Amelia Strydom

Middernagmusiek


Скачать книгу

so ek het nie details nie. Moenie stres as daar net een bed is nie, ek sal die bank vat of iets.”

      Sy lig haar ken. “Ek kan op die masseertafel ook slaap.” Die ding is hel-uit hard, maar dit hoef hy nie te weet nie. Sy is eerder môre pimpel en pers gekneus soos die ertjieprinses voordat sy hom uit die kooi jaag waarvoor hy betaal het.

      Hugo was verniet bekommerd, sien Isolde toe hulle by die kothuis instap. Sy bestuurder het Shangri-La se grootste, luuksste eenheid bespreek en nie een van hulle gaan ongemaklik slaap nie. Blykbaar was die sogenaamde Zen Barn in ’n vorige lewe werklik ’n skuur. Die eienaars het dit kunstig omskep in ’n ruim oopplanwoonarea met slaapkamers met en suite-badkamers aan weerskante. Die dekor is minimalisties, maar skep ’n gesellige indruk. Groot vensters en glasdeure sal op ’n sonskyndag genoeg lig inlaat en ’n lieflike uitsig op die omliggende inheemse bos bied. As dit haar plek was, sou sy gordyne of blindings opgehang het, maar sy is bereid om te aanvaar sy is ietwat neuroties.

      “Kies vir jou ’n kamer,” nooi Hugo. “Ek’s nie gepla waar ek slaap nie.”

      “Dankie.” Sy loop ’n draai deur die kothuis en loer by albei slaapkamers in. Terug in die kombuis is hy besig om koffiepoeier in bekers te skep.

      Daar is nie kroegstoeltjies nie, dus wip sy op die toonbank. “Ek sal die kleiner kamer neem, dankie.”

      “Seker? Mens kan skaars jou gat daarin draai.”

      “Doodseker.” Dis juis die slaapkamer se knusheid wat haar aantrek. Die sleebed met die rooi lappieskombers is laag teen die grond; die klerekas te kort om wegkruipplek te bied.

      Sy wen haar poniestert om haar vinger. Eendag sal haar lewe weer normaal wees, sal sy ’n kamer bloot kan kies omdat dit mooi is. Sy móét dit glo, anders kan sy netsowel ophou vlug.

      Hugo plak ’n koffiebeker langs haar neer en maak die yskassie oop. “Kitskoffie en boksmelk. Just great.”

      Die muurhorlosie se getik trek haar aandag. “Hoe laat begin vanaand se affêre?”

      “Ons moet sewe-uur daar wees en my show is nege-uur.”

      “Ons sal moet wikkel. Ek het ’n vorm op die koffietafel neergesit, vul dit seblief vir my in.” ’n Deeglike mediese geskiedenis is belangrik, veral omdat hy relatief onlangs in ’n motorongeluk was. “Sal ek die masseertafel in jou slaapkamer opslaan?”

      Sy kykers beduie oor die rand van sy beker na die woonarea. Teen die rooi keramiek lyk sy oë selfs blouer. “Is hier nie meer plek nie?”

      “Ja, maar dis so oop – sal jy kan ontspan? Ek bedoel, enigiemand kan van buite af in sien.” Die idee gee haar die hiebie-jiebies, en sy is nie die een wat die meeste van haar klere moet afstroop nie.

      “Ons is ver van die ander mense af, man.” Sy een mondhoek lig spottend. “Tensy jy bang is iemand sien jou in jou bikini?”

      Ug, sy moes nooit enigiets oor die verdomde bikini kwytgeraak het nie. “Dan doen ons die behandeling hier,” sê sy koel. “Jy kan eers stort – die warm water sal jou spiere losmaak. Trek sommer PT shorts of boxers aan.” Sy gly van die toonbank af. “Roep wanneer jy reg is, ek gaan in my kamer koffie drink.”

      Nie sleg nie, besluit Isolde toe sy terugstaan en haar handewerk beskou. Dis nogal ’n helende ruimte. Sy het die masseertafel in die hoek van die woonarea opgeslaan, met genoeg beweegruimte rondom. Die gebrek aan privaatheid hinder haar nog, maar hierdie eendeweer behoort die ander gaste in hul kamers te hou.

      Sy gaan deur die lysie in haar kop. Handdoeke? Tiek. Olie? Tiek. Rustige musiek? Tiek. Die vanillagegeurde kerse laat die kamer heerlik ruik en skep ’n ontspanne atmosfeer.

      Nou kan sy haar fokus binnetoe keer. Sy gaan sit kruisbeen op die bed in haar kamer, sluit haar oë, en reguleer haar asemhaling.

      Tydsaam, kalm: vier tellings in, ses tellings uit.

