ons paadjies net hier skei, ek’s klaar met beheervrate.”
“Whoa.” Hy hou albei hande omhoog. “Dis nie hoe ek dit bedoel het nie. Dis koud en nat – ek dag jy sal gemakliker in die kar wees.”
Ten minste klink hy spyt. Haar skouers ontspan effens. “Ek’s oud genoeg om te besluit waar ek gemaklik is en stap liewer saam.” Haar blik glip vanself na die truspieëltjie.
“Ah, I get it.” Hugo vou haar vingers om die motorsleutels toe. “Jy hoef rêrig nie bang te wees nie. Jy kan sluit, en ek sal ’n oog van die koffiewinkel af hou. Belowe.”
Moet sy nie maar saamstap nie? Omdat sy alleen onrustig is, maar ook omdat sy hom duidelik wil laat verstaan sy laat haar nie hiet en gebied nie. Nie méér nie . . .
Dis asof die heelal self haar tart. Die eerste druppels motreën sif neer vanuit die grou lug en druppeltjies blink op Hugo se pet. Wil sy net argumentshalwe nat word?
“Oukei, ek sal bly.”
“Cool.”
Hy het kwalik die deur toegemaak voor sy dit met die afstandbeheerder sluit. Sy wens daar was ’n knoppie waarmee sy die selfvoldane grinnik van sy gesig kon afvee. Arms gevou, kyk sy hoe hy wegdraf. Die man het ’n netjiese sitvlak, selfs sy losserige jeans kan dit nie wegsteek nie.
Op die plein steek hy vas en draai halflyf om. Sy ego is natuurlik nog nie heeltemal groot genoeg nie, hy moes sien hoe sy hom sit en agterna staar.
Hy lig sy duime vraend.
Ja, toemaar, als reg, waai sy terug.
Sy onthou eers weer om paranoïes om haar rond te kyk toe hy in die koffiewinkel verdwyn. Sy kan nie mooi sien nie: die reën is lastig en die ruite deels toegewasem. Die krieweling in haar nek is terug, net daar onder haar haarlyn waar sy Reghardt se oë altyd voel. Sy strengel haar vingers ineen op haar skoot. Die motorsleutel byt in haar handpalm in.
Stop dit.
Nietemin sak sy laer teen die leersitplek af. Waar bly Hugo? Hoe lank duur dit om koffie te koop? Hy flirt seker eers met die barista.
Dwah-dwah-dwah. ’n Reëndowwe gesig loer by die oorkantste venster in. Sy gil gesmoord, skiet ampertjies deur die Jeep se dak. Vir ’n paar tellings is sy katatonies, dan tree haar breinselle in. Dis Hugo! Hy reën nat omdat jy sy sleutels soos ’n waspop sit en vasklou.
Sy maak haastig oop en mompel ’n verskoning terwyl hy agter die stuur inskuif.
Hy boog sy wenkbroue en hou ’n kartonbekertjie na haar uit. “Gooi genoeg suiker in, jy lyk of jy ’n spook gesien het.”
“Ek drink nie sui-”
“Vandag drink jy.” Hy prop twee pakkies in haar hand. Sy vingers vee terloops oor haar palm, en skokgolfies rimpel al die pad tot in haar skouer.
Ag nee, rêrig? Een oomblik is sy histeries, die volgende het sy die hots vir ’n kletsrymer wat vir seker nie haar tipe is nie?
En wat ís jou tipe? Die held in ’n chick-fliek of ’n liefdesverhaal?
Almiskie. Van wanneer af is versigtigheid ’n sonde? Fiktiewe mans is veilig – hulle mors nooit in jou kombuis of met jou gevoelens nie.
Uh-huh, en jy hoef ook nie hul nekke te behandel nie. ’n Bakvissie-crush, selfs ’n laegraadse enetjie – kan dinge ongemaklik maak.
Nonsens, sy is professioneel genoeg om niks te laat blyk nie. Buitendien sal sy nie alleen wees nie: Volgens al wat ’n tydskrif is, behoort die helfte van die Afrikaanse vroulike bevolking reeds aan Adonis se bewonderaarsklub. ’n Paar vlinders in haar maag is nie die einde van die wêreld nie – dit sal haar help om haar rol in hul skynverhouding meer oortuigend te vertolk.
Sy kan voel dat hy haar dophou, maar konsentreer kastig op haar koffie. Sorgvuldig skeur sy die pakkie bruinsuiker oop en roer dit in. Sy vou haar hande om die kartonbekertjie en proe. “Hm, dankie.”
