Hy het ook nie op Bakwena, die wildsplaas wat al geslagte in Reghardt se familie is, gaan jag terwyl sy daar gewoon het nie. As sy net kon onthou . . .
“Het ons, um, tevore ontmoet?”
“Ek twyfel.” Sy een mondhoek lig, en hy gee nog ’n tree nader. “Ek ontmoet baie mense, maar ek sou nie ’n mooi girl soos jy vergeet het nie.”
Staan stil, beveel sy haarself. Moenie retireer nie, moenie wys jy’s bang nie. Kies eerder solank ’n ontsnaproete, ingeval.
Sy loer deur toe. Nie ’n opsie nie – verby daardie gespierde lyf sal sy nie sommer kom nie. Sy kan ook nie by die balkon afspring nie, die grond is te ver.
Die vreemdeling se blik volg hare. “En as jy so freaked lyk? Ek byt nie en ek weet dis te koud om in jou bikini te werk. Tensy jy ’n verwarmer het?”
“Ek vra: Wie is jy?”
Die halwe glimlag word ’n hele. Daar is ’n beduidenis van kuiltjies in sy wange, ’n glinstering in sy oë. Hooikoorstrane? Humor? Sadisme?
“Hugo Barnard?” Meer vraag as antwoord, so asof sy hom behoort te ken. Die naam lui ’n klokkie. Waar het sy dit gehoor?
“Kom ek gee jou ’n clue. Die meeste meisies noem my Adonis.”
As-se-blief. Isolde lig haar wenkbroue. “Niks fout met jou selfbeeld nie, is daar?”
Sy oë skreef toe van die lag. “Adonis is my stage name, man.”
Sy klap ’n hand teen haar voorkop. Beige blokkiesmat, sluk haar in. “Adonis” wonder seker onder watter klip sy bly. Die man is ’n musieksensasie; die media het hom die “Griekse god van kletsrym” gedoop en is heeltemal liries oor sy “unieke versnit van rap en country”. Sy bakkies pryk deesdae op al wat voorblad is. Nogal nie ’n slegte een nie, hoewel niemand so ver sou gaan om hom filmster-aantreklik te noem nie. Sy wangbene is skeermeslem-skerp en sy gelaatstrekke ietwat asimmetries. Kraaispoortjies plooi in ooghoeke wat wil-wil boontoe trek. Die meeste vroue vrek seker oor sy waspoeierblou kykers, maar sy wat Isolde is, vind hulle . . . onthutsend.
“Aa . . . aa . . .” Net toe dit lyk of hy die nies gekeer gaan kry, oorrompel dit hom. “Tiesjoe!”
“Gesondheid,” sê sy, effe vriendeliker noudat sy weet Reghardt het hom nie gestuur nie. Sy trek ’n pienk snesie uit die boks op haar tafel en stap na die rak met essensiële olies. Sy bestudeer die ry bruin botteltjies voordat sy een kies, oopdraai en ’n druppel op die snesie tik. “Ruik hieraan, dit sal help.”
“Watse goed is dit?”
“Kamille. ’n Aromaterapeutiese olie.”
Hy knyp die snesie tussen sy duim en voorvinger vas. “Is dit nie een of ander blom nie? Jy sien mos ek’s allergies vir die goed.”
“Ruik, magtag, ek weet wat ek doen.”
“Nie vreeslik simpatiek vir ’n massage . . . ahem, masseerterapeut nie, is jy?” Hy snuif agterdogtig.
“Toemaar, ek het jare laas ’n kliënt aan snotsiekte verloor.” Sy bêre die botteltjie olie op die rak.
“Probeer jý nies met so ’n seer nek. Weet nie hoe ek vanaand ’n show gaan doen nie.”
Ai, die pieperigheid van die manlike spesie darem! Sy wil lag kry, maar doen haar bes om haar gesigsuitdrukking neutraal te hou.
“Sing jy hier op die dorp?” veins sy belangstelling. Sy soort musiek kan die ou mense tog nie meesleur nie? Hel, sy wat Isolde is, skakel die radio af sodra een van sy baby-baby-baby-jou-lyfie-maak-my-crazy-nommertjies begin speel.
“Nee, by Shangri-La Eko-lodge.”
Sy weet van die plek. Dis so vyftig kilometer ver, glo iets besonders. Toe sy hier aangekom het, het sy die eienaar gebel om te hoor of hulle ’n masseerterapeut kan gebruik. “Nie buite seisoen nie,” het hy gesê. “Gee my in Oktober ’n lui as jy nog belangstel, dan gesels ons.”
