Christiaan Bakkes

Stoffel: die beste stories


Скачать книгу

die Nasionale Dieretuin se teelstasie op Potgietersrus kan ek ’n vanghok leen. Ek reël met die boer om op sy plaas te gaan kamp en moontlike skuilplekke vir ’n luiperd te soek. Daar sal ek die hok stel, maar niemand anders moet naby die hok kom nie.

      Die boer vertel hy het drie jaar gelede ’n groot luiperdmannetjie op sy grond geskiet. Hierdie een is moontlik ’n jongetjie wat die oue se gebied oorgeneem het.

      “Wat gaan jy met die luiperd doen as jy hom gevang het?” vra hy.

      “Ek gaan hom by ons in die reservaat loslaat.”

      “Nou ja, sorg maar dat jy eerste by die hok aankom as daar ’n luiperd in is. As ek eerste daar aankom, skiet ek hom net daar dood.”

      Ek slaan my kamp op tussen tambotiebome. Dae lank verken ek die plaas, inspekteer die hoë bome, ruigtes en rantjies. Op wild- en beespaadjies kry ek luiperdspore. Die witkop-beeswagter wys vir my plekke in klofies en rotsskeure waar die luiperd geslaap of onlangs ’n bobbejaan gevang het.

      Ek geniet die tydjie weg van die reservaat en leer baie by die ou man wat al sy lewe lank ’n ander man se beeste oppas.

      Eindelik besluit ek om die hok op ’n wildspaadjie in ’n sekelbosruigte te stel. Die luiperd maak gereeld van dié paadjie gebruik. Ek ry terug reservaat toe om helpers en hulle kamptoerusting te gaan oplaai. En die vanghok.

      Ons gaan noukeurig te werk om die vanghok te stel. Eerstens word die draadvloer met sand toegegooi. Die luiperd moenie voel hy betree ’n vreemde omgewing nie. Dan word die valdeur gestel. ’n Metaalstaaf aan die dak van die hok hou die valdeur oop. Aan die staaf is ’n staalkabel geheg wat deur spoele na die agterkant van die hok loop. Ek wikkel ’n jong vlakvark wat ek die vorige middag geskiet het stewig aan die kabel vas.

      Die meganisme is eenvoudig: die luiperd gaan die langwerpige hok binne en loop na die agterkant waar die vlakvark vasgebind is. Hy slaan sy tande in die prooi en trek. Die kabel span styf oor die spoele en trek die staaf agtertoe. Die valdeur wat op die punt van die staaf rus, val toe en jy sit met ’n omgekrapte luiperd in die hok. Die valdeur moet fyn gestel word op die staaf se punt, want ’n luiperd is rats en moenie ’n halwe kans kry om by die vallende deur uit te glip nie.

      Ons kamoefleer die hok deeglik met varsgekapte takke. Die hok moenie vir die luiperd vreemd lyk nie; dit moet lyk na net nog ’n ruigte waarin ’n vlakvark gevrek het. Ten laaste word die hok, die takke en die omgewing met water gespuit om die mensreuk te verwyder. Uiteindelik is net die valdeur wat bo die hok uittoring, sigbaar.

      Ek en die Pedi-veldwagters keer terug na ons kamp ’n paar kilometer weg in die tambotiebos. Die Pedi’s maak hulle tuis onder die bome en begin pap kook in ’n pot oor ’n vuurtjie. Spoedig is dit ’n gesellige kamp. Nou kan ons net wag.

      Ek vat my verkyker en stap veld toe. Die reën het vanjaar vroeg begin en goed geval. Die groen gras staan enkelhoogte. Oral is veldblomme: geel muisneuse en pers vingerhoede. Skoenlappers fladder in die oggendson. Ek geniet elke oomblik in die veld.

      My eerste taak aan die begin van die jaar was om ’n bloekomplantasie teen die grootpad aan die grens van die reservaat uit te roei. Ek en die Pedi’s het met langsteelbyle en treksae ingeklim. Dit was moordende werk en aanvanklik het my sagte studentelyf geprotesteer. Soms het die bloed vryelik met die sweet gemeng.

      Stadigaan het my liggaam vrede gemaak met die ongerief en het my vasvat om die bylsteel sekerder geword. Die byl se lem het op die regte plek splinters uit die stam laat spat. Die Pedi’s het gesien die wit man leer vinnig en staan nie terug vir werk nie. In die bloekombos word vriendskappe gesmee wat die fondament lê vir goeie werksverhoudinge. Teen die tyd dat die plantasie begin krimp, is my lyf bruingebrand en hard.

