laat sny het.
“Wie? Is? Hy?” Elke lettergreep laat haar ineenkrimp. Sy wil die rooi knoppie druk – sy weet wat kom – maar haar spiere is nutteloos.
Sterk vingers sluit om haar boarm, en sy kyk op in Hugo se vraende oë.
“My eks,” vorm haar lippe die woorde.
“Antwoord my,” eis Reghardt. “Ek wag.”
“Dis ’n k-kliënt, Reghardt.” Nie dat dit enigiets met hom uit te waai het nie.
“Uh-huh.” Superskepties. “Het jy die blomme gekry?”
“Ek wil die goed nie hê nie.” Sy haat dit dat haar stem skaars ’n fluistering is. “Los my net uit, asseblief. Ek sal weer polisie toe gaan, ek sweer. Hulle sal jou opsluit.”
Reghardt snorklag. “Regtig, skat? Van wanneer af is dit onwettig om vir jou vrou blomme te stuur?”
“Ek’s nie meer jou vrou nie.”
“Laat ek met hom praat.” Hugo probeer die selfoon by haar afvat. Sy skud haar kop en staan eenkant toe.
“Gaan jou ‘kliënt’ jou op die masseertafel spyker? Betaal hy ekstra of is dit deel van die pakket?”
As die vloer net dryfsand was waarin sy kon wegsink. Die suurstof het uit die lug gesyfer; haar borskas kramp. Jy’s oukei, troos haar verstand haar lyf. Dis net ’n paniekaanval, dit sal oorgaan.
Vaagweg registreer sy dat Hugo haar vingers losmaak en die foon konfiskeer.
“Yes, asshole.” As die kletsrymer se stem ’n kontinent was, was dit Antarktika. “Is dít hoe jy met ’n dame praat?”
Sy gee sy mou ’n plukkie. Besef hy nie hy maak dit erger nie?
“’n Dame?” Reghardt skater soos ’n hiëna. “Isolde is ’n slet. Wag maar, jy sal nog uitvind.”
Dieselfde ou beledigings. Haar bene wil nie meer staan nie, en sy laat haar rug teen die koel muur afgly. Sy sit haar kop tussen haar knieë.
Die gesuis in haar ore bedaar net betyds om te hoor hoe haar eks voorstel dat Hugo iets anatomies onmoontlik met homself aanvang.
“Doen jý dit maar, loser. Dis al manier waarop jy aksie gaan kry, niemand anders sal met ’n tang aan jou raak nie.”
Sy knyp haar oë toe en wag vir die ontploffing. Maar toe Reghardt weer praat, is hy katvriendelik. Uit dure ondervinding weet sy dis juis wanneer hy op sy gevaarlikste is. “Ek weet nie wie jy is nie, pel, maar ek sal uitvind. Het Isolde jou vertel ek’s ’n PH, ’n professional hunter? Ek het sestien gewere hier op my plaas.”
“Jy weet wat om met jou dreigemente te doen, ‘pel’.” Hugo druk die rooi knoppie met mening. “Raait, ek skakel hierdie ding nou dadelik af.” Hy kom hurk voor Isolde. “Is jy oukei?”
“Ja wat,” jok sy.
“Klink my jy was al by die polisie?”
“Hulle dink ek oorreageer. Hulle kan nie mooi verstaan hoekom ek ’n bohaai oor ruikers en geskenke opskop nie.” Sy strek haar bene uit en druk haar kniekoppe teen mekaar sodat hy nie moet sien hoe hulle klap nie.
“Nonsens, dis harassment. Daar is mos wette daarteen?”
“Wel, hulle kan glo nie veel doen tensy hy my uitdruklik dreig nie. Hulle het hom vriendelik versoek om my uit te los, maar hy het sy dinges daaraan afgevee.”
“Hoe lank gaan dit al aan?”
“Vandat ons geskei is.” Sy trek die rekkie wat haar ineens hoofpyn gee uit haar poniestert en skud haar hare los. “So drie jaar.”
“Hei, kyk vir my.” Hy leun oor en druk haar hare agter haar oor in. Die intieme gebaar laat Isolde verstar. Sy gesig is so naby dat sy ’n spiertjie in sy kakebeen sien spring. “Het hy jou verniel?”
Sy skeur haar oë weg sodat sy nie die simpatie in syne hoef te sien nie. Waddehel het haar sake met hom uit te waai?
