Christiaan Bakkes

Stoffel: die beste stories


Скачать книгу

      Hy weet hy moet padgee, maar die dassie lê behaaglik in sy maag en die stygende hitte maak hom lomerig. Die pyn in sy neus en pote klop dof. Hy skuif in die skadu van ’n rotsskeur in en slaap. Hy slaap diep. Hy is jonk en sterk. Terwyl hy slaap, herwin sy liggaam sy kragte.

      Die luiperd word verkwik wakker. Sy kop is dadelik helder. Weer eens kry hy die reuk van die ander luiperd waar hy sy gebied teen bome en rotse afgebaken het. Die ander luiperd is moontlik klaar op sy spoor. Waaksaam staan hy op en sluip met die bosse langs. Hy sal nie opgewasse wees teen die ander luiperd nie, hy moet wegkom.

      By ’n rotspoel in ’n klofie stop hy eers. Hy bespied die omliggende area lank voor hy hurk om te drink. Die koel water verkwik hom verder. Geruisloos verskyn ’n skadu bo hom. Hy probeer wegspring, maar vergeefs.

      Die geweld van die groot mannetjie se sprong dryf al die asem uit die jonger luiperd se longe uit. Die momentum van die aanval lig hulle al twee oor die rotslys. Die ouer luiperd het sy kloue in die jonge se skof en sy tande in die los nekvel ingeslaan. Ineengestrengel in ’n doodsomhelsing rol hulle in die klofie af.

      Naby die voet van die koppie kom hulle teen ’n rots te lande en spat uitmekaar. Paniekbevange kom die jong luiperd orent en slaan blindelings op die vlug. Die ouer luiperd haal hom van agter af in en klap sy agterpote onder hom uit. Die jong luiperd byt in die stof. Voor hy behoorlik regop kan kom, klap die ander luiperd hom ’n verblindende hou teen die slaap. ’n Tweede hou met die ander poot stuur hom gat oor kop in ’n sekelbos in.

      Die sekelbos skiet hom terug op sy voete. Hy is net betyds om te sien hoe die ander luiperd brullend vir sy keel spring. Die jong luiperd lig hom op sy agterpote en swaai soos ’n bokser met sy linkervoorpoot. Sy hou tref die ouer luiperd vol op die bors, stuit sy aanval in die lug en laat hom swaar op sy skof land.

      Die ouer luiperd is verdwaas. Hy het nie soveel krag en spoed van die indringer verwag nie. Hy is van stryk gebring, maar steeds veglustig. Die jonger luiperd gebruik sy voorsprong en slaan op die vlug. Hy hoort nie hier nie. Hy wil nie hier wees nie. Hy het sy eie gebied. Instinktief hardloop hy in die regte rigting.

      Die ouer luiperd sit hom agterna, maar nie meer so geesdriftig nie. Daardie hou op die bors het seergemaak. Dis in elk geval duidelik dat die indringer die stryd gewonne gegee het. Hy staak sy agtervolging.

      Intussen het die son ’n tweede keer gesak. Die jong luiperd is uitgeput en lyfseer, maar hy weet hy is op pad huis toe. Deur die nag draf hy. Hy kruip onderdeur heinings en sluip ongesiens by statte en plaasopstalle verby.

      Hy sluit aan by ’n wit pad wat parallel loop met sy rigting. Nou draf hy padlangs. Die afstand tussen hom en sy plek word kleiner. Hy verslap sy pas. Op die wit pad strek hy hom uit om ’n rukkie te rus. Die uitputting oorweldig hom en hy sink weg in ’n diep slaap.

      Toe hy sy oë oopmaak, is die harde gedreun en die verblindende ligte bo-op hom.

      Dorpsbobbejaan

      Die bobbejane maal en drom saam om die sementdam. Sommige hardloop om en om die hoë wal. Soos die bakkie nader ry, begin hulle een-een padgee. Blaffend hardloop hulle die koppe in. ’n Paar talm langer, maar ook hulle moed begewe hulle toe ons langs die waterpunt stop.

      Net een bly agter: ’n groot wyfie. Sy staan op die wal en kyk na iets binne-in die dam. Ek en Januarie klim uit die bakkie. Dis ’n yskoue Bosveld-winteroggend.

      Die wyfie is duidelik in ’n tweestryd gewikkel. Sy is traag om die damwal te verlaat. Iets daar binne hou haar daar. Sy wys haar tande vir ons en blaf benoud. Eers toe ons die wal bereik, gee sy pad. Sy spring van die damwal af en loop agter haar trop aan. ’n Ent verder gaan sit sy op ’n klip. Sy hou ons dop.

      Uit die rante en beboste klowe roep die ander bobbejane haar. Sy antwoord, maar bly sit. Agterdogtig hou sy ons dop.

      Die damwal is meer as ses voet hoog. Ek en Januarie klouter daarteen uit. Ons gaan sit op die rand en kyk in. Die dam is halfvol water. In die middel dryf ’n bobbejaantjie. Die koppie is onder die watervlak, die een handjie spartel nog effens. Januarie spring van die damwal af en stap veld-in om ’n stok te gaan soek.