      My werk is nie tot die reservaat beperk nie. Vrydagaande waak ek op ’n koppie op die uitkyk vir skietlampe. Hierdie deel van die Noord-Transvaal het baie wild. Snags kom troppe koedoes, rooibokke en vlakvarke uit die bosse om langs die grondpaaie te wei. Dan kom die manne ná ’n paar stewige kappe brandewyn uit die kroeë in die omliggende dorpe te voorskyn. Met bakkies, skietlampe en genoeg gewere vir die derde vryheidsoorlog word daar jag gemaak op die wild langs die pad.

      Baie nagte sit ek die oortreders agterna, maar hulle ontglip my gereeld. Een nag ná ’n wilde jaagtog kry ek dit reg om ’n bakkie teen ’n plaashek vas te keer. Later in die hof moet die onwettige jagters hulle bakkie, skietlampe en gewere prysgee. Buite die hof word dreigemente en vloektaal in my rigting geslinger, maar die boodskap versprei vinnig: die nuwe veldwagter laat nie met hom speel nie.

      In die wintermaande is daar die wildvang- en uitdunningsoperasies. Oortollige getalle wild soos sebras en wildebeeste word na wildplase uitgevoer. Die wildvangspan kom kamp weke lank in die reservaat en ek help met die bou van vangkrale en houhokke. Die wildvangers is ervare bosmanne en hulle stories om die kampvuur saans wakker ons jonger manne se avontuurlus aan.

      Daar is ook die kommersiële benutting van oortollige wild in die reservaat. Ek moet self jag of jagters vergesel. Spoedig is my oog ingestel op die korrel en bewe my hand nie meer om die sneller nie. Vlakvarke, rooibokke en koedoes val voor my geweer. Al die skietoefening sal handig te pas kom wanneer ek volgende jaar weermag toe moet gaan.

      Dit was sover ’n goeie jaar, en om ’n luiperd te vang sal die jaar perfek afrond.

      Toe die middaghitte toeneem, stap ek terug kamp toe. Die Pedi’s het intussen ’n groot militêre tent opgeslaan. Hulle luister oor ’n draagbare radio na ’n sokkerwedstryd in Noord-Sotho.

      “Dit gaan reën vanaand, morena,” sê Januarie Mabogoane toe hy my gewaar.

      Toe die reënbui later begin, gaan sit ons almal in die tent.

      Vroeg die volgende môre laat ek en Januarie die res by die kamp agter en ry deur die nat veld om die hok te gaan inspekteer.

      “Ek’s bekommerd, Januarie. Ons het daai valdeur baie fyn gestel. Die reën en wind kan hom dalk laat val.”

      “Ons sal sien, morena.”

      Ek stop met die Land Cruiser ’n ent van die hok af. Ons loer deur die bosse.

      “Die deur is nog oop,” sê Januarie.

      Dit neem my ’n rukkie om die valdeur bo die sekelbosse te sien.

      “Kom ons gaan terug kamp toe. Ons werk is klaar vir vandag.”

      Ek loop die res van die dag in die veld rond. Januarie en die Pedi’s bly in die kamp.

      Die volgende môre is die valdeur nog steeds oop. Ek ry vir die dag reservaat toe om te kyk hoe dinge daar gaan. Toe ek die aand terugry kamp toe, reën dit hard. Vanaand waai daai valdeur wragtig af.

      Die volgende dag breek wolkloos en helder. Die gras en blare glinster in die oggendson toe ek en Januarie veld toe ry.

      “Die deur is af, morena.”

      “Bliksem, ek het so gedink.”

      Ek klim uit die Land Cruiser en stap na die hok om die valdeur weer te stel. Januarie kom agterna.

      Ek is omtrent tien treë weg toe ek ’n diep gegrom uit die skadu’s van die hok hoor. Ek steek in my spore vas. Die grom verander in ’n verwoede brul en van agter uit die hok duik die luiperd op my af, tande ontbloot en geel oë blitsend. Dit voel of die bloed in my are stol. Januarie spring om en nael kar toe. In my gerustheid het ek die 12-boor-haelgeweer op die bakkie se sitplek gelos.

      Die valdeur stuit die luiperd en hy val terug op die vloer van die hok. Maar hy werp hom weer teen die deur. Hygend en grommend beur hy met al sy mag. Sy kloue krap teen die staalrooster; ek sien hoe ’n nael stomp afbreek. Die luiperd gluur my woedend aan met sy geel oë. Ek staan versteen.

      Dan is Januarie langs my. Hy stop die geweer in my hand. “Skiet hom, morena, skiet hom!”

      Ek kom stadig tot verhaal. Dis ’n stewige hok; die luiperd kan nie uitkom nie. Ons het ’n luiperd gevang! Toe ek dit die minste verwag, wag daar ’n luiperd in die hok.

      “Skiet die tier, morena,” por Januarie.