kry elke keer dat jou baba begin drink. Dit is effens pynlik, maar duur nie baie lank nie en dien die nuttige doel om bloeding te verminder.
•As jy wil urineer, gaan sit met jou gesig na die toiletbak en giet ’n beker warm water oor jou om ’n brandgevoel te voorkom.
•Gebruik ’n bidet nadat jy toilet toe was om infeksie te voorkom.
•Sit op ’n papperige, oorgetrekte swemring om die drukking op jou perineum te verlig.
•Om ongemak ná ’n keisersnee te voorkom, kan jy jou vingers inmekaarvleg en jou wond ondersteun wanneer jy hoes, lag of beweeg.
DAG TWEE
Baba sal vandag nog stil wees en jy sal moeg voel, maar moontlik nog steeds nie baie vas kan slaap nie. As jou baba in ’n kraaminrigting gebore is, mag jy selfs vandag huis toe gaan. Hoewel jy miskien wil terugdeins voor dié vooruitsig, voel ’n mens tuis dikwels meer ontspanne en sal jy daar gouer herstel en aanpas. Wat jy ook al vandag doen, haas jou langsaam. Baba se fokus is beperk tot ongeveer 25–30 cm, die ideale afstand tussen jou bors en jou gesig. Hy sal nog steeds styf opgekrul lê en voel asof hy deel vorm van sy omgewing, nie heeltemal seker waar hy ophou en sy ma en die wêreld begin nie.
Meer oor Baba
•Maak Baba se naeltjie met elke doekomruiling skoon om infeksie te voorkom – gebruik ’n stukkie watte met gousblommelk of chirurgiese alkohol om die klamp, naelstring en basis skoon te maak. Die naelstring sal geleidelik uitdroog en dan moet die voutjies van die naeltjie met ’n oorstokkie gedoop in gousblom- melk skoongemaak word.
•Baba kan vandag of môre effense geelsug ontwikkel. As die bilirubienvlakke (die geel pigment) baie hoog is, sal jy moontlik aangeraai word om haar fototerapiebehandeling te laat ondergaan, waartydens haar ogies bedek word en haar lyfie met ultravioletlig bestraal word, wat die bilirubien vinniger laat afbreek. Borsvoed Baba meer gereeld, want die hitte put haar uit en sy sal gevolglik minder drink. Sy het baie vloeistof nodig om haar te help om die bilirubien uit te skei. Dit is ook baie doeltreffend om Baba 5–10 minute lank met bedekte ogies aan sonlig bloot te stel. Hierdie soort geelsug is nie gevaarlik nie en kan tuis onder gehuurde ligte (met die hulp van ’n privaat vroedvrou) of met gewone sonlig behandel word. Party klinieke gebruik ligtoestelle wat om die liggaam gedraai word. Dit is verkieslik, omdat Baba dan meer hanteerbaar is.
•As jou baba spesiale sorg kry, sal jy vandag nogal hartseer voel. Bring soveel moontlik tyd in die babasaal of hoësorgeenheid deur en masseer Baba se voetjies en handjies of laat rus eenvoudig jou hand op sy magie. Gesels met hom en neurie vir hom.
•Borsvoeding sal steeds soos die eerste dag verloop: voed na behoefte, sorg dat Baba reg vassuig en geniet bloot die ervaring.
•Jy sal Baba al effens makliker hanteer, maar moenie bekommerd wees as jy nog steeds baie onhandig voel nie.
Wenke vir Ma
•Vra hulp om Baba te help vassuig as jou tepels gevoelig is. Jy kan ’n rooibosteesakkie met 2 teelepels kookwater nat maak, dit laat afkoel en dit op die seer tepel plaas om die pyn te verlig – dra dit binne die voedingskussinkie in jou bra tot die volgende voeding.
•Gooi ’n hand vol growwe sout by jou badwater om die perineum teen infeksie te beskerm.
•Draai ’n yssak in ’n waslap toe en hou dit teen jou perineum om swelling en pyn te verminder.
•Gaan voort met die Rescue Birth & Recovery en Arnica D6-tablette, maar elke 3 uur terwyl jy wakker is.
