Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 12


Скачать книгу

Sien jy regtig kans om met so ’n nikswerd soos Bruce te trou, net met die hoop dat jy jou ma-hulle sal kan help?”

      “As jy armoede so haat soos ek …” begin die blonde meisie driftig. Dan swyg sy onseker. “Ek weet nie, Sonja. Ek weet nie! Maar, nou ja, Bruce het my nog nie gevra nie, en ek het geen rede om te glo hy sal my vra om te trou nie. Waarom moet ek my daaroor bekommer?”

      “Omdat jy bang is jy sal ja sê ter wille van sy geld as hy jou wel sou vra. Maar jy sal nie, Ilse. Ek ken jou te goed,” sê Sonja gerusstellend.

      “Nee, seker nie,” antwoord Ilse onseker en tuur weer deur die venster na die tuin. Maar in haar knaag die wete: sy sal instem om met hom te trou, want as sy dan ter wille van geld móét trou, sal sy verkies om met die rykste man te trou. Daar was wel ander, soos Albert en Gert, wat ook van trou gepraat het, maar sy het hulle net so min lief as wat sy vir Bruce liefhet. As sy miskien verlief kan raak, as sy ter wille van liefde met ’n man kan trou … Maar tot dusver het sy nog nooit iemand werklik liefgehad nie.

      Skielik sien sy Henk se stil, sterk gesig voor haar en frons ergerlik. Waarom moet sy juis nou aan hóm dink? O, sy hou baie van Henk en sy bewonder hom, maar liefde? Nee, sy en Henk is beslis nie vir mekaar bedoel nie.

      2

      Laatmiddag sit die twee meisies op die wit pilaartjies langs die trap voor hul kamerdeur en proe-proe aan hul bekers warm koffie.

      “Elsa het vandag in die Afrikaanse klas gesê sy het die eerste jakarandabloeisels gesien,” sê Ilse en vryf met die rugkant van haar hand oor haar moeë oë.

      Sonja ril en ruk haar skouers onder die geruite bloesie wat los oor haar verbleikte denim hang. “Net Elsa sal so iets so vroeg in September opmerk – haar skerp neus en verkrimpte gesiggie laat my altyd aan ’n ou tannie dink wat vir die blote genot begrafnisse bywoon!”

      “Jou beskrywings darem!” lag Ilse hulpeloos. “Arme ou Elsa herinner ’n mens nogal aan ’n begrafnisondernemer – met al haar doemprofesieë oor die eksamen. Maar ek bewonder haar eintlik, want sy leer deksels hard en dan vaar sy nie naastenby so goed soos ons nie. Maar sy sal ’n goeie onderwyseres wees, want sy sal weet hoe om die dom kinders te leer.”

      “ ’n Toegewyde onderwyseres,” grinnik Sonja, “en ’n toekomstige oujongnooi. Nie vir my nie, dankie! Dank jou die duiwel vir ou Kobus. Hy neem my darem nie kwalik omdat ek my pa se hoekige boustyl geërf het nie.” Sy loer na haar kaal voete en lang bene wat tot onder haar ken opgetrek is, en kyk dan skuins na Ilse. “Hoekom kon ek nie so fyn en klein soos jy gewees het nie? Mans beskerm mos altyd sulke klein meisietjies soos jy, maar ons groot en benerige klomp moet maar alleen aansukkel.”

      “Henk sê altyd dis ’n meisie se persoonlikheid wat saak maak, en hy dink jy het ’n sprankelende geaardheid,” terg Ilse, sien die warm blos oor haar vriendin se gesig kruip en gaan voort: “Hy dink boonop jy het pragtige oë. Ek dink ek moet vir Kobus waarsku, anders loop Henk nog met jou weg!”

      “Ek wens hy wou,” lag Sonja. “Ek sal nooit vergeet hoe hopeloos verlief ek op hom was toe ons vier jaar gelede hier ingetrek het nie. Onthou jy hoeveel gewig ek daardie eerste kwartaal verloor het? Ek het my skoon vergaap aan dié lieflike mansmens, en heeltemal vergeet om te eet!”

      “Ek onthou. Maar toe kom vriend Kobus, en sedertdien bestaan die arme Henk nie meer nie.”

      “O, ek dink nog hy is ’n oulike man – hy is nie verniet die universiteit se mees gesogte oujongkêrel nie! Die meeste meisies sal oor hulle eie voete val om hom te kry, maar hy was nog nooit gekys nie, en hy neem nooit dieselfde meisie meer as twee keer uit nie. Rina van der Watt het my seker al tien keer gevra of tant Truia nie vir haar ’n kamer het nie – net sodat sy naby Henk kan wees!”

      “Wat sien hulle in hom?” kom dit mymerend van die blonde meisie. “O, ek weet hy is nogal aantreklik, maar hy is so vreeslik behep met sy studie, so vreeslik ernstig … Natuurlik dink ek hy is bak, en ek dink amper ek is ’n bietjie bang ook vir hom, maar om op hom verlief te raak! Nee, dis nie vir my nie.”