“So, Isolde Harmse.” Hugo beduie met sy kop na haar diploma teen die muur. “Hoe lyk dit, kan jy my sommer nou inpas? Iets aan hierdie nek van my doen?”
Sy kreun innerlik. Was haar dag nie aaklig genoeg nie? Moet sy nou wraggies gestraf word met hierdie celeb met sy casanova-kompleks? As sy die geld net nie so nodig gehad het nie! Behandel sy hom, kan sy vandag nog ’n buskaartjie koop. Sy het genoeg van hierdie plek gehad; sy gaan nie soos ’n budjie in ’n kou sit en wag tot Reghardt aan haar deur klop nie.
Hy vertolk haar huiwering verkeerd. “As jy vol is, kan ek ná ure kom? Ek sal ekstra betaal, ek’s desperate.”
Sy vuis haar hande, wat nog vir die eerste span bewe, langs haar sye. Sy is nie in ’n besonder helende bui nie. Sal sy kan fokus, honderd persent kan gee? Haarself kan sentreer sodat sy nie haar negatiewe energie oordra nie? Sy kan nie bekostig om ’n hoëprofiel-kliënt se behandeling te bederf nie. Een ontevrede tweet kan haar kwynende praktyk die doodskoot gee. Nee wat, liewer nie die risiko aangaan nie. Vandag is Vrydag, dalk is sy gelukkig en bespreek ’n naweekganger ’n sessie.
“Jammer, ek dink nie dis wys om jou te behandel nie,” sê sy.
“Hoekom nie?” Hy grinnik en boog sy wenkbroue suggestief. “Teen jou beginsels om besigheid en plesier te meng? Jy moes lankal gesê het jy laaik my.”
“In jou drome.” Hy is wragtig nóg voller van homself as wat sy gedink het. “Ek’s nie een van jou groupies nie, Adonis.” Sy spreek die belaglike verhoognaam uit met al die minagting wat dit verdien.
Hy steier agteruit, gryp na sy borskas en trek ’n denkbeeldige mes daaruit.
Voor Isolde kan keer, kaap ’n glimlag haar mondhoeke. “Daar’s fisioterapeute op Knysna. Ek kry gou vir jou hul besigheidskaartjie.”
“Whoa, ek grap net. Ek het nie vanmiddag tyd om so ver te ry nie.”
“Dis jammer.”
“En as ek mooi vra?” Hy sit ekstra oemf in sy skitterwit glimlag. Net voor dit gate in haar retinas brand, nies hy weer. “Eina, bliksem.” Hy knie sy nekspiere met sy vingerpunte.
“Die apteker sal vir jou pynpille en ’n spierverslapper gee.”
“Ek hét pille – hulle werk nie.”
“Gee jou nek dikwels moeilikheid?” vra sy teen haar beterwete.
“Ek was so twee jaar gelede in ’n motorongeluk.” Hy rol sy skouers en laat sak sy kop. Om die een of ander rede vind hy sy rooi seilskoene meteens fassinerend. “Dis beter deesdae, buiten wanneer ek erg tense is. Of ver bestuur het.”
Sy moet net oppas of sy kry hom jammer. Dit lyk regtig of hy seer het – en nie nét in sy nek nie. Diepweefselmassering sal hom die wêreld se goed doen. Nee, nee, néé, keer haar gesonde verstand. Jy is nie reg ingestel nie en jy ken mos ’n gevaarlike man wanneer jy een sien.
Sy hink nog op twee gedagtes toe haar foon op die tafel vibreer. Lamheid vloei in haar bene af. Ontspan, banggat, dit kan nie Reghardt wees nie – jy’t ’n nuwe foon én ’n nuwe nommer.
“Gaan jy nie antwoord nie?” vra Hugo.
“Nee.”
Hy tel die selfoon van die tafelblad op en hou dit na haar uit. “Sê nou dis die blomme-dude?”
“Kan jy seblief nou loop?”
“Nee, maar ek sal buite wag.” Hy druk die foon in haar hand.
“I-sol-de.” Reghardt se stem weergalm deur die kamer. Sy hap na lug. Dêm, hoe het hy haar nommer gekry? Dubbel-dêm, hy is op luidspreker! Hulpvaardige Hugo moes per ongeluk die verkeerde knoppie gedruk het. Simpel raakskerms!
“Wie’s daar by jou, Isolde?”
Hugo vries in die deurkosyn en draai stadig terug.
“Niemand,” prewel sy.