•Gebruik vandag ’n gliseriensetpil as jy nog nie spontaan opelyf gehad het nie. Ignoreer die aanvanklike behoefte wat jy sal voel net nadat jy dit in jou anus geplaas het, gaan lê ’n rukkie en wag 10–15 minute om die setpil kans te gee om op te los. As jy dadelik toilet toe gaan, kry die setpil nie kans om te smelt nie.
DAG DRIE
Dit is dikwels die dag waarop die werklikheid jou vol tussen die oë tref; jy voel meteens tot die dood toe moeg, jou melk kom in en Baba begin wakker word en ontdek dat hy ’n stemmetjie het. Bababedruktheid teen die derde dag, oftewel “baby blues”, is welbekend en gewoonlik van verbygaande aard sodra jy ’n behoorlike ruskans gehad het, jou hormone gestabiliseer het en jy uiting gegee het aan jou emosies. As jy ’n goeie, natuurlike, aktiewe geboorte gehad het, mag jy vandag fisiek goed voel. Jou borste sal gevoelig wees, maar behoort nie oorvol te voel en uitermate pynlik te wees as jy die afgelope paar dae se wenke gevolg het nie.
Wenke om met Baba te help
•Baba sal moontlik begin proes en verstik aangesien jou melk nou vinniger sal vloei. Laat hom bloot ’n rukkie asem skep wanneer nodig. Dit is heel normaal om ná ’n voeding ’n bietjie melk op te bring; dit lyk gewoonlik meer as wat dit is.
•Gaan vandag voort om Baba na behoefte te voed aangesien dit jou borste doeltreffend sal help ledig. Moenie die horlosie dophou tydens voedings of volgens ’n skedule voed nie.
•As jou borste te ferm is en Baba sukkel om te suig, kan jy hulle effens warm maak en ’n bietjie melk uitmelk om die gedeelte rondom die tepels en areola sagter te maak.
•Jy moet nou begin om Baba se winde uit te vryf ná voedings. Beproef een van die volgende metodes:
•Hou haar oor jou skouer en klop haar liggies op die rug.
•Dra haar in ’n buidelsak ná elke voeding.
•Laat haar met haar rug na jou oor jou voorarm lê om effense druk op die magie uit te oefen.
•Lig jou een been effens hoër as die ander, laat haar oor jou skoot lê met haar kop hoër as haar boudjies en klop haar liggies op die rug.
•Laat haar op jou skoot sit met haar ken tussen jou wysvinger en duim, en lig haar linkerarm op terwyl jy opwaarts oor haar rug vryf.
As Baba nie binne 5–10 minute van die wind ontslae raak nie, kan jy maar ophou. Enige winde wat sy daarna opbring, hou nie meer verband met daardie voeding nie.
Wenke vir Ma
•As jy baie emosioneel voel, kan jy homeopatiese Rescue Emotion of die weefselsout Nat. mur. drink.
•As jy steke gekry het, mag hulle begin styf trek. Blootstelling aan sonlig sal die wond help uitdroog, genees en streel.
•Gaan vandag voort met Rescue Birth & Recovery- en Arnica D6-tablette, elke 3 uur terwyl jy wakker is.
•Trek vandag die telefoon uit sodat jy kan rus en Baba nie gesteur word nie. Gun jouself genoeg tyd, jy sal binnekort begin beter voel en dinge onder beheer kry.
Oorvol borste
•As jou borste baie hard en seer is, sny ’n tepelgrootte gaatjie in die middel van twee heel koolblare, dompel dit 10 sekondes lank in kookwater, druk droog en plaas net so warm oor jou borste om hulle te streel en die melkvloei te verbeter. Vervang teen die volgende voeding en herhaal tot jou borste heeltemal gemaklik voel.
•Warm waslappe of ’n warm stort of bad kan ook help om oorvol borste te behandel.
•Moenie Baba se drinktyd beperk nie, mits hy korrek vassuig, want jou borste moet geledig word. Die oorvol gevoel sal binne twee dae verbygaan.
DAG VIER, VYF EN SES
Hou vol met jou gemaklike pas en konsentreer op alles wat jy al omtrent jou baba geleer het. Dit is nog net die begin, en jy wonder dalk hoe jy ooit alles gaan hanteer, maar jy sál. Pamperlang jouself en jou kleinding en doen net die allernoodsaaklikste.
Meer oor Baba
•Baba sal teen dié tyd en vir die volgende paar weke gereelde stoelgange hê, soms net ’n blertsie,