Alles wat ons in die burgerlike lewe geken het, is afgetakel en vervang met ’n rigiede militêre kode.
Vroeg in basies beseer ek die knie van my been wat ek vyf jaar gelede op hoërskool gebreek het. Terwyl die ander aangaan en fiks word, moet ek uitsit. Toe ek herstel het, moet ek harder spook om op te vang met my makkers. Ek is een van die ouer ouens in die peloton. Die luitenant is ’n doos en hy sonder my uit. Blykbaar hou hy net nie van my gesig nie.
Ek het amper gebreek. Hoewel ek fiks was, was ek stadiger as die ander, en die stadige ouens moet alles twee keer doen. Fok die army, het ek besluit, ek gaan my nie deur hulle laat verniel nie.
Vroeg in 1988, aan die begin van basies, bars vloede uit. Die Vaal- en Modderrivier oorstroom hulle walle. As rou rekrute word ons in Samils gelaai om mense en eiendom te gaan beveilig. Dis ’n opleiding op sigself. In siedende reën ontruim ons skure en neem mense weg na hoër grond. Dit help ’n bietjie om eenheid in ons peloton te bring. Toe ons basies daarna voortgaan, is daar meer samehorigheid.
My pelotonmakkers het mettertyd aanvaar dat ek een van die stadiger ouens is. Hulle kon sien ek probeer. Ek kon nooit ’n batterytoets van 2,4 kilometer met volle uitrusting en geweer in die gegewe twaalf minute klaarmaak nie. Later het die korporaal opgegee. Die luitenant het my afgeskryf. Ek is nie meer beveel om die toets te herhaal nie.
Nadat ek oor die ergste skok van basies was, het ek alles gedwee aanvaar. Ons korporaal is ’n goeie ou, ’n branderplankryer uit Durban. Hy is rustiger as die luitenant. Hy is agtien en ek twee-en-twintig en meer volwasse as die ander ouens. Dis asof dit vir hom ’n verleentheid was om my rond te fok. Ná die eerste paar weke was dit asof hy my begin oorsien.
Stadig het ’n roetine posgevat. Die ouens het tot bedaring gekom. Dit was nie meer elke man vir homself nie; spanne en kameraadskappe het gevorm. Ek het gewoond geraak aan die dissipline en spanwerk. Die strawwe oefening het my lyf goed gedoen. Aan die buitelewe en uitkamp was ek gewoond.
Tot my ontnugtering het ek gesukkel met die semi-outomatiese R4-geweer. Ek het gedink die jagtery van my jaar as veldwagter sou van my ’n goeie skut maak. Die R4 is egter nie ’n jaggeweer nie en ek moes van voor af leer. Maar die skietoefeninge in die veld was opwindend en ’n ontsnapping uit die basis.
Ek het die humor in dinge raakgesien. Die onderoffisiere se sêgoed is vrek snaaks en soms kan ek nie help om uit te bars van die lag nie. Dit laat my in die moeilikheid beland.
Eendag betrap ’n korporaal my lag in die afdeling. Hy laat my uittree. Ek staan voor hom, my geweer hoog voor my bors.
“Mathysen, jy’t sestig sekondes om by die RSM se boom te kom en terug.”
Die RSM se boom is ’n doringboom aan die ander kant van die paradegrond. Dis ’n gunstelingbaken vir die korporaals om ons van die kaserne af te jaag. Ek weet ek sal dit nooit in sestig sekondes maak nie. Die korporaal is van ’n ander peloton; hy weet nie ek is een van die stadiges nie.
Ek spring weg. Geweer voor my bors, waterbottel klotsend aan my webbing. Tagtig sekondes later stop ek met ’n voetestamp voor die korporaal. Hy hou tyd op sy polshorlosie. Onmiddellik wys hy: terug na die RSM se boom. Weer maak ek dit nie. Weer wys hy my weg. Sweet tap my af toe ek ’n derde keer voor hom stop.
“Ek het gesê sestig sekondes, Mathysen. Vandag sal ons nie stop voordat jy dit in sestig sekondes gedoen het nie. Jy dink mos dis ’n grap.”
Weer spring ek weg na die RSM se boom. Vyf-en-tagtig sekondes later stop ek voor die korporaal. My stewelhak skop stof op soos ek voor hom halt, regop met my geweer voor my bors. Sweet deurweek my bruin hemp in die warm Noord-Kaapse son.
Nog ’n keer moet ek hardloop. Toe ek die sesde keer voor hom stop, ná negentig sekondes, is daar twyfel in sy stem.
“Séstig sekondes, Mathysen.”
Ek besluit om te praat.
“Korporaal, ons kan vir die hele dag so aangaan. Ons kan vir die volgende week so aangaan. Ek sal dit nie in sestig sekondes kan doen nie.”