“Het hy?”
“Terwyl ons getroud was, het hy my ’n paar keer afgeknou.” Eufemisties gestel. Reghardt het haar hare getrek tot sy gevoel het haar kopvel gaan losskeur van haar skedel. Eenmaal haar polse so ru vasgegryp dat sy vir twee weke moes wintersgoed dra, en dit in die bloedige Bosveldhitte. “Altyd ná hy te veel gedrink het.”
Hugo ryg ’n string kragwoorde uit – die kleurvolle tipe waarvoor rappers berug is. Haar gesig word warm.
“Sorry,” sê hy, “ek moet my mond met seep uitwas, ek weet.”
“Nie ’n probleem nie.” Die gebloos het niks met preutsheid te doen nie, en alles met . . . Wát? Sy sou self graag wou weet. Verleentheid omdat hy haar vernedering aanskou het? Verligting dat sy met iemand kan praat – al is hy ’n vreemdeling? Of brand haar wange omdat sy selfs in hierdie onmoontlike situasie registreer hoe absoluut heerlik hy ruik? Bewus is daarvan dat hy die rosigste, soenbaarste paar lippe het wat sy nog in ’n mansgesig gesien het?
“Hoekom het jy nie geloop nie? Ná die eerste keer, bedoel ek.”
“Jy sal nie verstaan nie.”
“Try my.”
“Dit was nooit ernstig nie, en hy was elke keer so jammer.” Dit klink so holrug gery. “En toe is ek een aand te vriendelik na sy sin met ’n buitelandse gas . . .”
Reghardt het haar op die bed gesit en inwag, geweer op die skoot. Die loop het in die lamplig geglinster, en hy het daaroor gestreel. “Dis die laaste keer dat jy ’n gat van my maak, Isolde. Jy bied nooit weer jou lyf op ’n skinkbord vir ’n ander man aan nie. Ek sal dit nie toelaat nie.”
“En toe?” por Hugo.
“Hy’t my gedreig, en ek’s daar weg.” In die middel van die nag, met die tassie klere wat sy in die spens weggesteek het en die paar duisend rand wat sy bietjie-bietjie van die kruideniersgeld afgeknyp het.
“Ek sal saam met jou polisie toe gaan.” Hy raak aan haar arm. “Jy móét ’n interdik kry.”
Sy laat sak haar kop in haar hande. Miskien sal die polisie na hóm luister? ’n Glanspersoonlikheid – ’n groot, sterk man wat heel duidelik nie vir koue pampoen skrik nie? Maar sê nou hulle vat Reghardt wel dié keer vas? Hoe sal hy reageer?
“Jy’s bang dit stamp hom oor die edge,” lees Hugo haar gedagtes.
“Jip.”
“Het jy ’n plan B?”
Sy sug en trek haar skouers op. “Om so ver moontlik weg te kom en in ’n groot stad te verdwyn.”
“Wat keer jou?”
“Op elke nuwe plek moet ek van voor af kliënte soek. Ek kan nie juis adverteer terwyl ek wegkruip nie enne . . . ek’s soort van platsak.” Sy kan nie weer vir Ma-hulle vir geld vra nie. Hulle het dit nie breed nie en hulle betaal nou nog af aan haar kollegegeld.
Hy gaan sit plat en stut sy rug teen die tafelpoot. “Dalk kan ons mekaar help.”
“Nee, ek sleep jou nie verder by hierdie gemors in nie.”
“Ek het myself ingesleep toe ek my bek gerek het.”
“Dit was dalk nie die slimste skuif nie.” Gmf, sy is ’n mooi een om te praat. Hy moet dink dat net ’n imbesiel met so ’n boelie sou getrou het. Maar Reghardt was voor hul troue anders. Bedagsaam. Romanties. Sjarmant.
As sy terugkyk, was hy toe al besitlik, maar pleks van rooi ligte het sy mos hartjies gesien.
Hugo strek sy bene voor hom uit. Hy tik haar voet met ’n seilskoen, wag tot sy oogkontak maak. “Kom saam’ my. Ek het vir ’n verandering alleen gery, sonder die res van my span. Na vanaand se show gaan ek ’n paar dae by my strandhuis chill, dan moet ek so oor ’n week in Kaapstad wees.”