      Sy voel verbasend gegrond toe Hugo die klokkie lui wat sy altyd langs die masseertafel neersit. Met ’n laaste diep asemteug sluit sy by hom aan.

      “Kom, maak jou gemaklik,” nooi sy.

      Hy vee sy hande aan sy boxers af. “Jy weet ek het nog nooit ’n massage gehad nie, nè? Ek weet nie eintlik wat om te verwag nie.”

      “Al wat jy hoef te doen, is ontspan.” Sy tik op die kraakwit laken wat oor die opslaanbed getrek is. “Lê eers op jou maag, seblief.”

      Na ’n oomblik se aarseling gehoorsaam hy.

      “So ja.” Isolde gooi ’n handdoek oor sy bene. “Praat as jy koud kry. Is dit reg as ek vandag nie intensief aan jou nek werk nie? Kom ons kry eers al jou spiere losser, dan besluit ons oor hoe verder.”

      “Jy’s die ekspert.”

      “Reg, neem ’n paar sekondes om rustig te raak. Konsentreer bewustelik op jou liggaam.”

      Sy sit een hand op sy nek, die ander op sy lae rug, by die basis van sy werwelkolom. Toe haar palms sy vel raak, vloei ’n trilling deur sy lyf, so vlietend dat sy wonder of sy haar verbeel het. “Jy’s nie grieperig nie, nè?” Hy voel buitengewoon warm, byna koorsig.

      “Nee.”

      “Goed.” Sy hou die kontak ’n paar tellings, doen haar bes om soos gewoonlik te visualiseer hoe positiewe energie deur haar hande stroom. Massering is ’n holistiese terapie. Dis nie net die tegnieke wat helend is nie – dis ook die terapeut se teenwoordigheid, haar innerlike vrede.

      Vandag het sy egter al haar dae om te konsentreer. Help nie sy bedrieg haarself nie – haar voorraad vrede is boomskraap en dis nie nét die ruiker se skuld nie. Hugo Barnard versteur haar ekwilibrium. Hoekom? Daar was tog al vantevore hunks op haar masseertafel sonder dat sy fisiek aangetrokke tot een van hulle gevoel het.

      Is dit omdat hierdie nie ’n heeltemal professionele situasie is nie? Omdat die grense vaag is? Sukkel sy om hom as ’n kliënt te beskou omdat hy haar vanmiddag teen Reghardt verdedig het? Omdat sy ingestem het om sy kammakastige meisie te wees?

      Vertel jouself maar daardie storie, spot haar gewete. Druk jou kop in die sand en maak of dit niks met lust at first sight te doen het nie. Om te dink jy het jou oë gerol vir al die vroue wat vrek oor Adonis! So val die helde, nè.

      Oukei, oukei, op heter daad betrap. Haar blik streel skuldig oor sy agtermekaar proporsies, die spiere wat getuig van ’n strawwe oefenprogram. Só ’n liggaam behoort met ’n waarskuwing te kom. Caution: Hot! soos op die kartonbekertjies waaruit hulle vroeër wegneemkoffie gedrink het. Dit sou ’n meer gepaste tatoeëermerk gewees het as die kompas wat op sy skouer pryk. Ha, sy kon geraai het die musieknote op sy voorarm is nie die enigste permanente ink op sy lyf nie.

      Haal asem, herinner sy haar longe. Sy neem ’n diep teug suurstof en besef haar fout. Sy vars-uit-die-stort-reuk hang bedwelmend in die lug. Kan mens in manlike feromone versmoor? Haar kop draai en sy leun vooroor om haar ewewig te behou. Haar palms sink dieper in sy ferm rugspiere.

      Verdomp, Isolde! Gaan jy die een of ander tyd vanjaar hierdie behandeling doen, of gaan jy hier staan tot die kwyl op sy rug begin drup? Jy’s ’n masseerterapeut, magtag, nie ’n talent scout vir manlike onderkleremodelle nie.

      Vasberade draai sy weg. Sy gooi masseerolie in haar palm en vryf dit tussen haar hande warm.

      “Hm,” sug hy. “Dit ruik amazing.”

      “Bly om te hoor.” Haar antwoord klink kortaf, en sy versag dit gou: “Ek het dit spesiaal gemeng. Dis belangrik dat die kliënt van die reuk hou – dit verhoog die terapeutiese effek.” Met reëlmatige hale versprei sy dit oor sy rug.

      “Wat’s daarin?” Sy stem is so lomerig dat sy kan sweer die aromaterapie het reeds begin werk.

      “Druiwepitolie met ’n paar druppels, laat ek sien . . . laventel, roosmaryn, patchouli en sandelhout.” Sy beweeg na die koppenent van die masseertafel en plaas haar hande op sy skouerblaaie. “Dis goed vir spierspasmas, pyn, inflammasie, stres . . .” En emosionele trauma.