Tryna du Toit

Minnaar uit die vreemde


Скачать книгу

      “Daar was ’n paar swak jare gewees,” sê sy sag, verskonend. “Die droogtes, die een mislukte oes op die ander … En Pa was ’n siek man. As hy nog ’n goeie en eerlike bestuurder gehad het, sou dit ook beter gegaan het. Maar ’n man soos Jan Gouws …”

      “Dit was ’n ongelukkige storie,” erken hy.

      “Pa het altyd gesê dis goeie beeswêreld …”

      “As dit reën,” sê Gawie skouerophalend. “Soos dit gegaan het, het oom Frans net jaar ná jaar dieper in die verknorsing geraak. Daar is gelukkig nie ’n groot verband op die plaas nie. As julle sou verkoop, beteken dit darem julle sal die helfte van die geld kry.”

      Aletta knik. Die bedrag is meer as wat sy ooit verwag het. Dis genoeg om vir Bets universiteit toe te stuur; genoeg om vir haar en Susan ’n woonstel te huur en te meubileer; genoeg om mee aan te gaan totdat sy weer ’n werk het en Susan ook gevestig is.

      Waarom moet die man tog so koppig wees!

      “Jy sê jy ken Frans Naudé glad nie,” sê Gawie, asof hy haar gedagtes lees.

      “Nog nooit met ’n oog gesien nie. Hy is ’n broerskind van my stiefpa, dis al wat ek weet. Hy het ook sy naam. Frans Naudé se eie pa is dood toe hy klein was, en toe sy ma kort daarna weer getroud is, het Pa aangebied om hom aan te neem en soos sy eie groot te maak. Pa het, soos jy weet, self nooit kinders gehad nie. Frans se ma het geweier, maar Frans het ’n paar keer terwyl hy nog op skool was, by Pa op die plaas kom kuier. Met die jare het hulle egter heeltemal vervreemd geraak. Maar waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit, en op die ou end het Pa tog die helfte van sy boedel aan sy broerskind en naamgenoot bemaak.”

      Haar stem is peinsend, sonder ’n sweem van bitterheid, maar Gawie Pretorius sê fronsend: “Dit was sy plaas en hy kon met sy besittings maak wat hy wil. ’n Mens het net gedink dat hy, na alles wat julle – en veral jy – die afgelope jaar vir hom gedoen het, ’n bietjie meer erkentlik sou gewees het.”

      Aletta skud haar kop. “Pa was niks aan ons verskuldig nie. Hy het nooit enige belofte aan ons gemaak nie. As ek aan Pa dink, is dit net met liefde en dankbaarheid. Hy was baie goed vir my ma. Hy het haar drie dogters as sy eie aanvaar en help grootmaak, en die bietjie wat ek vir hom kon doen, het ek met graagte gedoen. Nee, ek verwyt Pa nie, en ek vind ook nie fout met sy testament nie. Ek wens net ons mede-erfgenaam was ’n bietjie inskikliker gewees. Maar ons sal nou maar tot Desember moet wag om te hoor wat sy planne is.”

      Hulle gesels nog ’n rukkie en Gawie belowe om die volgende middag vir hulle te kom kuier. Dan moet Aletta gaan om haar inkopies te doen.

      Net voor sy stasie toe gaan, ry sy by die poskantoor aan om Tiervlei se pos te kry. Sy sien dadelik die lugposbrief raak. Dan het Frans Naudé weer geskryf! Met ’n gevoel van opwinding steek sy die brief in haar sak. Daar is nie nou tyd om dit te lees nie. Sy sal moet gou maak om betyds by die stasie te kom.

      Op pad dink sy weer aan haar gesprek met Gawie Pretorius. Gawie wil hulle graag help, maar sy hande is afgekap. Hy het self meer as een keer aan Frans Naudé geskryf en hom gewaarsku dat hulle bes moontlik nie weer so ’n goeie aanbod sou kry nie. Meer kon hy nie doen nie. Maar nou ja, dink sy, hulle wag al so lank, nog sewe of agt weke sal seker nie veel verskil aan hulle planne maak nie. Mits hulle net nie teen daardie tyd hulle koper kwyt is nie!

      Dit is eintlik ongelooflik, dink Aletta, dat sy al byna ’n jaar op Tiervlei woon. En sy het oorspronklik gekom om ’n maand te bly! Haar stiefpa het ’n groot operasie ondergaan, en hoewel sy en ’n vriendin reeds ’n bootreis vir Desember gereël het, het sy haar planne op die laaste nippertjie verander en huis toe gekom om haar ma te help.

      En wat ’n bestiering was dit nie dat sy gekom het nie.

      Susan was ook tuis, verslae en gebroke ná haar mislukte huwelik, met nog boonop die teleurstelling dat sy haar baba ook verloor het. Dit was moeilike dae. En toe, om alles te kroon, is hulle ma – hulle steunpilaar – skielik ná ’n hartaanval oorlede. Hoewel sy ’n ruk lank nie gesond was nie, was sy nog die krag in die huis, en haar dood het die gesin ontredderd gelaat. Aletta kon nie daaraan dink om dadelik weg te gaan nie. Sy moes haar pos by een van die land se topskole laat vaar om eers haar siek stiefpa en susters te help.

