Christiaan Bakkes

Stoffel: die beste stories


Скачать книгу

      

      Stoffel:

      die beste stories

      Christiaan Bakkes

      Foto’s en verhale saamgestel deur

      Suzette Kotzé-Myburgh

      Human & Rousseau

      Die olifante van De Wagensdrif

      “Het jy gehoor, Boude?” My broer se oë is groot. “Daar’s dit weer. Oorkant die rivier. In die bosse. Hoor jy?”

      “Wat?” vra ek.

      “Sjjt. Daar’s dit weer. Hoor jy dit?”

      “Nee. Wat’s dit? Sê vir my, man.”

      My broer se kop is luisterend na die oorkant van die rivier gedraai. Ek hou nie van die klank in sy stem nie. Ek voel hoe die angs my beetpak. Ek hoor net hoe die water oor die spoelklippe kabbel. Die uitdrukking op sy gesig word een van gewaarwording. Verskriklike gewaarwording.

      “Wat is dit, man?” Ek is nou erg benoud.

      “O my jirre, Boude. Dis olifante! Kom! Ons moet maak dat ons wegkom!”

      Hy spring op en skop sand oor ons braaivleisvuurtjie. Hy gooi die plastiekbekers, halfbottel aanmaakkoeldrank en gefrommelde waspapier in sy rugsak. Met een sprong is hy oor die sandwal en in die rietbos in.

      “Boude! Kom!”

      My knieë is lam van vrees. Ek probeer uit die sand uit opstaan, maar struikel. Nou kry paniek die oorhand.

      “Marius! Wag vir my, man! Waaaag!”

      Sy lang bene verskyn weer bo my op die sandwal. Dan is hy langs my. Hy pluk my op aan my boarm en sleep my teen die wal uit. Met my voete wat net so elke derde keer grondvat, vlug ons blindelings deur die rietbos.

      Ek was vyf jaar oud, hy twaalf.

      Soos gewoonlik was ons douvoordag in die veld. My ma het vir ons gebotterde broodrolletjies en elk ’n stukkie wors in waspapier toegedraai. Sy het vir ons koeldrank in ’n cokebottel aangemaak en alles in Marius se seilrugsakkie gepak.

      Ek het al van die begin van die naweek uitgesien na ’n dag saam met my broer in die veld. Ons is met die voetpad deur die klofie af tot teen die rivier. Daar loop ons stroomaf rivierlangs. Dis ’n vars oggend en die sonstrale glinster op die water. Marius vertel my van die Voortrekkers wat hier met die Matebeles geveg het. Voor my geestesoog kan ek sien hoe bebaarde manne met sannas vuur op krygers wat onverwags en vreesaanjaend, assegaaie omhoog, uit die ruigtes bars. My broer se geskiedenislesse was altyd interessant.

      “Die plaas se naam is De Wagensdrif, want die voorste Voortrekkers het hulle ossewaens hier deur die rivier kom trek. Net daar, dáár waar die wal nie so steil is nie. Kyk hoe vlak is die water daar. En hier kan jy nog die ou wapad se spore sien.”

      “Haai, ja, dis die beste plek om die waens deur te sleep.”

      My broer is darem maar slim.

      “Die Voortrekkers het ook baie olifante hier gejag,” noem hy terloops.

      Anderkant ’n ruie rietbos lê ’n spierwit sandbank. Ons het dit op een van ons vorige ekspedisies ontdek. Net ons weet daarvan. Dit het ons gereelde uitspanplek geword.

      Ons was net klaar om ons worsies met ’n spit oor die vlamme te braai en besig om aan die flou, louwarm aanmaakkoeldrank te teug (my ma het altyd die goed te flou gemaak) toe Marius die olifante hoor.

      Nou vlug ons anderkant by die rietbos uit, die rante in. My broer los my arm en wip soos ’n grysduiker voor my uit oor die klippe. Sy kuif en sy hemp wapper.

      “O got jirre jissis! Vandag vertrap hulle ons nog!”

      “Marius! Wag vir my! Ek gaan vir Ma sê!” kerm ek agterna.

      Hy verminder spoed en ons bereik saam die kruin van die rant. Ons draf in die klofie af en anderkant uit. Onder die boekenhout met die uilnes stop Marius. Uitasem. Ek kry my asem terug en vee trane weg.

      My broer kyk my ernstig aan. “Ek dink ons is nou veilig.”

      Hy knipoog en sy gesig breek oop in ’n glimlag. Ek besef dat ek weer eens geflous is.

