batterytoetse was hy saam met ons in die bondel. Tydens inspeksie was sy kas en bed netjieser as enige van ons s’n. Sy uniform was beter gestryk. Op die skietbaan was hy ’n bogemiddelde skut. Tydens bosfase het die ontbering hom min gepla.
Gedurende basiese opleiding is daar nie tyd om te veel oor ’n ander ou se uiterlike te tob nie. Gou was Munnik net nog ’n pelotonmaat. Maar met die tweede fase het die moeilikheid begin. Nou was daar tyd vir ouens om probleme met ander ouens te ontwikkel.
Alfa-kompanie se kaserne was twee enorme ou vliegtuigskure. Elke skuur het drie pelotonne gehuisves. Ons, peloton 1, was teen die muur. Peloton 2 was in die middel en peloton 3 teen die oorkantste muur. Die ouens van die ander pelotons het Munnik begin spot. Dit was nie goedige spot nie. Gou het hy ’n wrede bynaam gehad. Hy het dit gelate aanvaar. Stilgebly.
Benade van peloton 2 was die belhamel onder die spotters. Hy het Munnik genadeloos geteister. Baie ouens in ons peloton was ook nie gemaklik met moffies nie, maar Munnik was ons pelotonmakker. Ons moes vir hom opkom.
“Aw, shut up, Benade, you fucking prick,” het Morrison op ’n keer vir Benade toegesnou toe dinge te lank aanhou. Mouton het eendag vir Benade met ’n staaldak gegooi. Dit het amper op ’n vuisgeveg uitgeloop.
Markgraaf was die groot, stil ou in die peloton, met reusehande. Sy “Benade, hou nou op,” was genoeg om Benade smalend die aftog te laat blaas.
Die meeste van die tyd moes Munnik maar sy eie stryd stry.
Hy slaag al die keuringsrondtes. Hy word saam met ons vir die leierskursus gekeur. Akademies blink hy uit.
Die laaste groot toets voor ons luitenante word, is Vasbyt. Dis ’n uitmergelende oefening wat oor vier dae strek en dit sluit lang roetemarse in. Veeleisende fisieke en sielkundige toetse word afgelê. Die kandidaat-offisiere word krygsgevange geneem en ondervra. Hinderlae word nageboots. Riviere word oorgesteek.
Maande lank berei ons voor. Van die ouens oefen selfs na-uurs. Toerusting word oor en oor nagegaan.
“Vasbyt lê in die kop,” sê die kompaniebevelvoerder tydens die oggendparade. “Tweederdes van julle sal dit nie maak nie. Jou kop moet reg wees vir Vasbyt. Dit het niks met fisieke krag te doen nie.”
In die laaste weke laai die spanning op. Almal weet Vasbyt kom nader. Niemand weet wanneer nie.
Die skril fluitjies skeur deur ons slaap. Die korporaal bulder: “Staan op! Aantree! Julle het twee minute!”
Ek, Markgraaf, Morrison en Mouton is gereed. Ons het dit verwag. Ander ouens skarrel verward rond. Die hele kaserne is in rep en roer.
Die verrassing is te groot vir Benade. Hy kry ’n epileptiese aanval en slaan agteroor op die vloer neer. Ook hy het gelieg – hy het sy mediese toestand verswyg.
“Medic! Medic!” roep ’n korporaal.
Swaar stewels hardloop oor Benade soos die manne buitentoe storm om aan te tree. Ek sien hoe hy raakgetrap word. Twee medics probeer stroomop by die kaserne inkom. Een loop hom teen Morrison vas. Hy word met die plat kant van die R4 eenkant toe gestamp. “Fuck off, dude!”
Buite is dit ounag. Die winterkoue sny deur ons aapjasse.
Dis drie dae later. Op ’n windverwaaide Noord-Kaapse vlakte sit-lê ’n groepie afgetakelde troepe. Hulle bruin drag is vuil en sweetbevlek. Hulle hande en vingers is nerfaf en skurf. Op hulle gesigte is die black-is-beautiful-nagkamoeflering besig om af te sweet.
Ek kyk na my makkers. Uit die eens trotse peloton van vier-en-veertig het net elf dit tot hier gemaak. Ander pelotons het swakker gevaar. Verskeie ouens lê tussen die klippe en slaap. Ander sit rug aan rug. Hulle gesigte toon geen emosie nie, net volslae uitputting. Sommige krap vir kragkos in hulle rantsoenpakke.
Die afgelope drie dae en nagte is ons tot die uiterste beproef. Ek het besef hoe naby die mens aan die dier is. Nou is dit net ons oorlewingsreaksie wat ons laat voortgaan. As daar tyd is vir rus, dan slaap en eet ons. As dit tyd is vir roetemars, staan ons op. Sonder om te dink, soos osse in ’n span, swaai ons ons rugsakke en gewere oor ons skouers en beweeg gedwee onder die sweeptonge van die onderoffisiere deur.
