Christiaan Bakkes

Stoffel: die beste stories


Скачать книгу

ons hom bietjie terroriseer. Kom ons gaan!”

      Steve lag. “Ja, kom ons gaan. Fok vir Boet anyway. Hy lê lekker en slaap terwyl ons krokodille vang.”

      Boet is ons ernstiger kollega. Hy bestuur ’n wildplaas op die oewer van die Elandsrivier. Wanneer ons drie Saterdae rugby luister, braai en bier drink, loop Boet met sy verkyker en voëlboek in die veld rond. Omdat hy gesteld is op sy privaatheid, maak ons ’n punt daarvan om op ongeleë tye by hom op te daag.

      Daar word nabetragting gehou oor die krokodilvang-operasie. Elkeen vertel sy kant van die storie. Oomblikke word onthou en daar word lekker gelag. Ons is dit eens: die operasie was ’n groot sukses. Weer eens het ons as veldwagters in die belang van die natuur opgetree. Ons is oppassers van die natuur en redders van mens en dier. Iemand sou die krokodil een of ander tyd kom skiet het, of hy sou groot genoeg geraak het om ’n kind te vang. Nou vat ons hom na die Elandsrivier waar nog gereeld krokodille gewaar word. Daar sal hy vry wees om in vrede voort te leef.

      Ná ’n lang getoet by die hek van die wildplaas kom die hekwag gaap-gaap uit sy hut om oop te sluit. Die tweespoorpaadjie kronkel deur die doringbome na die huis toe. Met die stilhou verkas Petrus-hulle kampong toe.

      Boet lyk of hy in trane wil uitbars toe hy deur die slaap en kers in die hand die agterdeur oopmaak. Ons bars uitbundig by die kombuis in. Steve het die krokodil in die pisvel onder sy arm. Hy sit hom op die kombuisrak neer en stap na die gas-yskas.

      Hy haal drie biere en ’n blok kaas uit. Hy gee vir my en Daniel elkeen ’n bier aan, sny ’n groot homp kaas met sy knipmes af en stop dit in sy mond. Boet lyk desperaat.

      “O sorrie, Boet, wil jy ook ’n bier hê?” vra Steve.

      “Boet, ons soek slaapplek,” sê ek. “Ons wil van ons nat klere ontslae raak en iets vir die nag in jou bad laat slaap.”

      “Wat?” vra hy.

      Ek tel die pisvel van die kombuisrak af op. “Kom kyk.”

      Die ander krokodilvangers loop agter my aan badkamer toe. Boet volg mismoedig met die kers.

      Ek skud die pisvel oor die leë bad oop en die krokodil val uit. Hy wriemel ’n paar keer voor hy besef hy is nog vasgebind en magteloos. Dan lê hy stil.

      Boet staar na die krokodil. “Maar julle kan mos nie die ding in die bad los nie,” sê hy amper pleitend.

      “Wel, as jy ’n beter plek vir hom het, haal jý hom uit.”

      Boet blaas die aftog en stap brommend na sy slaapkamer. Hy klap die deur agter hom toe.

      Daniel steek nog ’n kers op en ons drink ons bier klaar in die voorhuis. Kort-kort grinnik een opnuut oor Boet se reaksie. Ons trek ons klam oorpakke uit en elkeen beset ’n rusbank of ’n oop bed.

      Die bospatryse kondig die nuwe dag aan. Daniel staan op en gaan maak koffie in die kombuis. Ek stap in die halflig op die werf uit om te gaan fluit. Die môrester skyn nog in die grys hemel. Vandag gaan ’n mooi dag wees. Ek staan ’n rukkie buite en voel hoe die bosveld om my wakker word.

      Terug in die huis is die koffie gereed. Daniel het ’n doos Ouma-beskuit in Boet se koskas geannekseer. Ons doop dit in die sterk, soet koffie.

      Boet word wakker en kom sit by ons in die voorhuis. Hy lyk of hy lekker geslaap het en toon belangstelling in die krokodilvangs. Hy vra uit en ons vertel entoesiasties. Boet geniet dit veral om te hoor hoe ek in die water geval het.

      Toe die son oor die doringboomtoppe lig en die voorhuis se ruit vang, staan ek op. “Kêrels, kom ons gaan los daai krokodil in die rivier.”

      Die ander staan op en ons loop badkamer toe. Ek gesels nog met Steve en kyk skuins oor my skouer na hom terwyl ek oor die bad se rand buk om die krokodil agter die nek op te tel.

      “Stoffel, pas op!” Steve ruk my aan die skouer terug.

      Die krokodil lig hom met sy stert regop. Blitsig swaai sy bek in die rigting van my uitgestrekte hande. Dit klink soos ’n geweerskoot toe sy bek toeklap. Die binneband wat sy agterpote en bek vasgehou het, lê in repies in die bad.