“Plesier.” Hy sluk syne onmoontlik vinnig weg en draai die sleutel in die aansitter.
“As my ma hier was, het sy gevra hoe jy ’n sanger geword het met so ’n blikkeel.”
“Ek wil by die lodge kom,” verduidelik hy. “Die pad is nat, en ek het oor die radio in die koffieplek gehoor dis erg mistig vorentoe.”
Die radio-omroeper het nie gejok nie – hulle is kwalik om die eerste draai toe die wit hulle insluk. Hugo verstel die kopligte en krom sy skouers oor die stuur.
Geen wonder sy nek is seer nie, dink Isolde, dis waar sy lyf spanning bêre.
Die kilometers kruip in stilte verby. Sy blik bly vasgenael op die teerpad, terwyl Isolde die onbekende omgewing bestudeer. Hier en daar lig die missluier sodat sy ’n glimp van die inheemse bos kry. Die viertrek klim moedig teen heuwels uit, kruie dan weer by afdraandes af.
Haar ore slaan toe en sy gaap om hulle oop te kry.
“Jammer jy vind my geselskap so vervelig,” sê hy droog. “Sit vir ons musiek op, toe. Kyk in daardie gleuf aan die binnekant van jou deur.”
Die swart sakkie wat sy raakvat, staan boepens van die CD’s. Sy rits dit oop. “Wat wil jy hoor?”
“Kies iets waarvan jy hou.”
Iets waarvan sy hou? Makliker gesê as gedaan. Sy blaai deur die opsies. Afrikaanse sokkietreffers? Pitbull? Eminem? Nee, nee, en nogmaals néé.
“Waar’s jóú nuwe CD?” vra sy. Dit moet ’n verbetering wees op die res van sy versameling.
“Ha-ha-ha.” G’n beduidenis van humor in sy stem nie.
Wat is dit veronderstel om te beteken? Sy kan sweer hy het gesê dis op die rakke.
“Een van jou voriges, dan?” Vir haar sal dit in ieder geval splinternuut wees. Gits, haar onkunde oor sy musiek kan ’n verleentheid raak. Netnou vra mense haar daaroor uit – sy ís veronderstel om sy meisie te wees.
“Ek luister nie na my eie CD’s nie.”
“Hoekom nie?”
“Want dis werk, dis hoekom.” Hy gluur na die vragmotor voor hulle. Sy kan sien hy jeuk om dit verby te steek, maar wil die risiko nie neem terwyl die sig so swak is nie. “En . . . ” Hy frons vir die truspieëltjie. “Ek hoor net als wat beter kon gewees het.”
Iewers het sy gelees dat hy ’n perfeksionis is. ’n Werkverslaafde ook, as sy reg onthou.
“Sing dan maar vir my,” skerts sy.
“Vergeet daarvan. Ek sing by rehearsals en shows en opnames, nêrens anders nie.”
“Nie eens in die stort nie?” Haar terglus droog summier op toe Reghardt se woorde deur haar kop flits: “Jou plek in die bed is leeg en jou vals stemmetjie in die stort stil.” ’n Vlaag naarheid spoel oor haar. Nie nou daaraan dink nie – dink eerder aan . . .
“Nie eens in die stort nie.”
Aan hóm in die stort? Voor sy kan keer, galop haar verbeelding weer onder haar verstand uit. Sy steel ’n kykie na sy hande op die stuurwiel, sy welgeskape voorarms waaroor goue haartjies gesprinkel is. Senings span soos staalkoorde onder sy bruingebrande vel. Sou die res van sy bolyf so ’n fees vir die oog wees? Jip, ongetwyfeld. Sy sou wat gee om te sien hoe waterstraaltjies by sy borskas afstroom, hoe . . .
“Kry jy warm?” vra hy. “Dit ís bedompig in die kar, ek kan die temperatuur afstel?”
Wat? O hel, sy sit haar wragtag en koel waai met die CD-sakkie! “Nee, ek . . .” Sy druk die eerste die beste CD in die speler. Sy musieksmaak is dalk kwalik ’n trappie bo geraasbesoedeling, maar minstens sal dit die onderwerp verander.
Die liedjie verras haar. Die instrumentale inleiding vloei soos heuning en die manstem wat begin sing, is sag op die oor. Die lirieke is storiegedrewe, aangrypend.
Lyk nie of Hugo saamstem nie: Sy