      Ek snuif een keer. “Ek gaan vir Ma sê.”

      Toe my pa die platteland verlaat en besef hy sal sy kinders noodgedwonge in die stad moet grootmaak, het hy met sy spaargeld vir ons ’n plaas naby Pretoria gekoop. Dit was nie veel van ’n plaas nie. Vyftig morg van sandsteenrantjies met ’n halfkilometer van die Elandsrivier. Geen boer kon dit vir weiding of landerye gebruik nie, dus het my pa dit spotgoedkoop gekry.

      Dis sestig kilometer uit die stad en naweke het ons soontoe ontvlug. Onder platkroon-wildeseringbome het ons die karavaan getrek en tente opgeslaan. My sussie het meestal onder die bome naby my ma gespeel. My oudste broer het die .22 gevat om te gaan duiwe jag. Ek en Marius het op ontdekkingsreise gegaan.

      Spoedig was daardie plaas my hele wêreld.

      Natuurlik was daar nie olifante nie. Die laaste olifante moet seker meer as ’n honderd jaar voor ons koms uitgewis gewees het om plek te maak vir plase.

      Deur my broer het dit vir my ’n wêreld vol Matebeles, Voortrekkers met sannas, leeus en olifante geword. ’n Wêreld waar enigiets moontlik was en elke ontdekkingstog vol belofte en avontuur.

      Ons paaie het intussen geskei. Hy noem my nie meer Boude nie. Hy werk nou in ’n groot kantoorblok in Johannesburg, waar hy om tafels sit saam met politici, rykes en bekendes. Elke nou en dan sien ek ’n foto van hom in die koerant of in De Kat. Ek het op die plaas agtergebly, en van daar het my paadjie weggelei uit die sandsteenrante om groter avonture in groter wildernisse te gaan soek.

      My lewe is vervleg met die wel en wee van olifante. In my weermagtyd het ek en ’n afdeling gewapende Boesmans een laatmiddag in die savannas van die Wes-Caprivi slaags geraak met ’n bende ivoorstropers. Die uiteinde was in ons guns en die olifante van die Caprivi kon ’n rukkie ontspan. In die Krugerwildtuin moes ek stapgroepe by olifante verby lei. Van veilige uitkykpunte kon ons hulle dophou en hulle doen en late probeer vertolk.

      Later werk ek in Kaokoland, die dorre noordweste van Namibië. Die olifante daar word elke jaar meer. Hulle begin kompeteer met die mense van Kaokoland. Water is skaars. As ’n trop olifante voor die Herero’s se beeste by die boorgat aankom, bly daar nie veel water oor nie. Die reën is min en die mielielandjies klein. Dit neem nie veel olifante om ’n Herero-gemeenskap se oes te vernietig nie.

      Die Herero’s aanvaar die olifante as deel van hulle daaglikse realiteit. Maar soos die olifantgetalle vermeerder, is daar meer konfrontasie, wat lei tot ontevredenheid. Saam soek ons na ’n goue middeweg. Miskien ’n vorm van finansiële voordeel uit die olifante deur toerisme, of dalk deur jag.

      Baie nagte sit ek met my .303 in my bakkie langs ’n mielieland in Kaokoland. Nie om olifante te skiet nie, net om hulle tydelik weg te hou totdat daar ’n beter plan bedink is. Dan het ek baie tyd om te dink. En soms gaan my gedagtes terug na die olifante van De Wagensdrif. Daar waar dit alles begin het.

      Die luiperd

      Die luiperd is nog jonk en onervare, maar selfversekerd genoeg om gereeld te probeer. Ongesiens sluip hy tot by die bossies teenaan die kraalheining. Daar lê hy in die laatnag en wag vir ’n paar rustelose kalwers om af te dwaal van die veiligheid van hul ma en die trop. Een of twee beweeg selfs in sy rigting, onbewus van die gevaar anderkant die heining.

      Die luiperd misreken elke nag sy kans. Soms storm hy te vroeg en ander kere talm hy nadat hy sy teenwoordigheid verklap het. Pandemonium bars los. Die beestrop loop die kraalheining plat en storm bulkend die donker bosse in.

      Só hou dit ’n maand lank aan. Elke derde of vierde nag breek die beeste uit en verwoes die kraalheining. Die boer besluit om die hulp van die veldwagter in te roep.

      Dis die jaar 1987, my eerste jaar as veldwagter. Ek was die vorige jaar nog ’n student. Ek is onervare, maar gretig om my spore te verdien en op soek na ’n uitdaging. Hierdie een wil