jy kan hope ander mans kry. Bruce weet dit. Daarom hou hy jou aan ’n lyntjie. Hy sal nie graag so ’n groot prys met ’n ander man wil deel nie. Dalk trou hy ook nog met jou, net om ’n mooi en ’n slim vrou te hê, maar hy sal nooit net jou man wees nie – nie daardie bedorwe vent nie.”
Miskien nie, dink Ilse, en sy voel die hoop in haar opvlam. As ryk Bruce Reyneke se vrou sal sy vir haar mense kan sorg. Laat Bruce wees wat hy wil, maar hy is ’n goedhartige mens. Hy sal sorg dat Pieter en Susan hul geleerdheid kry en dat haar ma eindelik kan rus. En sy sal al die armoede, die swaarkry van baie jare, die skaamwees en gekrenkte trots vir altyd kan vergeet.
“Moenie jou vererg vir ’n ou vrou nie, Ilsetjie,” praat tant Truia weer. “Ek wil jou nie te na kom nie, maar dis net dat ek bang is jy mors jou lewe op ’n slegte man. Daar is mos baie ander jongetjies – soos daardie mediese student wat so dikwels kom kuier het. Jy kan sommer sien hy’s ’n fyn seun.”
“O, Albert is ’n gawe ou, tante, maar ’n mens luister seker maar altyd na jou hart. Albert is dierbaar, my ander vriende ook, maar dis van Bruce wat ek die meeste hou,” sê Ilse skouerophalend en staan op.
“Hou, of liefhet, Ilse?” vra die vrou reguit.
Ilse lag ongemaklik. “As jy baie van iemand hou, is dit seker maar dieselfde as liefhê, tante,” antwoord sy en stap na die deur. “Dankie vir die ete. Dit was lekker soos altyd, tante.”
“Dis ’n plesier, my kind,” sê tant Truia en klik haar tong meewarig toe sy opstaan om die vuil skottelgoed te verwyder.
In haar kamer gooi Ilse, nadat sy tien minute lank vergeefs probeer studeer het, haar geskiedenishandboek met ’n ongeduldige sug op die tafel neer en stap by die oop kamerdeur uit. Haar oë soek rusteloos deur die tuin. Toe stap sy oor die grasperk na die peperboom, rus op die wit pilaartjies langs die trap voor die kamerdeur en probeer hulpeloos rigting aan haar warrelende gedagtes gee.
Dis alles tant Truia se skuld, dink sy onvergenoegd. Maar waarom moet sy haar aan tant Truia se praatjies steur – behalwe as sy dalk die waarheid gepraat het? Sy kriewel ongemaklik toe sy aan dié moontlikheid dink en probeer die kwelgedagtes van haar afskud. Wat weet tant Truia tog? Sy ken Bruce skaars, behalwe wat sy van die nydige Tanya gehoor het. Arme Tanya wat al twee jaar lank probeer om Bruce te kry – die flerrie! Miskien is Bruce ’n bedorwe rykmanseun, miskien is hy ’n leeglêer, maar hy kan dit immers bekostig en boonop kan dit haar nie skeel nie … Sy skrik vir haar eie gedagtes en besef ineens: Wat Bruce ook al doen, kan haar nooit werklik raak nie, want sy het hom nie lief nie. Daarom kan hy haar ook nie seermaak as hy met ander meisies uitgaan nie, want sy gee nie vir hom om nie. Dis net sy baie geld, die moontlikheid dat hy haar mense kan help … Maar dis verkeerd, so hopeloos verkeerd!
Skuldig spring sy op en begin rusteloos heen en weer stap en daar is ’n diep frons tussen haar wenkbroue. Sy besef dat geen eerlike meisie met ’n man sal trou bloot ter wille van sy geld nie – maar as sy dit sou doen ter wille van haar eie mense? As sy met Bruce sou trou om haar ma se las te verlig? Dis tog ’n onselfsugtige daad, want sy sal nie ter wille van haar eie gierigheid met Bruce trou nie. Sy sal nie eens aan haar eie geluk dink nie. Kan dit so verkeerd wees? Is liefde werklik so ’n belangrike faktor? Is liefde nie maar net …?
“Met watter bose gees spartel jy nou weer, Ilse?” vra ’n laggende stem langs haar.
Ilse ruk om en kyk vas in die vriendelike gesig van haar kamermaat, Sonja Odendaal. Sonja is ’n lang, skraal meisie met rooibruin hare wat byna uitbundig om haar skraal gesiggie krul. Haar groenbruin oë weerkaats die maklike glimlag wat om haar wye mond lê. Die enkele sproete wat op haar wipneusie uitgestrooi is en die kuiltjie in haar vierkantige ken, gee ’n byna seunsagtige uitdrukking aan haar gesig.
“Haai,” lag Ilse. “Ek het seker soos ’n bekommerde ma van twaalf gelyk, maar ek hét nogal diep gedink.”
