blertse melk opbring wanneer jy sy winde uitvryf nie – dit is gewoonlik maar min melk en dit beteken nie jy moet van voor af begin voed nie. Sulke blertse lyk gewoonlik meer as wat dit is.
•As Baba nie binne 5 minute ná ’n voeding ’n wind opbreek nie, kan jy maar ophou vryf. Hy het óf nie lug gesluk nie óf dit sal later vanself boontoe of ondertoe uitkom.
•Vergeet in dié stadium maar van borslappe. Baba kwyl nog nie veel nie, en net ’n handdoekstofdoek help vir melkblertse!
•Vergeet van deftige babakleertjies en gebruik eenstukbabapakkies wat jy maklik vir jou lewendige, wriemelende poppie kan aan- en uittrek.
LEES JOU BABA SOOS ’N BOEK
Al voel jy heel begryplik radeloos as Baba aanhoudend huil, moet jy jou liefs probeer distansieer en haar liggaamstaal en daaglikse patrone probeer waarneem om tot die kern van die probleem deur te dring.
•’n Rooi, verwronge gesiggie getuig van woede en frustrasie.
•Gespanne, opgetrekte ledemate hou moontlik verband met ’n moeilike geboorte en angstigheid.
•Voel agter die nekkie om die liggaamstemperatuur te bepaal – as die vel klam voel, kry Baba te warm; ’n gerieflike warm temperatuur is net reg.
•As die magie soos ’n strykplank voel, is dit waarskynlik koliek.
•Let op of die huilaanvalle op voorspelbare tye van die dag voorkom, dan is die weefselsout Mag. phos. die aangewese oplossing.
•As Baba kragtig melk opbring of braak en skynbaar pyn het, hoewel sy oor die algemeen gesond is en gewig optel, mag die krampwerende werking van Mag. phos. die gehuil vinnig laat ophou.
•As Baba aan sy ore trek, vryf of vee, huil hy waarskynlik van moegheid.
•Kyk of die hande en voete ’n gesonde kleur het om seker te maak dat linte of stywe kledingstukke nie dalk die bloedtoevoer afsny nie.
•’n Deurdringende geskree hou selde met ernstige siekte verband, hoewel sekere soorte koliek en strukturele urienbuisprobleme wel met ’n harde gehuil gepaard kan gaan.
•Siek babas sal dikwels ander siektesimptome vertoon en eerder kerm of sagter en hartverskeurend huil.
•’n Prikkelbare, knieserige, ongeduldige en geïrriteerde gehuil kan kenmerkend wees van ’n kind met ’n hoë behoeftevlak wat meer aandag verg en moeilik tevrede gestel word. Homeopatiese Sister Lilian Chamomilla-tablette help gewoonlik in sulke gevalle.
•’n Gehuil op ’n hoër toonhoogte as waaraan jy gewoond is, dui soms op ’n oorinfeksie. Gaan spreek dus jou dokter as Baba siek lyk. Jy kan ook homeopatiese EarCare- of Chamomilla-tablette gebruik vir oorpyn en -infeksie.
•Spits jou ore as jy ’n droë, skor gehuil hoor wat op ’n seer keel kan dui, of ’n gehuil wat met ’n blafhoesie afsluit aangesien dit ’n simptoom van kroep kan wees.
BABA SE BADTYD
Badtyd is ’n tyd vir waarneming, pret, stimulasie, ontspanning, voorbereiding vir slaap, en ’n nuttige hulpmiddel om ’n gevoel van roetine aan jou dag te gee. Dit dien ook as tydverdryf wanneer Baba effens knieserig is of jy eenvoudig nie die energie het om aan nog ’n enkele manier te dink om sy aandag af te lei nie.
Daar is nie net een regte manier om ’n baba te bad nie. Elke kraamopvoeder en -nasorgvroedvrou wat haar sout werd is, sal ’n demonstrasie lewer van hoe om Baba te bad, dus is dit te begrype as jy dink dit is ’n baie gewigtige saak. Jy sal moontlik die eerste paar keer voel asof jy tien duime het en Baba sal waarskynlik aanvanklik bietjie ontsteld raak, maar voor jy weet waar jy is, sal badtyd vir julle albei een van die genotvolste tye van die dag word.