Nou wys die vertwyfeling op die jong korporaal se gesig. Hy weet ek is reg. Hy kry ’n ligte glimlag om sy mondhoeke.
“Jy kan bly wees ek’s besig vandag. Verdaag.”
Toe het ek geweet: niemand gaan my breek nie.
Die Suid-Afrikaanse Leërinligtingskool, oftewel SAINTS, lei intelligensiepersoneel op. Met inklaring is ons aan streng toetse onderwerp. In die eerste week is ons medies ondersoek. Een dokter spreek twyfel uit oor my beenbesering; hy soek ’n tweede opinie. Ek word Kimberley toe gestuur vir X-strale. My been word geskik verklaar vir militêre opleiding.
Kort ná ons hare borselkop geskeer is, word ons in ’n saal in gemarsjeer. Daar moet elkeen drie beëdigde verklarings aflê. Jy moet onder eed sweer dat jy Jesus Christus as jou verlosser aanvaar het, dat jy nog nooit dwelms gebruik het nie en dat jy nie homoseksueel is nie.
Reinhard Pille het my op dié een voorberei.
“Wat ook al jou oriëntasie of geloof is, maak nie saak hoeveel acid jy al gedrop het nie, lieg. Dis al hoe jy in die eenheid sal bly.”
Ek lieg in twee uit die drie verklarings. Die Jode en die ouens wat die waarheid gepraat het, word dadelik na ander eenhede verplaas.
Die meeste ouens in die peloton is agtien jaar oud en pas klaar met skool. Die luitenante en korporaals is ook omtrent daardie ouderdom. Soos basies vorder, bevriend die ouer manne mekaar. Louis Badenhorst het vir drie jaar regte studeer en toe opgeskop. Charl Moller is ’n gekwalifiseerde rekenaarontleder. Ons drie word makkers.
Ons Engelse korporaal van Durban af begin die ouer manne voortrek. Dis van die begin af duidelik dat hy en die luitenant nie oor die weg kom nie. Die luitenant is paraat en suur, die korporaal is rustig en gedwee – gewoonlik is dit andersom. Die luitenant voel bedreig deur die ouer manne. Veral Badenhorst met sy regsagtergrond slaag daarin om sy gesag te ondermyn.
Die luitenant maak dit moeilik vir ons. Hy vergal die korporaal se lewe. Die korporaal beskou ons as sy bondgenote en maak dinge weer vir ons draagliker. Dit pas my en Moller en Badenhorst.
Op die hindernisbaan kry ek altyd swaar. Ek is een van die grootste ouens in die peloton en dit maak van my die brug. As daar teen die hoë muur opgeklim moet word, moet ek die trap wees. Dit beteken ek moet teen die muur gaan leun sodat al die kleiner manne op my kan trap. Hulle klim op my knieë, dan op my skouers en dan oor die muur. Ek kry stewels op die bors en knieë in die knaters. Geweerkolf teen die oor, geweerloop teen die wang. As almal oor is, trek die laaste twee ouens my aan my webbing oor die muur. Seer en vertrap strompel ek agterna.
Gewoonlik kompeteer pelotons teen mekaar op die hindernisbaan. Dis oor die muur en onderdeur die drade, oor die pale, deur die tonnel en oor die loopgrawe. Die peloton wat eerste klaarmaak, wen.
Eendag loop ons peloton voor. Dit gebeur nie gereeld nie. Ek kom gehawend agterna, maar haal alles uit om by te hou. Onderdeur die drade, oor die pale, deur die tonnels en oor die loopgrawe. Die pylvak is ’n honderd-meter-naelloop. My knie pyn en my skouer is uit lit. My oë is vol stof en sweet en my staaldak hang op my neus. My longe voel of hulle wil bars. Ek foeter neer in die laaste loopgraaf. Ek lig myself uit. My makkers is al in die pylvak. Swaar staan ek op en begin hardloop.
Skielik is my Engelse korporaaltjie langs my. Hy is buite homself. Hy por my aan. Hy dink in Engels, maar praat Afrikaans.
“Komaan, Mathysen. Ons kan wen hierdie een. Kry aggressief! Kry aggressief!”
Ten spyte van my toestand bars ek uit van die lag. Ek kry aggressief en ons wen dié een.
Vasbyt
Munnik is ’n moffie. Party ouens kan dit nou maar net nie wegsteek nie. Dis in sy praat, in sy houding, in sy verfynde maniertjies. Hy het ook onder eed gelieg om in die peloton te bly.
In pelotonverband is ons alfabeties ingedeel: Markgraaf, ek, Morrison en Mouton. Ons word geswore makkers. Ons doen alles saam. Dan was daar Munnik.
Ten