“Kan ek help?” vra Sonja terwyl sy hulle kamer binnestap om haar pakkies neer te sit. “Hemel, hoekom is my pa so suinig? Ek het die mooiste rok gesien, maar die geldjies … Ek kon nouliks my toiletbenodigdhede bekostig.”
“Kyk wie kla,” spot Ilse half ernstig.
Sonja hoor die tikkie verwyt in Ilse se stem en kyk skuldig op. “Ek het seker nie rede om te kla nie,” lag sy verleë en druk Ilse se skouers impulsief. “Toe maar, Ilse, dis nog net twee maande. Volgende jaar verdien ons ons eie geld, en dan kan ons koop wat ons wil. Ek kan al sien hoe ek my eerste salaristjek in ’n klerewinkel uitmors!”
“Daar sal nog nie vir my geld wees om te mors nie,” sê Ilse sag en neem afgetrokke op haar bed plaas.
“Maar …? Jy het tog ’n beurs gekry, nie waar nie? Jy het nie studieskuld nie. Wat gaan jy met al jou geld maak?” vra die rooikopmeisie verwonderd.
“Jy het saam met my grootgeword, so jy behoort te weet, Sonja. Jou pa is ’n dokter … Dis nie nodig vir jou om hom te help om jou jonger broers te laat studeer nie.”
Sonja byt op haar onderlip en knik begrypend. “Ek het vergeet … Maar sal dit nie nou makliker vir jou ma wees nie, Ilse? Dis tog net Pieter en Susan, en Pieter sal seker ook ’n beurs kry om verder te studeer.”
“Mamma se gesondheid is lankal nie meer goed nie,” antwoord die blonde meisie met haar oë op die venster. “Ek voel verplig om haar te help sodat sy nie so hard hoef te werk nie. As sy net die huishouding moes waarneem, sou sy dit nog kon behartig, maar dis die hele boerdery, en dan nog Pappa om te versorg. Ek weet oom Leon-hulle sal haar graag meer wil help, maar Mamma het nog haar trots en dis nie maklik vir haar om maar altyd te ontvang sonder om ooit iets terug te gee nie. Dis daarom dat ek enigiets sal doen om met ’n ryk man te trou!” Sy kyk vinnig en uitdagend na haar vriendin, reg om haarself te verdedig.
“Ek … verstaan,” kom dit met ’n ligte frons van Sonja. “Is dít waarom jy met Bruce Reyneke uitgaan? Ek weet sy pa is skrikwekkend ryk, maar hy is nie eintlik ons soort nie.”
“Hoe bedoel jy? Nie ons soort nie?” vra Ilse verras.
“Goeiste, moenie jou dom hou nie, Ilse,” sê Sonja ongeduldig. “Bruce is die amptelike grap van die universiteit – agt jaar, en hy het nog nooit ’n graad behaal nie. Blink motors, partytjies, meisies … dis waarvoor Bruce op universiteit is. Maar ons het gekom om ’n graad te behaal, ons en mense soos Henk. Kan jy vir Bruce en Henk oor dieselfde kam skeer?”
“Nee, natuurlik nie, maar Bruce het geld en … Wel, hy is net anders. Bruce is van kleins af gewoond om te kry wat hy wil hê. Hy het heeltemal te veel geld, daarom het hy nie werklik ’n graad nodig nie,” verdedig Ilse halfhartig.
“Wat laat jou dink dat Henk nie aan baie geld gewoond is nie?”
“Ek weet nie,” sê Ilse verward, “maar as hy net so baie geld soos Bruce gehad het, sou hy nie met ’n klein motortjie gery het nie. Hy trek netjies aan, maar Bruce het hope klere en … Bruce het net meer geld, dis al,” eindig sy onseker.
“Jy bedoel Bruce het net sy geld om mee te spog, maar Henk het nie nodig om met sy pa se geld te spog nie,” kom dit met ’n begrypende glimlag van Sonja. “Kobus se een vriend, Tommie Lategan, was saam met Henk op skool. Hy sê Henk se pa is een van die rykste boere in die Noorde – miskien net so ryk soos Bruce se pa. Die verskil is net dat Bruce ’n ryk seuntjie is, terwyl Henk ’n volwasse man is wat op homself staatmaak om êrens te kom.”
“Dis miskien waar,” gee Ilse toe, “maar waarom gaan Henk dan ’n plaasbestuurder word? As sy pa so ryk is, kan hy seker bekostig om vir hom ’n eie plaas te koop.”
“Ek weet nie,” antwoord Sonja fronsend. “Tommie het iets gesê oor moeilikheid tussen Henk en sy pa. Sy pa wou hom glo nie universiteit toe gestuur het nie, want hy het Henk nodig gehad op sy plaas. Maar Henk wou verder studeer, en hy het ook, moontlik met beurse. Snaaks, Henk praat nooit oor homself of sy mense nie.”
“Nee,” beaam Ilse en vra huiwerig: “Is dit werklik so verkeerd om met ’n man ter wille van sy geld te trou, Sonja? Ek bedoel, as jy wel van die man hou, maar hom nie liefhet nie