Badwenke
WAT JY ALLES NODIG HET OM BABA TE BAD
•2 groot, sagte handdoeke, een oopgesprei op die werkvlak, die ander gereed in geval van ’n glipsie
•3 sagte waslappe (een vir die gesig, een om die hare af te droog, een om op die baba se magie te sit – sien die stapsgewyse badriglyne hieronder)
•Wattebolletjies
•Wattestokkies om die naeltjie (by pasgebore babas) en die oorskulp skoon te maak
•Babasjampoe
•Vloeibare seep
•Babaroom
•’n Skoon doek
•’n Stel skoon klere.
•Baba kan enige tyd bad, maar dit skep ’n ritme as jy dit elke dag op dieselfde tyd doen. ’n Bad saans is ’n goeie afsluiting vir die dag, of ’n oggendbad kan die oggendslapie voorafgaan.
•Baba kan óf in ’n groterige handewasbak gebad word, mits die krane nie ongemaklik geplaas is nie, óf in ’n bababad. Kies die opsie wat jou die beste pas. Rig ’n werkvlak in wat jou rug spaar.
•Jy hoef Baba nie elke dag te bad nie; dit is heeltemal voldoende om net bolangs en onderlangs af te vee, maar onthou dat ’n bad ’n mens help om rustig te slaap, dat dit ’n aangename tydverdryf is en dat dit Baba lekker vars sal laat voel.
•As Baba honger is, voed haar eers om die ergste honger te verdryf voordat jy haar bad.
Dit is baie belangrik om georganiseerd te wees! Sorg dat jy al die benodigdhede gereed het voordat jy Baba uittrek.
•Gooi alle sepe en sjampoes in drukspuitbottels wat jy maklik met een hand kan hanteer.
•Die grootste pret is om saam met Baba in die groot bad te bad. Dit is ’n wonderlike manier vir pa’s om ’n band met hul kleingoed te smee. Wees versigtig wanneer jy in en uit die bad klim – laat jou maat verkieslik vir Baba vashou.
’N STAPSGEWYSE GIDS TOT BADTYD
•Sorg dat die temperatuur in die kamer aangenaam warm is – gebruik ’n verwarmer in die winter.
•Was eerste Baba se gesig – gebruik wattebolletjies en afgekoelde kookwater vir pasgebore babas. Later kan ’n spesiale waslap vir die gesig gebruik word. Doen dit voordat jy Baba in die bad tel.
•Was ook Baba se hare voor jy haar in die bad sit. Draai haar styf toe in ’n groot handdoek met haar arms langs haar lyf en hou haar soos ’n rugbybal onder jou arm. Hou haar kop in jou hand vas, druk haar ore met jou duim en jou middelvinger toe om te voorkom dat daar water in haar oorkanale beland. Maak haar hare nat terwyl jy haar oor die bad hou, wend sjampoe aan, spoel af en droog met ’n klein handdoekie of sagte gesigwaslap af.
•Jy kan Baba vol seep smeer voordat jy hom in die water sit of wanneer hy reeds in die bad is. Albei maniere werk ewe goed.
•Laat Baba met haar voete teen die rand van die bad vastrap om haar veilig te laat voel en te verhoed dat sy huil.
•As Baba sy arms wild rondswaai en angstig lyk, plaas ’n sagte lappie oor sy maag en hou dit warm en klam; dit help hom blykbaar “anker”.
•Hou Baba se verste arm stewig met jou hand vas terwyl haar nek op jou gewrig rus, en was die voorkant van haar lyfie met jou los hand. Vat dan dieselfde arm met jou los hand vas en laat haar ander arm en borskas op jou voorarm rus terwyl jy haar in ’n “paddatjie”-posisie omdraai om haar rug en boudjies te was.
•Sodra Baba se hele lyfie gewas is, tel hom stewig om die borskas op, skud liggies die oortollige water oor die bad af en draai hom vinnig in die sagte handdoek toe wat jy reggesit het. Tel hom