      In die begin het sy gedink dit sou net vir ’n paar maande wees, maar namate haar stiefpa se siekte en hulpeloosheid toegeneem het, moes sy al meer verantwoordelikhede buite die huis ook aanvaar, en van wegkom was daar nie sprake nie.

      Haar stiefpa is einde Junie oorlede – vyf maande ná hulle ma. Maar ook toe kon sy nie weggaan nie. Susan was beter, maar nog nie reg om terug stad toe te gaan en haar lewe te hervat nie. En Betsie was in haar matriekjaar. Toe Frans Naudé dus skryf om te vra of hulle tot die einde van die jaar op Tiervlei sal bly, het sy geredelik ingewillig. Die reëling het hulle goed gepas, en die helfte van die huis het in elk geval aan hulle behoort.

      Die laaste paar maande voor haar stiefpa se dood het Aletta baie probleme met die plaasbestuurder gehad. Hy het geweet hulle het hom nodig en het die situasie uitgebuit. Hy was lui en onbetroubaar en meer op die dorp as op die plaas. Sy kon sien hoe die plaas agteruitgaan, maar haar stiefpa was ernstig siek en sy wou hom nie onnodig ontstel nie. Ook omdat sy gedink het die bestuurder se teenwoordigheid op die plaas bied darem vir hulle ’n sekere mate van beskerming. Dit was egter ’n geval van wolf skaapwagter maak, soos hulle later wel deeglik ontdek het. Daarby het Jan Gouws by haar begin aanlê en haar selfs een aand gevra om met hom te trou. Hy het groot planne met die boerdery op Tiervlei, het hy gesê, planne wat hulle binne ’n paar jaar ryk sou maak.

      Wat sy planne was, het sy nooit gehoor nie, want sy het hom die volgende dag ná ’n woordewisseling in die pad gesteek. Hy het egter geweier om te gaan. Hy neem sy bevele van haar pa en nie van haar nie, het hy gesê, en vredesonthalwe was sy verplig om in te gee. Selfs ná haar stiefpa se dood het hy geweier om te gaan tensy Frans Naudé sê hy moet. Aletta het vir Frans geskryf en die situasie verduidelik, en tot haar oneindige verligting het hy dadelik vir Gawie laat weet dat hy Jan Gouws summier moet ontslaan.

      Met Gawie se hulp het sy toe van Jan ontslae geraak, maar dit was eers nadat hy weg was dat hulle besef het hoeveel skade hy hulle berokken het. Die grondboontjie-oes, wat al klaar treurig was, het op geheimsinnige wyse gekrimp tot die helfte van die skatting, en boonop het ’n hele paar van haar stiefpa se beste beeste spoorloos verdwyn. Hulle het die verdwyning van die beeste aan die polisie rapporteer, maar kon niks bewys nie en Aletta het nie verwag om ooit weer iets van die beeste te hoor nie.

      Sy het Jan Gouws een keer daarna weer gesien: hy het onverwags een middag met ’n nuwe motor op die plaas opgedaag en gesê dat hy ’n koper vir Tiervlei het. Vir ’n klein kommissie sal hy die man dadelik na haar toe bring.

      Sy het hom van die plaas af gejaag en hom gewaarsku om nie weer sy voete daar te sit nie of sy laat weet die polisie van die grondboontjie-oes. Sy kon sien hoe hy skrik en hy is inderhaas daar weg. Hy het dit daarna nie gewaag om naby Tiervlei te kom nie, maar sowel Betsie as Susan het hom af en toe op die dorp gesien. Dit was ’n verontrustende gedagte dat hy nog in die buurt is.

      Behalwe die plaas het sy nog ander probleme ook gehad. Haar twee mooi jong susters en hul toekoms het haar heelwat slapelose nagte besorg en sy was veral bekommerd oor Susan.

      Susan is aan die einde van haar eerste jaar op universiteit getroud met Anton Grové, ’n mediese student in sy vyfde jaar. Haar ma en stiefpa wou nie daarvan hoor nie, maar Susan was nie net mooi nie, sy was ook koppig en opstandig en van jongs af gewoond om haar sin in alles te kry.

      Hulle is getroud en Susan het gaan werk om hulle te help onderhou totdat Anton met sy studies klaar is.

      Haar egskeiding drie jaar later en die verlies van haar pasgebore baba het haar dieper geraak as wat Aletta ooit sou verwag het. Ná haar baba se dood was sy boonop ernstig siek met longontsteking en op haar dokter se advies is sy plaas toe om daar aan te sterk.

      Die Susan wat na Tiervlei teruggekeer het, was glad nie die stralende jong meisie wat vier jaar vantevore met soveel verwagting daar weg is nie. Dit was ’n stil, bleek, teruggetrokke Susan, verbitter en ongelukkig, sonder enige