het gekom as huishoudster. My persoonlike lewe is my eie. Ek moet darem sê u is sekerlik die agterdogtigste mens wat ek al teëgekom het. Het u geen vertroue in u medemens nie? Ek kan u gerusstel. Ek het hierheen gekom om vir u en u broer te kom huishou – nie om beledig te word nie, en ook nie om verlamde jong mans te verlei nie! Ek het niks van jou nodig nie …”
“Nie?”
Dié woordjie ruk haar tot swye. Sy is veronderstel om verleë te wees oor die salaris wat sy van hierdie man gaan ontvang. Sy trek haar asem in.
“Nee. Ek sal wel êrens anders werk kry. Huishoudsters is deesdae skaars,” voeg sy trots by.
’n Grimmige trekkie pluk aan sy een mondhoek toe hy haar een hand vinnig optel en haar vingers oopsprei sodat die sagte, wit vel en die roosgelakte, goed versorgde vingernaels ontbloot word.
“Jy het heeltemal gelyk, juffrou – veral huishoudsters met pophandjies.” Hy laat haar lam hand los en met bekommerde oë sien sy dat hulle reeds by ’n hek ingeswaai het en ’n plaasopstal nader. ’n Stonde later bring hy die voertuig tot stilstand en ’n oomblik lank sit hulle albei roerloos. Dan laat hy styf hoor, teësinnig asof hy liewer net die teenoorgestelde sou wou doen:
“Jy is nou eenmaal hier, dus … Ek is in elk geval bly om te hoor dat jy nie kom man soek het op Duiwelskloof nie. Nie ek óf my broer is beskikbaar nie. Solank ons mekaar op daardie punt verstaan, is alles reg. Aangesien dit ook net ’n tydelike aanstelling is totdat tant Anna weer kan oorneem, sal ek jou maar laat bly. Maar by een ding moet ons noodgedwonge bly: jy ís agt-en-dertig.”
’n Sardoniese glimlag skiet oor sy gesig. “Niemand sal dit glo nie, maar niemand kan ook sommer reguit sê ons lieg nie, kan hulle? Dus: Jy is ’n oujongnooi van agt-en-dertig. As iemand iets daaroor te sê het, sê dan maar dat jy jou jare baie goed dra,” gebruik hy onbewustelik tant Miemie se woorde.
Die sarkasme drup uit sy stem en hy gee haar nie kans om te antwoord nie. Die volgende oomblik klim hy uit en hou die deur vir haar oop. “Welkom op Duiwelskloof, juffrou Greyling. Ek hoop jy sal dit kan uithou.”
Sy oë vertel haar dat dit die laaste ding is wat hy werklik hoop, en Marista voel ’n ongekende hardkoppigheid in haar opstoot. Veral toe haar blik op die gestalte in die rolstoel aan die bopunt van die stoeptrap val, is sy meteens bly dat sy haar vinnige antwoord teruggesluk het. Michael de Beer is nie ál mens op Duiwelskloof nie. Sy verlamde broer is ook hier … en toe hulle nader stap, is dit asof iets binne-in haar in opregte meegevoel meegee.
Sy het tot gister ’n baie beskermde lewe gelei. Die eerste keer in haar lewe sal sy in noue kontak kom met ’n verlamde mens, en toe sy in Johan de Beer se gretige oë opkyk, is sy die eerste keer bly dat sy na Duiwelskloof gekom het. Die spontane glimlag op sy lippe laat haar ook warm terugglimlag. Haar hart gaan oop teenoor hom toe sy die gesig bestudeer en so baie van Lettie in hom vind. Toe sy voor hom staan, is daar ’n mengelmoes van verskillende emosies op sy gesig te lees. Ook hy – nes sy ouboet – het dadelik agtergekom dat hier êrens fout moet wees. As agt-en-dertig só lyk …
Vlugtig, bekommerd kyk hy na die man skuins agter die nuwe huishoudster, en dié beantwoord sy blik met opgetrekte wenkbroue en nog met daardie sardoniese glimlag om die een mondhoek.
“Sy is glo regtig agt-en-dertig,” laat hy droog hoor. “Juffrou Greyling – Johan.”
Dis Marista wat die ongemaklike stilte verbreek en vinnig laat hoor: “Hallo, Johan. Dis aangenaam om jou te ontmoet.” As daar ’n effense nadruk op die jou is, laat die ouer man dit verbygaan en die jonger broer gryp haar uitgestrekte hand vas, sy gesig nou stralend.
“Aangenaam! Baie aangenaam, juffrou! Baie welkom op Duiwelskloof!”
Marista ignoreer die man wat nog styf langs haar staan, met die afkeer afgeëts in elke lyn van sy groot liggaam.