      Ek en Steve tuimel agteroor. Ons stamp vir arme Boet in die muur vas dat sy agterkop klap. Ons land bo-op mekaar op die badkamervloer; Daniel lê op die naat van sy rug in die gang. Die krokodil val terug in die bad en spartel verbete, maar hy kry nie vasskopplek teen die gladde wande nie.

      Ons sit grootoog regop. Boet vryf sy agterkop.

      Ek inspekteer my hande vir skade. Die krokodil het my vingers naelskraap gemis.

      Die bakkie ry kronkelend op ’n tweespoorpaadjie rivier toe. ’n Troppie rooibokke hou ons vanuit ’n sekelbosruigte dop. ’n Vlakvark bars uit die lang gras en vlug stert omhoog voor ons uit. Ons stop op die vloedvlakte langs die oewer.

      Boet wys ’n sandbank uit. “Daar het ek laas week ’n knewel gesien.”

      Ek lig die krokodil, veilig vasgebind en in sy pisvel ná ’n helse gespook in die badkamer, van die bakkie af. Ek skud hom versigtig op die sanderige oewer uit. Terwyl Petrus sy kop vashou en Steve sy stert, haal ek die binneband van sy agterpote en bek af. Almal staan tru, versigtig en vol respek.

      Die krokodil lê nog so ’n rukkie. Dan lig hy hom op sy kort bene en stap water toe. Hy gly in en verdwyn. Ná ’n ruk verskyn sy kop in die middel van die Elandsrivier soos hy stroomaf swem.

      Opleiding

      Sersant Taragompie van Schalkwyk gluur ons aan met sy wrede blou ogies. Tussen die voor- en middelvinger van sy linkerhand smeul ’n sigaret. Hy bring ’n kort, fris armpie op en vat ’n trek. Hy haal nie sy oë van ons af nie. Rook trek uit sy neus en mond. Dit krul stadig om sy yl blonde snorretjie.

      Langs my staan Badenhorst op die plek rus. Hy maak saggies keel skoon. Daar is ’n ongemaklikheid in die kompanie. Ons weet ons is in die kak.

      “Môre, here,” sê sersant Taragompie.

      Hy kry nie ’n antwoord terug nie. Hy verwag ook nie een nie.

      “Oor hierdie hele Noord-Kaap se vlaktes is daar nie ’n boom hoog genoeg om die man op te hang wat hierdie bruin uniform en hierdie swart beret met die jakkalskop se naam gat roep nie.”

      Nog ’n teug aan sy sigaret.

      “Here, ek wil dit pertinent herbevestig. Ek gaan vir julle opfok. Lok, stok en berrel. Trek af, plak toe.” Sy gluur sny dieper deur die linies. “Die Engelsman het ’n sêding. Hy sê: ‘You must bring your cunt.’ ”

      Sersant Taragompie swaai om en verlaat die paradegrond. Steeds staan die kompanie op die plek rus. Korporaal Tjokkie neem sersant Taragompie se plek in. Hy het ’n kort, dik nek. Sy stem is grof en hees.

      “Alfa-kompanie, aantree! Staaldak, webbing en geweer. Moenie laat ek vir jou wag nie, Sakkie. Jy het twee minute. Verdaag!”

      Die manne spring weg en storm na die kaserne. Almal skarrel na hulle slaapplek toe. Ouens hardloop teen mekaar vas en vertrap mekaar. Haastig gryp elkeen sy staaldak, webbing en geweer.

      Drie minute later staan almal aangetree volgens peloton. Ons weet: vandag gaan ’n lang dag wees. Op looppasmars draf ons na die duiwel se speelgrond. Ons sing uit volle bors terwyl ons draf.

      Vir die res van die oggend leopard crawl ons deur klippe en dorings. Ons hardloop met ons makkers op die rug en oor die skouers. Die korporaals jaag ons op en af oor die duiwel se speelgrond. Ons word opgefok en rondgefok. Ons bloei, sweet, vloek en kots.

      Hierdie is Diskobolos. Die opleidingsbasis van die Suid-Afrikaanse Leërinligtingskool. Ons is al ses maande in opleiding. Ons weet nie waarom ons vandag gestraf word nie. As een ou iets verkeerd gedoen het, ontgeld die hele peloton of selfs die hele kompanie dit. Dit pla ons nie meer nie. Ons is fiks en taai. Hulle kan ons nie meer breek nie. Ons weet dit. Die offisiere weet dit. Hulle is egter besig om ons voor te berei vir iets groters. Die finale toets.

      Dit was ’n harde ses maande. Basiese opleiding