      Sonja kyk ’n lang oomblik peinsend na Ilse en sê huiwerig: “Soms wonder ek of Henk nie op jou verlief is nie. Nee, wag, laat ek klaar praat,” keer sy toe sy die spottende ongeloof op Ilse se gesig sien. “Het jy nog nooit agtergekom hy behandel jou anders as vir my en Tanya nie? Asof hy hofliker en meer bedagsaam teenoor jou is. O, ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie, maar ek het net so ’n gevoel.”

      “Netnou vertel jy my jy glo aan voorbodes!” terg Ilse en gaan ernstiger voort: “Ek dink ek weet wat jy bedoel, Sonja. Henk tree baie beskermend teenoor my op, maar dis seker maar omdat ek die kleinste is. Jy sê mos manne beskerm klein meisietjies. Ek glo nie eens hy is daarvan bewus dat hy my altyd bederf nie, maar ek geniet dit beslis … Ek dink ek verwag van hom om my ’n bietjie spesiaal te behandel.”

      “Hoekom?” vra Sonja vinnig en sien dat Ilse verward bloos.

      “Ek … weet nie. Seker maar omdat … omdat ek hom as ’n ouer broer beskou. Ek weet self nie mooi waarom nie,” stamel Ilse en kyk met oordrewe belangstelling na die straat toe ’n klein Duitse motortjie stadiger ry en by die motorhek indraai. “Praat van die duiwel …” mompel sy en daar is ’n onnatuurlike blos op haar wange.

      Henk bring die ligblou motor onder die peperboom tot stilstand en klim uit.

      “Dis darem lekker om sommer deur twee mooi meisies ingewag te word!” skerts hy, vroetel na sy pakkie sigarette in sy hempsak en haal ’n sigaret uit. Hy leun teen ’n pilaar om dit aan te steek en streel met sy oë oor die klein figuurtjie skuins voor hom. “Kyk net daardie klein voetjies … Ilse, is jy regtig groot genoeg om volgende jaar ’n onderwyseres te wees? Jy lyk niks ouer as twaalf nie.”

      “Wag maar dat ek my platformskoene aantrek en my knypbril op my neus sit. Selfs jý sal jou morsdood skrik vir hierdie kwaai onderwyseres!” dreig Ilse, maar die lag is vonkelend in haar oë.

      Hy hou sy kop skeef en betrag haar in stilte. “Nee, ek glo nie. As jy my onderwyseres was, het ek jou netjies opgelig en op die naaste kas neergesit – en vir die res van die dag na jou gesit en kyk!” treiter hy haar.

      “Jy sou ook!” lag Ilse hulpeloos en draai na Sonja. “Sê ’n bietjie vir hierdie grootprater hoe kwaai ek is in my proefklasse, Sonja. Hy vergeet die kwaaiste gif kom in klein potjies.”

      “O, die seuns is almal doodsoet in Ilse se klas, maar dis omdat hulle voor die voet op haar verlief raak,” terg Sonja en lag saam met Henk toe Ilse dieper bloos.

      “Ek neem hulle nie kwalik nie,” glimlag Henk en kyk na die toe kamerdeur agter hom. “Is sy al terug?”

      “Nee, en sy het kastig hart en mond beloof om van vandag af net so baie soos ons te swot,” sê Sonja afkeurend. “Dis natuurlik weer die einde van die maand, en haar pa het seker weer vir haar sakgeld gestuur om uit te gee.”

      Henk skud sy kop en kyk in die rigting van sy kamer toe hy vinnige voetstappe op die stoep hoor. “Dit klink asof sy terug is,” praat hy gedemp.

      ’n Lang, donker meisie klik-klak op hoë platformskoene nader. Haar arms is vol pakkies. Haar loshangende hare is effens windverwaaid, maar haar gesig is met vernuf gegrimeer. Haar donker wenkbroue is tot ’n fyn strepie uitgepluk om haar oë groter te laat vertoon, haar neus is effens geboë, maar tog fyn, met neusvleuels wat skerp afgeëts is. Haar mond is klein, met vol lippe, en haar kennetjie wip uitdagend.

      Sy kom heupswaaiend nader, bewus van die aanloklikheid van haar volmaakte figuur, en ’n gul lag maak plek vir die onvergenoegde uitdrukking op haar gesig. “Henk! O, heerlik, ek het ’n sterk man nodig wat my met hierdie massa pakkies kan help! My arme arms breek af! Vat gou, Henk. Ek kan nie ’n tree verder nie!”

      “Sit die goed neer, mens. Jy is mos nou by jou kamerdeur,” sê hy ongeduldig. Hy bly in ’n luisterende houding staan. “Dit klink soos die etensklokkie. Kom, Ilse … Sonja. Jy beter opskud, Tanya, tant Truia kan dit nie verdra om te wag nie.”

      “O, ek kom!” sê die donker meisie bytend en