“My naam is … Miemie. Noem my gerus so. Ek noem jou reeds Johan.” Sy aarsel. “Behalwe as jou broer natuurlik verkies dat jy my tant Miemie moet noem.”
“Maar dis verspot! Jy lyk nie soos ’n tant Miemie nie …” Hy bloos bloedrooi. “Ekskuus! Ek bedoel maar net … Ek gaan nie heeldag tante voor en tante agter nie. Jy … jy gee mos nie om nie?”
Sy blik gaan vlugtig na sy broer se fronsende gesig. “Michael, ons noem haar sommer Miemie, nè? Ons gaan tog saam in een huis bly …”
Sy broer antwoord kortaf, duidelik ontevrede oor die wending van die gesprek: “Noem haar wat jy wil, solank jy net onthou sy is ’n hele klompie jare ouer as jy.”
Johan knipoog ondeund. “Goed! Dan is dit Miemie!”
“Kom dat ek jou jou kamer gaan wys, juffrou,” klink dit styf langs Marista, met nadruk op die juffrou, sodat sy baie goed moet begryp hy is nie van plan om haar sommer te Miemie nie. Marista knik net. Wel, as hy moeilik wil wees … Hoe minder sy met die oudste De Beer-broer te doen kry, hoe beter. Van Johan het sy sommer met die eerste oogopslag gehou. Hulle twee sal groot maats word. Maar Michael de Beer sal sy maar alleen laat, of liewer aan die bekwame Erika Webb oorlaat, besluit sy grimmig.
Dis ’n ruim kamer waarvan Michael die deur oopstoot. Dis ’n ou huis, maar nog stewig en sterk vir baie geslagte in die toekoms. Hoewel op die oog af netjies, is dit vir die kieskeurige Marista wat gewoond is aan blinkskoon netheid, duidelik dat ’n vrouehand lank laas in die huis doenig was. Maar of háár hand die aangewese een is om dinge hier reg te ruk, betwyfel sy sterk.
“Ek hoop u is tevrede?”
Sy kyk op en sê koel: “Heeltemal, dankie.”
Hul oë ontmoet vlugtig en ’n gespanne stiltetjie volg. Dan draai hy om.
“Dis amper etenstyd. As u klaar is, kan ons maar begin.”
“Ek wil net gou my hande en gesig afspoel.”
Hy stap uit en beduie voordat hy verdwyn: “Die badkamer se deur is aan die einde van die gang.”
Marista maak ’n rukkie later haar verskyning op die stoep, en Michael staan dadelik op.
“Ek sal vir Sabien gaan sê sy moet opskep.”
Sy dwing haar om te sê: “Ek sal gaan.”
Maar hy keer haar met ’n fyn spottende glimlaggie. “Dis nie nodig nie. Ek sal u nog ’n paar uur grasie gee. U kan met aandete oorneem.”
Weer is daar so ’n yskoue gevoel langs haar ruggraat af, maar sy glimlag stram en sê: “Dankie, meneer De Beer. Dis gaaf van u.”
Sy wenkbroue flits ’n oomblik omhoog en sy antwoord is so droog soos die langste droogte in die Karoo: “’n Plesier, juffrou.”
Die ete wat ou Sabien voorsit, is net vleis, stampmielies en aartappels. Nie smaaklik opgedis nie, maar tog eetbaar, hoewel Marista nou die eerste keer in haar lewe kennis maak met stampmielies. Dis ’n gereg wat by die meeste stadsmense onbekend is, maar vir haar tog lekker, veral nadat Johan haar gewys het dat sy vleissous daaroor moet skep. Hy merk op toe die huishulp weer terug in die kombuis is:
“Sy is baie getrou, maar nou al te oud om te werk. Eintlik was sy al die jare my ma se hulp om die huis aan die kant te hou. Sy weet nie veel van kook af nie. Die afgelope weke sedert tant Anna weg is, was dit soggens mieliepap, smiddae wat jy nou hier voor jou sien, en saans frikkadel. Jy sien, haar ou tande is nie meer van die beste nie, en daarom is sy so lief vir frikkadel! Ek en Michael moet maar saam eet!”
Marista eet nie so lekker soos sy gewoond is nie. Lucy is ’n uitstekende kok en sy is gewoond aan goed voorbereide, smaaklike geregte. Sy het nog nie vandag geëet nie, want haar maag was te op ’n knop getrek van vrees vanoggend om op die trein ontbyt te gaan eet. Maar sy voel glad nie honger nie en dit is net die wete dat sy tersluiks van die bopunt van die tafel dopgehou word wat haar dit laat regkry om ’n paar monde vol te sluk. As sy niks eet nie, sal hy wel weer die een of ander fyn sarkastiese opmerking hê.
Aan die einde van die ete dank hy met ’n sterk stem en staan dadelik op.
“Julle