      Die plaas Kwarriehoek is ’n nuwe toevoeging tot die Skuinsdraai-reservaat. Die vorige eienaar is uitgekoop en ons het dit pas verkry. Hoewel dit voorheen ’n beesplaas was, spog Kwarriehoek met ’n gesonde bevolking rooibokke, koedoes en vlakvarke. Daar is ook rooiribbokke en klipspringers in die rante.

      Die toevoeging van Kwarriehoek vergroot die reservaat met tweeduisend hektaar. Omtrent die helfte is bergveld; die res is vlakte met doringbosveld. Dit gee die reservaat nou genoeg vlakteveld om kameelperde te huisves. Ons beplan die hervestiging van kameelperde sodra die plaas met ’n wildheining by die res van die reservaat ingespan is.

      Die bestaande waterpunte – sementdamme met suipkrippe – werk nog, maar ons beplan om dit eersdaags te omskep in versinkte suipings wat meer geskik is vir wild. Voëls en bobbejane val gereeld in die hoë sementdamme, versuip dan en vergiftig die water.

      Januarie kom terug met ’n stewige sekelbostak. Hy gee dit vir my aan en klim weer teen die damwal uit. Ek leun oor en haak die bobbejaantjie nader. Januarie hang oor die rand en lig die dier aan die nekvel uit. Dis ’n wyfie. Sy is druipnat en verkluim.

      Ons klim af en lê haar op die grond neer. Die groot wyfie het nou by die res van die trop aangesluit. Nuuskierig hou hulle ons van die rotse af dop.

      Die bobbejaantjie se pensie is bolrond soos sy water gesluk het. Haar vingers en tone is bleekblou van die koue. Die ooglede hang halfmas en die bruin ogies staar sonder dat iets registreer. Sy sou nie veel langer in daardie koue water oorleef het nie. Dan is daar tekens van lewe – sy maak ligte kreungeluidjies.

      Ek haal ’n ou stuk lap agter die bakkie se sitplek uit en begin die bobbejaantjie droogvryf. Ek masseer haar maag en sy braak water. Haar koppie rol slap op haar nek en haar ooglede bly halfmas. Nadat sy al die water gebraak het, kreun sy harder.

      Ek reken liggaamshitte sal haar laat opwarm. Ek druk haar teen my bors vas. Haar vingertjies vind my woltrui en haar bene vou om my middel. Sy druk haar styf teen my lyf aan, honger vir hitte. Haar handjies verstewig hulle greep op my trui en binne oomblikke klou sy soos ’n neet aan my lyf.

      Ek moet voortgaan met my rondtes; die draadspanners wag. Agterop die bakkie is die rolle draad en droppers wat hulle benodig. Ek wil hulle werk inspekteer. Daarna wil ek sommer ’n draai deur Kwarriehoek ry en kyk watter wild die vroegoggend oplewer. Die bobbejaan kan maar saamry totdat sy genoeg opgewarm het en dan kan sy teruggaan veld toe.

      Voordat ons ry, gaan soek ek en Januarie eers ’n stewige, knoetserige stomp. Dié maak ons teen die binnewand van die sementdam staan. Sou ’n bobbejaan weer hier inval, het hy darem ’n leer om mee uit te klim. Toe hervat ons ons patrollie.

      Ons ry deur die veld, ek en Januarie en die bobbejaan aan my boesem. Die dag word warmer en sonnig. Die bobbejaan toon egter geen teken dat sy ontdooi nie. Haar kop rus teen my bors en dit lyk of sy slaap. Haar arms en bene het my steeds in ’n stywe omhelsing.

      Dis alles goed en wel terwyl ons nog in die veld is. Maar daar is een probleem: dis einde van die maand en vandag is die dag wat ek moet dorp toe.

      Teen die tyd dat ons terug is by die opstal wat as veldwagterstasie dien, klou die bobbejaan net stywer aan my vas. Januarie en die veldwagters maak gereed vir hulle uitstappie dorp toe. Ek kry my maandverslae en rekwisisievorms in die kantoortjie bymekaar en druk dit in my leertas. Die bobbejaan maak sulke ligte steungeluide.

      Dertig kilometer van die reservaat af lê Marble Hall. Dis waar ek my admin en logistiek gaan doen. Januarie sit voor langs my, die ander veldwagters agterop. Die bobbejaan sit steeds teen my bors.

      Ek laai die veldwagters in die dorpsentrum af om hulle inkopies te doen. Ons spreek af om mekaar weer hier te ontmoet. Daarna ry ek na die koöperasie aan die rand van die dorp vir nog doringdraad en pale.

      Die man by die koöperasie ken my goed; ek koop al my voorrade by hom. Hy het eendag ’n luislang in een van sy pakkamers ontdek. Ek het die slang kom verwyder en in die reservaat gaan loslaat.