Dis as daar ’n verandering in die roetine kom en ’n nuwe struikelblok verskyn dat die manne begin crack. Dis die oomblik as hulle moet begin dink of inisiatief moet gebruik dat hulle tou opgooi. Die maklikste deel van Vasbyt is tou opgooi.
Mouton het sy stewels uitgetrek. Albei sy voetsole is twee groot bloedblase. Trane streep deur sy nagkamoeflering. “Ek is klaar. Ek kan nie meer nie. Sorrie, ouens, ek gaan afklim.”
Morrison rebelleer: “I don’t know why I must do this shit. I’m a British citizen, for fuck’s sake. A subject of the queen. I’m with you, Mouton. Fuck this.”
Markgraaf beaam: “My pa het ’n saaiplaas in die Vrystaat. Ek het ’n landbou-diploma. Ek het dit nie nodig nie.”
Mouton begin sy stewels aantrek. Hy het klaar besluit.
Munnik was tot dusver stil. Hy sit ’n ent weg van ons teen ’n klip. Nou klik hy sy tong spottend. “Wel, ek weet nie van julle ouens nie. Al wat ek weet: ek gaan Vasbyt klaarmaak.”
Markgraaf kyk na my en dan na Morrison. Mouton hou vir ’n oomblik op om sy veters in te ryg. Ons kyk onderlangs na mekaar. Sekondes lank. Dan sê Markgraaf: “Nou ja toe.”
Hy staan op en laai sy rugsak op sy skouers. Mouton maak sy stewels vas. Morrison help hom op. Munnik kom sit hand by.
Tien uur later stap ons in by Checkpoint Charlie. Daar staan Samils en veldambulanse geparkeer. Vanuit die mobiele kombuiseenhede kom die reuk van spek en poeiereiers en koffie op die vroegoggendlug. Langs ’n tent onder ’n doringboom staan die kompanie-offisiere en ons bataljonbevelvoerder. ’n Militêre polisieman beduie ons soontoe.
In gelid strompel ons in die rigting van die tent. Munnik sing voor in sy tenoorstem. Ons val in:
I wanna go to South Angola
I wanna kill a Cuban soldier!
Vir Benade het ons nooit weer gesien nie.
Oomblik van waarheid
Baie dinge flits deur jou gedagtes voor jy ’n man skiet. Daardie sekonde voordat jy die sneller trek. Hy is in die gaatjievisier van die LM4, sy geweer op jou gerig. Jy weet jy het die voordeel. Jou brein is glashelder. Jy korrel sekuur. Meer as alles weet jy dis jou reg.
Vier maande al ontwyk hulle ons. Ons kom altyd te laat op die toneel, die spoor reeds koud. By my en Harvey word dit ’n obsessie om die ivoorstropers vas te trek. As daar tekens van hulle in sy sektor is, radio hy my. As ek hulle spore noord van die witpad kry, radio ek hom. Dan ontplooi ons die Boesmanspoorsnyers in ’n gesamentlike operasie.
Dis laatoggend toe ons die spoor kry: ek, Harvey, Kakweche, Yaya en Frans Dwandamo. Frans hurk oor die spoor. Tydsaam bespreek hulle dit.
Ek en Harvey wag. Die winterveld is stil en warm. Ons het ver geloop tot hier; swart stof kleef aan die sweet op ons bene. Woordeloos staar ons na mekaar terwyl die Boesmans gedemp praat.
’n Tsetsevlieg kom sit op Harvey se nek. Hy ignoreer dit. Ek sien hoe die vlieg se monddele in Harvey se nek insaag. Hy wag. Eers toe die angel bloed raakboor, bring hy sy hand op. Stadig. Dis nou moeilik vir die tsetse om te onttrek. Harvey vat hom tussen sy duim en voorvinger vas en pluk hom van sy nek af.
Ek hoor hoe die vlieg wriemel, kraak en bars soos Harvey hom tussen sy vingers vermorsel. Hy skiet hom weg soos ’n sigaretstompie. Die blare gooi flikkerende skadu’s oor die sanderige woudvloer.
Frans kom orent. Hy skouer sy geweer en stap na ons toe. Sy gesig toon geen emosie nie. “Twee weke,” is al wat hy sê.
Ek en Harvey kyk na mekaar. Ons weet albei: hierdie spoor gaan ons nie los nie.
Ons kry die eerste olifantkarkas teen laatmiddag. Eers kry ons die aasvoëls; ons sien hulle bo ons kring. Daarna sien ons hulle sit in droë bome versprei oor ’n wye area. Nog voor ons die