan nie help nie? Hulle doen vandag sulke wonderwerke.”

      Sy sien nie die tersluiks opsommende blik wat vlugtig na haar kant gewerp word nie. So ’n opmerking hoort nie tuis by ’n blote huishoudster nie. Maar Marista is salig onbewus daarvan. Net die feit dat die professionele woord so gemaklik van haar tong gerol het, laat die man se frons dadelik weer terugkeer.

      “Nee, hulle het alles probeer, maar hy is so ver as wat hy kan vorder. Johan sal die res van sy lewe in ’n rolstoel sit.”

      “Ek is jammer om dit te hoor. Hoe oud is hy?”

      “Vyf-en-twintig, maar in sommige opsigte nog baie jonger as dit. Hy … word maklik beïnvloed, kan maklik ’n gat in die kop gepraat of selfs bedrieg word. Gelukkig is ék daar …”

      Hy swyg meteens, die frons nou hewig op sy gesig, en Marista voel haar hart benoud saamtrek. Weer kry sy die gevoel dat sy woorde ’n dieper betekenis, ’n subtiele waarskuwing inhou. Sy probeer so ongeërg moontlik knik.

      “Ek is jammer om te hoor dat daar geen hoop is dat hy ooit weer sal kan loop nie. Hy het oor die telefoon na ’n gawe jong man geklink.”

      Weer draai sy kop vinnig in haar rigting en die mond trek grimmig.

      “Ja, hy is, en omdat hy so alleen en noodgedwonge ’n lewe van afsondering lei, was ek so uiters versigtig om die mense te keur wat aansoek gedoen het om die betrekking as huishoudster op Duiwelskloof. Johan is my eerste oorweging en dit is noodsaaklik dat die vrou met wie hy daagliks onder een dak te doen sal kry, die … e … regte mens is. ’n Mens kry mense wat iemand soos Johan se gevoelens gewetenloos sal uitbuit en tot eie voordeel sal gebruik.”

      Marista frons. Die wending wat die gesprek skielik geneem het, staan haar glad nie aan nie. Sy kyk nou reguit na die man langs haar en vra fronsend: “Wat presies wil u vir my sê, meneer De Beer?”

      Hy is ’n oomblik stil. Dan antwoord hy ewe reguit: “Dit is miskien goed dat ons mekaar uit die staanspoor goed verstaan oor hierdie saak, juffrou. Wat ek eintlik wil tuisbring, is dat hoewel my broer verlam is, hy ’n volgroeide, normale man is, en ook ’n man wat gefrustreerd is. Ek hoef seker nie verder te verduidelik nie? Ek neem aan u begryp wat ek bedoel?”

      Sy kyk hom aan asof sy haar eie ore nie kan glo nie. Dan skiet ’n donkerrooi blos oor haar gesig en haar oë blits.

      “Ek hoop ek verstaan u woorde verkeerd, meneer De Beer!” laat sy op haar styfste hoor. “Ek begryp nou hoekom u so gesukkel het om ’n huishoudster te kry. Geen vrou wat haar sout werd is, sal ná wat jy so pas geïnsinueer het – of liewer, amper regstreeks beweer het – haar voete op jou plaas sit nie!”

      Sy is so kwaad dat sy hom kan vra om net daar om te draai en haar terug te bring stasie toe. Wat dink die man van haar? Sy is nog nooit in haar lewe so beledig nie! Haar stem klink só ysig en hooghartig dat Michael nog minder kan glo dis ’n huishoudster wat verleë oor werk is. Inteendeel …

      Die groen oë wat haar ’n stonde waterpas betrag, flikker nou.

      “Ek het hierdie dinge nie aan die vorige aansoekers gesê nie, want hulle was almal middeljarige dames, oud genoeg om Johan se ma te kon wees. In jou geval is dit anders. Jy is net so min agt-en-dertig as wat ek agt-en-dertig is. Nie dat jy nie jou bes gedoen het om ons te oortuig nie, dít moet ek toegee. Jy het Johan doelbewus oor die telefoon belieg, nie waar nie? Is jy werklik só verleë oor werk? Of is daar ’n ander rede hoekom jy uit die stad moes padgee?”

      Die vrae skiet soos gifpyle op haar af en sy kan hom eers net verslae sit en aankyk, die skuldgevoel glashelder op haar gesig.